EKSODUS 9:1-35

EKSODUS 9:1-35 Bybel vir almal (ABA)

Die Here het vir Moses gesê: “Gaan na die farao toe en sê vir hom die Here, die God van die Hebreërs, sê hy moet die Israeliete laat gaan sodat hulle Hom kan dien. As hy die Israeliete nie laat gaan nie en as hy weer sê hulle moet hier bly, dan sal Ek hom swaar straf. Ek sal sy diere wat in die veld is, baie siek maak en laat vrek: die perde, die donkies, die kamele, die beeste, die skape en die bokke. Maar Ek sal nie dieselfde doen met die Israeliete se diere nie. Nie een van hulle diere sal vrek nie.” Die Here het besluit wanneer dit moet gebeur en Hy het gesê Hy sal dit die volgende dag doen. Die Here het dit die volgende dag laat gebeur. Al die Egiptenaars se diere het gevrek, maar nie een van die Israeliete se diere het gevrek nie. Die farao het mense gestuur om te gaan kyk. Hulle het gesien dat nie een van die Israeliete se diere gevrek het nie. Maar die farao het hardkoppig gebly. Hy het nie die Israeliete laat gaan nie. Die Here het vir Moses en Aäron gesê: “Julle moet as uit 'n oond neem. Moses moet dit dan op in die lug gooi terwyl die farao kyk. Die as sal fyn stof word en dit sal oor die hele Egipte waai. Dan sal daar op die mense en diere sere kom wat sal aanhou swel en oopgaan.” Moses en Aäron het toe as uit 'n oond geneem en hulle het voor die farao gaan staan. Moses het die as in die lug gegooi. Die as het op die mense en diere gewaai en hulle het sere gekry. Die towenaars kon nie dieselfde doen wat Moses gedoen het nie, want hulle was ook vol sere. Daar was sere op die towenaars en op al die Egiptenaars. Maar die Here het die farao hardkoppig gemaak. Die farao het nie na Moses en Aäron geluister nie. Dit was soos die Here vir Moses gesê het. Die Here het vir Moses gesê hy moet die volgende oggend vroeg na die farao toe gaan en vir hom sê dat die Here, die God van die Hebreërs, sê: “Jy moet my volk, die Israeliete, laat gaan sodat hulle My kan dien. As jy nie die Israeliete laat gaan nie, dan sal Ek nou jou en jou amptenare en jou volk nog baie swaarder straf. Dan sal jy weet daar is niemand op die hele aarde wat soos Ek is nie. Ek kan jou en jou volk nou so siek maak dat julle almal sal sterf. Maar Ek laat jou nog lewe. Ek doen dit sodat jy kan sien hoe sterk Ek is, en sodat almal op die aarde my Naam kan eer. Jy dink jy regeer oor my volk en jy wil hulle nie laat gaan nie. Ek sal môre baie hael stuur. Dit het nog nooit in Egipte so baie gehael nie, van die begin af tot vandag toe. Jy moet nou jou bokke en jou ander diere na 'n veilige plek neem, ook al jou goed wat buite in die veld is. Die hael sal val op al die mense en diere in die veld, op almal wat nie onder 'n dak is nie. Die hael sal hulle doodslaan.” Die farao se amptenare wat geluister het na wat die Here gesê het, het hulle slawe en diere na die huise en die stalle gebring. Maar ander amptenare het nie gedoen wat die Here gesê het nie. Hulle het hulle slawe en hulle diere buite laat bly. Die Here sê toe vir Moses: “Steek jou hand op in die lug, dan sal daar hael val oor die hele Egipte, oor al die mense en diere, oor al die plante in Egipte.” Moses het sy kierie opgesteek in die lug. Die Here het donderweer en hael gestuur, en die weerlig het op die aarde geslaan. Die Here het baie hael laat val op Egipte. Dit het baie gehael, en die weerlig het na al die kante toe geslaan. Daar was nog nooit so baie weerlig en hael in die hele Egipte nie, vandat daar mense woon. Die hael het alles in Egipte plat geslaan, alles wat in die veld was, ook al die mense en diere. Die hael het al die plante in die veld plat geslaan, en dit het al die bome in die veld stukkend geslaan. Maar in die land Gosen waar die Israeliete gewoon het, het dit nie gehael nie. Die farao het vir Moses en Aäron laat roep en hy het vir hulle gesê: “Ek besef nou ek het 'n fout gemaak. Die Here was reg, en ek en my volk is verkeerd. Julle moet tot die Here bid. Die vreeslike donderweer en die hael laat ons baie swaar kry. Julle mag nou weggaan. Ek sal julle nie langer hier hou nie.” Moses het vir die farao gesê: “Wanneer ek uit die stad gaan, dan sal ek my hande uitsteek na die Here toe en ek sal bid. Die donderweer sal ophou en daar sal nie meer hael wees nie. Dan sal jy weet dat die aarde aan die Here behoort. Maar ek weet jy en jou amptenare is nog nie bang vir die Here God nie.” Daar was nie meer vlas en gars oor ná die hael nie. Die gars was amper ryp, en die vlas het al klaar knoppe gemaak. Maar daar was nog koring en spelt, want dit word later ryp. Moses het weggegaan van die farao. Hy het uit die stad gegaan en hy het sy hande na die Here toe opgesteek en gebid. Die donderweer en die hael het opgehou, en die reën het nie meer op die aarde geval nie. Toe die farao sien dat die reën en die hael en die donderweer opgehou het, het hy weer verkeerd gedoen. Hy het nie geluister nie, hy en sy amptenare saam met hom. Die farao was hardkoppig. Hy het nie die Israeliete laat gaan nie. Dit het gebeur soos die Here vir Moses gesê het.

