ESEGIËL 33:1-16

ESEGIËL 33:1-16 Bybel vir almal (ABA)

Ek het gehoor die Here sê vir my: “Mens, jy moet praat met die mense van jou volk, jy moet vir hulle sê: Wanneer Ek oorlog bring oor 'n land, dan sal die mense van die land een van hulle eie mense kies en hulle sal hom 'n wag maak vir hulle. Wat moet die wag dan doen? Wanneer hy sien die vyande kom om die land aan te val, dan moet hy die ramshoring blaas en hy moet die mense waarsku. Wanneer iemand die ramshoring hoor en hy doen niks, en die vyande kom en hulle maak hom dood, dan is dit sy eie skuld dat hy sterf. Want hy het die ramshoring gehoor, maar hy het niks gedoen nie. Dit sal sy eie skuld wees dat hy sterf. As hy geluister het toe die wag hulle gewaarsku het, dan sou hy sy lewe gered het. Maar wanneer die wag sien dat die vyande kom en hy blaas nie die ramshoring om die mense te waarsku nie, en die vyande kom en hulle maak iemand dood, dan sterf daardie persoon oor sy eie sonde. Maar Ek sal die wag straf omdat daardie persoon gesterf het. Mens, Ek het jou gekies om die wag te wees vir die volk Israel. Wanneer Ek vir jou sê dat jy hulle moet waarsku, dan moet jy dit doen. Wanneer Ek vir iemand wat verkeerd doen, sê dat hy sal sterf, dit is seker, en jy praat nie en jy waarsku hom nie teen sy verkeerde lewe nie, dan is dit daardie persoon se eie skuld dat hy sterf. Maar Ek sal vir jóú straf oor sy dood. Maar wanneer iemand verkeerd doen, en jy waarsku hom teen sy verkeerde lewe en jy sê vir hom hy moet ophou om verkeerd te lewe, maar hy doen dit nie, dan is dit daardie persoon se eie skuld dat hy sterf, jy sal onskuldig wees. En jy, mens, jy moet vir die volk Israel sê: Julle sê: ‘Ons was opstandig en ons het baie sonde gedoen, so baie dat dit soos 'n swaar vrag is wat ons moet dra. Ons het klaar begin om stadig te sterf, ons kan nie aanhou lewe nie.’ Mens, jy moet vir hulle sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Ek wil nie hê dat die mens wat verkeerd doen, moet sterf nie. Dit is seker, so seker soos Ek lewe. Ek wil hê hy moet ophou verkeerd doen sodat hy kan aanhou lewe. Israel, julle moet ophou verkeerd doen, julle moet ophou. Hoekom wil julle sterf? En jy, mens, jy moet vir jou mense sê: Wanneer iemand altyd reg gelewe het, en hy word later opstandig teen My, dan sal dit nie help dat hy voorheen reg gelewe het nie. En wanneer iemand altyd verkeerd gedoen het, en hy hou op om verkeerd te doen, dan sal Ek hom nie straf nie. 'n Mens wat altyd reg gelewe het en wat dan begin sonde doen, sal nie aanhou lewe nie. As 'n persoon altyd reg gelewe het, en Ek sê hy sal aanhou lewe, dan moet hy nie dink dít sal hom red nie, dan moet hy nie verkeerde dinge begin doen nie, want as hy verkeerd begin lewe, dan sal Ek nie dink aan die tyd toe hy reg gelewe het nie. Hy sal sterf omdat hy verkeerd gedoen het. As 'n persoon altyd verkeerd gedoen het, en Ek sê vir hom hy sal sterf, dit is seker, en hy hou op om sonde te doen en hy doen reg en hy lewe reg, dan sal hy aanhou lewe, hy sal nie sterf nie. Wanneer 'n persoon iets teruggee wat hy geneem het omdat iemand hom nie kon betaal nie, wanneer hy die goed teruggee wat hy by ander mense gevat het, wanneer hy lewe soos Ek wil hê en hy doen nie verkeerd nie, dan sal hy lewe, hy sal nie sterf nie. Ek sal nie dink aan al die sonde wat hy gedoen het nie, Ek sal hom nie daaroor straf nie. Hy doen nou reg en hy lewe reg, daarom sal hy aanhou lewe, dit is seker.

ESEGIËL 33:1-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN die woord van die HERE het tot my gekom en gesê: Mensekind, spreek met die kinders van jou volk en sê vir hulle: As Ek die swaard oor 'n land bring, en die mense van die land neem 'n man uit hulle kring en stel hom as wag vir hulle aan, en hy sien die swaard aankom oor die land en blaas met die basuin en waarsku die mense — as dan iemand die geluid van die basuin hoor, maar hom nie laat waarsku nie, en die swaard kom en neem hom weg, dan is sy bloed op sy hoof. Hy het die geluid van die basuin gehoor, maar het hom nie laat waarsku nie: sy bloed is op hom. Maar as hy hom laat waarsku, dan red hy sy siel. As daarenteen die wag die swaard sien kom en met die basuin nie blaas nie, sodat die mense nie gewaarsku is nie, en die swaard kom en neem 'n siel uit hulle weg — dan is hy deur sy ongeregtigheid weggeneem, maar sy bloed sal Ek van die hand van die wag eis. En jy, o mensekind, Ek het jou as wag oor die huis van Israel aangestel; en as jy 'n woord uit my mond hoor, moet jy hulle van my kant waarsku. As Ek aan die goddelose sê: O Goddelose, jy sal sekerlik sterwe, en jy spreek nie om die goddelose vir sy weg te waarsku nie, dan sal hy, die goddelose, deur sy ongeregtigheid sterwe; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis. Maar as jy die goddelose waarsku vir sy weg, dat hy hom daarvan moet bekeer, en hy hom nie bekeer van sy weg nie, dan sal hy deur sy ongeregtigheid sterwe; maar jy het jou siel gered. En jy, mensekind, sê aan die huis van Israel: So het julle gesê: Gewis, ons oortredinge en ons sondes is op ons, en daardeur teer ons weg — hoe kan ons dan lewe? Sê vir hulle: So waar as Ek leef, spreek die Here HERE, gewis, Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat die goddelose hom bekeer van sy weg en lewe. Bekeer julle, bekeer julle van jul verkeerde weë! Waarom tog wil julle sterwe, o huis van Israel? En jy, mensekind, sê aan die kinders van jou volk: Die geregtigheid van die regverdige sal hom nie red op die dag van sy oortreding nie; en aangaande die goddeloosheid van die goddelose, hy sal daardeur nie struikel op die dag as hy hom van sy goddeloosheid bekeer nie; en die regverdige sal deur sy geregtigheid nie kan lewe op die dag as hy sondig nie. As Ek aan die regverdige sê dat hy sekerlik sal lewe, en hy vertrou op sy geregtigheid en doen onreg, dan sal aan al sy geregtighede nie gedink word nie, maar deur sy onreg wat hy doen, daardeur sal hy sterwe. En as Ek aan die goddelose sê: Jy sal sekerlik sterwe — en hy hom van sy sonde bekeer, en reg en geregtigheid doen — gee die goddelose die pand terug, vergoed hy wat geroof is, wandel hy in die insettinge van die lewe, sodat hy geen onreg doen nie — dan sal hy sekerlik lewe, hy sal nie sterwe nie. Al sy sondes wat hy gedoen het, sal hom nie toegereken word nie; hy het reg en geregtigheid gedoen, hy sal sekerlik lewe.

