GENESIS 19:15-16 - Compare All Versions
GENESIS 19:15-16 AFR83 (Afrikaans 1983)
Toe die dag begin breek, het die engele hom aangejaag en gesê: “Kom nou! Vat jou vrou en jou twee dogters wat by jou is, anders sterf jy wanneer die stad sy straf kry.” Toe Lot nog talm, het die twee mans hom en sy vrou en sy twee dogters aan die hand gegryp en hulle uit die stad uit gevat, want die Here het Hom oor Lot ontferm.
GENESIS 19:15-16 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
En toe die dag begin breek, het die engele by Lot aangedring en gesê: Maak jou klaar, neem jou vrou en jou twee dogters wat by jou is, dat jy weens die ongeregtigheid van die stad nie omkom nie. Maar hy het nog getalm. Toe gryp die manne hom en sy vrou en sy twee dogters aan die hand, omdat die HERE hom wou verskoon; en hulle lei hom uit en bring hom buitekant die stad.
GENESIS 19:15-16 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Teen dagbreek die volgende dag het die engele by hulle aangedring: “Maak gou! Neem jou vrou en twee dogters wat by jou is uit hierdie plek, anders sal die verwoesting van die stad julle ook tref.” Toe Lot nog talm, gryp die engele sy hand en dié van sy vrou en twee dogters, en lei hulle haastig uit die stad uit, want die HERE was hulle genadig.
GENESIS 19:15-16 DB (Die Boodskap)
Teen dagbreek het die engele Lot aangejaag en gesê: “Nou moet julle regtig baie vinnig vertrek. As jy en jou vrou en die twee dogters nie nou vertrek nie, sal julle saam met die stad vergaan.” Lot het nog aanhou draai. Toe gryp die engele hulle hande en lei hulle na ’n veilige plek buite die stad. Die Here het vir Lot-hulle omgegee; daarom het Hy hulle veilig uitgelei.
GENESIS 19:15-16 ABA (Bybel vir almal)
Toe dit dag word, het die engele vir Lot gesê hy moet gou maak. Hulle het gesê: “Kom, neem jou vrou en jou twee dogters wat by jou is, sodat die Here jou nie ook straf wanneer Hy die stad straf nie.” Lot het nog 'n bietjie gewag. Toe gryp die twee mans sy hand en sy vrou se hand en sy twee dogters se hande en hulle neem hulle almal tot buite die stad. Die Here wou Lot se lewe spaar.
GENESIS 19:15-16 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Net toe die dag breek, het die engele Lot aangespoor: “Staan op! Neem jou vrou en jou twee dogters wat hier is, anders word julle meegesleur oor die sondeskuld van die stad.” Hy het nog gehuiwer, toe gryp die mans hom, sy vrou en sy twee dogters aan die hand, omdat die HERE Hom oor hom ontferm het. Hulle het hom uitgelei en buite die stad gelaat.
GENESIS 19:15-16 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
En toe die môre aanbreek, het die engele vir Lot gehaas en gesê: Staan op, neem jou vrou en jou twee dogters wat hier is; dat jy nie deur die ongeregtigheid van die stad omkom nie. En terwyl hy vertoef, het die manne sy hand en die hand van sy vrou en die hand van sy twee dogters gegryp; die HERE was hom genadig, en hulle het hom uitgelei en hom buitekant die stad gesit.