GENESIS 26:1-33

GENESIS 26:1-33 Bybel vir almal (ABA)

Daar was weer hongersnood in die land, soos dit was in die tyd toe Abraham gelewe het. Isak het na Abimelek toe gegaan. Abimelek was die koning van die Filistyne in die land Gerar. Die Here het aan Isak verskyn en vir hom gesê: “Moenie verder gaan na Egipte nie. Jy moet woon in die land wat Ek vir jou sal sê. Jy moet in hierdie land woon en 'n vreemdeling wees. Ek sal by jou wees en Ek sal jou seën. Ek sal die hele land vir jou en jou nageslag gee. Ek sal doen wat Ek vir jou pa Abraham belowe het. Ek sal jou nageslag so baie maak soos die sterre in die lug, en Ek sal vir jou nageslag hierdie hele land gee. Al die volke van die aarde sal My vra om hulle ook te seën soos Ek jou nageslag sal seën. Ek sal dit doen omdat Abraham na My geluister het en gedoen het wat Ek gesê het. Hy was gehoorsaam aan My.” Isak het toe in die land Gerar gebly. Die mans van daardie plek het vrae gevra oor sy vrou Rebekka, en hy het gesê: “Sy is my suster.” Hy wou nie sê dat Rebekka sy vrou is nie. Hy was bang dat hulle hom sal doodmaak en dat hulle sy vrou sal vat, want sy was baie mooi. Isak het lank daar gewoon. Toe koning Abimelek eendag by die venster uitkyk, sien hy hoe Isak sy vrou Rebekka in sy arms vashou en soen. Toe roep Abimelek vir Isak en hy sê vir hom: “Ek sien Rebekka is jou vrou. Hoekom het jy gesê sy is jou suster?” Isak het vir hom gesê: “Ek het gedink julle sal my doodmaak as ek sê sy is my vrou.” Abimelek sê toe: “Wat het jy aan ons gedoen? As een van ons mans by jou vrou geslaap het, dan het ons sonde gedoen, en dan was dit jou skuld.” Abimelek het vir al sy mense gesê: “Julle mag nie aan hierdie man of sy vrou raak nie. Die een wat dit doen, sal sterf. Dit is seker!” Isak het koring gesaai in daardie land en hy het daardie jaar 100 maal meer koring gekry as wat hy gesaai het. Die Here het hom geseën, en hy het 'n baie ryk man geword. Hy het baie skape en bokke gehad, ook baie beeste en baie slawe. Hy het baie goed gehad, en die Filistyne het jaloers geword. Die slawe van Isak se pa Abraham het voorheen putte daar gegrawe, en die Filistyne het al die putte vol grond gegooi. Abimelek het ook nog vir Isak gesê: “Jy moet weggaan van ons, want jy het baie ryker as ons geword.” Isak het toe weggegaan en hy het gaan woon by die Gerar-riviertjie. Isak het al die putte oopgemaak wat Abraham gegrawe het en wat die Filistyne toegegooi het. Abraham het name gegee vir die putte, en Isak het weer dieselfde name vir die putte gegee. Abraham was toe al dood. Isak se slawe het 'n put gegrawe in 'n vallei en hulle het baie water gekry. Die skaapwagters van Gerar het gestry met Isak se skaapwagters. Hulle het gesê: “Dit is ons water!” Isak noem toe die put “Stryery,” omdat hulle daar met sy skaapwagters gestry het. Isak se skaapwagters het nog 'n put gegrawe, maar die skaapwagters van Gerar het nog altyd gekla. Toe noem Isak die put “Klagte.” Isak het verder getrek en hy het nog 'n put gegrawe. Die skaapwagters het nie gestry oor hierdie put nie. Hy noem die put toe “Oop Plek,” en hy sê: “Nou het die Here vir ons genoeg plek gegee. Dit sal nou met ons goed gaan in hierdie land.” Daarna het Isak na die stad Berseba gegaan. Daardie nag het die Here aan hom verskyn en vir hom gesê: “Ek is die God van jou pa Abraham. Moenie bang wees nie, Ek is by jou. Ek sal jou seën en Ek sal jou nageslag baie maak. Ek sal dit doen omdat Ek lief was vir my dienaar Abraham.” Isak het daar 'n altaar gebou. Hy het die Here aanbid. Isak het sy tent daar opgeslaan, en sy slawe het 'n put gegrawe. Toe kom Abimelek uit Gerar na Isak toe. Abimelek se raadgewer Agussat, en Pikol, die hoof van sy leër, was saam met hom. Isak sê toe vir hulle: “Hoekom kom julle na my toe? Ek weet julle haat my. Julle het my weggestuur van julle.” Hulle sê toe vir Isak: “Ons het duidelik gesien dat die Here by jou is en dat Hy jou seën. Toe het ons gedink daar moet 'n ooreenkoms wees tussen ons. Jy moet belowe dat jy nie slegte dinge sal doen aan ons nie. Ons het ook nie slegte dinge aan jou gedoen nie. Ek was net goed vir jou en ek laat jou in vrede gaan. Almal kan sien dat die Here jou seën.” Isak het toe vir hulle 'n groot ete gegee, en hulle het geëet en gedrink. Die volgende oggend vroeg het hulle 'n ooreenkoms gemaak. Isak het hulle laat gaan, en hulle het in vrede weggegaan. Daardie dag het Isak se slawe na hom toe gekom en hulle het vir hom vertel van nog 'n put wat hulle gegrawe het. Hulle het vir hom gesê: “Ons het water gekry.” Hy het die put toe Berseba genoem. Dit is vandag nog ook die stad se naam.

