EKSODUS 3:9-15 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion
EKSODUS 3:9-15 AFR83 (Afrikaans 1983)
Die noodkrete van die Israeliete het My bereik, en Ek het ook aanskou hoe Egipte hulle verdruk. Daarom stuur Ek jou na die farao toe sodat jy my volk, die Israeliete, uit Egipte kan bevry.” Toe sê Moses vir God: “Wie is ék dat ek dit by die farao sou waag en dat ék die Israeliete uit Egipte sou bevry?” God het Moses geantwoord: “Ek sal by jou wees en die bewys dat Ek jou gestuur het, sal dít wees: wanneer jy die volk uit Egipte bevry het, sal julle My by hierdie berg aanbid.” Daarna sê Moses vir God: “Sê nou maar ek kom by die Israeliete en ek sê vir hulle: ‘Die God van julle voorvaders het my na julle toe gestuur,’ en hulle vra vir my: ‘Wat is sy Naam?’ wat moet ek dan vir hulle sê?” Toe sê God vir Moses: “Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur.” Verder sê God vir Moses: “Jy moet ook nog vir die Israeliete sê: ‘Die Here die God van julle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, het my na julle toe gestuur.’ Dit is ewig my Naam, dit is die Naam waarmee Ek aangeroep moet word van geslag tot geslag.
EKSODUS 3:9-15 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
En nou, kyk, die jammerklagte van die kinders van Israel het tot by My gekom. Ook het Ek die verdrukking gesien waarmee die Egiptenaars hulle verdruk. Gaan dan nou heen, dat Ek jou na Farao kan stuur; en lei my volk, die kinders van Israel, uit Egipte uit. Maar Moses het tot God gespreek: Wie is ek, dat ek na Farao sou gaan en dat ek die kinders van Israel uit Egipte sou lei? En Hy antwoord: Ek sal met jou wees, en dit sal vir jou 'n teken wees dat Ek jou gestuur het: As jy die volk uit Egipte gelei het, sal julle op hierdie berg God dien. Hierop het Moses tot God gespreek: Maar as ek by die kinders van Israel kom en aan hulle sê: Die God van julle vaders het my na julle gestuur, en hulle my vra: Hoe is sy naam? — wat moet ek hulle antwoord? En God sê vir Moses: EK IS WAT EK IS. Ook sê Hy: So moet jy die kinders van Israel antwoord: EK IS het my na julle gestuur. Toe sê God verder vir Moses: Dit moet jy aan die kinders van Israel meedeel: Die HERE, die God van julle vaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob, het my na julle gestuur. Dit is my Naam vir ewig, en dit is my gedenknaam van geslag tot geslag.
EKSODUS 3:9-15 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Die volk se noodroep het by My uitgekom en Ek het raakgesien hoe die Egiptenaars hulle verdruk en swaar laat werk. Gaan nou! Ek stuur jou na die farao toe. Jy moet my volk, die Israeliete, weglei uit Egipte uit.” “Maar wie is ek dan om voor die farao te verskyn?” het Moses vir God gevra. “Hoe kan U dit van my verwag om die Israeliete uit Egipte weg te lei?” God het geantwoord: “Ek sal by jou wees. Wanneer jy die volk uitgelei het uit Egipte en julle God by hierdie selfde berg kom aanbid, sal dit vir jou die bewys wees dat dit Ek is wat jou gestuur het.” Moses het egter teëgestribbel: “As ek by die volk van Israel kom en vir hulle sê: ‘Die God van julle voorouers het my na julle toe gestuur,’ sal hulle my nie glo nie. Hulle sal vra: ‘En wie is Hy eintlik?’ Wat moet ek dan vir hulle sê?” God het hom geantwoord: “Ek is soos wat Ek is. Sê maar net vir hulle: ‘Ek Is’ het my na julle toe gestuur.” God het verder vir Moses gesê: “Sê vir die Israeliete: ‘Die HERE, die God van julle voorouers – die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob – het my na julle toe gestuur.’ Dit sal altyd my Naam wees en dit is wat elke geslag My sal noem.
EKSODUS 3:9-15 DB (Die Boodskap)
Ek het tot in die hemel gehoor hoe die Israeliete roep dat iemand hulle moet help. Ek het ook gesien hoe die Egiptenaars hulle mishandel. Gaan terug Egipte toe. Ek wil hê jy moet na die farao toe gaan. Jy moet my volk uit Egipte gaan uitlei.” Moses het toe vir die Here gesê: “Wie is ék dan nou dat dit juis ek is wat na die farao toe moet gaan? En wie is ék dat ek die Israeliete uit Egipte moet uitlei?” Die Here antwoord hom: “Ek self sal saam met jou gaan. Wanneer jy die volk uit Egipte uitgelei het en hulle kom aanbid My by hierdie berg, sal dit die bewys wees dat dit Ek is wat jou gestuur het.” Moses het vir God gesê: “Wanneer ek by die Israeliete aankom en vir hulle sê: ‘Die God van julle voorouers het my na julle toe gestuur,’ sal hulle dadelik vir my vra: ‘En wie is Hy nou?’ Wat moet ek dan vir hulle sê?” “Ek is wat Ek is,” het God vir Moses gesê. “Jy moet vir die Israeliete só sê: Ek-wat-is, dis Hy wat my na julle toe gestuur het.” God het ook nog verder vir Moses gesê: “Dit is wat jy vir die Israeliete moet sê: ‘Die Here, die God van julle voorgeslagte, God van Abraham, God van Isak, God van Jakob, het my na julle toe gestuur.’ Dit is wie Ek nog altyd was en dit is hoe al die geslagte wat nog moet kom, aan My sal dink.”
