ESEGIËL 47:1-23
ESEGIËL 47:1-23 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die man met die meetstok het my teruggebring na die ingang van die tempel toe. Toe sien ek daar kom water onder die tempel se drumpel uit aan die oostekant. Die tempel het oos gekyk. Die water het regs van die tempel weggeloop, suid van die altaar verby. Die man vat my toe by die noordpoort uit en om na die buitenste oospoort toe. Daar syfer die water toe regs langs die poort uit. Die man het oos gestap en met die maatlyn wat hy by hom gehad het vyf honderd meter afgemeet van die oospoort af. Toe laat hy my deur die water loop. Dit was enkeldiep. Hy het nog vyf honderd meter afgemeet en my deur die water laat loop. Dit was kniediep. Hy het nog vyf honderd meter afgemeet en my deur die water laat loop. Dit het tot by my heupe gekom. Toe meet hy nog vyf honderd meter, maar toe was die water 'n stroom waar ek nie kon deur nie. Die water was diep, sodat 'n mens sou moes swem; dit was 'n stroom waar 'n mens nie deur kon loop nie. Die man sê toe vir my: “Sien jy dit, mens?” Hy laat my toe al langs die stroom terugstap. Terwyl ek so terugstap, sien ek daar staan groot, hoë bome weerskante op die stroom se wal. Die man het vir my gesê: “Hierdie water loop weg na die streek oos toe en af na die Jordaanvallei toe waar dit in die Dooie See sal inloop. Wanneer dit in die Dooie See inloop, sal die water van die Dooie See vars word. Waar die stroom ook kom, sal dit wemel van al die soorte diere en sal daar baie vis wees. Die water loop af na die Dooie See toe en sal die see vars maak. Waar die stroom kom, sal alles lewe. Daar sal vissers langs die Dooie See staan van En-Gedi af tot by En-Eglajim. Dit sal 'n plek wees waar hulle nette droogmaak. Daar sal net soveel soorte vis wees as in die Groot See, en net so baie. Net die water in die moerasse en kuile langs die Dooie See sal nie vars word nie. Hulle moet sout bly. Weerskante op die wal van die stroom sal allerlei vrugtebome groei. Hulle blare sal nie verlep nie en hulle vrugte sal nie opraak nie. Hulle sal elke maand dra, want die stroom se water kom uit die heiligdom. Die vrugte sal daar wees om te eet en die blare om genesing te bring.” So sê die Here my God: “Die volgende is die grense van die gebied wat julle as besitting moet toeken aan die twaalf stamme. Aan Josef moet twee dele gegee word, maar aan die ander moet julle een deel elk toeken. Ek het met 'n eed beloof dat Ek die land aan julle voorvaders sal gee, daarom kom dit julle toe as besitting. “Die grense van die land is soos volg: Aan die noordekant van die Groot See af oor Getlon tot by Sedad, verder Hamat, Berota, Sibrajim tussen die gebiede van Damaskus en Hamat, en Middel-Gaser op die grens van Gauran. Die grens loop dus van die see af tot by Gasar-Enan, met die gebiede van Damaskus en Hamat noord daarvan. Dit is die noordgrens. “Aan die oostekant is die grens van tussen Gauran en Damaskus af, tussen Gilead en Israel met die Jordaan langs, en dan moet julle die grens aan die oostekant van die Dooie See trek. Dit is die oosgrens. “Aan die suidekant loop die grens eers suid van Tamar af tot by die waters van Meriba-Kades, dan met die spruit langs tot teen die Groot See. Dit is die suidgrens. “Aan die westekant is die grens die Groot See, van die suidgrens af tot regoor Lebo-Hamat. Dit is die wesgrens. “Dit is die land wat julle tussen julle moet verdeel volgens al die stamme van Israel. Julle moet die land verdeel deur loting vir julleself en vir die vreemdelinge wat al 'n geslag lank tussen julle woon. Julle moet sulke vreemdelinge as medeburgers tussen julle beskou. Hulle moet saam met julle besittings ontvang onder die stamme van Israel. Julle moet die vreemdelinge hulle besittings gee by die stamme waar hulle woon,” sê die Here my God.
