ESEGIËL 23:36-45

ESEGIËL 23:36-45 Bybel vir almal (ABA)

Die Here het vir my gesê: “Mens, jy moet vir Ohola en Oholiba oordeel. Jy moet vir hulle sê hulle het dinge gedoen wat Ek haat. Want hulle het egbreuk gepleeg en hulle het mense vermoor. Hulle was ontrou, hulle het afgode gedien. Hulle het kinders gekry, dit was mý kinders, maar hulle het daardie kinders ook verbrand sodat die afgode hulle kon eet. En hulle het ook nog dít gedoen: Hulle het op een dag my tempel onrein gemaak en my Sabbatdae ontwy. Hulle het op een dag hulle kinders geslag vir hulle afgode en hulle het my tempel kom ontwy. Ja, dit is wat hulle gedoen het binne-in my tempel. Hulle het ook boodskappers gestuur om manne te nooi, die manne moes van ver kom. Toe die boodskapper by hulle kom, het hulle dadelik gekom. Jy, Oholiba, het gebad en jy het verf aan jou oë gesmeer en jy het jou juwele aangesit. Jy het gaan sit op 'n baie mooi bed, en jy het 'n tafel voor die bed gesit. Op die tafel het jy my wierook en my olyf-olie gesit. Daar was 'n klomp mense in die stad, en hulle was oor niks bekommerd nie. Saam met hulle almal was daar ook die manne wat uit die woestyn gekom het. Hulle was dronk en hulle het armbande aan Oholiba se arms gesit en 'n mooi kransie op haar kop. Ek het gedink: Sy is moeg van egbreuk pleeg, wil sy nou aanhou om ontrou te wees? Maar hulle het na haar toe gekom soos manne wat na 'n prostituut toe kom. Dit is hoe hulle gekom het na Ohola en Oholiba toe, die slegte vroue. Manne wat reg doen, moet hierdie vroue oordeel. Hulle moet hulle oordeel soos mense vroue oordeel wanneer hulle egbreuk gepleeg het en mense vermoor het. Want hierdie twee vroue het egbreuk gepleeg en hulle het mense vermoor.”

ESEGIËL 23:36-45 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En die HERE het vir my gesê: Mensekind, wil jy Ohóla en Ohóliba oordeel? Maak hulle dan hul gruwels bekend. Want hulle het owerspel begaan, en daar is bloed aan hulle hande: met hul drekgode het hulle owerspel begaan en ook hul seuns wat hulle vir My gebaar het, as spys vir hulle deur die vuur laat deurgaan. Verder het hulle My dít aangedoen: hulle het my heiligdom op dieselfde dag verontreinig en my sabbatte ontheilig — as hulle hul kinders vir hulle drekgode slag, kom hulle op dieselfde dag na my heiligdom om dit te ontheilig; en kyk, so het hulle gedoen binne-in my huis. Ja, hulle het selfs na manne gestuur wat van ver gekom het — aan wie 'n boodskapper gestuur is, en kyk, hulle het gekom! — vir wie jy jou gewas, jou oë geverf en sierade aangesit het. En jy het gesit op 'n pragtige bed waarvoor 'n tafel reggemaak is en waar jy my reukwerk en my olie op neergesit het; en daarbinne was die stem van 'n sorgelose menigte. En by manne uit die menigte van mense is daar wynsuipers aangebring uit die woestyn; dié het armbande aan hulle hande gesit en 'n pragtige kroon op hulle hoofde. Toe sê Ek: Bedryf die verwelkte nog owerspel? Nou sal haar hoererye self hoerery gaan bedrywe. En hulle het by haar ingegaan soos 'n mens ingaan by 'n hoer; só het hulle ingegaan by Ohóla en Ohóliba, die ontugtige vroue. En regverdige manne, dié sal hulle vonnis volgens die reg van owerspeelsters en volgens die reg van vroue wat bloed vergiet; want hulle is owerspeelsters, en bloed is aan hulle hande.