EKSODUS 9:1-35 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

VERDER het die HERE met Moses gespreek: Gaan na Farao en sê vir hom: So spreek die HERE, die God van die Hebreërs: Laat my volk trek, dat hulle My kan dien. Want as jy weier om hulle te laat trek en hulle nog langer vashou, kyk, dan sal die hand van die HERE wees teen jou vee wat in die veld is, teen die perde, teen die esels, teen die kamele, teen die beeste en teen die kleinvee met 'n baie swaar pes. En die HERE sal 'n onderskeid maak tussen die vee van die Israeliete en die vee van die Egiptenaars, sodat niks sal doodgaan van alles wat aan die kinders van Israel behoort nie. En die HERE het 'n bepaalde tyd gestel en gesê: Môre sal die HERE dit doen in die land. En die HERE het dit die volgende dag gedoen: al die vee van die Egiptenaars het doodgegaan. Maar van die vee van die kinders van Israel is nie een dood nie. Farao het toe gestuur, en kyk, van die vee van die Israeliete was daar nie een dood nie! Maar die hart van Farao was verhard, en hy het die volk nie laat trek nie. VERDER het die HERE aan Moses en Aäron gesê: Neem julle twee hande vol roet uit die oond, en laat Moses dit na die hemel uitstrooi voor die oë van Farao; en dit sal fyn stof word oor die hele Egipteland en aan mense en diere swere veroorsaak wat in blare uitbreek, in die hele Egipteland. So het hulle dan roet uit die oond geneem en voor Farao gaan staan, en Moses het dit na die hemel uitgestrooi. Toe word dit swere wat uitbreek in blare aan mense en diere. En die towenaars kon voor Moses nie staan vanweë die swere nie. Want die swere was aan die towenaars en al die Egiptenaars. Maar die HERE het Farao se hart verhard, sodat hy nie na hulle geluister het nie, soos die HERE aan Moses gesê het. VERDER het die HERE aan Moses gesê: Maak jou môre vroeg klaar en stel jou voor Farao en sê vir hom: So spreek die HERE, die God van die Hebreërs: Laat my volk trek, dat hulle My kan dien. Want hierdie keer sal Ek al my plae in jou hart stuur, en teen jou dienaars en jou volk, dat jy kan weet dat daar niemand op die hele aarde is soos Ek nie. Want anders sou Ek my hand uitgestrek en jou en jou volk met die pes getref het, en jy sou van die aarde verdelg gewees het; maar juis hierom het Ek jou nog laat bestaan, dat Ek jou my krag kan toon, en dat hulle my Naam op die hele aarde kan verkondig. Versit jy jou nog teen my volk, dat jy hulle nie wil laat trek nie? Kyk, Ek sal môre omtrent sulke tyd 'n baie swaar hael laat reën soos wat in Egipte nie gewees het van die dag af dat dit gegrond is tot nou toe nie. Stuur dan nou en laat jou vee en alles wat jy in die veld het, in veiligheid bring; al die mense en die diere wat in die veld gevind word, en wat nie binnekant gebring is nie — op hulle sal die hael val, sodat hulle sterwe. Hy wat die HERE se woord gevrees het onder die dienaars van Farao, het sy slawe en sy vee in die huise laat vlug; maar hy wat op die HERE se woord geen ag gegee het nie, het sy slawe en sy vee in die veld laat bly. Toe sê die HERE vir Moses: Steek jou hand na die hemel uit, en daar sal hael wees in die hele Egipteland, oor mense en diere en oor al die plante van die veld in Egipteland. En Moses het sy staf na die hemel uitgesteek, en die HERE het donder en hael gegee, en vuur het na die aarde uitgeskiet; en die HERE het hael op Egipteland laat reën. En daar was hael en onophoudelike vuur binne-in die hael, baie swaar, soos in die hele Egipteland nooit gewees het vandat dit aan 'n volk behoort het nie. En die hael het in die hele Egipteland geslaan alles wat in die veld was, mense sowel as diere. Ook het die hael al die plante van die veld geslaan en al die bome van die veld verbreek. Net in die land Gosen, waar die kinders van Israel was, was daar geen hael nie. Toe het Farao Moses en Aäron laat roep en vir hulle gesê: Ek het dié keer sonde gedoen. Die HERE is reg, maar ek en my volk het ongelyk. Bid tot die HERE, want daar is oorgenoeg donder van God en hael gewees; dan sal ek julle laat trek, en julle hoef nie langer te bly nie. Toe sê Moses vir hom: So gou as ek die stad uitgaan, sal ek my