GENESIS 2:19-20 - Compare All Versions

GENESIS 2:19-20 ABA (Bybel vir almal)

Die Here God neem toe grond en Hy maak al die diere op die land en al die voëls. Toe bring Hy al die diere en die voëls na die mens toe. Die Here God wou weet watter name die mens vir die diere sou gee. So het die diere hulle name gekry. Die mens het name gegee vir al die mak diere, die voëls en die wilde diere, maar vir homself kon hy nie 'n maat kry om hom te help nie.

GENESIS 2:19-20 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

En die HERE God het uit die aarde geformeer al die diere van die veld en al die voëls van die hemel en hulle na die mens gebring om te sien hoe hy hulle sou noem. En net soos die mens al die lewende wesens genoem het, so moes hulle naam wees. So het die mens dan name gegee aan al die vee en aan die voëls van die hemel en aan al die wilde diere van die veld, maar vir die mens het hy geen hulp gevind wat by hom pas nie.

GENESIS 2:19-20 AFR83 (Afrikaans 1983)

Die Here God het toe uit grond al die wilde diere en al die voëls gevorm en na die mens toe gebring om vas te stel hoe hy elkeen sou noem; en wat die mens elke lewende wese sou noem, dit sou sy naam wees. Die mens gee toe name vir al die mak diere, die voëls en die wilde diere, maar vir homself het hy nie 'n helper, 'n gelyke, gekry nie.

GENESIS 2:19-20 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Toe vorm die HERE God uit die grond al die diere van die veld en al die voëls van die hemel, en Hy bring hulle na die mens om te sien wat hy hulle sou noem; en wat ook al die mens 'n lewende wese genoem het, dit was sy naam. So het die mens name gegee vir al die mak diere en die voëls van die hemel en al die diere van die veld. Maar vir homself het hy nie 'n helper, as sy gelyke, gevind nie.

GENESIS 2:19-20 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En die HERE God het uit die grond al die diere van die veld en al die voëls van die hemel gevorm; en hulle na Adam gebring om te sien hoe hy hulle sou noem; en wat Adam ook al elke lewende wese genoem het, dit was die naam daarvan. Adam het name gegee aan al die vee, al die voëls van die hemel en aan al die diere van die veld; maar vir Adam is daar geen hulp gevind wat vir hom geskik was nie.

GENESIS 2:19-20 DB (Die Boodskap)

Die Here God het elke soort dier uit die grond gemaak asook al die voëls van die hemel. Hy het hulle na die mens toe gebring sodat hy vir hulle name kon gee. Watter naam hy ook al gegee het, so is daardie dier en voël genoem. Die man het toe name aan al die mak diere, al die voëls en al die wilde diere gegee. Nie een was egter goed genoeg om hom te help nie.

GENESIS 2:19-20 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Toe het die HERE God uit die grond al die verskillende soorte diere en voëls gevorm. Daarop neem Hy hulle na die mens toe om te sien wat hy hulle sou noem. En die mens het vir elkeen ’n naam gegee, vir al die mak diere, die voëls en wilde diere. Hy kon egter onder hulle nie een kry wat soos hy is en vir hom ’n metgesel kon wees nie.