ESEGIËL 23:36-45 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die Here het vir my gesê: “Mens, oordeel jy oor Ohola en Oholiba. Vertel vir hulle van hulle afskuwelike dade. Hulle het owerspel gepleeg en daar is bloed aan hulle hande. Hulle het owerspel gepleeg met hulle afgode en hulle het boonop hulle kinders wat hulle vir My in die wêreld gebring het, as offers laat verbrand. Hulle het My ook nog dít aangedoen: hulle het my heiligdom ontwy en op dieselfde dag my sabbatte ontheilig; hulle het hulle kinders vir hulle afgode geslag en op dieselfde dag in my heiligdom gekom en dit ontwy. Dit is wat hulle binne-in my huis gedoen het. “Ja, jy het mans van ver af laat kom, jy het boodskappers na hulle toe gestuur en hulle het gekom. Jy het gebad, jou oë geverf en jou juwele aangesit. Jy het op 'n pragtige bed gesit en voor jou was 'n gedekte tafel waarop jy my wierook en my olie gesit het. “Die stemme van 'n sorgelose klomp was rondom haar. By dié manne is van al die baie mense wat daar is, ook nog mense van Seba uit die woestyn bygebring, en dié het vir die twee susters armbande aangesit en op hulle koppe pragtige kranse. Ek het gedink: kom hulle owerspel pleeg met 'n vrou wat klaar opgebruik is? Het sy nou 'n gewone hoer geword? Hulle het na haar toe gekom soos 'n mens na 'n hoer toe kom. So het hulle na Ohola en Oholiba, die afstootlike vrouens toe gekom. Regverdige manne moet oor dié vrouens oordeel volgens die bepaling oor owerspel en die bepaling oor bloedvergieting, want hulle het owerspel gepleeg en daar is bloed aan hulle hande.”

ESEGIËL 23:36-45 Die Boodskap (DB)

Die Here het toe vir my gesê: “Mens, kla vir Ohola en Oholiba aan. Vertel vir hulle watter afskuwelike, slegte dinge hulle gedoen het. Hulle het by ander mans geslaap terwyl hulle met My getroud was. En hulle het ander mense doodgemaak. Hulle het by ander mans geslaap deur voor ander afgode neer te buig. En hulle het moord gepleeg deur hulle kinders as offers voor hulle afgode te verbrand. Toe het hulle nog gegaan en my huis onrein gemaak met wat hulle gedoen het. En hulle het die sewende dag wat Ek vir rus opsy gesit het, gebruik om te werk. Op dieselfde dag wat hulle hulle kinders voor hulle afgode vermoor het, het hulle in my huis ingestap en gedink hulle kan My ook aanbid! “Julle twee susters het boodskappers na verre lande gestuur en gevra dat die mans van daardie lande by julle moet kom slaap. En toe hulle by julle aankom, het julle julle gebad en grimering aangesit. Julle het julle beste juwele uitgehaal en vir hierdie mans aangesit. En julle het saam met hulle op julle beste meubels gaan sit. Toe het julle die wierook en olie wat Ek vir julle gekoop het, uitgehaal en dit vir hierdie mans gebruik. Uit julle slaapkamer het die geluide gekom van mans wat by julle slaap. En hierdie mans wat uit die woestyn gekom het, was eintlik ’n klomp dronklappe. Maar hulle het julle beïndruk, want hulle het duur juwele vir julle saamgebring. Hulle het gesê julle is hulle koninginne. Dis toe dat Ek gesê het: As hierdie mans dan nou regtig by sulke vroue wil slaap wat hulleself aan slegte dade oorgegee het, laat hulle dan maar daar slaap! En dit is presies wat hulle gedoen het. Hulle het geslaap by Ohola en Oholiba, die twee prostitute wat geen skaamte ken nie. Die mense wat reg leef, sal besluit wat met hierdie twee susters, die twee stede, gedoen moet word. Hulle sal hulle sien vir wat hulle is: vroue wat by ander mans slaap en mense doodmaak. En hulle sal hulle straf met die straf wat hulle verdien.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid