EKSODUS 2:1-25
EKSODUS 2:1-25 Bybel vir almal (ABA)
Daar was 'n man in Levi se familie. Hy het getrou met 'n vrou in dieselfde familie. Die vrou het swanger geword en sy het 'n seun gekry. Sy het gesien haar seuntjie is baie mooi en sy het hom drie maande lank weggesteek. Toe hy groter word, kon sy hom nie meer wegsteek nie. Sy het vir hom 'n kissie gemaak van biesies en sy het klei en teer aan die kissie gesmeer sodat daar nie water kon inkom nie. Sy het haar kind in die kissie gesit en sy het die kissie op die Nyl-rivier gaan sit, tussen die riete. Die kind se suster het daar naby gaan staan om te kyk wat met hom gebeur. Die farao se dogter het na die rivier gegaan om haar te was. Daar was meisies by haar, en hulle het op die rivier se wal geloop. Toe die farao se dogter die kissie tussen die riete sien, het sy haar slavin gestuur om dit te gaan haal. Sy het die kissie oopgemaak en sy het die kind gesien. Die seuntjie het gehuil, en sy was jammer vir hom. Sy het gesê: “Hy is een van die Hebreërs se kinders.” Die kind se suster vra toe vir die farao se dogter: “Moet ek vir jou een van die Hebreeuse vroue gaan roep wat 'n kind het wat aan haar drink? Dan kan sy hierdie kind laat drink.” Die farao se dogter sê toe vir haar: “Ja, gaan!” En die meisie het gegaan en sy het die kind se ma gaan roep. Die farao se dogter het vir die ma gesê: “Neem hierdie kind en maak hom groot. Ek sal jou daarvoor betaal.” Die vrou het toe die kind geneem en sy het hom laat drink. Toe die kind groot was, het sy ma hom na die farao se dogter toe gebring. Die farao se dogter het hom aangeneem, en hy het haar seun geword. Sy het hom Moses genoem. Sy het gesê: “Ek het hom uit die water gehaal.” Toe Moses groot was, het hy eendag na sy eie mense toe gegaan en gesien hoe swaar hulle moes werk. Hy het gesien dat 'n Egiptiese man 'n Hebreeuse man slaan, een van sy eie mense. Hy het rondgekyk en gesien daar is niemand wat hom sien nie. Toe slaan hy die Egiptenaar dood en hy steek die lyk weg in die sand. Die volgende dag het Moses weer na sy mense toe gegaan. Hy het gesien dat twee Hebreeuse mans baklei. Hy vra toe vir die man wat begin baklei het: “Hoekom slaan jy die man? Hy is ook 'n Hebreër.” Die man sê toe: “Wie het gesê jy mag oor ons regeer? Wie het gesê jy kan vir ons sê wat ons moet doen? Wil jy my ook doodmaak soos jy die Egiptenaar doodgemaak het?” Moses het bang geword. Hy het besef dat hulle weet wat hy gedoen het. Toe die farao hoor wat Moses gedoen het, wou hy vir Moses laat doodmaak, maar Moses het gevlug en hy het in Midian gaan woon. Toe hy eendag daar by 'n put sit, kom daar sewe meisies aan. Hulle was die dogters van die priester van Midian. Hulle het water uit die put kom skep om die waterbakke vol te maak sodat hulle pa se skape en bokke kon drink. Maar daar het skaapwagters gekom en hulle het die meisies weggejaag. Moses het toe opgestaan en hy het die meisies gehelp. Hy het vir hulle skape en bokke water gegee. Toe die meisies by hulle pa Reüel kom, vra hy vir hulle: “Hoekom het julle vandag so gou teruggekom?” Hulle het vir hom gesê: “'n Egiptenaar het ons gehelp toe die skaapwagters ons wou wegjaag. Hy het ook water geskep en hy het ons skape en bokke laat drink.” Reüel het vir sy dogters gevra: “Waar is die man? Hoekom het julle hom nie saamgebring nie? Roep hom om by ons te kom eet.” Reüel het vir Moses gevra om by hulle te kom woon, en Moses het dit gedoen. Reüel het sy dogter Sippora vir Moses gegee, en Moses het met haar getrou. Sippora het 'n kind gekry, en Moses het hom Gersom genoem. Hy het gesê: “Ek is 'n vreemdeling in hierdie land.” Later het die koning van Egipte gesterf. Die Israeliete het nog altyd baie swaar gekry en hulle het soos slawe gewerk. Hulle het gebid en vir God gevra om hulle te help. God het gehoor die Israeliete kla en Hy het gedink aan die verbond wat Hy met Abraham, Isak en Jakob gemaak het. God was jammer vir die Israeliete.
