GALASIËRS 1:6-7
GALASIËRS 1:6-7 Bybel vir almal (ABA)
Ek is verbaas dat julle in Galasië so gou die genade van God vergeet het. Hy was baie goed vir julle, Hy het vir Christus gestuur. God het gesê julle behoort aan Hom. Maar nou glo julle 'n ander boodskap. Julle moet besef dat daar nie 'n ander goeie boodskap is nie. Die mense daar by julle wat vir julle 'n ander boodskap leer, maak julle deurmekaar en hulle maak die goeie boodskap van Christus vals.
GALASIËRS 1:6-7 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EK verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na 'n ander evangelie toe, terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai.
GALASIËRS 1:6-7 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dit verbaas my dat julle so gou van God wat julle deur die genade van Christus geroep het, afvallig word en 'n ander evangelie aanneem. Daar is geen ander evangelie nie! Tog is daar mense wat die evangelie van Christus probeer verdraai, en dit is hulle wat vir julle in verwarring bring.
GALASIËRS 1:6-7 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ek is verbaas dat julle so gou van Hom wat julle deur die genade van •Christus geroep het, wegdraai na 'n ander evangelie. Daar is nie 'n ander evangelie nie – al is daar sommige mense wat julle probeer verwar, en die evangelie van Christus wil verdraai.
GALASIËRS 1:6-7 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Ek verwonder my dat julle so gou verwyderd is van Hom wat julle in die genade van Christus geroep het na 'n ander evangelie toe. Wat nie 'n ander is nie; maar daar is sommige wat julle pla en die evangelie van Christus wil verdraai.
GALASIËRS 1:6-7 Die Boodskap (DB)
Wat is dit deesdae met julle? Ek kan nie glo dat julle so gou van God af weggedraai het nie. Het julle vergeet dat Hy julle sy kinders gemaak het omdat Christus so ongelooflik goed vir julle was? En wat doen julle toe om vir Hom daarvoor dankie te sê? Julle gaan staan en aanvaar ’n heeltemal ander evangelie. Begryp julle dit nou nog nie? Daar is nie ’n ander evangelie nie! Maar julle leen mos julle ore uit aan ’n klomp mense wat die goeie nuus oor Christus heeltemal verdraai. Dit lyk my hulle het julle kop behoorlik deurmekaar gepraat.
GALASIËRS 1:6-7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ek is verstom oor wat julle gedoen het. Hoe kon julle so gou julle rug op God draai? Op Hóm wat julle deur Christus se genade na Hom toe geroep het! Julle het julle ore uitgeleen vir ’n ander “Goeie Nuus”. Maar daar is geen ander Goeie Nuus nie! Al wat daar is, is ’n paar mense wat julle deurmekaarmaak, ja, wat die Goeie Nuus van Christus wil verdraai.