ESEGIËL 3:16-27 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion
ESEGIËL 3:16-27 AFR83 (Afrikaans 1983)
Ná die sewe dae het die woord van die Here tot my gekom: “Mens, Ek het jou aangestel as 'n wag vir Israel: jy moet luister na wat Ek sê en hulle namens My waarsku. “Wanneer Ek vir 'n goddelose sê hy gaan sterwe, en jy waarsku hom nie, jy praat nie en jy waarsku nie die goddelose teen sy bose optrede om hom so in die lewe te hou nie, dan sal hy deur sy sonde sterwe, maar Ek sal van jou rekenskap eis vir sy dood. As jy hom waarsku en hy bekeer hom nie van sy goddeloosheid nie, van sy bose optrede nie, sal hy deur sy sonde sterf, maar jy sal jou eie lewe behou. “En wanneer iemand wat tot dusver reg gelewe het, die regte lewe laat vaar en onreg doen, en Ek bring hom tot 'n val, sal hy sterwe. Omdat jy hom nie gewaarsku het nie, sal hy deur sy sonde sterf en sal die goeie dinge wat hy gedoen het, nie onthou word nie, maar Ek sal van jou rekenskap eis vir sy dood. As jy hom waarsku om nie te sondig nie, en hy sondig nie, sal hy bly lewe omdat hy hom laat waarsku het, en jy sal jou eie lewe behou.” Die mag van die Here het my daar in besit geneem. Hy het vir my gesê: “Gaan na die vallei toe, Ek sal daar met jou praat.” Ek is toe na die vallei toe. Die magtige verskyning van die Here het daar gestaan, net soos ek Hom aan die Kebarrivier gesien het. Ek het platgeval, maar die Gees het in my gekom en my regop laat staan. Die Here het met my gepraat, Hy het vir my gesê: “Gaan sluit jou toe in jou huis. Mens, jy sal vasgebind word met toue, sodat jy nie tussen die mense kan kom nie. Ek laat jou tong aan jou verhemelte vassit, sodat jy nie kan praat nie en hulle nie kan bestraf nie, al is hulle 'n weerbarstige volk. Maar wanneer Ek jou die opdrag gee en jou tong losmaak, moet jy vir hulle sê wat Ek, die Here God, sê. Laat dan luister wie wil en laat skouers optrek wie wil: hulle is 'n weerbarstige volk.”
ESEGIËL 3:16-27 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
EN aan die einde van sewe dae het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: Mensekind, Ek het jou as wag vir die huis van Israel aangestel; en as jy 'n woord uit my mond hoor, moet jy hulle van my kant waarsku. As Ek aan die goddelose sê: Jy sal sekerlik sterwe — en jy waarsku hom nie en spreek nie om die goddelose vir sy goddelose weg te waarsku om hom in die lewe te hou nie, dan sal hy, die goddelose, deur sy ongeregtigheid sterwe; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis. Maar as jý die goddelose waarsku, en hy hom nie van sy goddeloosheid en van sy goddelose weg bekeer nie, dan sal hy deur sy ongeregtigheid sterwe; maar jý het jou siel gered. En as 'n regverdige hom van sy geregtigheid afkeer en onreg doen, en Ek 'n struikelblok voor hom gooi, dan sal hy sterwe; omdat jy hom nie gewaarsku het nie, sal hy deur sy sonde sterwe, en aan sy geregtigheid wat hy beoefen het, sal nie gedink word nie; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis. Maar as jý die regverdige waarsku, dat die regverdige nie moet sondig nie, en hy sondig nie, dan sal hy sekerlik lewe, omdat hy hom laat waarsku het; en jy het jou siel gered. En die hand van die HERE was daar op my, en Hy het vir my gesê: Staan op, gaan uit na die laagte, en Ek sal daar met jou spreek. Ek staan toe op en gaan na die laagte uit; en kyk, die heerlikheid van die HERE het daar gestaan soos die heerlikheid wat ek by die Kebarrivier gesien het. En ek het op my aangesig geval. Toe kom die Gees in my en laat my op my voete staan; en Hy het met my gespreek en vir my gesê: Gaan in, sluit jou toe in jou huis. En jy, mensekind, kyk, hulle sit vir jou toue aan en bind jou daarmee, sodat jy nie onder hulle kan uitgaan nie. En Ek sal jou tong aan jou verhemelte laat klewe, sodat jy stom sal word en vir hulle geen bestraffer sal wees nie; want hulle is 'n wederstrewige huis. Maar as Ek met jou spreek, sal Ek jou mond open, en jy moet aan hulle sê: So spreek die Here HERE. Wie hoor, laat hom hoor; en wie dit nalaat, laat hom dit nalaat; want hulle is 'n wederstrewige huis.