EKSODUS 2:1-25 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN 'n man uit die huis van Levi het gegaan en 'n dogter van Levi geneem. En die vrou het swanger geword en 'n seun gebaar. En toe sy sien dat hy mooi was, het sy hom drie maande lank weggesteek. Maar toe sy hom nie langer verborge kon hou nie, het sy vir hom 'n mandjie van biesies geneem en dit met lymgrond en pik bestryk; en sy het die seuntjie daarin neergelê en dit in die riete aan die kant van die Nyl gesit. En sy suster het op 'n afstand gaan staan om te wete te kom wat met hom sou gebeur. En Farao se dogter het na die Nyl afgegaan om 'n bad te neem, terwyl haar diensmeisies aan die kant van die Nyl heen en weer geloop het. Toe sien sy die mandjie tussen die riete en stuur haar slavin en laat dit haal. Nadat sy dit oopgemaak het, sien sy die kind, en kyk, dit was 'n seuntjie wat huil! En sy het hom jammer gekry en gesê: Dit is een van die kinders van die Hebreërs. Toe sê sy suster aan die dogter van Farao: Sal ek vir u 'n pleegmoeder uit die Hebreeuse vroue gaan roep, dat sy vir u die seuntjie kan soog? En Farao se dogter antwoord haar: Ja. En die jongmeisie het geloop en die seuntjie se moeder geroep. Daarop sê Farao se dogter vir haar: Neem hierdie seuntjie en soog hom vir my, en ek sal jou loon gee. En die vrou het die seuntjie geneem en hom gesoog. En toe die seuntjie groot geword het, bring sy hom na Farao se dogter; en hy het haar seun geword. En sy het hom Moses genoem en gesê: Ek het hom mos uit die water getrek. En in dié dae toe Moses al groot was, het hy na sy broers uitgegaan en hulle harde arbeid aangesien. En hy het gesien hoe 'n Egiptiese man 'n Hebreeuse man, een uit sy broers, slaan. En hy het hierheen en daarheen gekyk, en toe hy sien dat daar niemand was nie, het hy die Egiptenaar doodgeslaan en hom in die sand begrawe. Die volgende dag het hy weer uitgegaan, en daar was twee Hebreeuse manne wat met mekaar veg. Hy vra toe vir die een wat ongelyk gehad het: Waarom slaan jy jou naaste? En hy antwoord: Wie het jou as owerste en regter oor ons aangestel? Dink jy om my dood te slaan soos jy die Egiptenaar omgebring het? En Moses het gevrees en gesê: Waarlik, die saak het bekend geword! En toe Farao van dié saak hoor, het hy probeer om Moses dood te maak. Maar Moses het van Farao af weggevlug en in die land Mídian gaan woon. En hy het by 'n put gesit. En die priester van Mídian het sewe dogters gehad: dié het gekom om te put en die drinkbakke vol te maak om hulle vader se kleinvee te laat drink. Maar die veewagters het gekom en hulle weggedrywe. Toe staan Moses op en help hulle en laat hulle vee drink. En toe hulle by hul vader Réhuel kom, sê hy: Waarom kom julle vandag so gou? En hulle antwoord: 'n Egiptiese man het ons uit die hand van die veewagters verlos; en hy het ook volop vir ons geput en die vee laat drink. Daarop sê hy vir sy dogters: En waar is hy? Waarom het julle die man dan daar laat staan? Roep hom, dat hy brood kan eet. En Moses het ingewillig om by die man te bly, en hy het aan Moses sy dogter Sippóra gegee. En toe sy 'n seun baar, het hy hom Gersom genoem. Want hy het gesê: Ek het 'n vreemdeling in 'n vreemde land geword. En in daardie lang tyd het die koning van Egipte gesterwe. En die kinders van Israel het gesug en geweeklaag vanweë die slawerny. En hulle geroep om hulp oor hulle slawerny het opgeklim tot God. En God het hulle gekerm gehoor, en God het gedink aan sy verbond met Abraham, met Isak en met Jakob. En God het die kinders van Israel aangesien, en God het hulle geken.