GENESIS 26:1-33 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN daar was hongersnood in die land, buiten die eerste hongersnood wat in die dae van Abraham gewees het. Daarom het Isak getrek na Abiméleg, die koning van die Filistyne, na Gerar. En die HERE het aan hom verskyn en gesê: Moenie aftrek na Egipte nie; woon in die land wat Ek jou sal aanwys. Vertoef as vreemdeling in hierdie land, en Ek sal met jou wees en jou seën; want aan jou en jou nageslag sal Ek al hierdie lande gee: Ek sal die eed bevestig wat Ek vir jou vader Abraham gesweer het. En Ek sal jou nageslag vermeerder soos die sterre van die hemel en aan jou nageslag al hierdie lande gee, en in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word; omdat Abraham na my stem geluister en my ordening, my gebooie, my insettinge en my wette onderhou het. So het Isak dan in Gerar gebly. En toe die manne van die plek hom na sy vrou vra, antwoord hy: Sy is my suster. Want hy was bang om te sê: My vrou — anders sal die manne van die plek, so het hy gedink, my miskien doodmaak ter wille van Rebekka; want sy was mooi van aansien. En toe hy al 'n lang tyd daar was, kyk Abiméleg, die koning van die Filistyne, deur die venster uit en sien hoe Isak speel met Rebekka, sy vrou. En Abiméleg het Isak geroep en gesê: Kyk, sy is dan tog jou vrou! Hoe kon jy dan verklaar: Sy is my suster? En Isak antwoord hom: Ja, ek het gedink ek kan miskien om haar ontwil my lewe verloor! En Abiméleg sê: Wat het jy ons nou aangedoen? Hoe maklik kon een van die mense met jou vrou gemeenskap gehad en jy 'n skuld oor ons gebring het! Daarop gee Abiméleg bevel aan die hele volk en sê: Wie hierdie man of sy vrou aanraak, sal sekerlik gedood word. Isak het toe in dié land gesaai en daardie jaar honderdvoudig gewen, want die HERE het hom geseën. En die man het groot geword en altyddeur groter geword totdat hy baie groot was: hy het troppe kleinvee en beeste gehad en baie bediendes, sodat die Filistyne hom beny het. En al die putte wat die dienaars van sy vader in die dae van sy vader Abraham gegrawe het, dié het die Filistyne toegestop en met grond opgevul. Toe sê Abiméleg vir Isak: Trek weg van ons, want jy het vir ons veels te magtig geword. Daarop het Isak vandaar weggetrek en laer opgeslaan in die dal by Gerar en daar bly woon. En Isak het die putte weer oopgegrawe wat hulle in die dae van sy vader Abraham gegrawe het, en wat die Filistyne ná die dood van Abraham toegestop het, en dit genoem na die name wat sy vader daaraan gegee het. En terwyl die dienaars van Isak in die dal grawe, vind hulle daar 'n put met lewendige water. En die herders van Gerar het getwis met die herders van Isak en gesê: Dit is óns water. Daarom het hy die put Esek genoem, omdat hulle met hom onenigheid gehad het. Daarop grawe hulle 'n ander put, en daaroor het hulle ook getwis. Daarom het hy dit Sitna genoem. Toe het hy vandaar versit en 'n ander put gegrawe, en daaroor is nie getwis nie. Daarom het hy dit Réhobot genoem en gesê: Ja, nou het die HERE vir ons ruimte gemaak en kan ons vrugbaar wees in die land. Daarna het hy vandaar opgetrek na Berséba. En die HERE het aan hom in dieselfde nag verskyn en gesê: Ek is die God van Abraham, jou vader. Moenie bang wees nie, want Ek is met jou; en Ek sal jou seën en jou nageslag vermeerder ter wille van Abraham, my kneg. Toe bou hy daar 'n altaar, en hy het die Naam van die HERE aangeroep en daar sy tent opgeslaan; en die dienaars van Isak het daar 'n put gegrawe. Daarop kom Abiméleg na hom van Gerar af, saam met Ahussat, sy vriend, en Pigol, sy leërowerste. En Isak het hulle gevra: Waarom het julle na my gekom terwyl julle my haat en my van julle af weggestuur het? Toe antwoord hulle: Ons het duidelik gesien dat die HERE met jou is. Daarom het ons gedink: Laat daar tog 'n eed tussen ons wees, tussen ons en jou; en laat ons 'n verbond met jou sluit: jy moet ons geen kwaad doen nie, net soos ons jou nie aangeraak en aan jou niks as goed gedoen het nie en jou in vrede weggestuur het. Jy is nou eenmaal die geseënde van die HERE. Toe berei hy vir hulle 'n maaltyd, en hulle het geëet en gedrink. En hulle is die môre vroeg op en het vir mekaar 'n eed gesweer. Daarop het Isak hulle laat gaan, en hulle het in vrede van hom af weggetrek. Dieselfde dag kom toe die dienaars van Isak en vertel hom van die put wat hulle gegrawe het, en sê vir hom: Ons het water gekry. En hy het dit Seba genoem. Daarom is die naam van die stad Berséba tot vandag toe.