ESEGIËL 33:1-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die woord van die Here het tot my gekom: “Mens, praat met die mense van jou volk en sê vir hulle: Wanneer Ek oorlog oor 'n land bring, en die mense van die land vat een van hulle en stel hom as 'n wag aan, en hy sien die vyand aankom en blaas die ramshoring en waarsku sy mense, en hulle hoor die ramshoring maar slaan nie ag op die waarskuwing nie, dan is hulle verantwoordelik vir hulle eie dood. Hulle het die ramshoring gehoor maar nie op die waarskuwing ag geslaan nie, hulle is self verantwoordelik vir hulle dood. Dit is net dié wat op die waarskuwing ag slaan, wat hulle lewens red. Maar wanneer die wag die vyand sien aankom en nie die ramshoring blaas sodat die mense gewaarsku word nie, en die vyand kom en maak party van die land se mense dood, dan sterf dié mense wel deur hulle eie sonde, maar Ek sal van die wag rekenskap eis vir hulle dood. “Mens, Ek het jou die wag vir Israel gemaak. Wanneer jy by My die opdrag ontvang, moet jy hulle namens My waarsku. Wanneer Ek van die goddelose sê dat hy sal sterwe, en jy praat nie en waarsku hom nie oor sy doen en late nie, sal hy deur sy sonde sterf, maar Ek sal jou verantwoordelik hou vir sy dood. Wanneer jy die goddelose waarsku oor sy optrede om hom daarvan te laat afsien, en hy sien nie daarvan af nie, dan sterf hy deur sy sonde en het jy jou eie lewe behou. “Mens, jy moet vir Israel sê: Julle sê: ‘Ons opstandigheid, ons sonde rus swaar op ons, ons vergaan daaronder, hoe kan ons nog lewe?’ “Sê vir hulle: So seker as Ek leef, sê die Here my God, Ek wil nie hê die sondaar moet deur sy sonde sterf nie, Ek wil hê hy moet van sy optrede afsien en lewe. Bekeer julle, bekeer julle van julle bose optrede! Waarom wil julle sterf, Israel? “Mens, jy moet vir die mense van jou volk sê: Die goeie dade van 'n goeie mens sal hom nie red die dag as hy teen My in opstand kom nie, en die slegte dade van 'n goddelose sal nie teen hom tel die dag as hy hom van sy slegte dade bekeer nie. Die goeie mens sal nie deur sy goeie dade bly lewe die dag as hy sondig nie. Wanneer Ek vir 'n goeie mens sê hy sal die lewe behou, en hy vertrou op sy goeie dade en hy pleeg onreg, sal al sy goeie dade nie in sy guns tel nie; hy sal sterf omdat hy onreg gepleeg het. En wanneer Ek vir 'n goddelose sê hy sal sekerlik sterwe, en hy bekeer hom van sy sonde en hy laat reg geskied en doen reg, hy gee die goed terug wat hy as waarborg vir skuld gevat het, hy betaal terug wat hy geroof het, hy lewe volgens die voorskrifte wat lewe gee en hy pleeg nie onreg nie, sal hy lewe, hy sal nie sterwe nie. Al die sonde wat hy gedoen het, sal hom nie toegereken word nie; hy laat nou reg geskied en hy doen reg, en daarom sal hy in die lewe bly.

ESEGIËL 33:1-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die woord van die HERE het tot my gekom: “Mensekind, praat met die mense van jou volk en sê vir hulle, ‘Wanneer Ek 'n swaard oor 'n land bring, en die volk van die land neem iemand uit hulle geledere en stel hom vir hulle as 'n wag aan, en hy sien die swaard kom oor die land, hy blaas op die •ramshoring en waarsku die mense, en iemand wat luister, hoor die geluid van die ramshoring, maar hy laat hom nie waarsku nie, en die swaard kom en neem hom weg – sy bloed sal op sy eie kop wees. Die geluid van die ramshoring het hy gehoor, maar hy het hom nie laat waarsku nie; sy bloed is op hom. As hy hom laat waarsku het, sou hy sy lewe gered het. “ ‘Maar as die wag die swaard sien kom en hy blaas nie die ramshoring nie, en die volk word nie gewaarsku nie, en 'n swaard kom en neem 'n persoon uit hulle weg – hy is dan oor sy sondeskuld weggeneem; sy bloed sal Ek egter van die hand van die wag eis.’ “Jy, mensekind, as 'n wag het Ek jou aangestel oor die huis van Israel. Jy sal uit my mond die woorde hoor, en dan moet jy hulle van my kant af waarsku. Wanneer Ek vir 'n goddelose sê, ‘Goddelose mens, jy gaan beslis sterf,’ en jy praat nie om die goddelose teen sy pad te waarsku nie – hy, die goddelose, sal dan oor sy sondeskuld sterf; sy bloed sal Ek egter van jou hand eis. As jy egter 'n goddelose waarsku teen sy verkeerde pad, om daarvan terug te draai, en hy draai nie terug van sy pad nie – hy sal deur sy sondeskuld sterf; maar jy, jou eie lewe het jy dan gered. “Jy, mensekind, sê vir die huis van Israel, ‘Dit is wat julle sê: “Omdat ons oortredings en ons sonde op ons druk, en ons daarvan wegteer, hoe kan ons bly leef?” ’ Sê vir hulle, ‘So seker as wat Ek leef, is die uitspraak van my Heer, die HERE: “Ek vind geen vreugde in die dood van die goddelose nie, maar wel vreugde daarin dat 'n goddelose terugkeer van sy pad, en leef. Keer terug, keer terug van julle bose paaie! Waarom moet julle sterf, huis van Israel?” ’ En jy, mensekind, sê vir die mense van jou volk, ‘Die geregtigheid van die regverdige sal hom nie red op die dag van sy oortreding nie, en die goddeloosheid van die goddelose – daardeur sal hy nie tot 'n val kom op die dag wanneer hy hom bekeer van sy goddeloosheid nie. Ja, die regverdige, hy sal nie deur sy geregtigheid kan bly leef op die dag wanneer hy sondig nie.’ Wanneer Ek vir die regverdige sê hy sal beslis bly leef, maar hy vertrou op sy geregtigheid en doen onreg – geen van sy regverdige optrede sal in herinnering geroep word nie; deur die onreg wat hy gedoen het, daardeur sal hy sterf. En wanneer Ek vir die goddelose sê hy sal beslis sterf, maar hy bekeer hom van sy sonde, en hy doen wat reg en billik is – 'n pand gee hy, die goddelose, terug, wat geroof is, vergoed hy, volgens die vaste voorskrifte wat die lewe gee, tree hy op, en hy doen geen onreg nie – sal hy beslis bly leef; hy sal nie sterf nie. Geeneen van die sondes wat hy gedoen het, sal tot sy nadeel in herinnering geroep word nie. Wat reg en billik is, het hy gedoen; hy sal beslis bly leef.

ESEGIËL 33:1-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Weer het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: Mensekind, spreek met die kinders van jou volk en sê vir hulle: As Ek die swaard oor 'n land bring, as die volk van die land 'n man van hul grondgebied neem en hom as hul wag aanstel; As hy die swaard oor die land sien kom, hy op die basuin blaas en die volk waarsku; Elkeen dan wat die geluid van die basuin hoor en nie waarsku nie; as die swaard kom en hom wegneem, sal sy bloed op sy hoof wees. Hy het die geluid van die basuin gehoor en nie gewaarsku nie; sy bloed sal op hom wees. Maar hy wat hom waarsku, sal sy siel red. Maar as die wag die swaard sien kom en nie op die basuin blaas nie, en die volk nie gewaarsku word nie; as die swaard kom en iemand onder hulle wegneem, word hy in sy ongeregtigheid weggeneem; maar sy bloed sal Ek van die hand van die wag eis. So het jy, o mensekind, Ek het vir jou 'n wag vir die huis van Israel aangestel; daarom moet jy die woord uit my mond hoor en hulle van my af waarsku. As Ek vir die goddelose sê: O goddelose, jy sal sekerlik sterwe; as jy nie spreek om die goddelose van sy weg te waarsku nie, sal daardie goddelose in sy ongeregtigheid sterwe; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis. Maar as jy die goddelose waarsku vir sy weg om daarvan af te draai; as hy hom nie van sy weg bekeer nie, sal hy deur sy ongeregtigheid sterwe; maar jy het jou siel gered. Daarom, o mensekind, spreek met die huis van Israel; So spreek julle en sê: As ons oortredinge en ons sondes op ons is en ons daardeur wegkwyn, hoe moet ons dan lewe? Sê vir hulle: So waar as Ek leef, spreek die HERE HERE, Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie; maar dat die goddelose hom bekeer van sy weg en lewe. Want waarom sal julle sterwe, o huis van Israel? Daarom, mensekind, sê vir die kinders van jou volk: Die geregtigheid van die regverdige sal hom nie red op die dag van sy oortreding nie; van sy boosheid; en die regverdige sal vir sy geregtigheid nie kan lewe op die dag as hy sondig nie. As Ek aan die regverdige sê dat hy sekerlik sal lewe; as hy op sy eie geregtigheid vertrou en onreg doen, sal aan al sy geregtigheid nie gedink word nie; maar oor sy ongeregtigheid wat hy gedoen het, sal hy daarvoor sterwe. Weer as Ek aan die goddelose sê: Jy sal sekerlik sterwe; as hy hom bekeer van sy sonde en doen wat reg en reg is; As die goddelose die pand teruggee, gee weer wat hy beroof het, wandel in die insettinge van die lewe sonder om onreg te doen; hy sal sekerlik lewe, hy sal nie sterwe nie. Geen van sy sondes wat hy gedoen het, sal hom genoem word nie: hy het gedoen wat geoorloof en reg is; hy sal sekerlik lewe.