EKSODUS 2:1-25 Afrikaans 1983 (AFR83)
'n Man uit die stam Levi was met 'n Levitiese meisie getroud. Die vrou het swanger geword en 'n seuntjie in die wêreld gebring. Toe sy sien hoe mooi is hy, het sy hom drie maande lank weggesteek. Langer kon sy hom nie wegsteek nie. Daarom het sy vir hom 'n biesiemandjie gekry en dit met klei en pik dig gemaak. Sy het die seuntjie daarin neergelê en dit tussen die riete aan die kant van die Nyl gesit. Sy suster het op 'n afstand gaan staan om te sien wat met hom gebeur. 'n Dogter van die farao het afgegaan Nyl toe om te swem, en die jongmeisies wat haar vergesel, het aan die kant van die rivier geloop. Toe sy die mandjie tussen die riete sien, stuur sy haar diensmeisie om dit te gaan haal. Met die oopmaak sien sy dit is 'n seuntjie en hy huil. Toe kry sy hom jammer en dink: dit is seker een van die Hebreeuse seuntjies. Sy suster kom sê toe vir die farao se dogter: “Mag ek vir u 'n vrou gaan roep, 'n Hebreeuse vrou met 'n pasgebore baba, dat sy die seuntjie vir u kan laat drink?” Die dogter van die farao het haar geantwoord: “Ja, goed!” Die meisie het toe die seuntjie se ma gaan roep. Toe beveel die farao se dogter die ma: “Neem hierdie seuntjie en laat hom vir my drink. Ek sal jou daarvoor betaal.” Die vrou het die seuntjie geneem en vir hom gesorg. Toe hy oud genoeg was, het sy hom na die dogter van die farao toe gebring, wat hom as haar eie seun aangeneem het. Sy het hom Moses genoem, “want,” het sy gesê, “ek het hom mos uit die water gehaal.” Toe Moses al 'n volwasse man was, het hy op 'n keer na sy eie mense toe gegaan en gesien dat hulle dwangarbeid verrig. Hy sien toe hoe een van sy eie mense, 'n Hebreër, deur 'n Egiptenaar geslaan word. Nadat Moses rondgekyk het en niemand gewaar het nie, het hy die Egiptenaar doodgeslaan en hom onder sand toegekrap. Die volgende dag gaan hy weer, en tot sy verbasing was daar twee Hebreeuse manne aan die baklei. “Waarom slaan jy aan jou broer?” vra hy vir die een wat die rusie begin het. “Wie het jou aangestel as baas en regter oor ons?” vra die ander. “Wil jy my miskien ook doodslaan, soos jy die Egiptenaar doodgeslaan het?” Toe skrik Moses en hy dink: die ding het bekend geword. Toe dit by die farao uitkom, wou hy vir Moses laat doodmaak, maar Moses het van hom af weggevlug en in Midian gaan woon. Terwyl hy daar by 'n put sit, het die sewe dogters van 'n priester van Midian kom water skep om die drinkbakke vol te maak en hulle pa se kleinvee te laat suip. Toe daar veewagters aankom en die dogters wegjaag, het Moses opgestaan en hulle gehelp en hulle kleinvee laat suip. Met hulle aankoms by hulle pa Reüel het hy gevra: “Hoe het julle dan vandag so gou gekom?” en hulle antwoord: “Daar was 'n Egiptenaar, en hy het ons gehelp teen die veewagters. Boonop het hy vir ons water geskep en die kleinvee laat suip.” Toe vra die priester vir sy dogters: “Waar is hy? Waarom het julle die man daar laat staan? Gaan nooi hom huis toe om by ons te kom eet.” Moses het ingewillig om by Reüel te kom woon, en is later met sy dogter Sippora getroud. Toe sy 'n seuntjie kry, het Moses hom Gersom genoem, “want,” het hy gesê, “ek woon as vreemdeling in 'n vreemde land.” Die jare het verbygegaan, en die koning van Egipte het te sterwe gekom, maar die Israeliete het nog steeds gesug en gekreun onder die swaar werk. Hulle geroep om hulp het tot God opgegaan. God het hulle gekerm gehoor en aan sy verbond met Abraham, Isak en Jakob gedink. Hy het die nood van die Israeliete gesien en dit ter harte geneem.