ESEGIËL 47:1-23 Bybel vir almal (ABA)
Die man het my teruggebring na die deur van die tempel, en daar kom toe water uit onder die tempel se drumpel! Die water het oos gevloei, want die tempel se voorkant was by die oostekant. Die water het regs van die tempel weggevloei, suid van die altaar. Toe bring die man my deur die buitenste noord-poort en hy laat my buite-om loop na die buitenste oos-poort. En daar, regs van die poort, het 'n klein bietjie water gevloei. Die man het na die oostekant geloop. Hy het 'n maatlyn in sy hand gehad en hy het 1 000 el gemeet. Toe het hy my deur die water laat loop. Die water het tot by my enkels gekom. Toe meet die man nog 1 000 el en hy laat my deur die water loop. Die water het tot by my knieë gekom. Toe meet hy nog 1 000 el en hy laat my deur die water loop. Die water het tot by my heupe gekom. Toe meet hy nog 1 000 el, en toe was dit 'n rivier, ek kon nie daardeur gaan nie. Die water was so diep dat ek sou moes swem. Dit was 'n rivier, 'n mens kon nie daardeur loop nie. Die man sê toe vir my: “Mens, het jy dit gesien?” Hy het my op die wal van die rivier laat terugloop. Terwyl ek terugloop, het ek gesien daar is baie groot bome op die wal van die rivier, langs altwee kante. Die man het vir my gesê: “Hierdie water vloei na die oostekant van die land, dit vloei af na die Jordaan-vallei en dit sal in die Dooie See vloei. Die Dooie See se water vloei nie weer uit nie. Die rivier se water sal die Dooie See se water vars laat word, dit sal nie sout wees nie. Oral waar die rivier vloei, sal daar baie diere wees, al die soorte diere en baie visse. Wanneer hierdie water in die see kom, dan sal die see se water vars word. Waar die rivier se water kom, daar sal alles lewe. Vissermanne sal langs die see staan van En-Gedi tot by En-Eglajim. Dit sal 'n plek wees waar hulle die visnette droogmaak. Daar sal so baie verskillende soorte visse wees soos in die Middellandse See, en daar sal báie visse wees. Maar die water in die vleie en die watergate langs die see sal nie vars word nie. Daardie water moet sout bly. Op die walle langs altwee kante van die rivier sal al die verskillende soorte vrugtebome groei. Hulle blare sal nie droog word en verlep nie en daar sal altyd vrugte aan die bome wees. Die bome sal elke maand nuwe vrugte dra, want hulle staan by water wat van die tempel kom. Die mense sal die vrugte eet en hulle sal die blare gebruik, dit sal medisyne wees vir hulle.” Die Here, Hy wat Here is, sê: “Hier is die grense van die land wat julle tussen die twaalf stamme van Israel moet verdeel. Die Josef-stam moet twee dele kry. Elke ander stam moet een deel kry. Ek het belowe dat Ek die land vir julle voorvaders sal gee. Daarom moet julle die grond in hierdie land kry. Hier is die grense van die land: By die noordekant begin die grens by die Middellandse See en dan gaan dit verby die stad Getlon tot by die stad Sedad, en dan verder na die stede Hamat, Berota en Sibrajim, wat op die grens tussen die land Damaskus en die land Hamat is, en dan na die stad Middel-Gaser op die grens van die land Gauran. Hierdie grens is van die Middellandse See tot by die stad Gasar-Enan op die grens van die land Damaskus, en by die noordekant is die grens van die land Hamat. Dit is die noordgrens. By die oostekant begin die grens tussen die land Gauran en die land Damaskus, en dit gaan langs die Jordaan-rivier tussen die land Gilead en die land Israel. Julle moet die grens meet van die kant van die Dooie See. Dit is die oosgrens. By die suidekant begin die grens suid van die stad Tamar en dit gaan tot by die stad Waters-van-Meribot-Kades, en dan langs die rivier na die Middellandse See. Dit is die suidgrens. By die westekant is die Middellandse See die grens, van die suidgrens tot oorkant die stad Lebo-Hamat. Dit is die wesgrens.” “Julle moet hierdie land verdeel vir die stamme van Israel. En wanneer julle lootjies trek om te sien wie grond moet kry, dan moet dit wees vir julleself en vir die vreemdelinge wat lank tussen julle woon en wat in julle land kinders gekry het. Daardie vreemdelinge moet vir julle soos regte Israeliete wees. Hulle moet saam met julle grond kry tussen die stamme van Israel. Julle moet vir 'n vreemdeling grond gee by die stam waar hy woon.” Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.