ESEGIËL 3:16-27 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Toe die sewe dae verby is, het die HERE vir my ’n boodskap gegee. Hy het gesê: “Mensekind, Ek het jou aangestel om wag te hou oor Israel. As jy ’n boodskap van My af kry, moet jy dit dadelik vir die volk gee. As Ek die bose mense waarsku en sê: ‘Jy verdien die doodstraf,’ maar jy waarsku hulle nie, sal hulle doodgaan vanweë hulle afskuwelike dade. Maar Ek sal jou verantwoordelik hou, en hulle bloed van jou eis. As jy hulle waarsku en hulle hou aan om afskuwelike dinge te doen en weier om om te draai, sal hulle as gevolg van hulle sondes doodgaan. Maar jy sal jou eie lewe red omdat jy gedoen het wat vir jou gesê is. “As goeie mense die slegte begin doen en Ek hulle dan laat struikel om hulle te waarsku, sal hulle doodgaan. As jy hulle nie oor die gevolge van hulle optrede waarsku nie, sal hulle as gevolg van hulle sondes doodgaan. Die goeie wat hulle voorheen gedoen het, sal hulle dan nie help nie. Maar Ek sal jou verantwoordelik hou en hulle bloed van jou hand eis. Maar as jy hulle waarsku en hulle draai om, sal hulle lewe, en jy sal ook jou eie lewe red.” Toe het die HERE van my besit geneem en vir my gesê: “Gaan uit na die vallei toe. Ek wil daar met jou praat.” Ek het opgestaan en gegaan, en daar het ek die heerlikheid van die HERE gesien, net soos in my eerste visioen by die Kebarrivier. En ek het op my gesig op die grond neergeval. Toe het die Gees oor my gekom en my regop laat staan. Hy het met my gepraat en vir my gesê: “Gaan sluit jou toe in jou huis. Daar sal jy met toue vasgebind word sodat jy nie tussen jou mense kan kom nie. En Ek sal jou tong aan jou verhemelte laat klou sodat jy hulle nie kan waarsku nie, want hulle is ’n opstandige spul. Maar wanneer Ek vir jou ’n boodskap gee, sal Ek jou tong losmaak sodat jy kan praat. Dan sal jy vir hulle sê: ‘Dit is wat die oppermagtige HERE sê!’ Party sal na jou luister en ander sal weier, want hulle is ’n opstandige klomp.”
ESEGIËL 3:16-27 DB (Die Boodskap)
Na ’n week het die Here weer met my gepraat: “Mens, Ek het jou aangestel om wag te hou oor Israel. Jy is soos ’n skaapwagter wat vir die skape verantwoordelik is. Jou werk is om mooi te luister na wat Ek vir jou sê sodat jy hierdie volk kan gaan waarsku. Jy praat met hulle namens My. Ek waarsku die slegte mens wat niks met My en my voorskrifte te doen wil hê nie, en sê: ‘Jy verdien die doodstraf oor wat jy doen.’ As jy nie hierdie mens waarsku teen die gevolge van sy slegte dade nie en hy gaan dood omdat Ek hom ter dood veroordeel, sal sy dood die gevolg wees van sy slegte dade. Maar Ek sal jou verantwoordelik hou omdat hy dood is. Jy moes hom gewaarsku het. As jy hom wel gewaarsku het, maar hy steur hom nie daaraan nie en hou aan met sy verkeerde optrede en weier om om te draai en agter My aan te loop, sal hy doodgaan omdat ek Hom tot die dood veroordeel. Maar dan het jy jou lewe gered omdat jy hom gewaarsku het en gedoen het wat Ek jou beveel het. En as goeie mense wat tot nou toe reg geleef en goed gedoen het, ophou om agter My aan te loop en verkeerde dinge begin doen, sal hulle doodgaan. As jy hulle nie gewaarsku het en hulle gewys het op die gevolge van hulle dade nie, sal hulle as gevolg van hulle dade sterf. Die goeie dinge wat hulle voorheen gedoen het, sal nie tel nie. Maar Ek sal jou verantwoordelik hou vir hulle dood omdat jy hulle nie betyds gewaarsku het nie. Ek sal hulle bloed van jou hande eis. Maar as jy hulle betyds gewaarsku het en hulle draai om van hulle slegte dade en loop agter My aan, sal hulle leef. En jy sal so jou eie lewe red.” Toe het die Here se krag oor my