EKSODUS 2:1-25 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
'n Man uit die familie van Levi het gegaan en 'n dogter van Levi as vrou geneem. Die vrou het swanger geword en aan 'n seun geboorte gegee. Toe sy sien hoe mooi hy is, het sy hom vir drie maande weggesteek. Maar toe sy hom nie meer kon wegsteek nie, het sy vir hom 'n papirusmandjie gekry en dit met pik en teer dig gemaak. Sy het die seuntjie daarin neergelê en dit in die palmiete aan die kant van die Nyl neergesit. Sy suster het op 'n afstand gaan staan om te sien wat met hom gaan gebeur. Die dogter van die farao het afgegaan na die Nyl om haar te was, terwyl haar diensmeisies aan die kant van die Nyl stap. Sy sien toe die mandjie tussen die palmiete en stuur haar slavin om dit te gaan haal. Toe sy dit oopmaak, sien sy die seuntjie – en kyk, dit was 'n babaseuntjie wat huil! Sy het hom jammer gekry en het gesê: “Dit moet een van die seuntjies van die Hebreërs wees.” Sy suster vra toe vir die farao se dogter: “Moet ek gaan en vir u 'n pleegma onder die Hebreeuse vroue gaan roep, sodat sy die seuntjie vir u kan voed?” Die farao se dogter het vir haar gesê: “Gaan!” Die jongmeisie gaan roep toe die seuntjie se moeder. Die farao se dogter het vir haar gesê: “Neem hierdie seuntjie en voed hom vir my. Ek sal jou self daarvoor betaal.” Die vrou het die seuntjie geneem en hom gevoed. Toe die seuntjie groter geword het, het sy hom na die farao se dogter gebring, en hy het haar seun geword. Sy het hom Moses genoem, “Want,” het sy gesê, “uit die water het ek hom gehaal.” In daardie dae, toe Moses al groot was, het hy uitgegaan na waar sy volksgenote was en hulle dwangarbeid gesien. Hy sien toe 'n Egiptiese man wat 'n Hebreeuse man, een van sy volksgenote, slaan. Hy het om hom rondgekyk, en toe hy sien dat daar niemand is nie, het hy die Egiptenaar doodgeslaan en hom met sand toegegooi. Toe hy die volgende dag uitgaan, is daar sowaar twee Hebreeuse mans aan die baklei. Hy vra toe die skuldige: “Waarom slaan jy jou medemens?” Die man het geantwoord: “Wie het jou as •aanvoerder en regter oor ons aangestel? Dink jy om my ook dood te maak soos jy die Egiptenaar doodgemaak het?” Moses het bang geword en gedink, sowaar, die saak het bekend geword! Toe die farao van hierdie saak hoor, wou hy Moses laat doodmaak. Maar Moses het van die farao af weggevlug om in die land Midian te gaan woon. Hy het daar by 'n put gaan sit. Die priester van Midian het sewe dogters gehad. Hulle het daar aangekom om water uit die put op te trek en die drinkbakke vol te maak om hulle vader se kleinvee te laat drink. Maar daar het veewagters opgedaag en hulle weggejaag. Moses het opgestaan, hulle gehelp en hulle kleinvee laat drink. Toe hulle by Reüel, hulle vader, kom, sê hy: “Waarom is julle vandag so gou terug?” Hulle het geantwoord: “Daar was 'n Egiptiese man wat ons uit die hand van die veewagters gered het. Hy het ook vir ons genoeg water uit die put opgetrek en die kleinvee laat drink.” Daarop sê hy vir sy dogters: “En waar is hy nou? Waarom het julle die man dan daar agtergelaat? Roep hom, sodat hy iets te ete kan kry.” Moses het ingewillig om by die man te bly en hy het sy dogter, Sippora, vir Moses as vrou gegee. Sy het aan 'n seun geboorte gegee, en Moses het hom Gersom genoem, “Want,” het hy gesê, “ek het 'n •vreemdeling geword in 'n vreemde land.” Gedurende hierdie lang tyd het die koning van Egipte gesterf. Die Israeliete het gesug onder die slawewerk en om hulp geroep. Hulle hulpgeroep oor die slawewerk het opgestyg na God. God het hulle gekreun gehoor, en God het gedink aan sy verbond met Abraham, met Isak en met Jakob. God het die Israeliete raakgesien, ja, God het kennis geneem.