hande tot die HERE uitbrei: die donder sal ophou en die hael sal nie meer wees nie; sodat u kan weet dat die aarde aan die HERE behoort. Maar wat u en u dienaars betref — ek weet dat julle nog nie ontsag het vir die HERE God nie. En die vlas en die gars was weggeslaan, want die gars was in die aar en die vlas in die knop. Maar die koring en die spelt was nie weggeslaan nie, want hulle is later. So het Moses dan uit die stad gegaan van Farao af weg en sy hande tot die HERE uitgebrei. En die donder en hael het opgehou, en die reën het nie meer op die aarde gegiet nie. Toe Farao sien dat die reën en die hael en die donder ophou, het hy nog verder gesondig en sy hart verhard, hy en sy dienaars. Ja, Farao se hart was verhard, sodat hy die kinders van Israel nie laat trek het nie, soos die HERE deur die diens van Moses gespreek het.

EKSODUS 9:1-35 Afrikaans 1983 (AFR83)

Daarna het die Here vir Moses gesê: “Gaan sê vir die farao: So sê die Here die God van die Hebreërs: Laat my volk gaan om My te dien. As jy weier om hulle te laat gaan en hulle bly vashou, sal die Here sy mag toon met 'n baie swaar pes onder al jou vee in die veld: perde, donkies, kamele, beeste en kleinvee. Die Here sal onderskeid maak tussen die vee van Israel en dié van Egipte: daar sal nie 'n enkele stuk vee van die Israeliete vrek nie.” Die Here het 'n tyd vasgestel en Hy het gesê Hy sal dit die volgende dag in Egipte laat gebeur. Die volgende dag doen Hy dit toe ook, en al die vee van Egipte is dood, maar van die vee van die Israeliete is daar nie een dood nie. Die farao het navraag gedoen en jou werklik waar, nie 'n enkele stuk van die Israeliete se vee is dood nie. Tog was die farao steeds onversetlik: hy het die volk nie laat gaan nie. Daarna het die Here vir Moses en Aäron gesê: “Skep hande vol roet uit 'n oond en laat Moses dit voor die farao in die lug opgooi. Dit sal 'n fyn poeier word oor die hele Egipte en dit sal dwarsoor Egipte op mens en dier swere veroorsaak wat aanhoudend etter.” Hulle het toe roet uit 'n oond gevat en voor die farao gaan staan. Toe Moses dit in die lug opgooi, kom daar op mens en dier swere wat aanhoudend etter. Die towenaars kon Moses dit nie eens probeer nadoen nie, want hulle was vol swere. Die swere het op al die Egiptenaars uitgekom, ook op die towenaars. Tog het die Here die farao nog steeds koppig laat bly. Hy het nie aan Moses en Aäron se versoek gehoor gegee nie, soos die Here vooraf vir Moses gesê het. Daarna het die Here vir Moses gesê: “Staan môreoggend vroeg op en gaan na die farao toe en sê vir hom: So sê die Here die God van die Hebreërs: Laat my volk gaan om My te dien, anders gaan Ek jou hierdie keer met 'n groot ramp tref en ook jou amptenare en jou mense. Dan sal jy besef dat daar op die hele aarde niemand soos Ek is nie. Na regte moes Ek nou al my hand uitgesteek het en jou en jou mense met 'n pes van die aarde af uitgewis het. Daar is net een rede waarom Ek jou nog laat lewe, en dit is dat Ek jou my mag kan wys en my Naam daardeur oor die hele wêreld geroem kan word. Nog steeds hou jy jou groot teen my volk en laat jy hulle nie gaan nie. Môre hierdie tyd gaan Ek 'n verskriklike swaar haelstorm laat losbars soos daar nog nooit in die bestaan van Egipte was nie. Laat nou al jou vee en alles wat buite is, na veiligheid bring. Al die mense en diere wat buite is en nie onder dak gebring is nie, sal deur die hael doodgeslaan word.” Die amptenare van die farao wat bang geword het toe hulle hoor wat die Here gesê het, het haastig hulle slawe en vee onder dak gebring, maar dié wat hulle nie aan sy woorde gesteur het nie, het hulle slawe en vee buite laat bly. Toe het die Here vir Moses gesê: “Steek jou hand in die lug op dat daar hael oor die hele Egipte kan kom oor mens en dier, en oor al die plante van Egipte.” Toe Moses sy kierie in die lug opsteek, het die Here donderslae en hael gestuur, en die blitse het tot op die grond geslaan. Die Here het die haelstorm oor Egipte laat losbars. Die hael het geval; tussen die hael deur het die een blits op die ander gevolg, so erg soos dit nog nooit was vandat daar mense in Egipte woon nie. Die