GENESIS 26:1-33 Afrikaans 1983 (AFR83)

Na die eerste hongersnood vroeër in Abraham se tyd was daar weer 'n hongersnood in die land. Isak het toe na Gerar toe getrek, na koning Abimelek van die Filistyne toe. Die Here het aan Isak verskyn en vir hom gesê: “Moenie Egipte toe trek nie. Bly waar Ek jou sê: in hierdie land. Bly 'n tyd lank hier, en Ek sal by jou wees en jou voorspoedig maak. Ek gee hierdie hele wêreld aan jou en jou nageslag. Ek sal die belofte nakom wat Ek met 'n eed teenoor jou vader Abraham afgelê het. Ek sal jou nageslag so baie maak soos die sterre aan die hemel. Ek sal hierdie hele wêreld aan jou nageslag gee, en al die nasies van die aarde sal in jou nageslag geseën wees, want Abraham het na My geluister en hy was gehoorsaam aan my bevel: my gebooie, my voorskrifte en my wette.” Isak het toe in Gerar gebly. Die mense daar het oor sy vrou begin uitvra, en hy het gesê: “Dit is my suster.” Hy was bang om te sê dis sy vrou, want dan sou hulle hom dalk doodmaak oor Rebekka wat 'n baie mooi vrou was. Toe hy 'n lang ruk daar gebly het, het koning Abimelek van die Filistyne op 'n keer deur die venster gesien hoe Isak sy vrou Rebekka liefkoos. Abimelek het hom laat kom en vir hom gesê: “Maar sy is dan jou vrou! Hoekom het jy gesê sy is jou suster?” Isak het geantwoord: “Ek het gedink ek kan dalk doodgemaak word oor haar.” Daarop sê Abimelek: “Wat het jy ons aangedoen! Hoe maklik kon een van die mans met jou vrou gemeenskap gehad het, en dan was jy die oorsaak dat ons sonde gedoen het.” Abimelek het toe al sy mense gewaarsku: “Wie hierdie man of sy vrou molesteer, sal doodgemaak word.” Isak het in daardie gebied gesaai, en daardie jaar het die saad honderdvoudig geskiet. Die Here het hom voorspoedig gemaak, en hy het 'n ryk man geword, hy het vooruitgegaan sodat hy later baie ryk was. Hy het troppe kleinvee en grootvee gehad en baie slawe. Toe het die Filistyne uit afguns al die putte wat die slawe van sy pa Abraham nog in dié se tyd gegrawe het, toegegooi en opgevul. Toe sê Abimelek vir Isak: “Trek weg van ons af. Jy het vir ons te sterk geword.” Hy is toe daar weg en hy het by Gerarspruit kamp opgeslaan en daar gebly. Isak het toe die putte oopgegrawe wat in sy pa Abraham se tyd gegrawe is en wat na Abraham se dood deur die Filistyne toegegooi is. Isak het die name wat sy pa aan die putte gegee het, weer aan hulle gegee. Isak se slawe het 'n put gegrawe in die spruit en sterk water gekry. Toe stry die skaapwagters van Gerar met dié van Isak en sê: “Dié water behoort aan ons.” Isak het toe die put “Rusie” genoem, omdat hulle daar met hom rusie gemaak het. Sy slawe het 'n ander put gegrawe, en ook daaroor het die Filistyne klagtes gehad, en toe noem Isak dit “Klagte”. Van daar af het hy versit en 'n ander put gegrawe, en hulle het nie daaroor gestry nie. Toe noem hy die put “Ruimte”, “want,” het hy gesê, “nou het die Here vir ons ruimte gemaak en in dié land sal ons voorspoedig wees.” Van daar af het Isak na Berseba toe getrek, en die nag toe hy daar kom, het die Here aan hom verskyn en vir hom gesê: “Ek is die God van jou vader Abraham. Moenie bang wees nie, want Ek is by jou. Ek sal jou seën en jou 'n groot nageslag gee ter wille van my dienaar Abraham.” Isak het daar 'n altaar gebou en die Naam van die Here aangeroep. Isak het sy tente daar opgeslaan, en sy slawe het 'n put gegrawe. Toe kom Abimelek uit Gerar saam met Agussat sy vertroueling en Pikol die bevelvoerder van sy leër na Isak toe, en Isak sê vir hulle: “Waarom kom julle na my toe? En dit nogal nadat julle my onvriendelik behandel het en my van julle af weggestuur het!” Hulle het geantwoord: “Ons het baie duidelik gesien die Here is by jou. Ons wil onder eed 'n ooreenkoms met jou