ESEGIËL 33:1-16 Die Boodskap (DB)

Die Here het weer met my gepraat: “Mens, sê vir jou mense wat Ek vir jou sê. Mense stel iemand aan wat waghou om te kyk of daar nie ’n vyand is wat die land gaan aanval nie. Die man wat waghou se werk is om die volk te waarsku as hy die vyand sien aankom. Hy gee ’n teken en dan weet die volk gevaar dreig. As dit nou gebeur dat die mense hoor dat die wag hulle waarsku, maar hulle doen niks daaraan nie, is dit hulle eie skuld as die vyand hulle kom doodmaak. Hulle het gehoor dat die wag hulle waarsku, maar hulle het hulle nie aan die waarskuwing gesteur nie. Dis hulle eie skuld as die vyand hulle betrap terwyl hulle nie reg is om te veg nie. As hulle na die waarskuwing geluister het, sou hulle gereed gewees het om teen die vyand te veg. En dan sou hulle tien teen een nie dood gewees het nie. Maar sê nou die man wat aangestel is om op die uitkyk te wees vir vyande doen nie sy werk nie; sê nou hy sit en slaap; of hy loop rond en doen nie sy werk nie; die vyand val die land binne, maar die man waarsku nie sy volk nie, dan is hierdie man verantwoordelik as iemand deur die vyand doodgemaak word. Die mense wat doodgemaak word, gaan dood omdat Ek hulle vir hulle slegte dade straf. Maar hierdie man sal moet betaal vir die feit dat die mense dood is, want hy het nie sy werk gedoen nie. “Esegiël, Ek stel jou aan om wag te hou. Jou werk is om te kyk of daar nie ’n vyand aankom wat die land gaan aanval nie. Jou werk is om op die uitkyk te wees en jou volk te waarsku. Jy moet fyn luister na wat Ek sê. En dan moet jy hierdie volk namens My gaan waarsku. Ek gaan dalk vir jou sê dat daar mense is wat aanhou om slegte dinge te doen en dat Ek hulle daarvoor gaan straf. As jy hierdie mense nie waarsku dat hulle moet ophou met slegte dinge en goeie dinge moet begin doen nie, sal hulle doodgemaak word. Ek sal dit doen. Maar jy sal moet betaal omdat hulle dood is, want jy het nie jou werk gedoen nie. Maar as jy hulle waarsku en vir hulle sê wat Ek jou beveel en hulle hulle nie daaraan steur nie, sal hulle doodgemaak word. As hulle nie omdraai en agter My aanloop nadat jy hulle in my Naam gewaarsku het nie, sal Ek hulle straf. Maar jy sal nie gestraf word vir hulle dood nie, want jy het gedoen wat Ek jou beveel het. “Mens, sê vir die volk Israel wat Ek sê: Julle hou aan met kla dat julle swaar gestraf word. Julle sê julle slegte dade kom op julle eie koppe af. Dit gaan sleg met julle. ‘Ons vergaan,’ sê julle. ‘Ons kan nie só aanhou leef nie!’ “So seker as wat Ek leef,” sê die Here, Esegiël se God, “dis nie vir My lekker om mense dood te maak nie. Maar as mense aanhou om slegte dinge te doen en Ek hulle daaroor gewaarsku het, het Ek geen ander keuse as om hulle dood te maak nie. Ek wil so graag hê hulle moet omdraai en agter My aanloop. Ek wil so graag sien dat hulle begin doen wat Ek sê. Dan sal hulle leef! Daarom, draai dadelik om, my volk. Draai weg van jou slegte paaie af. Hoekom tart julle My? Hoekom wil julle hê Ek moet geen ander keuse oorhê as om julle te straf en dood te maak nie?” “Mens, sê vir hierdie klomp mense Ek sê: As mense goedgedoen het, maar dan ophou daarmee en slegte dinge begin doen, sal hulle goeie dade hulle nie red nie. As ’n mens weier om te doen wat Ek hom beveel om te doen, sal Ek hom straf. En as slegte mense ophou om slegte dinge te doen en omdraai en agter My aanloop, sal Ek hulle nie straf vir hulle slegte dade nie. Nee, hulle sal lewe omdat hulle begin doen het wat Ek sê. Sê nou daar is mense wat reg doen en Ek het vir hulle gesê dat hulle sal lewe, maar hierdie mense begin dan slegte dinge doen. Hulle dink dalk