EKSODUS 2:1-25 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En daar het 'n man uit die huis van Levi gegaan en 'n dogter van Levi as vrou geneem. En die vrou het swanger geword en 'n seun gebaar; en toe sy hom sien dat hy 'n mooi kind was, het sy hom drie maande weggesteek. En toe sy hom nie meer kon wegsteek nie, het sy vir hom 'n ark van biesies geneem en dit met slyk en pik bestryk en die kind daarin neergelê; en sy het dit in die vlae by die wal van die rivier neergelê. En sy suster het van ver af gaan staan, om te weet wat met hom gedoen sou word. En die dogter van Farao het afgekom om haar by die rivier te was; en hier het die meisie langs die rivier se kant geloop; en toe sy die ark tussen die vlae sien, het sy haar slavin gestuur om dit te gaan haal. En toe sy dit oopmaak, sien sy die kindjie, en kyk, die kindjie het geween. En sy het hom innig jammer gekry en gesê: Dit is een van die kinders van die Hebreërs. Toe sê sy suster vir Farao se dogter: Sal ek gaan en vir jou 'n pleegster van die Hebreeuse vroue roep, dat sy die kind vir jou kan soog? Toe sê Farao se dogter vir haar: Gaan! En die diensmeisie het gegaan en die kind se moeder geroep. Toe sê Farao se dogter vir haar: Neem hierdie kindjie weg en soog dit vir my, en ek sal jou jou loon gee. En die vrou het die kind geneem en dit gevoed. En die kind het groot geword, en sy het hom na Farao se dogter gebring, en hy het haar seun geword. En sy het hom Moses genoem en gesê: Omdat ek hom uit die water getrek het. En in daardie dae, toe Moses groot was, het hy uitgegaan na sy broers en hulle laste gekyk; en hy het 'n Egiptenaar gedood wat 'n Hebreër, een van sy broers, geslaan het. En hy het hierheen en daarheen gekyk, en toe hy sien dat daar niemand was nie, het hy die Egiptenaar gedood en hom in die sand weggesteek. En toe hy op die tweede dag uitgaan, kyk, daar het twee manne van die Hebreërs teen mekaar stry, en hy sê vir hom wat verkeerd gedoen het: Waarom slaan jy jou maat? En hy sê: Wie het jou 'n vors en 'n regter oor ons aangestel? was jy van plan om my dood te maak soos jy die Egiptenaar doodgemaak het? En Moses het bevrees geword en gesê: Waarlik, hierdie saak is bekend. Toe Farao dit hoor, het hy probeer om Moses dood te maak. Maar Moses het van die aangesig van Farao gevlug en in die land Mídian gaan woon, en hy het gaan sit by 'n put. En die priester van Mídian het sewe dogters gehad, en hulle het gekom en water geskep en die bakke volgemaak om hulle vader se kleinvee nat te maak. En die herders het gekom en hulle weggejaag, maar Moses het opgestaan en hulle gehelp en hulle kleinvee laat drink. En toe hulle by hulle vader Rehuel kom, sê hy: Hoe het julle vandag so gou gekom? Toe sê hulle: 'n Egiptenaar het ons uit die hand van die herders gered en ook vir ons genoeg water geskep en die kleinvee laat drink. En hy sê vir sy dogters: En waar is hy? hoekom het jy die man verlaat? roep hom, dat hy brood kan eet. En Moses was tevrede om by die man te bly, en hy het aan Moses sy dogter Sippora gegee. En sy het vir hom 'n seun gebaar, en hy het hom Gersom genoem, want hy het gesê: Ek was 'n vreemdeling in 'n vreemde land. En in die verloop van tyd het die koning van Egipte gesterwe, en die kinders van Israel het gesug vanweë die slawerny, en hulle het geween, en hulle geroep het tot God opgekom oor die slawerny. En God het hulle gekerm gehoor, en God het gedink aan sy verbond met Abraham, met Isak en met Jakob. En God het die kinders van Israel aangekyk, en God het hulle aanskou.