ESEGIËL 47:1-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DAARNA het hy my teruggebring na die ingang van die huis, en kyk, daar het waters uitgestroom onder die drumpel van die huis uit, na die ooste toe; want die voorkant van die huis was na die ooste toe; en die waters het weggevloei onder die regtersymuur van die huis uit, suid van die altaar. En hy het my uitgebring deur die noordpoort en my buitekant om laat gaan na die buitenste poort wat na die ooste kyk; en kyk, die waters het gekabbel uit die regtersymuur uit. Toe die man na die ooste uitgegaan het met 'n meetsnoer in sy hand, het hy duisend el gemeet; en hy het my deur die waters laat deurgaan — waters tot aan die enkels. Toe het hy nog duisend gemeet en my deur die waters laat deurgaan — waters tot aan die knieë; en hy het nog duisend gemeet en my laat deurgaan — waters tot aan die heupe. Verder het hy nog duisend gemeet — 'n stroom wat ek nie kon deurgaan nie! Want die waters het opgerys — waters om in te swem, 'n stroom waar 'n mens nie deur kan loop nie. En hy het vir my gesê: Het jy dit gesien, mensekind? Toe het hy my weer terug laat loop aan die kant van die stroom. Terwyl ek teruggaan, kyk, toe het ek aan die kant van die stroom 'n menigte bome gesien, aan altwee kante. En hy het vir my gesê: Hierdie waters vloei weg na die oostelike landstreek en loop in die Vlakte af en gaan na die see; in die see word dit uitgelei, sodat die waters daarvan gesond kan word. En al die lewende wesens wat wemel, oral waar die dubbele stroom kom, sal lewe; en daar sal 'n menigte visse wees, omdat hierdie waters daarheen gekom het; en dié waters sal gesond word, en alles sal lewe waar die stroom kom. Ook sal vissers daaraan staan, van Éngedi af tot by En-Eglaim: 'n droogmaakplek vir die nette sal dit wees; na hulle soorte sal daar visse in wees soos die visse van die Groot See, 'n menigte. Die moerasse en kuile daarvan — húlle sal nie gesond word nie: vir sout is hulle bestem. En by die stroom sal aan altwee kante allerhande bome groei om van te eet, waarvan die blare nie sal verdor en die vrugte nie sal opraak nie; elke maand sal hulle nuwe vrugte dra; want die waters waar hulle aan staan — uit die heiligdom stroom hulle; en hulle vrugte sal wees om te eet en hulle blare om te genees. SO sê die Here HERE: Dit moet die grondgebied wees waarin julle die land as erfdeel sal verwerf volgens die twaalf stamme van Israel — vir Josef twee dele. En julle moet dit erwe, die een soos die ander, omdat Ek my hand opgehef het om dit aan julle vaders te gee; en hierdie land moet julle as erfenis toeval. En dit moet die grens van die land wees: aan die noordekant van die Groot See af, langs die weg van Hetlon, tot by die ingang na Sedad toe: Hamat, Berota, Sibraim, wat tussen die gebied van Damaskus en die gebied van Hamat lê, die middelste Haser, wat op die grens van Hauran is. So moet dan die grens van die See af wees tot by Hasar-Enon, die gebied van Damaskus, en wat die noorde betref noordwaarts, is Hamat die grens; dit is die noordekant. En aan die oostekant: tussen Hauran en Damaskus en Gílead en die land van Israel uit — die Jordaan; van dié grens af tot by die Oostelike See moet julle dit meet; dit is die oostekant. En aan die suidekant na die suide toe van Tamar af tot by die twiswaters van Kades, dan na die spruit van Egipte tot by die Groot See; dit is die suidekant na die suide toe. En aan die westekant die Groot See, van die grens af tot reg teenoor die plek waar die ingang na Hamat is; dit is die westekant. En julle moet hierdie land aan julle uitdeel volgens die stamme van Israel. En julle moet dit as erfenis laat toeval aan julle en aan die vreemdelinge wat onder julle vertoef, wat kinders onder julle verwek het; en hulle sal vir julle wees soos 'n kind van die land onder die kinders van Israel; saam met julle moet hulle 'n erfdeel ontvang onder die stamme van Israel. En in die stam waar die vreemdeling by vertoef, daar moet julle hom sy erfdeel gee, spreek die Here HERE.