gekom en Hy het vir my gesê: “Gaan na die vallei toe. Ek wil daar by die rivier met jou praat.” Ek het toe opgestaan en na die vallei toe gegaan. Ek het in die vallei weer die sitplek van die Here gesien, net soos ek dit by die Kebarrivier gesien het, met die Here wat bo-op die troon sit. Ek het met my gesig in die stof neergeval. Dit het gevoel of die lewe uit my gevloei het. Toe het die Gees oor my gekom en my op my voete voor die Here laat staan. Die Here het daar vir my gesê: “Gaan nou. Gaan sluit jou in jou huis toe. Mens, dit sal wees asof jy met toue vasgebind is terwyl jy in jou huis toegesluit is. Jy sal nie tussen ander mense kan kom nie. Ek sal jou mond toemaak sodat dit sal wees asof jy nie kan praat nie. Jy sal nie vir jou volk kan bid nie. Jy sal nie die mense wat op die verkeerde pad loop, kan waarsku nie omdat Ek jou sal keer, al wil jy graag omdat jy sien hoe opstandig die volk teen My is. Jy sal niks teen hulle kan sê nie, vir so lank as wat Ek bepaal. Maar dan sal die dag kom dat Ek jou die opdrag gee. Dan sal jy weer kan praat. En dan moet jy presies vir jou mense sê wat Ek, die Here jou God, jou beveel het om vir hulle te sê. Party van die volk sal dan na jou luister, terwyl ander hulle nie sal steur aan wat jy sê nie. Want hulle is ’n klomp opstandige mense.”
ESEGIËL 3:16-27 ABA (Bybel vir almal)
En toe, ná die sewe dae, het ek gehoor die Here sê vir my: “Mens, Ek het jou gekies om 'n wag te wees vir die volk Israel. Wanneer Ek vir jou sê jy moet dit doen, dan moet jy vir hulle sê Ek waarsku hulle. Ek sal vir die mens wat verkeerd doen, sê dat hy sal sterf, dit is seker. Wanneer Ek dit sê, dan moet jy hom waarsku. Jy moet praat en jy moet hom waarsku teen sy verkeerde lewe sodat hy kan aanhou lewe. As jy dit nie doen nie, dan sal daardie mens wat verkeerd doen, sterf omdat hy verkeerd gedoen het, maar Ek sal vir jóú straf omdat hy moes sterf. En jy? Wanneer jy die mens wat verkeerd doen, gewaarsku het, maar hy verander nie sy lewe nie en hy hou nie op om verkeerd te doen nie, dan sal hy sterf omdat hy verkeerd gedoen het. Maar dan het jy jou eie lewe gered. En wanneer iemand wat reg gelewe het, ophou om reg te doen en hy doen verkeerd, en Ek laat hom val en hy doen sonde, dan moet jy hom waarsku. As jy hom nie gewaarsku het nie, dan sal hy sterf omdat hy sonde gedoen het, en Ek sal nie dink aan die dinge wat hy reg gedoen het nie. Maar Ek sal jóú straf omdat hy moes sterf. En jy? Wanneer jy die mens wat reg gelewe het, gewaarsku het om nie sonde te doen nie, en hy doen nie sonde nie, dan sal hy aanhou lewe, dit is seker. Hy sal aanhou lewe, want jy het hom gewaarsku en hy het geluister. En jy het dan jou eie lewe gered.” Ek het toe daar gevoel die Here sit sy hand op my. Hy het vir my gesê: “Jy moet gereedmaak en na die vallei gaan. Ek sal daar met jou praat.” Ek het gereedgemaak en na die vallei gegaan, en daar sien ek toe weer die lig wat om die Koning, die Here, is. Dit was soos ek dit gesien het langs die Kebar-kanaal. Ek het op my gesig geval. En toe kom die Gees in my en Hy laat my op my voete staan en Hy sê vir my: “Gaan sluit jouself toe in jou huis. En jy, mens, luister na wat Ek sê: Die mense sal jou vasbind met toue sodat jy nie by hulle kan kom nie. Ek laat ook jou tong vassit bo in jou mond sodat jy nie kan praat nie en nie met hulle kan raas nie, want hulle is 'n opstandige volk. Maar wanneer Ek met jou praat, dan sal Ek jou mond weer oopmaak, en dan moet jy vir hulle sê wat Ek, die Here, sê. Die mense wat wil luister, sal luister, en die mense wat nie wil luister nie, sal nie luister nie, want hulle is 'n opstandige volk.”