aangaan. Ons wil 'n verdrag met jou sluit dat jy ons nie sleg sal behandel nie, net soos ons jou nie benadeel het nie. Ons het net goed aan jou gedoen en jou sonder enige skade van ons af laat weggaan. Dit is so: jy word deur die Here geseën.” Isak het toe vir hulle 'n maaltyd klaargemaak en hulle het geëet. Die volgende môre het hulle vroeg klaargemaak en hulle en Isak het aan mekaar 'n belofte onder eed gemaak. Toe het Isak hulle laat gaan en is hulle in vrede van hom af weg. Daardie dag het Isak se slawe gekom en hom vertel van die put wat hulle gegrawe het. Hulle het vir hom gesê: “Ons het water gekry.” Toe noem hy dit Seba en daarom is die naam van die stad nou nog Berseba .

GENESIS 26:1-33 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Daar was hongersnood in die land, afgesien van die eerste hongersnood wat daar was in die tyd van Abraham. Isak het toe na Gerar, na Abimeleg, die koning van die Filistyne, gegaan. Die HERE het aan hom verskyn en gesê: “Moenie afgaan na Egipte nie. Bly in die land waar Ek vir jou sê. Woon as •vreemdeling in hierdie land, en Ek sal met jou wees en jou seën; want aan jou en jou nageslag gee Ek al hierdie lande, en Ek sal die eed wat Ek vir jou vader Abraham afgelê het, gestand doen. Ek sal jou nageslag so talryk maak soos die sterre aan die hemelruim, en aan jou nageslag sal Ek al hierdie lande gee. Al die nasies van die aarde sal wens om so geseënd te wees soos jou nageslag, omdat Abraham na my stem geluister het en die verpligtinge wat Ek oplê, my bevele, my vaste voorskrifte en my wette, nagekom het.” So het Isak toe in Gerar gaan woon. Die manne van die plek het hom oor sy vrou uitgevra. Hy het gesê, “Sy is my suster;” want hy was bang om te sê, “my vrou,” anders, het hy gedink, maak die manne van die plek my dood oor Rebekka. Sy was immers beeldskoon. Isak was al 'n lang tyd daar, toe kyk Abimeleg, die koning van die Filistyne, af deur die venster en sien – Isak liefkoos dan vir Rebekka, sy vrou! Abimeleg ontbied toe vir Isak en sê: “Maar sy is dan eintlik jou vrou! Hoe kon jy gesê het sy is jou suster?” Isak het hom geantwoord: “Omdat ek gedink het dat ek anders oor haar sou sterf.” Daarop sê Abimeleg: “Wat het jy ons nou aangedoen? Hoe maklik kon iemand uit die volk nie by jou vrou geslaap het nie, en dan het jy skuld oor ons gebring!” Abimeleg het toe aan die hele volk 'n bevel uitgereik: “Die een wat aan hierdie man of sy vrou raak, sal beslis sterf.” Isak het in daardie landstreek gesaai, en hy het dié jaar honderdvoudig geoes. So het die HERE hom geseën. Die man het ryk geword; hy het al hoe ryker geword, totdat hy skatryk was. Hy het kuddes kleinvee en beeste besit en 'n groot werksmag, sodat die Filistyne hom beny het. Al die putte wat die slawe van sy vader in die tyd van Abraham, sy vader, gegrawe het, het die Filistyne toegestop en met grond opgevul. Abimeleg sê toe vir Isak: “Gaan weg van ons af, want jy het heeltemal te sterk geword vir ons.” Isak het daarvandaan weggegaan en kamp opgeslaan in die Gerardal. Hy het hom daar gevestig. Isak het die putte wat in die tyd van Abraham, sy vader, gegrawe is, en wat die Filistyne ná die dood van Abraham toegestop het, weer oopgegrawe. Hy het hulle dieselfde name gegee wat sy vader hulle gegee het. Terwyl die slawe van Isak in die dal grawe, kom hulle toe daar in 'n put af op 'n wateraar. Maar die herders van Gerar het met Isak se herders gestry en gesê: “Die water behoort aan ons!” Hy het toe die put Esek genoem, omdat hulle daaroor rusie gemaak het. Isak se slawe het toe 'n ander put gegrawe, maar hulle het ook daaroor gestry. Daarom het Isak dit Sitna genoem. Hy het daarvandaan verder getrek en 'n ander put gegrawe, maar daaroor is daar nie gestry