ESEGIËL 47:1-23 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die man met die meetstok het my teruggebring na die ingang van die tempel toe. Toe sien ek daar kom water onder die tempel se drumpel uit aan die oostekant. Die tempel het oos gekyk. Die water het regs van die tempel weggeloop, suid van die altaar verby. Die man vat my toe by die noordpoort uit en om na die buitenste oospoort toe. Daar syfer die water toe regs langs die poort uit. Die man het oos gestap en met die maatlyn wat hy by hom gehad het vyf honderd meter afgemeet van die oospoort af. Toe laat hy my deur die water loop. Dit was enkeldiep. Hy het nog vyf honderd meter afgemeet en my deur die water laat loop. Dit was kniediep. Hy het nog vyf honderd meter afgemeet en my deur die water laat loop. Dit het tot by my heupe gekom. Toe meet hy nog vyf honderd meter, maar toe was die water 'n stroom waar ek nie kon deur nie. Die water was diep, sodat 'n mens sou moes swem; dit was 'n stroom waar 'n mens nie deur kon loop nie. Die man sê toe vir my: “Sien jy dit, mens?” Hy laat my toe al langs die stroom terugstap. Terwyl ek so terugstap, sien ek daar staan groot, hoë bome weerskante op die stroom se wal. Die man het vir my gesê: “Hierdie water loop weg na die streek oos toe en af na die Jordaanvallei toe waar dit in die Dooie See sal inloop. Wanneer dit in die Dooie See inloop, sal die water van die Dooie See vars word. Waar die stroom ook kom, sal dit wemel van al die soorte diere en sal daar baie vis wees. Die water loop af na die Dooie See toe en sal die see vars maak. Waar die stroom kom, sal alles lewe. Daar sal vissers langs die Dooie See staan van En-Gedi af tot by En-Eglajim. Dit sal 'n plek wees waar hulle nette droogmaak. Daar sal net soveel soorte vis wees as in die Groot See, en net so baie. Net die water in die moerasse en kuile langs die Dooie See sal nie vars word nie. Hulle moet sout bly. Weerskante op die wal van die stroom sal allerlei vrugtebome groei. Hulle blare sal nie verlep nie en hulle vrugte sal nie opraak nie. Hulle sal elke maand dra, want die stroom se water kom uit die heiligdom. Die vrugte sal daar wees om te eet en die blare om genesing te bring.” So sê die Here my God: “Die volgende is die grense van die gebied wat julle as besitting moet toeken aan die twaalf stamme. Aan Josef moet twee dele gegee word, maar aan die ander moet julle een deel elk toeken. Ek het met 'n eed beloof dat Ek die land aan julle voorvaders sal gee, daarom kom dit julle toe as besitting. “Die grense van die land is soos volg: Aan die noordekant van die Groot See af oor Getlon tot by Sedad, verder Hamat, Berota, Sibrajim tussen die gebiede van Damaskus en Hamat, en Middel-Gaser op die grens van Gauran. Die grens loop dus van die see af tot by Gasar-Enan, met die gebiede van Damaskus en Hamat noord daarvan. Dit is die noordgrens. “Aan die oostekant is die grens van tussen Gauran en Damaskus af, tussen Gilead en Israel met die Jordaan langs, en dan moet julle die grens aan die oostekant van die Dooie See trek. Dit is die oosgrens. “Aan die suidekant loop die grens eers suid van Tamar af tot by die waters van Meriba-Kades, dan met die spruit langs tot teen die Groot See. Dit is die suidgrens. “Aan die westekant is die grens die Groot See, van die suidgrens af tot regoor Lebo-Hamat. Dit is die wesgrens. “Dit is die land wat julle tussen julle moet verdeel volgens al die stamme van Israel. Julle moet die land verdeel deur loting vir julleself en vir die vreemdelinge wat al 'n geslag lank tussen julle woon. Julle moet sulke vreemdelinge as medeburgers tussen julle beskou. Hulle moet saam met julle besittings ontvang onder die stamme van Israel. Julle moet die vreemdelinge hulle besittings gee by die stamme waar hulle woon,” sê die Here my God.
