EKSODUS 32:19-25 - Compare All Versions
EKSODUS 32:19-25 ABA (Bybel vir almal)
Toe Moses naby die kamp kom, het hy die beeld van die bul-kalf gesien en die Israeliete wat dans. Hy het toe baie kwaad geword en hy het die twee plat klippe stukkend gegooi. Die klippe het onder teen die berg geval en gebreek. Moses het die bul-kalf geneem wat die Israeliete gemaak het en hy het dit verbrand. Toe het hy dit fyngemaal soos poeier en hy het dit in die water gegooi. Hy het gesê die Israeliete moet die water drink. Moses het vir Aäron gesê: “Hierdie mense het niks verkeerd aan jou gedoen nie. Hoekom het jy hulle verlei om so 'n groot sonde te doen?” Aäron antwoord toe: “Meneer, moenie kwaad wees vir my nie. Jy weet self hierdie volk wil altyd verkeerde dinge doen. Hulle het vir my gesê: ‘Maak vir ons 'n god wat vir ons kan wys waarnatoe ons moet gaan. Hierdie man Moses het vir ons uit Egipte gebring, maar ons weet nie waar hy nou is nie.’ Ek het toe vir hulle gesê almal wat goue ringe het, moet dit afhaal en vir my gee. Ek het die goue ringe in die vuur gegooi en hierdie bul-kalf het daaruit gekom.” Moses het gesien die volk het wild geword en verkeerd gedoen. Hy het ook gesien dit was Aäron se skuld. Hy het geweet hulle vyande sal hulle spot.
EKSODUS 32:19-25 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
En toe hy naby die laer kom en die kalf en koordanse sien, het die toorn van Moses ontvlam, en hy het die tafels uit sy hande gegooi en hulle onder aan die berg verbrysel. En hy het die kalf geneem wat hulle gemaak het, en dit in die vuur verbrand en dit fyn gemaal. Toe het hy dit op die water gestrooi en die kinders van Israel dit laat drink. En Moses het vir Aäron gesê: Wat het hierdie volk jou gedoen, dat jy so 'n groot sonde oor hulle gebring het? Toe antwoord Aäron: Laat die toorn van my heer nie ontvlam nie. U self ken die volk, dat hulle deur en deur sleg is. Hulle het dan aan my gesê: Maak vir ons gode wat voor ons uit trek, want hierdie Moses, die man wat ons uit Egipteland laat optrek het, ons weet nie wat van hom geword het nie. Daarop het ek hulle geantwoord: Wie goud het, laat dié dit afruk! En hulle het dit aan my gegee. En ek het dit in die vuur gegooi, en hierdie kalf het daaruit gekom. Toe Moses sien dat die volk bandeloos was — want Aäron het hulle bandeloos laat word tot leedvermaak onder hulle teëstanders
EKSODUS 32:19-25 AFR83 (Afrikaans 1983)
Toe Moses naby die kamp kom en die kalf en die dansery sien, het hy woedend geword en die twee plat klippe in sy hand flenters gegooi teen die voet van die berg. Daarna vat hy die kalf wat hulle gemaak het, gooi dit in die vuur, maal dit fyn soos stof en strooi dit op die water. Toe laat hy die Israeliete die water drink. Moses het vir Aäron gesê: “Wat het hierdie volk jou aangedoen dat jy hulle hierdie groot sonde laat doen het?” Maar Aäron antwoord: “U moenie kwaad wees nie. U weet self hoe sleg die volk is. Hulle het vir my gesê: ‘Maak vir ons 'n god dat hy ons kan lei. Hierdie Moses het nou wel vir ons uit Egipte laat wegtrek, maar ons weet nie wat van hom geword het nie.’ Toe sê ek vir hulle: ‘Dié wat goud aan hulle het, moet dit afhaal en vir my gee.’ Ek het dit in die vuur gegooi, en hierdie bulkalf het daaruit gekom.” Toe Moses hoor dat dit die volk is wat op loop gesit het, en dat dit Aäron is wat hulle op loop laat sit het, sodat hulle 'n spot by hulle vyande geword het
EKSODUS 32:19-25 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Toe hy naby die kamp kom en die kalf en die kringdanse sien, het Moses kwaad geword. Hy het die kliptafels wat in sy hande was, neergesmyt en dit aan die voet van die berg verpletter. Hy het die kalf wat hulle gemaak het, gevat, dit verbrand en dit fyngestamp, totdat dit soos poeier was. Toe het hy dit op die water uitgestrooi en die Israeliete dit laat drink. Moses het vir Aäron gesê: “Wat het hierdie volk jou aangedoen dat jy so 'n groot sonde oor hulle gebring het?” Aäron het geantwoord: “Die toorn van my heer moet tog nie ontbrand nie. U ken self die volk, dat hulle tot kwaad geneig is. Hulle het vir my gesê, ‘Maak vir ons gode wat voor ons uit trek, want hierdie Moses, die man wat ons uit Egipteland laat optrek het – ons weet nie wat met hom gebeur het nie.’ Ek het toe vir hulle gesê, ‘Wie goud het, ruk dit af!’ Hulle het dit vir my gegee en ek het dit in die vuur gegooi; en toe kom hierdie kalf daar uit.” Moses het gesien dat die volk losbandig is, want Aäron het hulle losbandig laat word, sodat hulle 'n bespotting by hulle teenstanders geword het.