nie. Hy het dit Regobot genoem, “want,” het hy gesê, “nou het die HERE vir ons ruimte gemaak, en ons sal vrugbaar wees in die land.” Hy het toe daarvandaan opgetrek na Berseba. Daardie nag het die HERE aan hom verskyn en gesê: “Ek is die God van jou vader Abraham. Moenie bang wees nie, want Ek is met jou. Ek sal jou seën en jou nageslag talryk maak ter wille van Abraham, my dienskneg.” Hy het toe daar 'n altaar gebou en die Naam van die HERE aangeroep. Isak het sy tente daar opgeslaan, en sy slawe het daar 'n put uitgekap. Abimeleg het uit Gerar na hom gekom, en ook Agussat, sy vriend, en Pigol, die bevelvoerder van sy leër. Isak sê toe vir hulle: “Waarom kom julle nou na my toe, terwyl dit julle is wat vyandig was teenoor my, en my van julle af weggestuur het?” Hulle het geantwoord: “Ons het duidelik gesien dat die HERE met jou is. Toe dink ons: Daar moet tog 'n ooreenkoms tussen ons wees – tussen ons en jou. Ons wil 'n verdrag met jou sluit: Jy moet ons nie kwaad aandoen nie, net soos ons nie aan jou geraak het nie, en soos wat ons net goed aan jou gedoen en jou ongedeerd weggestuur het. Jy is nou die geseënde van die HERE.” Isak het toe vir hulle 'n maaltyd voorberei, en hulle het geëet en gedrink. Hulle het vroeg die oggend opgestaan en vir mekaar 'n eed afgelê. Isak het hulle daarna weggesien, en hulle het in vrede van hom af weggegaan. Op dieselfde dag het Isak se slawe gekom en hom ingelig oor die put wat hulle gegrawe het. Hulle het vir hom gesê: “Ons het water gekry!” Hy het dit toe Seba genoem. Daarom is die naam van die dorp Berseba; dit is vandag nog so.

GENESIS 26:1-33 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Daar was hongersnood in die land, behalwe die eerste hongersnood wat in die dae van Abraham was. Isak het na Abimeleg, die koning van die Filistyne, gegaan na Gerar. En die HERE het aan hom verskyn en gesê: Moenie na Egipte aftrek nie; woon in die land waarvan Ek jou sal vertel: Vertoef in hierdie land, en Ek sal met jou wees en jou seën; want aan jou en jou nageslag sal Ek al hierdie lande gee, en Ek sal die eed nakom wat Ek aan jou vader Abraham gesweer het; Ek sal jou nageslag laat vermeerder soos die sterre van die hemel en aan jou nageslag al hierdie lande gee; en in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word; Omdat Abraham na my stem geluister het en my bevel, my gebooie, my insettinge en my wette onderhou het. Isak het in Gerar gewoon: En die manne van die plek het hom na sy vrou gevra; en hy sê: Sy is my suster, want hy was bang om te sê: Sy is my vrou; sê hy, sodat die manne van die plek my nie vir Rebekka sou doodmaak nie; want sy was mooi om na te kyk. En dit het gebeur, toe hy 'n lang tyd daar was, dat Abimeleg, die koning van die Filistyne, by 'n venster uitkyk en gesien het, en kyk, Isak was besig om met sy vrou Rebekka te speel. En Abiméleg het Isak geroep en gesê: Kyk, sy is verseker jou vrou; en hoe het jy gesê: Sy is my suster? En Isak sê vir hom: Omdat ek gesê het: Ek sterf nie vir haar nie. Daarop sê Abiméleg: Wat het jy dit aan ons gedoen? een van die mense kon ligweg met jou vrou 'n gemeenskap gehad het, en jy moes skuld oor ons gebring het. En Abiméleg het sy hele volk bevel gegee en gesê: Wie hierdie man of sy vrou aanraak, moet sekerlik gedood word. Toe het Isak in daardie land gesaai en in dieselfde jaar honderdvoudig ontvang, en die HERE het hom geseën. Die man het groot geword en vorentoe gegaan en gegroei totdat hy baie groot geword het. Want hy het kleinvee en beeste besit en 'n groot voorraad diensknegte gehad, en die Filistyne was afgunstig op hom. Want al die putte wat sy vader se dienaars gegrawe het in die dae van sy vader Abraham, het die Filistyne toegesluit en met grond