ESEGIËL 47:1-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die man het my teruggeneem na die ingang van die •tempel. Kyk, water het onder die drumpel van die tempel uitgestroom aan die oostekant, die voorkant van die tempel was immers aan die oostekant. Die water het onder die tempel uit, aan die regterkant, suid van die altaar, afgevloei. Hy het my deur die noordelike poort uitgeneem en my buite-om laat gaan na die buitepoort wat oos front. Kyk, water het uitgeborrel aan die regterkant. Toe die man in 'n oostelike rigting wegstap, was daar 'n maatlyn in sy hand. Hy het duisend el afgemeet en my die water laat oorsteek – water wat enkeldiep was. Hy het nog 'n duisend afgemeet en my die water laat oorsteek – water wat kniediep was. Hy het duisend el afgemeet en my laat oorsteek – water wat heupdiep was. Hy het nog 'n duisend afgemeet – 'n stroom wat ek nie kon oorsteek nie. Ja, die water het gestyg – water waarin 'n mens kon swem, 'n stroom wat nie oorgesteek kon word nie. Hy het vir my gevra: “Sien jy dit, mensekind?” Hy het my weer na die stroom se wal laat terugkeer. Toe ek weer terug is daar, kyk, toe is daar op die stroom se walle 'n groot aantal bome, aan albei kante. Die man sê toe vir my: “Hierdie water vloei weg na die oostelike streek, en loop dan af na die Araba, en kom by die see uit. In die see waar dit uitvloei, word die water vars. Daar sal allerhande lewende wesens wees wat krioel – oral waar die stroom kom, sal hulle leef; en daar sal groot hoeveelhede vis wees. Want waar hierdie water kom, sal die soutwater vars word. Alles sal leef waar die stroom kom. Daar sal vissers langs die see staan, van En-Gedi af tot by En-Eglajim. Daar sal droogmaakplekke vir sleepnette wees. Daar sal geweldig baie soorte vis wees, net soos die vis in die Groot See. “Sy moerasse en kuile sal egter nie vars word nie; vir soutontginning is dit bestem. Aan weerskante van die stroom, op sy walle, sal allerhande vrugtebome groei. Hulle blare sal nie verwelk nie, en hulle vrugte sal nie opraak nie. Elke maand sal hulle nuwe vrugte dra, want dit is uit die heiligdom wat hulle water vloei. Hulle vrugte sal as voedsel dien en hulle blare tot genesing.” So sê my Heer, die HERE: “Dit is die grense waarbinne julle die land moet vererf aan die twaalf stamme van Israel. Josef kry twee afgemete dele. Julle moet dit as erfdeel neem, elkeen met dieselfde grootte uit die land waaroor Ek my hand opgehef het om dit aan julle voorvaders te gee. Hierdie land word aan julle toegewys as erfdeel. “Dit is dan die grense van die land: Aan die noordekant is dit vanaf die Groot See met die pad na Getlon, Lebo-Hamat, Sedad, Berota, Sibrajim, wat tussen die gebiede van Damaskus en Hamat lê, en Gaser-Enon wat op die grens van Gauran lê. Die grens is vanaf die see tot by Gaser-Enon, aan die grens van Damaskus. Die noordelikste punt is die grens by Hamat. Dit is die noordekant. Aan die oostekant is dit vanaf 'n punt tussen Gauran en Damaskus; en tussen Gilead en die land Israel vorm die Jordaan die grens na die Oostelike See tot by Tamar. Dit is die oosgrens. Aan die suidekant is dit suidwaarts vanaf Tamar tot by die water van Meriba-Kades en met die Spruit na die Groot See. Dit is die suidgrens aan die suidekant. Aan die westekant vorm die Groot See die grens tot by 'n punt regoor Lebo-Hamat. Dit is die wesgrens.” “Julle moet hierdie land onder julle verdeel, onder die stamme van Israel. Dit moet so gebeur: Julle moet dit as erfdeel aan julleself toewys en aan die •vreemdelinge wat tydelike verblyf tussen julle het en kinders verwek het by julle. Hulle geld vir julle as gebore Israeliete, as deel van die Israeliete. Saam met julle moet 'n erfdeel aan hulle toegewys word tussen die stamme van Israel. By die stam waar die vreemdeling tydelike verblyf het, daar moet julle hom sy erfdeel gee.” Dit is die uitspraak van my Heer, die HERE.