EKSODUS 32:19-25 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
En net toe hy naby die laer kom, sien hy die kalf en die dansery, en Moses se toorn het ontvlam, en hy het die tafels uit sy hande gegooi en dit onder die berg gebreek. En hy het die kalf geneem wat hulle gemaak het en dit met vuur verbrand en dit fyngemaak en dit op die water gestrooi en die kinders van Israel daarvan laat drink. Toe sê Moses vir Aäron: Wat het hierdie volk jou aangedoen dat jy so 'n groot sonde oor hulle gebring het? Toe sê Aäron: Laat die toorn van my heer nie ontvlam nie; Want hulle het vir my gesê: Maak vir ons gode wat voor ons uit sal gaan; want hierdie Moses, die man wat ons uit Egipteland laat optrek het, ons weet nie wat van hom geword het nie. En ek het vir hulle gesê: Elkeen wat goud het, laat hulle dit afbreek. Toe het hulle dit vir my gegee; toe het ek dit in die vuur gegooi, en hierdie kalf het uitgekom. En toe Moses sien dat die volk naak was; (want Aäron het hulle tot hul skande onder hul vyande naak gemaak.)
EKSODUS 32:19-25 DB (Die Boodskap)
Toe Moses nader kom aan die kamp en die beeld van die kalf sien en sien hoe hulle al in die rondte dans, het hy so kwaad geword dat hy die plat klippe op die grond neergesmyt het. Dit het in stukke by die voet van die berg gelê. Hy het die beeld van die kalf in die vuur gegooi en dit toe so fyn soos stof gemaal. Hy het die poeier in die drinkwater gegooi en die Israeliete gedwing om dit op te drink. Moses vra toe vir Aäron: “Watter kwaad het hierdie volk jou gedoen dat jy hulle moes verlei om so ’n verskriklike sonde te doen?” Aäron antwoord toe: “Meneer, jy moenie kwaad word nie. Jy weet so goed soos ek dat hierdie volk altyd reg is om kwaad te doen. Hulle het my kom vra: ‘Maak tog vir ons ’n god wat ons verder kan lei. Ons weet nie waar Moses is wat ons uit Egipte gelei het nie.’ Ek het toe vir hulle gesê dat almal wat goue ringe aanhet, dit moet afhaal en vir my kom gee. Ek het dit in die vuur gegooi en toe ek sien, toe spring hierdie goue kalf sommer daar uit die vuur uit.” Moses sien toe dat die volk handuit geruk het tot groot vermaak van hulle teëstanders. Aäron het hulle nie in toom gehou nie.
EKSODUS 32:19-25 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Toe hulle nader aan die kamp kom, het Moses die kalf en die gedansery gesien. Hy het so kwaad geword dat hy die klippe op die grond neergegooi het. Dit het daar by die voet van die berg in stukke gebreek. Hy het toe die beeld van die kalf wat hulle gemaak het in die vuur gegooi. Toe dit afgekoel het, het hy dit fyngemaal. Hy het die poeier in water gegooi en die Israeliete gedwing om dit te drink. Hy vra toe vir Aäron: “Wat het die volk dan aan jou gedoen dat jy hulle so ’n groot sonde laat doen het?” “Moenie kwaad word nie,” het Aäron geantwoord. “Jy weet self hoe gereed is hierdie volk om kwaad te doen. Hulle het vir my kom sê: ‘Maak vir ons ’n god wat ons kan lei. Ons weet nie wat geword het van hierdie Moses wat ons uit Egipte gelei het nie.’ Ek het toe vir hulle gesê: ‘Haal af julle goue oorringe en bring dit vir my.’ Ek het dit by hulle gevat en in die vuur gegooi en siedaar, hierdie kalf kom toe uit die vuur!” Moses het besef dat Aäron toegelaat het dat die volk handuit ruk. Hulle was ’n bespotting vir hulle vyande.