hael het die hele Egipte getref, alles wat buite was, mens en dier. Al die plante is deur die hael weggeslaan, selfs al die bome is in repe geslaan. Net in die Gosenstreek, waar die Israeliete was, was daar nie hael nie. Die farao laat roep toe vir Moses en Aäron en sê vir hulle: “Nou erken ek ek was verkeerd. Die Here het reg, ek en my mense is skuldig. Bid tog tot die Here. Die donderslae en hael is vir ons te erg. Ek sal julle laat gaan. Julle hoef nie langer te bly nie.” Toe het Moses vir hom gesê: “Sodra ek uit die stad is, sal ek my hande in gebed na die Here uitsteek. Dan sal die donderslae ophou, en daar sal nie meer hael wees nie, dat u kan besef dat hierdie land aan die Here behoort. Wat u en u amptenare betref, ek weet u het nog nie ontsag vir God, die Here, nie.” Die vlas- en die garsoes is vernietig omdat die gars in die aar en die vlas in die knop was, maar die koring en die sorghum is nie vernietig nie omdat dit later ryp word. Moses is van die farao af weg uit die stad uit, en hy het sy hande in gebed na die Here uitgesteek. Die donderslae en die hael het opgehou en die stortbuie het bedaar. Toe die farao sien die reën, hael en donderslae hou op, het hy maar weer verkeerd gedoen. Hy en sy amptenare was onversetlik. Die farao het koppig gebly en die Israeliete nie laat gaan nie, soos die Here vooraf deur Moses gesê het.

EKSODUS 9:1-35 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die HERE het vir Moses gesê: “Gaan na die farao en sê vir hom: ‘So sê die HERE, die God van die Hebreërs, “Laat my volk gaan, sodat hulle My kan dien.” Want as jy aanhou weier om hulle te laat gaan en jy hulle steeds terughou – kyk, die hand van die HERE is teen jou vee wat in die veld is. Onder die perde, die donkies, die kamele, die beeste en die kleinvee sal daar 'n baie swaar pessiekte uitbreek. Maar die HERE sal onderskeid tref tussen die vee van Israel en die vee van Egipte, sodat niks van alles wat aan die Israeliete behoort, sal doodgaan nie. Die HERE het 'n vaste tyd bepaal en gesê: “Môre sal die HERE dit in die land doen.” ’ ” Die HERE het dit toe die volgende dag gedoen. Al die vee van die Egiptenare het gevrek, maar van die vee van die Israeliete het daar nie een gevrek nie. Die farao het mense gestuur, en sowaar, van die vee van Israel was nie eers een dood nie. Maar die hart van die farao was onversetlik, en hy het die volk nie laat gaan nie. Die HERE het vir Moses en Aäron gesê: “Neem vir julle dubbele hande vol roet uit 'n oond. Moses moet dit voor die oë van die farao in die lug opgooi. Dit sal fyn stof word oor die hele Egipteland. Dit sal in die hele Egipteland op mens en dier swere word wat in oop sere uitbars.” Hulle het toe roet uit 'n oond geneem en voor die farao gaan staan. Moses het dit in die lug opgegooi, en dit het swere geword wat op mens en dier in oop sere uitgebars het. Die waarsêerpriesters kon nie voor Moses bly staan nie vanweë die swere, want die swere was op die waarsêerpriesters en op al die Egiptenare. Maar die HERE het die hart van die farao verhard, en hy het nie na hulle geluister nie, soos die HERE vir Moses gesê het. Die HERE het vir Moses gesê: “Staan môreoggend vroeg op en meld jou aan by die farao. Sê vir hom, ‘So sê die HERE, die God van die Hebreërs: “Laat my volk gaan, sodat hulle My kan dien. Want hierdie keer gaan Ek jou met al my plae in die hart tref, ook jou amptenare en jou mense, sodat jy sal weet dat daar op die hele aarde niemand soos Ek is nie. Want Ek kon nou al my hand uitgesteek en jou en jou volk met pessiekte getref het. Jy sou van die aarde af verdwyn het. Maar aan die ander kant, om hierdie rede het Ek jou staande gehou, om jou my krag te toon, sodat my Naam oor die hele aarde verkondig kan word. Jy verhef jouself nog steeds teen my volk, deur hulle nie te laat gaan nie. Kyk, môre teen hierdie tyd gaan Ek baie swaar hael laat neerreën, soos wat daar nog nooit in Egipte was nie, van die dag dat dit gevestig is tot nou toe. Stuur dan nou mense, en bring jou vee en alles in die veld wat aan jou behoort, na veiligheid. Elke mens en dier wat hom in die veld bevind en nie na