ESEGIËL 47:1-23 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Daarna het hy my teruggebring na die deur van die huis; en kyk, daar het waters uitgekom van onder die drumpel van die huis uit na die ooste; want die voorkant van die huis het na die ooste gestaan, en die waters het van onder af gekom van die regterkant van die huis, aan die suidekant van die altaar. Daarop het hy my uit die pad van die poort na die noorde gebring en my op die pad na buite gelei na die buitenste poort met die pad wat na die ooste kyk; en kyk, daar het waters aan die regterkant uitgevloei. En toe die man wat die lyn in sy hand gehad het, ooswaarts uitgegaan het, het hy duisend el gemeet, en hy het my deur die water gebring; die waters was tot by die enkels. Hy het weer duisend gemeet en my deur die water gebring; die waters was tot by die knieë. Weer het hy duisend gemeet en my deurgebring; die waters was tot by die lendene. Daarna het hy duisend gemeet; en dit was 'n rivier waaroor ek nie kon verbygaan nie, want die waters het opgestyg, waters om in te swem, 'n rivier waaroor nie deurgetrek kon word nie. En Hy sê vir my: Mensekind, het jy dit gesien? Toe het hy my gebring en my na die rand van die rivier laat terugkeer. En toe ek terugkom, kyk, op die oewer van die rivier was daar baie bome aan die een kant en aan die ander kant. Toe sê hy vir my: Hierdie waters vloei uit na die oostelike land en gaan af in die woestyn en gaan in die see; En dit sal gebeur dat alles wat lewe, wat beweeg, waar die riviere ook al kom, sal lewe; en daar sal 'n baie groot menigte visse wees, omdat hierdie waters daarheen sal kom, want hulle sal genees word; en alles sal lewe waar die rivier kom. En dit sal gebeur dat die vissers daarop sal staan van Engedi tot by Eneglaim; hulle sal 'n plek wees om nette uit te sprei; hulle visse sal wees volgens hulle soorte, soos die visse van die Groot See, uitermate baie. Maar sy modderige plekke en sy vleie sal nie genees word nie; hulle sal aan sout gegee word. En by die rivier aan die wal daarvan, aan weerskante en anderkant, sal al die bome groei om te eet, waarvan die blare nie sal verwelk en die vrugte daarvan nie verteer sal word nie; dit sal nuwe vrugte voortbring volgens sy maande, want hulle water het hulle uit die heiligdom laat uitloop, en die vrugte daarvan moet as spys wees en sy blare as medisyne. So sê die HERE HERE: Dit moet die grens wees waarmee julle die land moet erwe volgens die twaalf stamme van Israel: Josef moet twee dele hê. En julle moet dit erwe, die een sowel as die ander, omdat Ek my hand opgehef het om dit aan julle vaders te gee; en hierdie land sal vir julle as erfenis toeval. En dit moet die grens van die land wees na die noordekant toe, van die Groot See af, die pad van Hetlon af, terwyl die mense na Sedad gaan; Hamat, Berota, Sibraim, wat tussen die grens van Damaskus en die grens van Hamat is; Hazarhatticon, wat aan die kus van Hauran is. En die grens van die see af sal Hasarenan wees, die grens van Damaskus, en die noorde na die noorde, en die grens van Hamat. En dit is die noordekant. En aan die oostekant moet julle meet van Hauran en Damaskus en Gílead af en van die land van Israel by die Jordaan af, van die grens af tot by die Oossee. En dit is die oostekant. En die suidekant suidwaarts, van Tamar af tot by die waters van twis in Kades, die rivier tot by die Groot See. En dit is die suidekant suidwaarts. Ook aan die westekant sal die Groot See wees van die grens af, totdat 'n man oortrek teen Hamat. Dit is die westekant. So moet julle hierdie land onder julle verdeel volgens die stamme van Israel. En julle moet dit deur die lot as 'n erfenis uitdeel vir julle en aan die vreemdelinge wat onder julle vertoef, wat kinders onder julle sal verwek; en hulle sal vir julle wees soos gebore in die land onder die kinders van Israel; hulle sal saam met jou 'n erfdeel hê onder die stamme van Israel. En dit sal gebeur dat in die stam van die vreemdeling as vreemdeling vertoef, daar sal julle hom sy erfdeel gee, spreek die HERE HERE.