EKSODUS 3:9-15 ABA (Bybel vir almal)
Ek het gehoor hoe die Israeliete bid en vir My vra om hulle te help. Ek het gesien dat die Egiptenaars slegte dinge aan hulle doen. Ek wil jou na die farao toe stuur om my volk, die Israeliete, uit Egipte te bring.” Moses het vir God gesê: “Ek is nie 'n belangrike man nie. Ek kan nie na die farao toe gaan en die Israeliete uit Egipte bring nie.” Maar God het gesê: “Ek sal by jou wees en Ek sal vir jou 'n teken gee om te bewys dat Ek jou gestuur het: Wanneer jy die volk uit Egipte gebring het, dan sal julle My op hierdie berg kom dien.” Toe sê Moses vir God: “Ek sal by die Israeliete kom en ek sal vir hulle sê: ‘Die God van julle voorvaders het my na julle toe gestuur.’ Maar hulle sal vir my vra: ‘Wat is sy Naam?’ Wat moet ek dan vir hulle sê?” Toe sê God vir Moses: “My Naam is: ‘Ek is wat Ek is.’ Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek Is’ het my na julle toe gestuur.” God het ook vir Moses gesê: “Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Die Here het my na julle toe gestuur. Hy is die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob.’ My Naam sal altyd ‘die Here’ wees. Hulle moet My altyd so noem, ook die mense wat later gebore sal word.
EKSODUS 3:9-15 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
En nou, kyk, die noodkreet van die Israeliete het My bereik. Ek het ook die verdrukking waarmee Egipte hulle verdruk, raakgesien. Gaan dan nou! Ek stuur jou na die farao om my volk, die Israeliete, uit Egipte uit te lei.” Moses het egter vir God gesê: “Wie is ek, dat ek na die farao kan gaan en dat ek die Israeliete uit Egipte kan lei?” Hy het geantwoord: “Ek is immers by jou. En dit sal vir jou die teken wees dat dit Ek is wat jou gestuur het: Wanneer jy die volk uit Egipte gelei het, sal julle God op hierdie berg dien. ” Moses het vir God gesê: “Kyk, as ek by die Israeliete kom en vir hulle sê, ‘Die God van julle voorvaders het my na julle gestuur,’ en hulle vra my dan, ‘Wat is sy naam?’ wat moet ek vir hulle sê?” God sê toe vir Moses: “Ek Is Wie Ek Is.” Hy sê toe ook: “So moet jy die Israeliete antwoord, ‘Ek Is het my na julle gestuur.’ ” God het weer vir Moses gesê: “So moet jy vir die Israeliete sê, “ ‘Die HERE, die God van julle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, het my na julle gestuur.’ Dit is my Naam vir altyd; dit is my gevierde Naam van geslag tot geslag.
EKSODUS 3:9-15 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Nou dan, kyk, die geroep van die kinders van Israel het tot my gekom, en ek het ook die verdrukking gesien waarmee die Egiptenaars hulle verdruk. Kom dan nou, en Ek sal jou na Farao stuur, dat jy my volk, die kinders van Israel, uit Egipte kan uitlei. Toe sê Moses vir God: Wie is ek, dat ek na Farao sou gaan en die kinders van Israel uit Egipte sou uitlei? En hy sê: Ek sal sekerlik by jou wees; en dit sal vir jou 'n teken wees dat Ek jou gestuur het: As jy die volk uit Egipte uitgelei het, moet julle God op hierdie berg dien. Toe sê Moses vir God: Kyk, as ek by die kinders van Israel kom en vir hulle sê: Die God van julle vaders het my na julle gestuur; en hulle sal vir my sê: Wat is sy naam? wat sal ek vir hulle sê? En God het vir Moses gesê: EK IS WAT EK IS; en hy het gesê: So moet jy aan die kinders van Israel sê: EK IS, het my na jou toe gestuur. Verder het God vir Moses gesê: So moet jy aan die kinders van Israel sê: Die HERE, die God van jou vaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob, het my na jou gestuur: dit is my Naam vir ewig, en dit is my gedenkteken van geslag tot geslag.