veiligheid gebring is nie – op hulle sal die hael val en hulle sal sterf.” ’ ” Van die farao se amptenare wat ontsag gehad het vir die woord van die HERE, het hulle slawe en vee haastig na veiligheid gebring. Maar dié wat nie die woord van die HERE ter harte geneem het nie, het hulle slawe en vee in die veld agtergelaat. Die HERE het vir Moses gesê: “Strek jou hand uit na die hemel, sodat daar hael sal val in die hele Egipteland, op mens en dier en op al die plante in die veld in Egipteland.” Moses het toe sy staf na die hemel uitgesteek, en die HERE het donderslae en hael beskik, terwyl weerligstrale op die grond neerslaan. Die HERE het hael op Egipteland laat neerreën. Daar was hael, en tussen die hael deur het weerligstrale aanhoudend geblits. Dit was 'n baie swaar haelbui, soos wat daar nog nooit in Egipteland was vandat hulle 'n nasie geword het nie. Die hael het die hele Egipteland getref, alles wat in die veld was, mens en dier. Al die plante in die veld is deur die hael platgeslaan, elke boom in die veld is stukkend geslaan. Net in die Gosenstreek, waar die Israeliete was, het daar nie hael geval nie. Die farao het Moses en Aäron ontbied en vir hulle gesê: “Ek het hierdie keer gesondig. Die HERE het gelyk en ek en my volk is verkeerd. Pleit by die HERE, want daar is genoeg donderslae van God, en hael; ek sal julle laat gaan, julle hoef nie langer te bly nie.” Moses het vir hom gesê: “Sodra ek uit die stad is, sal ek my hande na die HERE uitstrek. Die donderslae sal ophou en daar sal nie meer hael wees nie, sodat u kan weet dat die aarde aan die HERE behoort. Maar wat u en u amptenare betref, ek weet dat u nog nie vir die HERE God ontsag het nie.” Die vlas en die gars was weggeslaan, omdat die gars reeds in die aar was, en die vlas in die knopstadium. Maar die koring en die spelt was nie weggeslaan nie, omdat dit eers later opkom. Moses het van die farao af uit die stad gegaan en sy hande na die HERE uitgestrek. Die donderslae en hael het opgehou en die reën het nie meer op die aarde neergegiet nie. Toe die farao sien dat die reën en die hael en die donderslae ophou, het hy weer gesondig. Hy was onversetlik, hy en sy amptenare. Die farao se hart was verhard en hy het nie die Israeliete laat gaan nie, soos die HERE gesê het by monde van Moses.

EKSODUS 9:1-35 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Toe sê die HERE vir Moses: Gaan in na Farao en sê vir hom: So spreek die HERE, die God van die Hebreërs: Laat my volk trek, dat hulle My kan dien. Want as jy weier om hulle te laat gaan en hulle stilhou, Kyk, die hand van die HERE is oor jou beeste wat in die veld is, teen die perde, teen die esels, teen die kamele, teen die beeste en teen die skape; daar sal 'n baie swaar pes wees. En die HERE sal tussen die vee van Israel en die vee van Egipte skei, en niks sal vrek van alles wat aan die kinders van Israel behoort nie. En die HERE het 'n vasgestelde tyd vasgestel en gesê: Môre sal die HERE hierdie ding in die land doen. En die HERE het daardie ding die volgende dag gedoen, en al die vee van Egipte het gevrek; maar van die vee van die kinders van Israel het nie een gesterf nie. En Farao het gestuur, en kyk, daar was nie een van die vee van die Israeliete dood nie. En die hart van Farao was verhard, en hy het die volk nie laat trek nie. En die HERE het vir Moses en Aäron gesê: Neem vir julle handevol as uit die oond, en laat Moses dit na die hemel uitgooi voor die oë van Farao. En dit sal klein stof word in die hele Egipteland, en dit sal 'n swer wees wat uitbreek met lekke op mense en teen diere in die hele Egipteland. En hulle het die as van die oond geneem en voor Farao gaan staan; en Moses het dit na die hemel gesprinkel; en dit het 'n swere geword wat uitbreek met lekke op mense en diere. En die towenaars kon vanweë die swere nie voor Moses staan nie; want die swere was op die towenaars en oor al die Egiptenaars. En die HERE het die hart van Farao verhard, sodat hy nie na hulle geluister het nie; soos die HERE met Moses gespreek het. Toe sê die HERE vir Moses: Staan die môre vroeg op en staan voor Farao en sê vir hom: So spreek