dat Ek hulle steeds sal laat bly lewe. Hulle dink dat die goeie wat hulle gedoen het, hulle steeds sal red. Maar Ek sê vir jou: Ek sal niks onthou van al die goeie dade wat hulle gedoen het nie. Ek sien net die slegte raak wat hulle nou doen. En sê nou maar daar is mense wat sleg is en aanhou om die slegte te doen. En dan waarsku Ek hulle dat hulle doodgemaak sal word omdat hulle so sleg is. Maar hierdie mense draai dan om en doen nie meer verkeerde dinge nie. Hulle doen wat Ek sê. As iemand hulle iets geskuld het, het hulle dalk iets waardevols gevat totdat daardie mens wat by hulle geleen het, die skuld kan betaal. Nou gee hierdie mense daardie waardevolle besittings terug. En as hulle iets gesteel het, gaan gee hulle dit ook terug. Hierdie mense doen wat Ek beveel. Ek sal hierdie mense dan nie doodmaak nie. Hulle sal lewe. Ek sal hulle nie die slegte dinge wat hulle vroeër gedoen het, verwyt nie. Ek sal hulle nie daarvoor straf nie. Ek sal nooit eens weer dink aan die slegte wat hulle gedoen het nie, want hulle het nou begin doen wat goed en reg is. Daarom sal hulle vir seker lewe.

ESEGIËL 33:1-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die HERE het vir my gesê: “Mensekind, gaan sê vir jou mense: Wanneer Ek ’n leër teen ’n land stuur, kies die mense van die land iemand wat wagstaan. As hy die vyand sien aankom, maak hy alarm om die mense te waarsku. As die mense wat die alarm hoor, hulle nie daaraan steur nie, is dit hulle eie skuld as hulle doodgemaak word. Hulle het die waarskuwing gekry, maar wou nie luister nie. Hulle is verantwoordelik vir hulle eie dood. As hulle hulle aan die waarskuwing gesteur het, sou hulle hulself gered het. Maar as die wag die vyand sien aankom en nie alarm maak nie, is hy verantwoordelik as mense sterf. Hulle sal doodgemaak word oor hulle eie sondes, maar Ek hou die wag verantwoordelik. “Mensekind, Ek maak jou die wag vir die mense van Israel. Luister na wat Ek vir jou sê en waarsku hulle namens My. As Ek sê dat bose mense sal sterf en jy waarsku hulle nie oor hulle optrede nie, sal hulle sterf oor hulle sondes, maar Ek hou jou verantwoordelik vir hulle dood. Maar as jy hulle waarsku om om te draai en hulle weier om dit te doen, sal hulle doodgaan oor hulle sondes, maar jy sal nie daarvoor verantwoordelik gehou word nie.” “Mensekind, sê vir die mense van Israel: Julle sê: ‘Ons oortredings en sondes rus swaar op ons. Ons vergaan! Hoe gaan ons oorleef?’ So seker as wat Ek leef, sê die oppermagtige HERE, Ek wil nie hê skuldige mense moet doodgaan nie. Ek wil net hê hulle moet omdraai van hulle bose optrede sodat hulle kan lewe. Draai om! Draai weg van julle boosheid, mense van Israel! Hoekom wil julle doodgaan? “Mensekind, sê vir jou volksgenote: Die goeie dade van regverdige mense sal hulle nie red as hulle sonde doen nie. En die sondes van bose mense sal nie teen hulle tel as hulle hulle bekeer en wegdraai van hulle sonde nie. As Ek vir regverdige mense sê hulle sal lewe, maar hulle begin dan sonde doen en verwag dat hulle regte optrede van die verlede hulle sal red, dan sal niks van hulle goeie dade onthou word nie. Ek sal hulle oor hulle sondes vernietig. As Ek vir bose mense sê hulle sal doodgaan, maar hulle draai weg van hulle sondes en doen wat reg en goed is, soos die goed teruggee wat hulle as waarborg vir skuld gehou het, of terugbetaal wat hulle gesteel het, lewe volgens die wette wat lewe bring en nie doen wat verkeerd is nie; as hulle dit doen, sal hulle beslis lewe en nie doodgemaak word nie. Hulle sondes sal nie teen hulle gehou word nie. Hulle doen wat reg en goed is, en hulle sal verseker lewe.