EKSODUS 2:1-25 Die Boodskap (DB)
’n Man uit Levi se nageslag het met ’n vrou uit dieselfde groep getrou. Sy het verwag en ’n seuntjie gekry. Toe sy sien hoe mooi die baba is, het sy hom drie maande lank vir die Egiptenaars weggesteek. Toe sy hom nie meer kon wegsteek nie, het sy vir hom ’n gevlegte mandjie gemaak om in te lê. Sy het dit met pik waterdig gemaak en die seuntjie daarin neergesit. Toe het sy die mandjie tussen die riete aan die kant van die Nyl gaan sit. Sy sussie moes die mandjie oppas en op ’n afstand dophou om te kyk dat daar nie iets met hom gebeur nie. Een van die farao se dogters het in die Nyl gaan bad. Die meisies wat haar elke dag help, het op die wal van die rivier bly staan terwyl sy swem. Sy het die mandjie tussen die riete gesien en een van die meisies gestuur om dit vir haar te gaan uithaal. Toe sy dit oopmaak, sien sy dat daar ’n babaseuntjie in is wat huil. Haar hart het sag geword en sy het vir haarself gesê: “Siestog, dis seker een van die Hebreërs se seuntjies.” Sy sussie kom toe nader en vra vir die farao se dogter: “Kan ek maar iemand by die Hebreërs vir u gaan haal wat die babatjie kan laat drink en hom vir u kan oppas?” Die farao se dogter antwoord haar: “Asseblief, ja. Gaan haal haar.” Die meisie het toe haar ma gaan haal. Die farao se dogter het vir haar gesê: “Vat hierdie babatjie en laat hom aan jou drink. Ek sal jou daarvoor betaal.” Sy ma het hom toe gevat en vir hom gesorg. Toe die seuntjie groot genoeg was, het sy ma hom na die farao se dogter toe gevat. Dié het hom as haar eie seun aangeneem. Sy het gesê: “Ek noem hom Moses, want ek het hom uit die water uitgehaal.” Moses was al ’n groot man toe hy op ’n keer gaan kyk het hoe die ander Israeliete gedwing word om slawewerk te doen. Terwyl hy daar is, sien hy hoe een van die Egiptenaars ’n Hebreër slaan. Hy het hiernatoe en daarnatoe gekyk en toe hy niemand sien nie, het hy die Egiptenaar doodgeslaan. Hy het hom onder die sand begrawe. Toe hy weer ’n keer daar kom, kry hy twee Hebreërs wat besig is om met mekaar te baklei. Hy vra toe vir die een wat verkeerd was: “Hoekom slaan jy aan iemand anders uit jou volk?” Die man kap toe terug: “Wie het jou altemit aangestel om baas te speel en oor ons te besluit? Gaan jy my ook doodmaak soos jy die Egiptenaar doodgemaak het?” Moses het hom boeglam geskrik en vir homself gesê: “Die ding het op die lappe gekom.” Toe die farao hoor wat gebeur het, het hy inderdaad ook na Moses laat soek om hom dood te maak. Moses het toe uit Egipte gevlug om van die farao af weg te kom. Hy het in ’n plek met die naam Midian aangekom. Hy het by ’n waterput gaan sit. Daar in Midian was ’n man wat vir die Here gewerk het. Hy het sewe dogters gehad. Hulle het daar aangekom om water uit die put op te trek om die bakke waaruit hulle pa se kleinvee drink, vol water te maak sodat hulle kan suip. Toe daar ander mans met hulle vee aankom, wou hulle die meisies wegjaag. Moses het gekeer en hulle gehelp dat hulle kleinvee eers klaar kon drink. Toe die meisies by die huis by hulle pa, Reüel, terugkom, vra hy vir hulle: “Hoe is julle dan vandag so vroeg terug?” Hulle antwoord: “Daar was ’n man uit Egipte by die put. Hy het ons gehelp en gekeer dat die mans ons wegdruk. Hy het selfs ook vir ons water uit die put opgetrek en ons kleinvee laat drink.” Hy vra toe vir sy dogters: “En waar is die man dan nou? Hoe is dit dan dat julle die man net so daar los? Gaan roep hom dat hy saam met ons kan kom eet.” Moses was bereid om by die man te bly. Die man het ook later ingestem dat hy met sy dogter Sippora kon trou. Sippora het later ’n seuntjie gehad. Moses het hom Gersom genoem. Dit beteken “vreemdeling”, want Moses het gesê: “Ek leef as vreemdeling in ’n vreemde land.” Na ’n hele tyd is daardie koning van Egipte dood. Die Israeliete het nog al die tyd bly sug en kreun omdat hulle sulke harde werk moes doen. Hulle het so hard gekla dat die Here dit selfs in die hemel gehoor het. God het onthou dat Hy met Abraham, Isak en Jakob ’n ooreenkoms gehad het. Hy het gesien wat met die Israeliete gebeur. Hy het geweet hoe swaar hulle kry.