gevul. Toe sê Abimeleg vir Isak: Gaan van ons af; want U is baie magtiger as ons. Isak het daarvandaan weggetrek en sy tent opgeslaan in die dal Gerar en daar gaan woon. Isak het weer die waterputte gegrawe wat hulle gegrawe het in die dae van sy vader Abraham; want die Filistyne het hulle gestop ná die dood van Abraham, en hy het hulle name genoem na die name waarmee sy vader hulle vernoem het. En die dienaars van Isak het in die dal gegrawe en daar 'n put met fontein gekry. En die veewagters van Gerar het met die veewagters van Isak getwis en gesê: Die water is ons s'n; en hy het die put Esek genoem; want hulle het met hom getwis. Hulle het 'n ander put gegrawe en ook daaroor gestry, en hy het dit Sitna genoem. En hy het daarvandaan weggetrek en 'n ander put gegrawe; en daarom het hulle nie getwis nie; en hy het dit Rehobot genoem; en hy sê: Want nou het die HERE vir ons plek gemaak, en ons sal vrugbaar wees in die land. En hy het daarvandaan opgegaan na Berseba. Die HERE het dieselfde nag aan hom verskyn en gesê: Ek is die God van jou vader Abraham; moenie vrees nie, want Ek is met jou en sal jou seën en jou nageslag vermeerder ter wille van my kneg Abraham. En hy het daar 'n altaar gebou en die Naam van die HERE aangeroep en daar sy tent opgeslaan; en die dienaars van Isak het daar 'n put gegrawe. Daarna het Abimeleg van Gerar af na hom toe gegaan, en Ahussat, een van sy vriende, en Pikol, die owerste van sy leër. En Isak sê vir hulle: Waarom kom julle na my toe, aangesien julle my haat en my van julle af weggestuur het? Toe sê hulle: Ons het beslis gesien dat die HERE met jou is; en ons het gesê: Laat daar tog 'n eed wees tussen ons, tussen ons en jou, en laat ons 'n verbond met jou sluit; dat jy ons geen kwaad sal aandoen nie, omdat ons jou nie aangeraak het nie, en soos ons jou niks anders as goed gedoen het nie en jou in vrede weggestuur het; nou is jy die geseënde van die HERE. Hy het vir hulle 'n feesmaal gemaak, en hulle het geëet en gedrink. En hulle het vroeg in die môre opgestaan en vir mekaar gesweer; en Isak het hulle weggestuur, en hulle het in vrede van hom weggegaan. Dieselfde dag het die dienaars van Isak gekom en hom vertel van die put wat hulle gegrawe het, en vir hom gesê: Ons het water gekry. En hy het dit Seba genoem; daarom is die naam van die stad Berseba tot vandag toe.

GENESIS 26:1-33 Die Boodskap (DB)

Daar was weer hongersnood in die land, net soos in Abraham se tyd. Isak het na die land van die Filistyne getrek en vir eers in Gerar gaan bly. Abimelek was toe die koning. Daar het die Here vir Isak gesê: “Moenie Egipte toe gaan nie. Bly net hier in die land waarvan Ek jou vertel het. Bly in die land en trek met jou vee rond. Ek sal saam met jou trek en jou baie voorspoedig maak. Elke plek waar jy kom, sal Ek eendag vir jou en jou kinders gee. Lank gelede het Ek dit al aan jou pa, Abraham, beloof. Jou nageslag sal groot wees. Hulle sal so ontelbaar soos die sterre aan die hemel wees. En al die lande rondom jou sal Ek eendag vir hulle gee. Met jou nageslag sal dit so goed gaan dat al die volke rondom hulle deur hulle geseën sal wees. Al hierdie dinge sal gebeur omdat Abraham geluister het toe Ek met hom gepraat het. Hy was lewenslank aan My getrou: hy het reg geleef, hy het my voorskrifte uitgeleef en gedoen wat Ek hom geleer het.” Toe Isak al ’n ruk lank in Gerar gewoon het, het die mense oor hom begin praat. Hulle het gewonder oor die vrou wat altyd by hom was. “Wie is sy tog?” het hulle gevra. Toe Isak hiervan hoor, het hy bang begin word. Rebekka was baie mooi en Isak wou nie sê dit is sy vrou nie. Hy was bang hulle sal hom doodmaak en Rebekka wegneem. Hy het toe vir die mans gesê Rebekka is sy suster. Almal het hom geglo