die HERE, die God van die Hebreërs: Laat my volk trek, dat hulle My kan dien. Want Ek sal in hierdie tyd al my plae op jou hart en op jou dienaars en op jou volk stuur; sodat jy kan weet dat daar niemand soos ek op die hele aarde is nie. Want nou sal Ek my hand uitsteek om jou en jou volk met pes te tref; en jy sal van die aarde uitgeroei word. En juis daarom het Ek jou opgewek, om in jou my krag te toon; en dat my Naam oor die hele aarde verkondig kan word. Verhef U Uself nog teen my volk, dat U hulle nie sal laat trek nie? Kyk, Ek sal môre omtrent hierdie tyd dit 'n baie swaar hael laat reën, soos daar van die grondlegging daarvan af tot nou toe nog nie in Egipte was nie. Stuur dan nou en maak jou vee bymekaar en alles wat jy in die veld het; want op elke mens en dier wat in die veld gevind word en nie tuisgebring word nie, sal die hael op hulle neerdaal, en hulle sal sterwe. Hy wat die woord van die HERE gevrees het onder die dienaars van Farao, het sy dienaars en sy vee na die huise laat vlug. En hy wat nie ag geslaan het op die woord van die HERE nie, het sy dienaars en sy vee in die veld gelos. Toe sê die HERE vir Moses: Steek jou hand uit na die hemel, dat daar hael kan wees in die hele Egipteland, oor mense en diere en oor al die plante van die veld in die hele Egipteland. En Moses het sy staf na die hemel uitgesteek, en die HERE het donderweer en hael gestuur, en die vuur het op die aarde geloop; en die HERE het hael oor Egipteland laat reën. En daar was hael en vuur gemeng met die hael, baie swaar, soos daar nie so iemand in die hele Egipteland was vandat dit 'n nasie geword het nie. En die hael het in die hele Egipteland getref alles wat in die veld was, mense sowel as diere; en die hael het al die plante van die veld getref en al die bome van die veld verbreek. Net in die land Gosen, waar die kinders van Israel was, was daar geen hael nie. Toe het Farao gestuur en Moses en Aäron laat roep en vir hulle gesê: Ek het hierdie keer gesondig; die HERE is regverdig, en ek en my volk is goddeloos. Bid tot die HERE (want dit is genoeg) dat daar geen geweldige donderslae en hael meer sal wees nie; en Ek sal julle laat gaan, en julle sal nie meer bly nie. Toe sê Moses vir hom: Sodra ek uit die stad uitgaan, sal ek my hande na die HERE uitbrei; en die donder sal ophou, en daar sal geen hael meer wees nie; sodat jy kan weet dat die aarde aan die HERE behoort. Maar wat jou en jou dienaars betref, ek weet dat julle die HERE God nog nie sal vrees nie. En die vlas en die gars is geslaan, want die gars was in die aar, en die vlas was bol. Maar die koring en die rie is nie geslaan nie, want hulle was nie groot nie. Toe het Moses van Farao uit die stad uitgegaan en sy hande na die HERE uitgebrei, en die donderslae en die hael het opgehou, en die reën het nie op die aarde uitgegooi nie. En toe Farao sien dat die reën en die hael en die donderslae opgehou het, het hy nog meer gesondig en sy hart verhard, hy en sy dienaars. En die hart van Farao was verhard, en hy het die kinders van Israel nie laat trek nie; soos die HERE deur Moses gespreek het.

EKSODUS 9:1-35 Die Boodskap (DB)

Die Here het weer vir Moses gesê: “Gaan nog ’n keer na die farao toe en sê vir hom: ‘Die Here, die God van die Hebreërs, eis van jou: jy moet my volk laat gaan om My te aanbid. As jy weier om hulle te laat gaan en aanhou om hulle terug te hou, gaan die Here sy krag gebruik. Hy sal ’n dodelike siekte laat uitbreek onder al jou vee wat in die veld is. Al jou perde en donkies, jou kamele, jou beeste en jou kleinvee sal dodelik siek word. Die Here sal ook anders maak met die vee van die Israeliete as met die vee van die Egiptenaars. Nie een van hulle diere sal vrek van die siekte nie. Die Here het hierdie keer self oor die tyd besluit wanneer dit sal gebeur. Dit sal môre gebeur.’” Die Here het dan ook die volgende dag laat gebeur wat Hy gesê het. Al die vee van die Egiptenaars het siek geword en begin vrek. Onder die Israeliete se vee is daar egter nie ’n enkele een dood nie. Die farao het ook mense gestuur om te kyk of dit regtig so is dat daar niks by die Israeliete gevrek het