EKSODUS 20:9-11
EKSODUS 20:9-11 Bybel vir almal (ABA)
Jy moet ses dae lank werk en alles doen wat jy moet doen. Maar die sewende dag is die Sabbatdag van jou God die Here. Dan mag jy niks werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter, of jou slaaf of slavin, of jou diere of die vreemdelinge wat by jou woon nie. Die Here het ses dae lank die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, maar op die sewende dag het Hy nie gewerk nie. Daarom het die Here die Sabbatdag geseën en Hy het dit 'n gewyde dag gemaak.
EKSODUS 20:9-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die sabbat van die HERE jou God; dan mag jy géén werk doen nie — jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie. Want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die HERE die sabbatdag geseën en dit geheilig.
EKSODUS 20:9-11 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie. Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig.
EKSODUS 20:9-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, maar die sewende dag is 'n Sabbat ter ere van die HERE jou God. Jy mag geen werk doen nie, nie jy en jou seun en jou dogter, jou slaaf en jou slavin, jou diere en jou •vreemdeling wat by jou is nie. Want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde en die see gemaak, en alles wat daarin is, maar op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die HERE die Sabbatdag geseën en dit geheilig.
EKSODUS 20:9-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; Maar die sewende dag is die sabbatdag van die HERE jou God; daarop mag jy geen werk doen nie, jy of jou seun of jou dogter, jou dienskneg of jou diensmaagd of jou vee of jou vreemdeling wat in jou is hekke: Want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag gerus; daarom het die HERE die sabbatdag geseën en dit geheilig.
EKSODUS 20:9-11 Die Boodskap (DB)
Jy moet ses dae lank met jou werk aangaan en jou met jou alledaagse dinge besig hou. Die sewende dag is die Here jou God se dag. Jy, jou kinders, die man en vrou wat vir jou werk, jou vee en die buitelander wat by jou bly, nie een van hulle mag op die sewende dag met elke dag se werk aangaan nie. Die Here het die lug, die grond en die see met alles wat daarin bly, binne ses dae gemaak. Op die sewende dag het die Here gerus. Die Here het daarom van die sewende dag iets besonders gemaak en dit vir Hom eenkant gesit.
EKSODUS 20:9-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ses dae lank kan jy met jou daaglikse werk aangaan. Die sewende dag is die HERE jou God se rusdag. Niemand in jou huis mag op daardie dag aangaan met gewone werk nie. Dit sluit in: jy, jou seuns en dogters, jou manlike en vroulike slawe, die vee wat aan jou behoort en alle buitelanders wat by jou oorbly. Die HERE het in ses dae die hemel, die aarde, die see en alles wat daarin is, gemaak. Op die sewende dag het Hy tot rus gekom. Om daardie rede het die HERE die sewende dag geseën en vir Homself eenkant gesit as sy heilige dag.