GENESIS 1:14-19
GENESIS 1:14-19 Bybel vir almal (ABA)
God het gesê: “Daar moet ligte in die hemeldak wees. Die ligte moet dag en nag van mekaar skei. Die ligte moet tekens wees wat wys watter tyd dit is en wanneer die dae en die jare begin en wanneer hulle eindig. Die ligte in die hemeldak moet skyn op die aarde.” Dit het toe gebeur. God het twee groot ligte gemaak, en ook die sterre. Die groot lig moes in die dag skyn, en die kleiner lig moes in die nag skyn. God het hierdie ligte in die hemeldak gesit om lig te gee op die aarde en om in die dag te skyn of in die nag te skyn. Hulle moes lig en donker van mekaar skei. God het gesien dit is goed. Dit het aand geword en daarna het dit oggend geword. Dit was die vierde dag.
GENESIS 1:14-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En God het gesê: Laat daar ligte wees aan die uitspansel van die hemel, om skeiding te maak tussen die dag en die nag; en laat hulle dien as tekens sowel vir vaste tye, asook vir dae sowel as jare. Laat hulle ook dien as ligte aan die uitspansel van die hemel om lig te gee op die aarde. En dit was so. God het toe die twee groot ligte gemaak: die groot lig om te heers oor die dag en die klein lig om te heers oor die nag; ook die sterre. En God het hulle aan die uitspansel van die hemel gestel om lig te gee op die aarde en om te heers oor die dag en oor die nag en om skeiding te maak tussen die lig en die duisternis. Toe sien God dat dit goed was. En dit was aand en dit was môre, die vierde dag.
GENESIS 1:14-19 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe het God gesê: “Laat daar ligte wees aan die hemelgewelf om dag en nag van mekaar te skei. Hulle moet ook as tekens dien om seisoene, dae en jare aan te dui. Hulle moet ligte wees aan die hemelgewelf om op die aarde lig te gee.” So het dit gebeur. God het die twee groot ligte gemaak, die grootste om bedags te heers en die kleiner lig om snags te heers, en ook die sterre. God het hulle in die hemelgewelf geplaas om op die aarde lig te gee, om oor dag en nag te heers en om lig en donker van mekaar te skei. En God het gesien dit is goed. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die vierde dag.
GENESIS 1:14-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
God het gesê: “Laat daar ligte wees aan die hemelgewelf om skeiding te maak tussen dag en nag. Hulle moet daar wees vir tekens en vir vaste tye, en vir dae en jare. Hulle moet daar wees as ligte aan die hemelgewelf om lig te gee op die aarde.” Dit het toe so gebeur. God het die twee groot ligte gemaak, die groot lig om te heers oor die dag, en die klein lig om te heers oor die nag, en ook die sterre. God het hulle aan die hemelgewelf geplaas om lig te gee op die aarde, en om te heers oor die dag en die nag, en om skeiding te maak tussen die lig en die donker. God het gesien dat dit goed is. En dit was aand en dit was oggend – 'n vierde dag.
GENESIS 1:14-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe het God het gesê: Laat daar ligte wees aan die uitspansel van die hemel om die dag en die nag te skei; en laat hulle dien as tekens en vir seisoene en vir dae en jare. En laat hulle dien as ligte aan die uitspansel van die hemel om lig op die aarde te gee; en dit het so gebeur. God het twee groot ligte gemaak; die groter lig om in die dag te heers en die mindere lig om in die nag te heers; Hy het ook die sterre gemaak. Toe het God hulle aan die uitspansel van die hemel gestel om lig op die aarde te gee, En om te heers oor die dag en oor die nag, asook om die lig van die duisternis te skei, en God het gesien dat dit goed was. Dit was aand en dit was môre, die vierde dag.
GENESIS 1:14-19 Die Boodskap (DB)
God het gesê: “Laat daar ligte in die hemelruim wees sodat mense kan weet wanneer dit dag en wanneer dit nag is. Laat die ligte die mense help om die regte tyd te bepaal. Laat die ligte aan die hemelruim ook elke dag vir die mense op die aarde lig gee.” En dit het so gebeur. God het twee groot ligte gemaak. Die ou grote, die son, moes oor die dag heers. En die kleintjie, die maan, oor die nag en die sterre. God het hierdie twee ligte toe bo in die hemelruim geplaas, sodat dit lig op die aarde bring: die grote oor die dag en die kleintjie oor die nag. So is die lig van die donkerte geskei. En God was baie tevrede met die son en die maan wat Hy gemaak het. Dit het toe nag geword en weer dag. En dit was die vierde dag van die skepping.
GENESIS 1:14-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
God het beveel: “Laat daar ligte wees aan die hemelkoepel sodat dag en nag onderskei kan word en dit ook kan dien as tekens om seisoene, dae en jare te bepaal. Die ligte in die hemelkoepel moet ook die aarde verlig.” Dit het toe so gebeur. So het God die twee groot ligte gemaak: die grootste om in die dag te skyn en die kleiner een om in die nag te skyn. Hy het ook die sterre gemaak. God het hierdie ligte in die hemelkoepel geplaas om die aarde te verlig, die een in die dag en die ander in die nag en ook om lig en donkerte van mekaar te skei. God het gesien dat dit goed was. Dit het op die vierde dag gebeur.