nie. Alhoewel hulle vir hom kom sê het dat dit werklik so is, het hy weer viervoet vasgesteek en bly weier om die volk te laat gaan. Die Here het daarop vir Moses en Aäron beveel: “Gaan krap ’n paar hande vol roet uit ’n oond. Moses moet dit voor die farao in die lug uitstrooi. Dit sal ’n fyn poeier word wat oor die hele Egipte versprei. Dit sal oor die hele land rou sere op mense en diere laat kom.” Hulle het toe roet gevat. Terwyl die farao kyk wat hy doen, het Moses die roet gevat en in die lug gegooi. Daar het toe swere op die mense en die diere se vel gekom. Die Egiptiese towenaars was self so vol sere dat hulle nie eens kon kom kyk of hulle dieselfde as Moses kon doen nie. Die hele Egipte was die ene rowe en sere. Die Here het die farao egter net nog meer hardkoppig laat word. Hy het al minder na hulle geluister. Dit is mos soos die Here gesê het dit sou wees. Die Here het toe vir Moses gesê: “Jy moet môreoggend vroeg opstaan en vra of jy met die farao kan praat. Sê dan vir hom: ‘Die Here, die God van die Hebreërs, het van jou geëis: jy moet my volk laat gaan om My te gaan aanbid. Hierdie keer gaan Ek ’n ramp stuur wat jou en die mense wat by jou koninklike paleis werk en jou hele volk baie persoonlik gaan raak. Jy sal nou baie deeglik besef dat daar niemand anders op die aarde is wat soos Ek is nie. Ek moes eintlik al lankal my krag gebruik het om jou en jou mense met ’n ramp van die aarde af weg te vee. Ek het jou egter gespaar sodat my Naam oor die hele wêreld bekend sal word wanneer jy sien hoe sterk Ek werklik is. Jy het mos aangehou om moedswillig met my volk te wees. Jy wou hulle nie laat gaan nie. Ek gaan môre hierdie tyd ’n vernietigende haelstorm oor Egipte laat losbars soos hierdie land in sy hele geskiedenis nog nie gesien het nie. Jy moet betyds jou mense beveel om al jou vee en alles wat buite is, dadelik onderdak te bring. Die hael sal al die mense en diere doodslaan wat nie beskerm word nie.’” Die mense wat vir die farao gewerk het en wat hulle gesteur het aan wat die Here gesê het, het vinnig hulle werkers en hulle vee onderdak gekry. Die ander wat die skouers opgehaal het vir die Here se woorde, het hulle werkers en hulle vee buite in die veld gelos. Die Here het toe vir Moses gesê om sy hand na die wolke toe uit te steek sodat daar hael kan val op al die mense en diere en plante oor die hele Egipte. Toe Moses sy kierie na die lug uitsteek, het die Here weerligslae en hael laat kom. Blitse het op die aarde geslaan. Die Here het ’n yslike haelstorm oor Egipte laat losbars. Daar was ’n storm met haelstene en onophoudelike weerlig oor die hele Egipte soos daar nog nooit tevore was nie. Die hael het oor die hele land geval. Dit het alles platgeslaan wat buite in die veld was: mens en dier en plant, alles. Die hael het selfs die bome in die veld weggeslaan. Die enigste plek waar dit glad nie gehael het nie, was in Gosen waar die Israeliete gewoon het. Die farao het Moses en Aäron toe dringend laat kom. Hy het vir hulle gesê: “Ek het ’n fout gemaak. Hierdie keer is die Here reg. Ek en my volk is verkeerd. Bid asseblief tot die Here. Hierdie verskriklike donderslae en hael is te veel vir ons. Ek sal julle laat trek. Julle hoef my nie weer te kom vra om te gaan nie.” “Goed,” sê Moses vir hom, “sodra ek uit die stad uit is, sal ek tot die Here bid dat die donderstorm moet bedaar en dat die hael moet ophou. U sal dan besef dat die Here in beheer van die land is. Ek besef egter baie duidelik dat u en u mense nog glad nie die nodige respek vir die Here God het nie.” Die hele vlas- en garsoes is weggeslaan. Die gars was al in die aar en die vlas het net mooi begin uitstoot. Die koring en die hawer is darem nie vernietig nie omdat dit eers later moes opkom. Moses is toe van die farao af weg. Hy het net buite die stad tot die Here gebid. Die donderstorm en hael het opgehou en dit het ophou reën. Toe die farao sien dat die storm oor is, het hy maar net voortgegaan met sy sonde. Hy en sy amptenare het aanhou weier. Soos die Here tevore gesê het dit sou gebeur, het die farao steeds eiesinnig gebly en bly weier dat die Israeliete kan gaan.

