EKSODUS 24:9-11 - Compare All Versions

EKSODUS 24:9-11 ABA (Bybel vir almal)

Moses en Aäron, Nadab en Abihu en 70 leiers van die Israeliete het teen die berg opgegaan. Hulle het die God van die Israeliete gesien. Onder sy voete was 'n vloer van saffier. Dit was so blou soos die lug. Die Here het nie die leiers van die Israeliete laat sterf nie. Hulle het God gesien en toe het hulle geëet en gedrink.

EKSODUS 24:9-11 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

Daarop het Moses opgeklim met Aäron, Nadab en Abíhu en sewentig van die oudstes van Israel. En hulle het die God van Israel gesien, en onder sy voete net soos 'n vloerwerk van saffierstene en so helder soos die hemel self. Maar Hy het sy hand nie na die uitgesoektes van die kinders van Israel uitgestrek nie, en hulle het God aanskou; daarop het hulle geëet en gedrink.

EKSODUS 24:9-11 AFR83 (Afrikaans 1983)

Moses, Aäron, Nadab, Abihu en sewentig leiers van Israel het toe die berg uitgeklim. Hulle het die God van Israel gesien: onder sy voete was 'n plaveisel soos saffiersteen, so blou soos die hemel self. God het geen hand teen die leiers van Israel gelig nie: hulle het Hom gesien en daarna het hulle geëet en gedrink.

EKSODUS 24:9-11 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Daarna het Moses en Aäron, Nadab en Abihu en sewentig van die oudstes van Israel die berg uitgeklim. Hulle het die God van Israel gesien. Onder sy voete was dit soos 'n plaveisel van •lasuursteen, so helder soos die hemelruim self. Teen hierdie vernames van die Israeliete het God sy hand nie uitgesteek nie. Hulle het God aanskou en toe geëet en gedrink.

EKSODUS 24:9-11 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Toe het Moses en Aäron, Nadab en Abíhu en sewentig van die oudstes van Israel opgetrek. En hulle het die God van Israel gesien, en daar was onder sy voete soos 'n geplaveide werk van 'n saffiersteen, en soos 'n liggaam van die hemel in sy helderheid. En teen die edeles van die kinders van Israel het hy sy hand nie uitgesteek nie; ook hulle het God gesien en geëet en gedrink.

EKSODUS 24:9-11 DB (Die Boodskap)

Moses, Aäron, Nadab, Abihu en die 70 leiers van Israel het toe teen die berg uitgeklim. Hulle het die God van Israel met hulle eie oë gesien. Hy het op iets gestaan wat soos ’n vloer lyk wat met saffiersteen uitgelê is. Dit was so helder soos die blou lug. Hierdie beroemde leiers het God gesien. Hy het nie iets aan hulle gedoen toe hulle Hom gesien het nie. God en hulle het selfs daar saam geëet en gedrink.

EKSODUS 24:9-11 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Moses, Aäron, Nadab, Abihu en die 70 leiers uit Israel het toe teen die berg uitgeklim. Daar het hulle die God van Israel met hulle eie oë gesien. Onder sy voete was iets wat gelyk het soos ’n vloer wat met saffierstene uitgelê is. Dit was so helder soos die blou lug. Hulle het Hom gesien en Hy het nogtans niks aan hulle gedoen nie. Daarna het hulle in sy teenwoordigheid geëet en gedrink.