EKSODUS 2:1-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
In hierdie tyd het ’n man uit die stam van Levi met ’n vrou uit dieselfde stam getrou. Die vrou het verwag en ’n seun in die wêreld gebring. Toe sy sien hoe mooi hy is, het sy hom vir drie maande lank weggesteek. Toe sy hom nie langer kon wegsteek nie, het sy ’n mandjie van riet gevat en dit met klei en pik waterdig gemaak. Sy het die baba in die mandjie gesit en hom tussen die riete van die Nylrivier weggesteek. Die baba se sussie het hom van ’n afstand af dopgehou. Een van die farao se dogters het afgekom na die Nylrivier om daar te kom bad. Haar bediendes het op die oewer waggestaan. Toe die prinses die mandjie tussen die riete sien, het sy een van haar meisies gestuur om dit te gaan uithaal. Toe sy die mandjie oopmaak, kry sy die seuntjie wat daarin lê en huil. Sy het hom jammer gekry. “Dit moet een van die Hebreeuse kinders wees,” het sy gesê. Die seuntjie se suster het toe nadergekom en die prinses gevra: “Sal ek ’n Hebreeuse vrou gaan haal om die baba vir u te versorg?” “Ja, asseblief,” het die farao se dogter geantwoord. Die meisie het die seuntjie se ma gaan roep. “Vat hierdie babatjie en gaan voed hom,” het die farao se dogter vir haar gesê. “Ek sal jou daarvoor betaal.” Sy eie ma het hom gevat en gaan versorg. Toe hy groot genoeg was, het sy hom na die farao se dogter gevat en sy het hom as haar eie seun aangeneem. Sy het hom “Moses” genoem, “want,” het sy gesê, “ek het hom uit die water gehaal.” Op ’n goeie dag toe Moses al ’n groot man was, het hy by sy mense gaan kuier. Hy het gesien hoe hard hulle moes werk. Terwyl hy daar was, sien hy hoe ’n Egiptenaar een van sy volksgenote uit die Hebreeuse slawe aanrand. Moses het goed rondgekyk en toe hy seker was dat daar niemand naby is nie, het hy die Egiptenaar doodgeslaan. Hy het hom in die sand begrawe. Toe hy die volgende dag weer by hulle kom, sien hy twee Hebreërs wat met mekaar baklei. Hy sê toe vir die een wat verkeerd was: “Waarom rand jy jou volksgenoot aan?” “Wie is jy nogal?” het die man teruggeantwoord. “Wie het jou as baas en regter oor ons aangestel? Wil jy my ook doodmaak soos jy die Egiptenaar gister doodgemaak het?” Moses het geskrik. Hy het vir homself gesê: “Almal weet wat gebeur het.” Die farao het ook van die ding te hore gekom. Hy het opdrag gegee dat Moses gesoek en tereggestel moes word. Moses het egter vir die farao gevlug. Moses het in die landstreek van Midian gaan woon. Terwyl hy daar by ’n put sit, het die priester van Midian se sewe dogters daar kom water skep. Hulle het die drinkbakke vol water gemaak sodat hulle pa se diere kon suip. Daar kom toe mans wat vee oppas en verdryf die meisies van die put af. Moses het die meisies te hulp gesnel en hulle gehelp om hulle vee te laat suip. Toe hulle by hulle pa, Reüel, terugkom, vra hy vir sy dogters: “Hoe is julle dan vandag so vroeg terug?” “Daar was ’n man uit Egipte wat ons teen die mans verdedig het,” sê hulle vir hom. “Hy het ons help water skep en die vee laat drink.” “Nou waar is hy dan?” vra hy vir sy dogters. “Het julle die man dan net daar gelos? Gaan nooi hom uit om saam te kom eet.” Moses het die uitnodiging met graagte aanvaar. Hy het by die man gebly. Na ’n tyd het Reüel sy dogter Sippora vir hom as vrou gegee. Sy het later ’n seuntjie gehad. Moses het hom Gersom genoem. Hy het gesê: “Ek is ’n vreemdeling in ’n vreemde land.” Baie jare het verbygegaan. Daardie koning van Egipte is later dood. Die Israeliete het egter nog steeds gebuk gegaan onder slawewerk. Hulle het om hulp geroep. Hulle gesoebat om bevry te word van die harde werk het na God toe opgestyg. God het gehoor hoe hulle roep. Hy het onthou dat Hy ’n verbond met Abraham, Isak en Jakob gesluit het en gesien wat met die Israeliete gebeur. Hy was bekommerd oor hulle.