ESEGIËL 3:16-27 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Ná die sewe dae het die woord van die HERE tot my gekom: “ Mensekind, as 'n wag stel Ek jou aan vir die huis van Israel. Wanneer jy uit my mond woorde hoor, moet jy hulle namens My waarsku. Wanneer Ek vir 'n goddelose sê dat hy beslis sal sterf, en jy waarsku hom nie, jy praat nie om die goddelose te waarsku teen sy goddelose lewenswyse, sodat hy kan leef nie, sal hy, die goddelose, sterf oor sy sondeskuld; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis. Maar jy, as jy 'n goddelose waarsku, en hy bekeer hom nie van sy goddeloosheid en sy goddelose lewenswyse nie, sal hy deur sy sondeskuld sterf, en jy, jy het dan jou eie lewe gered. “Wanneer 'n regverdige van sy regverdige lewe afwyk en onreg pleeg, en Ek 'n struikelblok voor hom neersit, sal hy sterf. As jy hom nie waarsku teen sy sonde nie, sal hy sterf; sy regverdige dade wat hy gedoen het, sal nie onthou word nie. Sy bloed sal Ek egter van jou hand eis. En jy, as jy 'n regverdige waarsku om nie te sondig nie, en hy, die regverdige, sondig nie, sal hy beslis bly leef, omdat hy hom laat waarsku het; en jy, jy het dan jou eie lewe gered.” Die hand van die HERE het daar oor my gekom, en Hy het vir my gesê: “Staan op, gaan na die laagte toe, daar sal Ek met jou praat.” Ek het toe opgestaan en uitgegaan na die laagte. En kyk, daar staan die heerlikheid van die HERE, net soos die heerlikheid wat ek gesien het langs die Kebarrivier. Ek het neergeval met my gesig teen die grond. 'n Gees het oor my gekom en my regop laat staan. Die HERE het met my gepraat en vir my gesê: “Gaan, sluit jouself binne-in jou huis toe. Wat jou betref, mensekind, kyk, toue sal om jou gesit word en jy sal daarmee vasgebind word, sodat jy nie meer kan uitgaan om tussen die mense te wees nie. Jou tong sal Ek aan jou verhemelte laat kleef. Jy sal stom wees, en nie meer iemand wat hulle teregwys nie, want hulle is 'n rebelse huis. Maar wanneer Ek met jou praat, sal Ek jou mond oopmaak. Dan moet jy vir hulle sê, ‘So sê my Heer, die HERE.’ Wie luister, sal luister, en wie verseg om te luister, sal verseg om te luister, want hulle is 'n rebelse huis.”
ESEGIËL 3:16-27 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
En aan die einde van sewe dae het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: Mensekind, Ek het jou 'n wag vir die huis van Israel aangestel; hoor dan die woord uit my mond en waarsku hulle van My af. As Ek aan die goddelose sê: Jy sal sekerlik sterwe; en jy waarsku hom nie en spreek nie om die goddelose te waarsku vir sy verkeerde weg, om sy lewe te red nie; dieselfde goddelose sal in sy ongeregtigheid sterwe; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis. Maar as jy die goddelose waarsku en hy hom nie bekeer van sy boosheid en van sy goddelose weg nie, sal hy in sy ongeregtigheid sterwe; maar jy het jou siel gered. Weer, as 'n regverdige hom bekeer van sy geregtigheid en onreg doen, en Ek 'n struikelblok voor hom lê, sal hy sterwe; omdat jy hom nie gewaarsku het nie, sal hy sterwe in sy sonde en sy geregtigheid wat hy gedoen het en sal nie onthou word nie; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis. Maar as jy die regverdige waarsku dat die regverdige nie sondig nie, en hy sondig nie, sal hy sekerlik lewe, want hy is gewaarsku; ook het jy jou siel gered. En die hand van die HERE was daar op my; en hy het vir my gesê: Staan op, gaan uit na die vlakte, en ek sal daar met jou praat. Toe het ek opgestaan en uitgegaan na die vlakte, en kyk, die heerlikheid van die HERE het daar gestaan, soos die heerlikheid wat ek by die Kebarrivier gesien het, en ek het op my aangesig geval. Toe het die gees in my ingekom en my op my voete laat staan en met my gespreek en vir my gesê: Gaan sluit jou toe in jou huis. Maar jy, o mensekind, kyk, hulle sal jou bande oplê en jou daarmee bind, en jy mag nie onder hulle uittrek nie. En Ek sal jou tong aan jou verhemelte laat kleef, dat jy stom sal wees en vir hulle nie 'n teregwyser wees nie, want hulle is 'n wederstrewige huis. Maar as Ek met jou spreek, sal Ek jou mond oopmaak, en jy moet vir hulle sê: So spreek die HERE HERE; Wie hoor, laat hom hoor; en wie dit laat staan, laat hom dit laat staan, want hulle is 'n wederstrewige huis.