EKSODUS 9:1-35 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“Gaan weer terug na die farao toe,” het die HERE Moses beveel. “Sê vir hom: ‘Dit is wat die HERE, die God van die Hebreërs, sê: Jy moet my volk laat gaan sodat hulle My kan gaan aanbid. As jy weier om hulle te laat gaan en aanhou om hulle terug te hou, sal die HERE ’n dodelike siekte laat uitbreek onder al die diere in die veld. ’n Epidemie sal uitbreek onder jou perde, jou donkies, jou kamele, jou beeste en jou skape. Die HERE sal weer onderskeid maak tussen die vee van die Israeliete en die vee van Egipte. Nie een van Israel se vee sal vrek nie.’” Die HERE het besluit dat Hy die epidemie net die volgende dag sal laat uitbreek in die land. Van die volgende oggend af het die HERE dit laat gebeur. Al die vee van Egipte het begin doodgaan. By die Israeliete is daar egter nie een dood nie. Die farao het mense gestuur om te kom kyk of dit so is. Selfs nadat hy gehoor het dat dit wel so is, het hy hardkoppig gebly. Hy het volgehou om te weier dat die volk kon gaan. Die HERE het vir Moses en Aäron gesê: “Vat ’n paar hande vol roet uit ’n oond en laat Moses dit voor die farao in die lug uitstrooi. Dit sal soos fyn stof oor die hele Egipte versprei en rou sere aan mens en dier laat kom.” Hulle het toe roet uit ’n oond gevat en na die farao toe gegaan. Terwyl die farao staan en kyk, het Moses dit in die lug gestrooi. Daar het rou sere op mens en dier begin uitbreek. Die towenaars kon nie met Moses kragte meet nie omdat hulle self ook vol sere was. Die HERE het die farao egter nog koppiger gemaak. Hy het volgehou om te weier om na hulle te luister. Dit was net soos die HERE gesê het dit sou wees. Toe sê die HERE vir Moses: “Staan môre-oggend vroeg op en gaan sê vir die farao: ‘Die HERE, die God van die Hebreërs, sê: Laat my volk gaan sodat hulle My kan gaan aanbid. As jy hulle nie toelaat nie, gaan Ek ’n ramp stuur wat jou en jou amptenare en jou volk werklik gaan ruk. Jy sal dan verseker weet dat daar nie nog iemand soos Ek op die hele aarde is nie. Ek kon jou al lankal doodgemaak het. Ek kon jou en jou volk ook al lankal met rampe van die aarde af weggevee het. Ek het jou egter gespaar sodat jy kan sien hoe magtig Ek is en dat my Naam oor die hele aarde bekend sal word. Jy hou aan om jouself belangriker te ag as my volk en te weier om hulle te laat gaan. Ek gaan môre hierdie tyd die grootste haelstorm wat daar nog ooit gesien is oor Egipte stuur. Laat dadelik al jou vee en alles van jou wat buite in die veld is, terugkom. Enige mens of dier wat buite in die veld gevang word en nie onder dak is nie, sal nie die storm oorleef nie.’” Die amptenare van die farao wat hulle gesteur het aan wat die HERE gesê het, het dadelik hulle vee en werkers na veiligheid gebring. Dié wat hulle skouers opgetrek het vir wat die HERE gesê het, het hulle werkers en hulle vee net daar in die veld gelos. Die HERE sê toe vir Moses: “Steek jou hand op in die lug. Oor die hele Egipte sal daar hael val op mens en dier en oor al die plante oor die hele land.” Moses het toe sy stok in die lug opgesteek. Die HERE het toe donderweer en hael laat kom en weerlig oor die hele aarde laat uitslaan. Die HERE het ’n geweldige haelstorm oor die hele Egipte laat losbars. Daar was nog nooit in Egipte se geskiedenis so ’n groot haelstorm met soveel onophoudelike weerlig nie. Die haelstorm het deur die hele Egipte getrek. Dit het alles in die veld – mens, dier en plante – platgeslaan. Daar het nie ’n boom bly staan nie. Die enigste plek waar daar op daardie dag nie hael geval het nie, was in Gosen waar die Israeliete gebly het. Die farao het toe dringend vir Moses en Aäron laat roep. Hy het vir hulle gesê: “Ek het verkeerd gemaak. Hierdie keer is die HERE reg. Ek en my mense is verkeerd. Bid tog tot die HERE dat Hy hierdie verskriklike weerlig en hael laat ophou. Ek sal julle laat gaan. Julle hoef nie langer te bly nie.” “Goed so,” het Moses geantwoord. “Sodra ek uit die stad is, sal ek tot die HERE bid om die hael en weerlig te laat ophou. Jy sal dan weet dat die aarde aan die HERE behoort. Ek weet egter dat jy en jou amptenare nog glad nie in die HERE glo nie.” Die vlas- en garsoes was daarmee heen. Die gars was op daardie stadium vol in die aar en die vlas het begin knoppe maak. Die koring en die hawer was darem nog veilig, want dit het nog nie opgekom nie. Moses is toe van die farao af weg en uit die stad uit. Toe hy sy hande opsteek en begin bid, het die weerlig opgehou slaan. Die hael en reën het opgehou val. Toe die farao sien dat die weerlig ophou en die storm bedaar, het hy en sy amptenare maar weer begin oortree en geweier om te doen wat hulle belowe het. Die farao het botweg geweier om die Israeliete te laat gaan. Dit was net soos die HERE gesê het dit sal gebeur.