ESEGIËL 43:16-19
ESEGIËL 43:16-19 Bybel vir almal (ABA)
Die vuurmaakplek moet vierkantig wees, dit moet twaalf el lank en twaalf el breed wees. Die boonste rand, onder die vuurmaakplek, moet ook vierkantig wees, dit moet 14 el lank en 14 el breed wees. Die kant rondom die altaar moet 'n halwe el breed wees. Die afleivoor rondom die altaar moet een el diep wees. Die trappe van die altaar moet by die oostekant wees.” Die man het vir my gesê: “Mens, die Here, Hy wat Here is, sê: Dit is die dinge wat julle moet doen met die altaar wanneer julle dit klaar gebou het om daarop brand-offers te bring en om bloed daarop te spat: Jy moet vir die Levi-priesters 'n bul gee om 'n sonde-offer te wees. Daardie priesters is uit die nageslag van Sadok en hulle mag by My altaar kom om vir My offers te bring.” Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.
ESEGIËL 43:16-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En die vuurherd: twaalf el lank by twaalf el breed, vierkantig na sy vier kante. En die omlysting: veertien el lengte by veertien el breedte na sy vier kante toe; en die opstaande rand daar rondom: 'n half-el; en die voetlaag daaraan: 'n el rondom; en sy trappe het oos gekyk. En hy het vir my gesê: Mensekind, so spreek die Here HERE: Dit is die verordeninge van die altaar: Op die dag as dit gemaak word om brandoffers daarop te bring en om bloed daarteen uit te gooi, moet jy aan die Levitiese priesters wat uit die geslag van Sadok is, wat na My mag nader kom — spreek die Here HERE — om My te dien, 'n jong bul gee as sondoffer.
ESEGIËL 43:16-19 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die vuurmaakplek was vierkantig, ses meter lank en net so breed. Die boonste vlak was ook vierkantig, sewe meter lank en net so breed. Die afleivoor onder het 'n rand van 'n kwart meter breed gehad en was rondom 'n half meter diep. Die trappe teen die altaar op was aan die oostekant. Die man met die meetstok het vir my gesê: “Mens, so sê die Here my God: Die voorskrifte oor die bring van offers op die altaar en die sprinkel van bloed teen hom sal soos volg wees: die dag wanneer hy klaar gebou is, moet jy vir die Levitiese priesters uit die nageslag van Sadok 'n bul gee as 'n sondeoffer; hulle is die priesters wat by die altaar mag kom om die diens aan My te verrig, sê die Here my God
ESEGIËL 43:16-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die vuurmaakplek is twaalf el lank en twaalf el breed – vierkantig, gemeet aan sy vier kante. Die hoër lys is veertien el lank en veertien el breed, gemeet aan sy vier kante. Die rand rondom is 'n halwe el, en die voor van die altaar is rondom een el diep. Die trappe front oos.” Die man het vir my gesê: “Mensekind, so sê my Heer, die HERE, ‘Dit is die vaste voorskrifte vir die altaar, vir die dag wanneer dit opgerig is om •brandoffers daarop te bring en bloed daarteen te sprinkel: Gee vir die priesters, die Leviete uit die nageslag van Sadok wat na My mag nader kom om My te dien, 'n jong bul as •reinigingsoffer.’ Dit is die uitspraak van my Heer, die HERE.
ESEGIËL 43:16-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En die altaar moet twaalf el lank wees, twaalf el breed, vierkantig in sy vier vierkante. En die set moet veertien el lank en veertien el breed wees in sy vier vierkante; en die grens daaromtrent moet 'n halwe el wees; en die onderkant daarvan moet 'n el rondom wees; en sy trappe sal na die ooste kyk. En Hy het vir my gesê: Mensekind, so sê die HERE HERE; Dit is die insettinge van die altaar op die dag as hulle dit maak, om daarop brandoffers te bring en bloed daarop te sprinkel. En jy moet aan die Leviete-priesters wat uit die nageslag van Sadok is, wat na My toe kom om My te dien, 'n jong bul as sondoffer gee, spreek die HERE HERE.
ESEGIËL 43:16-19 Die Boodskap (DB)
Die plek waar die vuur gemaak word, is vierkantig en was ses meter in deursnee. Die heel boonste vlak was ook vierkantig, sewe meter in deursnee. Die voor wat die water weglei, het ’n rand wat ’n kwart meter breed is en ’n halwe meter diep. Die trap waarteen ’n mens opklim na die altaar, is aan die oostekant daarvan. Toe sê die man met die liniaal vir my: “Mens, die Here my God sê dat jy vir die volk moet sê die dag as hierdie altaar klaar gebou is, moet die mense wat in my huis werk, ’n bul daarop offer vir al die slegte dade wat hulle gedoen het. Net hierdie mense, die kleinkinders van Sadok, mag by die altaar kom. Net hulle mag hier werk, sê die Here, Esegiël se God.
ESEGIËL 43:16-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die bokant van die altaar was vierkantig, ses meter lank en net so breed. Die boonste vlak was ook vierkantig, sewe meter lank en net so breed. Die afleivoor onder het ’n rand van ’n kwart meter breed gehad en was rondom ’n half meter diep. Daar was trappe aan die oostekant van die altaar.” Hy het vir my gesê: “Mensekind, so sê die oppermagtige HERE: Hier is die bepalings oor die bring van offers op die altaar en die sprinkel van bloed wanneer die altaar gebou is. Daardie dag moet vir die Levitiese priesters uit die nageslag van Sadok ’n bul gegee word as ’n sonde-offer. Net hulle mag voor My diens verrig, sê die oppermagtige HERE.