ESEGIËL 31:4-9
ESEGIËL 31:4-9 Bybel vir almal (ABA)
Daar was baie water by die sederboom. Die water het die boom groot laat word. Die diep water het hom hoog laat groei en dit het strome water laat vloei rondom die plek waar die boom gegroei het. Die strome water het gevloei na al die bome. Die sederboom het hoër gegroei as al die ander bome, dit het groot takke en lang blare gekry, want dit het baie water uit die waterslote gekry. Al die voëls het hulle neste kom maak in die takke van die groot boom, die wilde diere het kleintjies gekry onder die boom, en al die baie volke het in sy skaduwee kom woon. Die boom was mooi en hy was groot. Sy takke was lank, want sy wortels was by baie water. Die ander sederbome in die godetuin kon nie hoër groei as hy nie, die sipresbome was nie soos hy nie, en die plataanbome was nie so groot soos die sederboom se takke nie. Nie een boom in die godetuin was so mooi soos hy nie. Ek het die boom mooi gemaak, Ek het vir hom baie takke gegee. Al die ander bome van Eden wat in die godetuin was, was jaloers op die groot boom.”
ESEGIËL 31:4-9 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Waters het hom grootgemaak; die watervloed het hom hoog laat groei, wat met sy strome gegaan het rondom die plek waar hy geplant was, en sy watervore uitgestuur het na al die bome van die veld. Daarom het hy hoër gegroei as al die bome van die veld, en het sy takke baie geword en sy takkies lank, weens die groot waters toe hy uitgeskiet het. Al die voëls van die hemel het nes gemaak in sy takke, en al die wilde diere van die veld het onder sy takkies aangeteel, en allerhande groot volke het onder sy skaduwee gaan sit. En hy het skoon geword in sy grootheid, in die lengte van sy takke, omdat sy wortel by groot waters was. Seders het nie naby hom gekom in die tuin van God nie, sipresse was nie soos sy takke nie, en platane het nie gehaal by sy takwerk nie: geen boom in die tuin van God was met hom te vergelyk in sy skoonheid nie. Ek het hom mooi gemaak deur die menigte van sy takke, sodat al die bome van Eden wat in die tuin van God was, hom beny het.
ESEGIËL 31:4-9 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die water het hom groot laat word, die onderaardse waters het hom 'n hoë boom gemaak. Groot strome water het om hom geloop, en van hom af stroompies na al die ander bome toe. Hy het hoër as al die ander bome geword, sy takke meer en langer van al die water in die leivore. Al die voëls het kom nes maak in sy takke, onder hom het al die wilde diere hulle kleintjies in die wêreld gebring en in sy skaduwee het al die baie nasies kom woon. Hy was 'n mooi en 'n groot boom met wydgespreide takke, want sy wortels het tot by baie water gekom. “Die seders in die godetuin kon met hom nie meeding nie, die sipresse se takke was nie soos syne nie, nog minder dié van die platane. Daar was nie 'n boom in die godetuin wat so mooi as die seder was nie. Ek het hom 'n mooi boom gemaak met sy baie takke, en al die bome in die godetuin Eden was jaloers op die seder.”
ESEGIËL 31:4-9 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Water het hom laat groei; die •oerwater het hom hoog laat word, dit het sy strome laat vloei rondom die plek waar die seder geplant was. Die oerwater het daarna sy vore uitgestuur na al die bome in die veld. Daarom was hy hoër as al die bome in die veld, en het sy takke baie geword, was sy lote wat hy uitgestoot het, lank van al die water. In sy takke het al die voëls van die hemel nesgemaak, onder sy lote het al die wilde diere kleintjies gekry, en in sy skaduwee het al die verskillende nasies gewoon. Hy was pragtig in sy volle grootte met sy lang, blaarryke takke, want sy wortels was by baie water. Seders in die tuin van God kon hom nie oorskadu nie; sipresse kon met sy takke nie vergelyk word nie, en platane was nie so groot soos sy lote nie. Nie een boom in die tuin van God kon met sy skoonheid vergelyk word nie. Pragtig het Ek hom gemaak, met sy oorvloed blare. Al die bome van Eden in die tuin van God het hom beny.
ESEGIËL 31:4-9 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die waters het hom groot gemaak, die watervloed het hom hoog laat optrek met sy riviere wat rondom sy plante loop, en sy riviertjies het na al die bome van die veld uitgestuur. Daarom was sy hoogte verhewe bo al die bome van die veld, en sy takke het vermenigvuldig, en sy takke het lank geword vanweë die veelheid van waters toe hy uitgeskiet het. Al die voëls van die hemel het hulle nes gemaak in sy takke, en onder sy takke het al die diere van die veld hulle kleintjies gebaar, en onder sy skaduwee het al die groot nasies gewoon. So was hy mooi in sy grootheid, in die lengte van sy takke, want sy wortel was by groot waters. Die seders in die tuin van God kon hom nie wegsteek nie: die sipresbome was nie soos sy takke nie, en die kastanjebome was nie soos sy takke nie; en geen boom in die tuin van God was soos hy in sy skoonheid nie. Ek het hom mooi gemaak deur die menigte van sy takke, sodat al die bome van Eden wat in die tuin van God was, hom beny het.
ESEGIËL 31:4-9 Die Boodskap (DB)
Waar hy gegroei het, was daar baie water. Daar was soveel water dat al die bome rondom hierdie groot boom ook genoeg water gehad het. “Hierdie groot boom het uitgetoring bo al die ander bome. Die takke van die boom het dik gegroei omdat sy wortels in diep water gestaan het. Die voëls het graag in die groot boom se takke nes gemaak. En die wilde diere het op die hitte van die dag in die skaduwee van die boom gaan lê. Daar is hulle kleintjies gebore. Die boom was pragtig en sterk, want die wortels van die boom het tot by die water gegroei. Hierdie boom het hoër gegroei as enige ander boom op aarde. Geen ander boom wat deur God geplant is, was so mooi soos hierdie boom nie. Ek het hierdie boom so mooi laat groei. Die ander bome in die bos was jaloers op hierdie boom.”
ESEGIËL 31:4-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die waters het hom natgemaak en hy het groot en hoog gegroei. Die water was ook genoeg vir alle bome rondom hom. Hierdie groot boom het bo al die ander bome uitgestaan. Hy het floreer met lang, dik takke omdat daar so baie water was. Die voëls van die hemel het in sy takke nes gemaak; in sy skaduwee het die wilde diere hulle kleintjies in die wêreld gebring. Die groot nasies van die wêreld het in sy skaduwee geleef. Hy het groot en mooi geword met takke wat ver uitgesprei het. Sy wortels het diep afgegaan na waters wat in oorvloed was. Die seders in die tuin van God kon nie met hom meeding nie. Die sipresse en platane se takke was nie so groot soos syne nie. Geen boom in die tuin van God was so mooi soos hierdie seder nie. Ek het hom mooi gemaak met baie takke. Al die ander bome in die tuin van God was jaloers op hom.