ESEGIËL 47:1-23 Die Boodskap (DB)
Die man wat die opmetings moes doen, het my toe weer teruggebring na die ingang van die huis van die Here toe. Toe sien ek iets snaaks. Daar het water onder die huis van die Here uitgekom, aan die oostekant daarvan. Die water het regs van die huis van die Here weggeloop, suid van die altaar verby. Die man vat my toe aan die hand. Hy lei my by die ingang aan die noordekant van die huis van die Here uit, en om na die buitenste ingang aan die oostekant toe. Daar syfer die water toe regs langs die ingang uit. Die man het na die oostekant toe gestap. Met sy liniaal het hy 500 meter afgemeet van hierdie ingang af. Toe wys hy vir my ek moet deur die water loop. Die water het tot by my enkels gekom. Toe het hy nog 500 meter verder afgemeet. Hy het gaan staan en ek moes weer deur die water gaan. Hier het die water tot by my knieë gekom. Die man het toe nog 500 meter verder afgemeet, en ek moes weer deur die water loop. Hier het die water tot by my heupe gekom. Toe meet hy nog 500 meter verder af. Maar hier was die water ’n diep stroom. Ek kon nie daardeur loop nie. Die water was so diep dat ’n mens sou moes swem. Die man sê toe vir my: “Het jy opgelet wat gebeur het?” Toe stap ek saam met hom al langs die stroom terug tot by die huis van die Here. Terwyl ons terugstap, sien ek daar staan groot, hoë bome aan weerskante van die stroom, al langs die wal van die rivier. Die man het toe vir my verduidelik: “Hierdie water wat onder die drumpel van die huis van die Here uitkom, loop weg na die Jordaanvallei toe waar dit in die Dooie See inloop. En wanneer dit in die Dooie See inloop, word die soutwater van die Dooie See weer vars en skoon. Oral waar hierdie water kom, wemel dit van al die soorte diere. En in die water is daar baie vis, want dit is vars, skoon water. In die Dooie See leef niks nie omdat die water dood is. Hierdie water sal die Dooie See se water weer vars maak. Oral waar hierdie water kom, sal alles lewe. Weet jy wat? Langs die Dooie See sal die vissers bankvas staan, van En-Gedi af tot by En-Eglajim. Waar voorheen geen lewe was nie omdat die water dood was, sal nou elke denkbare soort vis volop wees. Oral langs die Dooie See sal die vissers hulle nette droogmaak. Daar sal net soveel soorte vis wees as in die Middellandse See. Al wat nie weer vars sal word nie, is die moeraswater en die water in die kuile langs die Dooie See. Hulle moet sout bly om julle te herinner aan die wonderwerk wat gebeur het. Aan weerskante van die wal van die rivier sal pragtige vrugtebome groei. Hierdie bome sal anders as ander vrugtebome wees. Hulle blare sal nooit verlep nie, nie eens in die winter nie. En hulle vrugte sal nooit opraak nie. Hulle sal elke maand vrugte dra, want die rivier se water kom uit die huis van die Here. Die mense sal elke dag kom vrugte pluk. En hulle sal die blare gebruik om op hulle seerplekke te sit en dit sal hulle gesond maak.” So sê die Here, die God van Esegiël: “Ek gaan nou vir jou wys wat die grense van die gebiede is wat vir die twaalf stamme van my volk gegee moet word. Onthou om aan Josef twee areas te gee. Aan elkeen van die ander stamme moet julle een area gee. Ek het vir julle oupagrootjies belowe dat Ek hierdie land aan hulle en hulle kleinkinders sal gee. Daarom moet julle dit erf. “Die grense van julle land lyk só: Die grens aan die noordekant van die land is van die Middellandse See, oor die volgende dorpe: oor Getlon tot by Sedad, en verder deur Hamat en Berota, verby Sibrajim tussen die grond wat aan Damaskus en Hamat behoort, en Middel-Gaser wat op die grens van Gauran lê. Die grens van julle land kom van die see af tot by Gasar-Enan, met die gebiede van Damaskus en Hamat noord daarvan. Dit is die noordgrens. “Die grens aan die oostekant is van Gauran en Damaskus af, tussen Gilead en Israel met die Jordaan langs, en dan moet julle die grens aan die oostekant van die Dooie See trek. Dit is die oosgrens. “Aan die suidekant loop die grens eers suid van Tamar af tot by die waters van Meriba-Kades, dan met die spruit langs tot teen die Middellandse See. Dit is die suidgrens. “Aan die westekant is die grens die Middellandse See, van die suidgrens af tot regoor Lebo-Hamat. Dit is die wesgrens. “Elke stam in Israel moet ’n gebied kry wat net so groot is as die gebied wat elke ander stam gekry het. Wanneer julle moet besluit oor wie watter gebied kry, moet julle loot om te bepaal wie kry wat. As daar immigrante onder julle bly, en hulle is al ’n geslag lank by julle, moet julle ook vir hulle grond gee. Julle moet hierdie mense behandel asof hulle saam met julle burgers van julle land is. Die immigrante moet saam met julle van die grond erf wat Ek vir die stamme van my volk gee,” sê die Here, Esegiël se God.