en vir ’n lang ruk het dit goed gegaan. Op ’n dag het Abimelek, die Filistynse koning, by sy venster uitgekyk en iets vreemds gesien: Isak was besig om sy vrou, Rebekka, te soen en te liefkoos. Abimelek het Isak laat roep en woedend gesê: “So, sy is nie jou suster nie, maar jou vrou! Hoe kon jy ons so mislei? Waarom het jy gesê sy is jou suster?” Isak het verleë geantwoord: “Ek was bang dat hulle my sou doodmaak as hulle hoor sy is my vrou.” Abimelek het skerp geantwoord: “Jy kon groot ellende oor ons gebring het. Een van die mans kon net by jou vrou geslaap het en dan was ons almal skuldig.” Abimelek het al sy mense gewaarsku: “Los hulle uit! Wie aan hierdie man of vrou vat, sal doodgemaak word.” Isak het toe in daardie land vir hom grond gekry en begin saai. Die Here het hom geseën en hy het in dieselfde jaar nog uitstekende oeste gehad. Kort voor lank was hy ryk, sommer skatryk. Hy het groot troppe skape en beeste gehad asook baie werkers. Die Filistyne het egter jaloers geword. Hulle het toe grond in al Isak se putte gegooi en dit toegestop. Hierdie putte is destyds nog deur sy pa, Abraham, se mense gegrawe. Abimelek het Isak besoek en gesê: “Gaan liewers weg van ons af, want jy is nou baie ryker en sterker as ons.” Isak het toe weggetrek en in die Gerarvallei gekom. Daar het hy ’n ruk lank gebly. Na ’n tydjie het Isak teruggegaan en begin om stuk-stuk al die waterputte oop te grawe wat sy pa se mense nog gegrawe het. Dit was die putte wat die Filistyne na Abraham se dood toegestop het. Isak het hulle dieselfde name gegee as wat sy pa hulle genoem het. Toe Isak se mense besig was om in die vallei te grawe, het hulle op ’n put met fonteinwater afgekom. ’n Hewige rusie het tussen die mense van Gerar en Isak se herders ontstaan. Gerar se mense het gesê: “Dit is ons water hierdie.” Isak het die put toe “Rusie” genoem omdat hulle daar met hom rusie gemaak het. Isak-hulle het nog ’n put oopgegrawe en weer was daar ’n getwis. Dit was so erg dat hy dit “Klagte” genoem het. Isak het weggegaan en op ’n ander plek ’n put gaan grawe. Toe niemand daaroor gekla het nie, het hy dit “Ruimte” genoem en gesê: “Die Here het nou vir ons ruimte gemaak. Ons sal baie mense word in dié land.” Na ’n ruk het Isak weer sy goed opgepak en Berseba toe getrek. Sommer nog dieselfde nag het die Here na hom toe gekom en gesê: “Isak, Ek is die God van jou pa, Abraham. Jy moet vir niks bang wees nie, want Ek is by jou. Omdat jou pa My getrou gedien het, sal Ek jou seën en vir jou ’n groot nageslag gee.” Uit dankbaarheid het Isak vir die Here ’n altaar gebou en Hom aanbid. Hy het ook sy tent daar opgeslaan en sy mense het weer ’n put gegrawe. Abimelek het uit Gerar getrek en Isak kom besoek. Saam met hom was Agussat, sy vertroueling, en Pikol, die hoof van die leër. Isak vra hulle toe: “Wat wil julle hê? Julle haat my mos. Julle het my dan weggejaag!” Abimelek en sy manne het toe gesê: “Isak, dit is vir ons duidelik dat die Here by jou is. Daarom het ons besluit dat ons met jou ’n ooreenkoms wil maak. Ons wil ’n verbond met jou sluit sodat jy ons nooit sleg sal behandel nie. Toe jy destyds tussen ons gewoon het, was ons nie lelik met jou nie. Ons was goed vir jou en het jou in vrede laat weggaan. Isak, die Here het jou werklik voorspoedig gemaak.” Isak het vir hulle ’n feesmaaltyd voorgesit. Hulle het geëet en gedrink. Vroeg die volgende oggend het hulle opgestaan en ’n ooreenkoms met mekaar gesluit. Isak het hulle gegroet en sy gaste het vertrek. Hulle was bly en gelukkig. Op dieselfde dag het Isak se mense hom van ’n put kom vertel. Hulle was nog besig om te grawe toe hulle skielik sterk water gekry het. Isak het die put Seba genoem en tot vandag toe noem hulle daardie stad Berseba.

