EKSODUS 16:22-26
EKSODUS 16:22-26 Bybel vir almal (ABA)
Op die sesde dag het hulle twee maal meer manna opgetel, twee omer vir elkeen. Al die leiers van die volk het dit vir Moses kom vertel. Moses het vir hulle gesê die Here het gesê: “Môre is 'n rusdag, 'n gewyde Sabbatdag vir die Here. Julle mag vandag alles bak wat julle wil bak en alles kook wat julle wil kook. Alles wat oor is, moet julle bêre tot môre-oggend.” Die Israeliete het gedoen wat Moses gesê het. Hulle het die kos gebêre tot die volgende oggend. Dit het nie sleg geword nie en daar het nie wurms in die kos gekom nie. Moses het gesê: “Julle moet dit vandag eet, want vandag is die Sabbatdag vir die Here. Julle sal nie vandag kos in die veld kry nie. Julle moet ses dae lank elke dag manna optel, maar die sewende dag is die Sabbatdag. Dan sal daar nie manna wees nie.”
EKSODUS 16:22-26 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En op die sesde dag het hulle 'n dubbele porsie brood ingesamel, twee omers vir elkeen. En al die owerstes van die vergadering het gekom en dit aan Moses vertel. Toe sê hy vir hulle: Dit is wat die HERE gespreek het: Môre is dit rusdag, 'n heilige sabbat van die HERE. Wat julle wil bak, bak dit; en wat julle wil kook, kook dit; en bêre vir julle alles wat oor is, om dit te bewaar tot die môre toe. En hulle het dit gebêre tot die môre toe, soos Moses beveel het; en dit het nie bederwe nie, en daar het geen wurms in gekom nie. Toe sê Moses: Eet dit vandag, want dit is vandag die sabbat van die HERE. Vandag sal julle dit nie in die veld kry nie. Ses dae lank moet julle dit insamel, maar op die sewende dag is dit sabbat; dan sal dit daar nie wees nie.
EKSODUS 16:22-26 Afrikaans 1983 (AFR83)
Op die sesde dag het hulle 'n dubbele porsie opgetel, vier liter vir elkeen. Toe al die leiers van die volk dit vir Moses kom vertel, sê hy vir hulle: “Dit is soos die Here gesê het: Môre is 'n rusdag, 'n gewyde sabbat van die Here. Maak alles gaar, bak wat julle wil bak, en kook wat julle wil kook, en wat oorbly nadat julle geëet het, moet julle wegsit en bewaar vir môre.” Hulle het dit weggesit tot die volgende oggend soos Moses beveel het, en dit het nie sleg geword of miet gekry nie. Toe het Moses gesê: “Eet dit nou vandag, want vandag is dit die sabbat van die Here. In die veld gaan julle niks kry nie. Ses dae moet julle dit bymekaarmaak, maar op die sewende dag, die sabbat, sal daar niks wees nie.”
EKSODUS 16:22-26 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Op die sesde dag het hulle twee keer soveel brood bymekaargemaak, twee omer vir elkeen. Al die leiers van die volksvergadering het gekom en dit vir Moses vertel. Hy sê toe vir hulle: “Dit is wat die HERE gesê het, ‘Môre is dit 'n buitengewone Sabbat, 'n heilige Sabbat tot eer van die HERE. Wat julle wil bak, moet julle bak, en wat julle wil kook, moet julle kook. Alles wat te veel is, moet julle veilig bêre tot die oggend.’ ” Hulle het dit weggesit tot die oggend soos Moses beveel het. Dit het nie gestink nie en daar was nie maaiers in nie. Moses het gesê: “Eet dit vandag, want vandag is 'n Sabbat ter ere van die HERE. Vandag sal julle dit nie in die veld kry nie. Vir ses dae moet julle dit bymekaarmaak, maar op die sewende dag, op 'n Sabbat, sal daar nie wees nie.”
EKSODUS 16:22-26 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En op die sesde dag het hulle twee keer soveel brood ingesamel, twee gomers vir een man; en al die owerstes van die vergadering het gekom en dit aan Moses vertel. En hy sê vir hulle: Dit is wat die HERE gesê het: Môre is die rus van die heilige sabbat aan die HERE; bak wat julle vandag sal bak, en kook wat julle sal kook; en wat oorbly, bêre vir julle om tot die môre toe te bewaar. En hulle het dit tot die môre toe neergesit, soos Moses beveel het, en dit het nie gestink nie, en daar was geen wurm in nie. Toe sê Moses: Eet dit vandag; want vandag is 'n sabbat vir die HERE; vandag sal julle dit nie in die veld vind nie. Ses dae moet julle dit bymekaarmaak; maar op die sewende dag, dit is die sabbat, sal dit nie wees nie.
EKSODUS 16:22-26 Die Boodskap (DB)
Op die sesde dag moes hulle dubbel soveel as gewoonlik bymekaarmaak: vier kilogram vir elkeen. Die leiers het vir Moses kom vra of dit reg is. Hy het vir hulle gesê: “Dit is soos die Here gesê het ons moet maak. Môre is die Here se dag waarop ons moet rus. Julle moet reeds vandag gaarmaak wat julle vir môre nodig gaan hê. Bak vandag wat julle wil bak en kook wat julle wil kook. Wat te veel is vir vandag, moet julle regsit om môre op die rusdag te eet.” Hulle het gemaak soos Moses gesê het hulle moet maak. Hulle het dit vir die sewende dag gebêre. Dit het glad nie sleg geword nie. Daar het ook nie goggas in gekom nie. Moses het vir hulle gesê: “Julle kan dit gerus maar vandag eet, want dit is vandag die Here se rusdag. Julle sal nie vandag enigiets in die veld kry om op te tel nie. Julle moet ses dae lank elke dag daarvan gaan optel. Die sewende dag is die Here se rusdag. Julle sal dan niks daar kry nie.”
EKSODUS 16:22-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Op die sesde dag het hulle twee keer meer opgetel as op die ander dae. Die leiers van die volk het dit vir Moses kom vertel. Moses het vir hulle gesê: “Die HERE het bepaal dat daar ’n rusdag moet wees. Môre is dit die HERE se Sabbat. Bak en kook wat julle vir vandag nodig het en laat die ander vir môre oorbly.” Hulle het gemaak soos Moses gesê het en die kos wat oorgebly het, het hulle tot die volgende oggend gehou. Dit het nie sleg geword nie en geen wurms het daarin gekom nie. Moses sê toe: “Dit is die kos wat julle vandag moet eet. Vandag is die HERE se Sabbat. Julle sal nie vandag iets op die grond kry nie. Ses dae lank moet julle kos gaan bymekaarmaak, maar die sewende dag is die HERE se Sabbat. Op hierdie dag sal daar nie kos op die grond wees nie.”