ESEGIËL 47:1-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die man het my teruggebring na die ingang van die tempel. Daar het ek ’n stroom water gesien wat onder die tempel se drumpel ooswaarts uitvloei, want die tempel het oos gekyk. Hierdie stroom het regs van die altaar, aan die suidekant, verbygegaan. Die man bring my toe buitekant die muur deur die noordelike ingang en lei my na die oostelike ingang. Daar kon ek die stroom water sien vloei deur die suidelike kant van die oostelike ingang. Die man het oos gestap en met die maatlyn wat hy by hom gehad het 500 meter vanaf die oospoort gemeet. Toe laat hy my deur die water loop. Hier was die water enkeldiep. Hy het nog 500 meter afgemeet en my deur die water laat loop. Hier was dit kniediep. Hy het nog 500 meter afgemeet en my deur die water laat loop. Nou het dit tot by my heupe gekom. Toe meet hy nog 500 meter af, maar toe was die water ’n rivier waardeur ’n mens nie kon loop nie. Die water was diep genoeg dat ’n mens daarin kon swem. Dit het ’n rivier geword waardeur ’n mens nie kon loop nie. Hy vra toe vir my: “Mensekind, het jy dit gesien?” Toe lei hy my terug na die rivier se oewer. Terwyl ek daar loop, sien ek ’n hele klomp bome aan albei kante van die rivier. Hy het vir my gesê: “Hierdie rivier vloei oos deur die woestyn af na die Jordaanvallei toe, waar dit dan in die Dooie See invloei. Die water van dié rivier sal die soutwater van die Dooie See vars maak. Oral waar hierdie rivier loop, bring dit lewe. Vis sal volop wees, want hierdie water sal die soutwater vars maak. Waar die water ook al vloei, sal alles lewe. Vissermanne sal langs die oewers van die Dooie See staan en visvang, van En-Gedi tot by En-Eglajim. Die oewers sal vol nette wees wat in die son drooggemaak word. Allerhande soorte vis sal in die Dooie See wees, net soos in die Middellandse See! Die moerasse en kuile se water sal egter nie vars word nie. Hulle sal soutbronne bly. “Allerhande soorte vrugtebome sal aan weerskante van die rivier groei. Die blare van hierdie bome sal nooit verlep nie en daar sal altyd vrugte aan die takke wees. Daar sal elke maand ’n vrugte-oes wees, want die bome kry hulle water van die rivier wat uit die tempel vloei. Die vrugte sal kos wees en die blare sal genesing bring.” “So sê die oppermagtige HERE: So lyk die grense waarvolgens jy die land onder die twaalf stamme van Israel moet verdeel: Josef moet twee dele kry. Jy moet die land eweredig tussen die res verdeel. Ek het hierdie land as hulle eiendom gegee omdat Ek aan hulle voorouers belowe het om dit te doen. “Die noordelike grens loop van die Middellandse See af oor Getlon tot by Sedad, dan oor Hamat, Berota, Sibrajim tussen die gebiede van Damaskus en Hamat, en Middel-Gaser op die grens van Gauran. Die noordelike grens loop dus van die Middellandse See af tot by Gasar-Enan, op die grens tussen Hamat aan die noorde en Damaskus aan die suide. “Die oostelike grens begin by ’n punt tussen Gauran en Damaskus en loop suidwaarts al langs die Jordaan af tussen Gilead en Israel, verby die Dooie See en tot so ver suid as Tamar. Dit is die oostelike grens. “Die suidelike grens gaan suid van Tamar af tot by die waters van Meriba-Kades, dan met die Egiptespruit langs tot teen die Middellandse See. Dit is die suidgrens. “Aan die westekant is die Middellandse See julle grens, van die suidgrens af tot regoor Lebo-Hamat. Dit is die wesgrens. “Verdeel die land binne hierdie grense tussen die stamme van Israel. Verdeel die land as ’n erfdeel vir julleself en vir die vreemdelinge wat tussen julle bly en wat kinders het. Julle moet sulke vreemdelinge as medeburgers tussen julle beskou. Hulle moet ’n erfdeel ontvang onder die stamme van Israel. Hierdie immigrante moet grond kry binne die grense van die stam waarin hulle nou leef, sê die oppermagtige HERE.”