EKSODUS 20:1-7
EKSODUS 20:1-7 Die Boodskap (DB)
Die Here het die volgende reëls vir sy ooreenkoms met die volk gegee: “Ek is die Here. Ek is jou God. Ek het jou uit Egipte bevry waar jy slawewerk gedoen het. Net Ek mag jou God wees. Jy mag nie ander gode hê nie. Jy mag nie vir jou ’n beeld maak of iets in die skepping probeer naboots om dit te aanbid of daarvoor te offer nie. Jy mag nie beelde maak wat lyk soos enigiets wat in die lug daar bo is of soos iets hier op die aarde waarop jy bly of soos iets in die plekke in die water onder die aarde, om dit te vereer soos God nie. Ek verdra dit nie dat jy in ander gode glo nie. Ek reken met almal af wat die rug vir My draai, selfs met hulle kleinkinders en agterkleinkinders. Ek bly getrou en my liefde bly altyd staan vir duisende geslagte lank vir almal wat lief is vir My en aan My gehoorsaam is. “Jy mag nie die Here jou God se Naam sommerso gebruik nie. Die Here sal elkeen straf wat sy Naam gebruik sonder dat hy respek vir die Here het.
EKSODUS 20:1-7 Bybel vir almal (ABA)
God het gesê: “Ek is jou God die Here. Ek het jou uit Egipte gebring, uit die plek waar jy 'n slaaf was. “Jy mag nie ander gode aanbid nie. Ek is die enigste God. “Jy mag nie vir jou 'n beeld maak en voor hom buig en hom dien nie, nie 'n beeld wat lyk soos iets bo in die hemel of soos iets onder op die aarde of soos iets in die water onder die aarde nie. Ek is jou God die Here, jy moet net vir My dien. Ek straf die kinders as die pa sonde gedoen het. Ek straf ook sy kleinkinders en agterkleinkinders as hy My haat en ongehoorsaam is aan My. Maar as iemand lief is vir My en as hy gehoorsaam is aan My, dan sal Ek goed wees vir hom en vir sy kinders, 1 000 geslagte lank. “Jy mag die Naam van jou God die Here nie gebruik vir iets wat verkeerd is nie, want die Here sal elkeen straf wat sy Naam gebruik vir iets wat verkeerd is.
EKSODUS 20:1-7 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
TOE het God al hierdie woorde gespreek en gesê: Ek is die HERE jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het. Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie. Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou God, is 'n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat; en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie onderhou. Jy mag die Naam van die HERE jou God nie ydellik gebruik nie, want die HERE sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie.
EKSODUS 20:1-7 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe het God al hierdie gebooie aangekondig: “Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het. Jy mag naas My geen ander gode hê nie. “Jy mag nie vir jou 'n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie. Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam. “Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie.
EKSODUS 20:1-7 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe het God al hierdie woorde gespreek: “ Ek is die HERE jou God, wat jou uit Egipteland, uit die plek van slawerny, uitgelei het. Jy mag naas My nie ander gode hê nie. Jy mag nie vir jou 'n gesnede beeld maak nie – enige afbeelding van wat in die hemelruim daar bo, of op die aarde hier onder, of in die water onder die aarde is nie. Jy mag nie voor hulle in aanbidding buig nie, en jy mag hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou God, is 'n besitlike God, wat kinders laat boet vir die sondeskuld van ouers, selfs die derde en vierde geslag van hulle wat My verwerp, maar troue liefde bewys aan duisende, aan hulle wat My liefhet en my gebooie nakom. Jy mag die Naam van die HERE jou God nie misbruik nie, want die HERE sal hulle wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat nie.
EKSODUS 20:1-7 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En God het al hierdie woorde gespreek en gesê: Ek is die HERE jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het. Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie. Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van enigiets wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die water onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie, want Ek, die HERE jou God, is 'n jaloerse God wat die ongeregtigheid van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat; En bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie bewaar. Jy mag die Naam van die HERE jou God nie ydellik gebruik nie; want die HERE sal hom wat sy naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie.
EKSODUS 20:1-7 Die Boodskap (DB)
Die Here het die volgende reëls vir sy ooreenkoms met die volk gegee: “Ek is die Here. Ek is jou God. Ek het jou uit Egipte bevry waar jy slawewerk gedoen het. Net Ek mag jou God wees. Jy mag nie ander gode hê nie. Jy mag nie vir jou ’n beeld maak of iets in die skepping probeer naboots om dit te aanbid of daarvoor te offer nie. Jy mag nie beelde maak wat lyk soos enigiets wat in die lug daar bo is of soos iets hier op die aarde waarop jy bly of soos iets in die plekke in die water onder die aarde, om dit te vereer soos God nie. Ek verdra dit nie dat jy in ander gode glo nie. Ek reken met almal af wat die rug vir My draai, selfs met hulle kleinkinders en agterkleinkinders. Ek bly getrou en my liefde bly altyd staan vir duisende geslagte lank vir almal wat lief is vir My en aan My gehoorsaam is. “Jy mag nie die Here jou God se Naam sommerso gebruik nie. Die Here sal elkeen straf wat sy Naam gebruik sonder dat hy respek vir die Here het.
EKSODUS 20:1-7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
God het al die volgende voorskrifte gegee: “Ek is die HERE jou God. Dit is Ek wat jou bevry het uit Egipte waar jy ’n slaaf was. “Jy mag nie nog ander gode buiten My aanbid nie. “Jy mag nie vir jouself afgode maak wat soos voëls of diere of visse lyk nie. Jy mag nie voor hulle kniel om hulle te aanbid nie. Ek, die HERE jou God, is jou enigste God. Ek laat die oortredings van dié wat My haat nie ongestraf verbygaan nie. Ek straf die derde en die vierde geslag daarna vir die sondes wat hulle ouers gedoen het. My liefde bly egter duisend geslagte lank staan vir almal wat My liefhet en aan My gehoorsaam is. “Moenie die Naam van die HERE jou God sonder rede gebruik nie. Die HERE sal die een wat sy Naam sonder die nodige respek gebruik, nie net so sonder straf laat wegkom nie.