Die embleem van die Bybeltoep
Soek-ikoon

EKSODUS 3:4-6 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion

EKSODUS 3:4-6 AFR83 (Afrikaans 1983)

Toe die Here sien dat hy nader kom om te kyk, roep God na hom uit die doringbos: “Moses! Moses!” En hy antwoord: “Hier is ek.” Die Here sê toe vir hom: “Moenie nóg nader kom nie. Trek uit jou skoene, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond.” Verder sê Hy: “Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob.” Toe maak Moses sy gesig toe, want hy was bang om na God te kyk.

EKSODUS 3:4-6 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

Toe die HERE sien dat hy nuuskierig nader kom, roep God na hom uit die doringbos en sê: Moses, Moses! En hy antwoord: Hier is ek. En Hy sê: Moenie nader kom nie. Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy op staan, is heilige grond. Verder sê Hy: Ek is die God van jou vader, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob. Toe het Moses sy aangesig verberg, want hy was bevrees om God aan te sien.

EKSODUS 3:4-6 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Toe die HERE sien dat Moses nader kom om ondersoek in te stel, het Hy uit die bos na hom geroep: “Moses, Moses!” “Dit is ek, ja,” het Moses geantwoord. “Moenie nog nader kom nie,” het die HERE vir hom gesê. “Trek uit jou sandale. Die plek waarop jy staan, is heilige grond.” God sê toe vir hom: “Ek is die God van jou voorouers – die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob.” Toe Moses dit hoor, het hy sy hande voor sy gesig gehou. Hy was bang om na God te kyk.

EKSODUS 3:4-6 DB (Die Boodskap)

Toe die Here sien dat hy nader kom om te kom kyk wat gebeur, het die Here uit die doringbos met hom gepraat: “Moses! Moses!” Moses het geantwoord: “Dit is ek, ja.” Die Here sê vir hom: “Jy moenie nog nader kom nie. Trek uit jou sandale. Jy staan nou op ’n plek wat aan die Here behoort. Ek is die God van jou voorouers, die God van Abraham en van Isak en van Jakob.” Moses het toe sy hande voor sy oë gehou, want hy was bang hy moet na die Here kyk.

EKSODUS 3:4-6 ABA (Bybel vir almal)

Toe die Here sien Moses kom nader om te kyk, het Hy uit die doringbos vir Moses geroep: “Moses! Moses!” En Moses het gesê: “Hier is ek!” Die Here sê toe: “Moenie nader kom nie. Trek jou sandale uit, want die plek waar jy staan, is gewyde grond. Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob.” Moses het sy gesig toegemaak, want hy was bang om na God te kyk.

EKSODUS 3:4-6 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Toe die HERE sien dat hy afgedraai het om dit van nader te bekyk, het God na hom geroep uit die doringbos: “Moses! Moses!” Hy het geantwoord: “Hier is ek!” Toe sê die HERE: “Moenie nader kom nie. Trek jou sandale van jou voete af, want die plek waarop jy staan, is heilige grond.” Daarop sê Hy: “Ek is die God van jou voorvader, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob.” Moses het sy gesig bedek, want hy was bang om na God te kyk.

EKSODUS 3:4-6 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Toe die HERE sien dat hy omgedraai het om te kyk, roep God na hom uit die doringbos en sê: Moses, Moses! En hy sê: Hier is ek. En hy sê: Kom nie nader nie; trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy op staan, is heilige grond. Verder het hy gesê: Ek is die God van jou vader, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob. En Moses het sy aangesig verberg; want hy was bang om na God te kyk.