GENESIS 26:1-33 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

’n Swaar hongersnood het weer die land getref, soos in die tyd van Abraham. Daarom het Isak verskuif na Gerar waar Abimelek, die koning van die Filistyne, gewoon het. Daar verskyn die HERE aan Isak en sê: “Moenie Egipte toe gaan nie. Bly hier waar Ek vir jou sê. Bly in hierdie land as ’n uitlander. Ek sal met jou wees en jou seën. Ek sal hierdie hele land aan jou en jou nageslag gee, soos Ek aan jou pa, Abraham, beloof het. Ek sal jou nageslag so ontelbaar maak soos die sterre in die lug. Ek sal die hele land aan hulle gee. Jou nageslag sal die draer wees van seën vir al die nasies op die aarde. Ek sal dit doen omdat Abraham na My geluister het en gehoorsaam was aan al my vereistes, bevele, voorskrifte en gebooie.” Isak het dus in Gerar gebly. Toe die inwoners navraag doen oor Rebekka, sê hy: “Sy is my suster.” Hy was bang hulle sal hom dalk doodmaak as hulle weet dis sy vrou, want Rebekka was baie mooi. Na hulle al ’n tyd lank daar gebly het, het Abimelek, die koning van die Filistyne, eendag deur die venster gesien hoe Isak vir Rebekka liefkoos. Abimelek het Isak laat roep en sê vir hom: “Sy is dan jou vrou! Hoekom het jy gesê sy is jou suster?” “Dis omdat ek bang was iemand maak my dood om haar in die hande te kry,” antwoord Isak. “Hoe kon jy dit aan ons doen?” sê Abimelek. “Iemand kon maklik jou vrou geneem en by haar geslaap het. Dan sou jy skande oor ons gebring het!” Abimelek het toe in die openbaar gewaarsku: “Enigeen wat hierdie man of sy vrou kwaad aandoen, sal met die dood gestraf word.” Daardie jaar het Isak ’n baie groot oes gehad. Hy het honderd maal meer geoes as wat hy geplant het, want die HERE het hom geseën. Hy het baie ryk geword en sy rykdom het aanhou vermeerder. Hy het groot troppe kleinvee en beeste gehad en baie slawe. Die Filistyne het daaroor jaloers geword op hom. Hulle het Isak se putte met grond toegegooi. Dit was putte wat sy pa, Abraham, se slawe nog in sy tyd gegrawe het. Abimelek sê toe vir Isak: “Gaan weg van ons, want jy het sterker as ons geword!” Daarom het Isak na Gerarlaagte verskuif en daar gaan woon. Hy het die putte wat sy pa gegrawe het, maar wat die Filistyne ná Abraham se dood toegegooi het, weer oopgegrawe. Isak het dieselfde name vir die putte gegee as wat Abraham vir hulle gegee het. Sy skaapwagters het ook in Gerarlaagte gegrawe en ’n sterk fontein gekry. Maar die plaaslike skaapwagters het die fontein vir hulleself toegeëien. “Dis ons water,” het hulle gesê en met Isak se skaapwagters rusie gemaak. Isak noem toe die put Esek omdat hulle daaroor rusie gemaak het. Isak se mense het toe ’n ander put gegrawe, maar die Filistyne het ook daaroor beswaar gemaak. Isak noem dit toe Sitna. Hy het weer verskuif en nog ’n put gegrawe. Hierdie keer het die plaaslike mense hom met rus gelaat. Hy noem toe die put Rehobot, “want,” het hy gesê, “uiteindelik het die HERE vir ons ruimte gemaak. Hier sal ons nou voorspoedig wees.” Isak het daarvandaan na Berseba toe getrek. Met sy aankoms daar het die HERE die aand aan hom verskyn en gesê: “Ek is die God van jou pa Abraham. Moenie bang wees nie, want Ek is by jou en sal jou seën. Ek sal jou nageslag baie maak en hulle sal ’n groot nasie word. Ek sal dit doen omdat Ek dit vir Abraham, my dienskneg, belowe het.” Toe bou Isak daar ’n altaar en aanbid die HERE. Hy het daar kamp opgeslaan en sy slawe het daar ’n put gegrawe. Op ’n dag kry Isak besoekers uit Gerar. Dit was koning Abimelek saam met sy raadgewer Agussat en Pikol, die bevelvoerder van sy leër. “Hoekom het julle na my toe gekom?” vra Isak hulle. “Julle haat my en het my van julle af weggestuur.” Hulle antwoord hom: “Dis vir ons duidelik dat die HERE met jou is. Daarom het ons gekom om ’n verdrag met jou te sluit. Lê ’n eed af dat jy ons nie kwaad sal aandoen nie, net soos ons jou nie skade berokken het nie. Ons het jou net goed behandel en jou in vrede weggestuur. En kyk hoe seën die HERE jou!” Isak het ’n groot fees voorberei en hulle het geëet en gedrink. Vroeg die volgende oggend het hulle onder eed ’n verdrag gesluit. Isak het hulle toe in vrede laat gaan. Daardie selfde dag kom rapporteer Isak se slawe oor ’n put wat hulle gegrawe het. “Ons het water gekry!” het hulle gesê. Isak noem toe die put Seba. Daarom is die naam van die stad nou nog Berseba, “put van die eed”.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid