GENESIS 19:4-8
GENESIS 19:4-8 Bybel vir almal (ABA)
Die mans van Sodom het om die huis kom staan voordat Lot-hulle gaan slaap het. Daar was ou mans en jong mans. Hulle het van oral in die stad gekom. Hulle het vir Lot geroep en vir hom gevra: “Waar is die mans wat vanaand na jou toe gekom het? Bring hulle uit na ons toe. Ons wil seks hê met hulle.” Lot het uit sy huis na hulle toe gegaan. Hy het die deur agter hom toegesluit en vir hulle gesê: “My broers, asseblief, moenie 'n verkeerde ding doen nie. Luister na my. Ek het twee dogters wat nog nie by 'n man geslaap het nie. Ek sal hulle na julle toe bring en julle mag dan met hulle doen wat julle wil. Maar julle mag niks doen aan hierdie mans nie, want hulle het na my huis gekom en ek moet hulle beskerm.”
GENESIS 19:4-8 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Hulle het nog nie gaan slaap nie toe die manne van die stad, die manne van Sodom, die huis omsingel: jonk en oud, die hele bevolking, almal saam. En hulle het na Lot geroep en aan hom gesê: Waar is die manne wat vannag na jou gekom het? Bring hulle na ons toe uit, dat ons hulle kan beken. Daarop gaan Lot na hulle toe uit voor die ingang en sluit die deur agter hom toe en sê: My broers, moet tog nie kwaad doen nie. Kyk tog, ek het twee dogters wat geen man beken het nie; laat ek dié na julle uitbring, en doen met hulle soos dit goed is in julle oë. Net aan hierdie manne moet julle niks doen nie, want daarom het hulle onder die skaduwee van my dak ingekom.
GENESIS 19:4-8 Afrikaans 1983 (AFR83)
Voor hulle die aand gaan slaap het, het die mans oral uit die stad uit, die mans van Sodom, oud en jonk, die hele klomp, die huis van Lot omsingel. Hulle het vir Lot geroep en vir hom gevra: “Waar is die mans wat vanaand na jou toe gekom het? Bring hulle uit na ons toe. Ons wil geslagsgemeenskap met hulle hê.” Toe het Lot na die mans van Sodom toe uitgegaan. Nadat hy die deur agter hom gesluit het, het hy gesê: “Nee, vriende! Moenie so 'n verkeerde ding doen nie. Ek het twee dogters. Hulle het nog nie gemeenskap met 'n man gehad nie. Ek sal hulle vir julle laat uitkom, doen julle dan met hulle wat julle wil. Moet net nie iets doen aan hierdie mans nie, want hulle het onder die beskerming van my dak ingekom.”
GENESIS 19:4-8 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Voordat hulle gaan slaap, kom die manne van die stad, die manne van Sodom, van oral oor na die huis, jonk en oud, al die mense, sonder uitsondering. Hulle roep toe na Lot en sê vir hom: “Waar is die mans wat vannag by jou aangekom het? Bring hulle uit na ons toe, sodat ons met hulle gemeenskap kan hê!” Lot het na hulle uitgegaan, na die ingang, en die deur agter hom toegemaak. Hy het gesê: “My broers, moet asseblief nie iets slegs doen nie! Kyk, ek het twee dogters wat nog nie met 'n man gemeenskap gehad het nie. Laat ek hulle liewer na julle uitbring. Maak dan met hulle soos dit goed is in julle oë. Net aan hierdie mans moet julle nie iets doen nie, want juis daarom het hulle onder die skadu van my dak ingekom.”
GENESIS 19:4-8 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar voordat hulle gaan slaap het, het die manne van die stad, die manne van Sodom, die huis omsingel, oud en jonk, al die mense van elke kant af. Hulle het na Lot geroep en vir hom gesê: Waar is die manne wat vanaand na jou ingekom het? Bring hulle na ons uit, dat ons hulle kan ken. Lot het by die deur na hulle uitgegaan en die deur agter hom gesluit. Hy het gesê: Ek smeek julle broeders, moenie so iets goddeloos doen nie. Kyk nou, ek het twee dogters wat geen mens geken het nie; laat ek hulle tog na julle uitbring en aan hulle doen soos goed is in julle oë; doen net aan hierdie manne niks nie; want het hulle onder die skaduwee van my dak gekom.
GENESIS 19:4-8 Die Boodskap (DB)
Net voor slaaptyd was daar skielik ’n geraas buite. Al die stad se mans het voor Lot se huis saamgedrom. Almal was daar; jonges en oues. Hulle het Lot geroep en gevra: “Waar is die mans wat vroeër vanaand hier by jou was? Bring hulle uit. Ons wil hulle sien en met hulle seks hê.” Lot het uitgegaan en die deur agter hom toegesluit. Hy het toe mooi met hulle gepraat: “Asseblief, my broers, moet tog nie iets onverantwoordeliks aanvang nie. Kyk, ek het twee dogters. Hulle is hier binne-in die huis. Hulle het nog nooit by ’n man geslaap nie. Ek is bereid om hulle vir julle te bring en julle kan met die dogters doen net wat julle wil. Maar moet in hemelsnaam niks aan die twee mans doen nie. Hulle is my gaste vir die nag.”
GENESIS 19:4-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
toe hulle begin klaarmaak om te gaan slaap, het al die mans van Sodom, oud en jonk, van oor die hele stad saamgekom en die huis omsingel. Hulle skree vir Lot: “Waar is die mans wat die nag by jou deurbring? Bring hulle uit sodat ons seksueel met hulle kan verkeer!” Lot het uitgegaan, die deur agter hom toegemaak en met hulle gepraat. “Asseblief, my broers,” het hy gesoebat, “moenie so ’n bose ding doen nie. Kyk, ek het twee dogters, albei nog maagde. Ek sal hulle buitentoe bring. Doen met hulle wat julle wil, maar los hierdie mans uit, want hulle is onder my beskerming.”