EKSODUS 14:2-4
EKSODUS 14:2-4 Bybel vir almal (ABA)
“Sê vir die Israeliete hulle moet omdraai en hulle moet hulle tente opslaan by Pi-Hagirot, tussen Migdol en die see. Hulle moet by Baäl-Sefon hulle tente opslaan by die see. Dan sal die farao dink die Israeliete het in die woestyn verdwaal. Ek sal die farao hardkoppig maak en hy sal die Israeliete volg en jaag. Ek sal die farao en al sy soldate oorwin en doodmaak. Dan sal die Egiptenaars weet dat Ek die Here is.” Die Israeliete het toe gedoen soos Moses vir hulle gesê het.
EKSODUS 14:2-4 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Sê aan die kinders van Israel dat hulle moet omdraai en laer opslaan voor Pi-Hágirot, tussen Migdol en die see. Reg teenoor Baäl-Sefon moet julle laer opslaan by die see. Dan sal Farao van die kinders van Israel sê: Hulle is verdwaal in die land, die woestyn het hulle ingesluit. En Ek sal Farao se hart verhard, dat hy hulle agtervolg; en Ek wil My aan Farao en sy hele leërmag verheerlik, en die Egiptenaars sal weet dat Ek die HERE is. En hulle het so gedoen.
EKSODUS 14:2-4 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Beveel die Israeliete om weg te draai en kamp op te slaan naby Pi-Hagirot tussen Migdol en die see. Regoor Baäl-Sefon by die see moet julle kamp opslaan. Dan sal die farao dink die Israeliete het verdwaal en is deur die woestyn vasgekeer. Ek sal die farao weer koppig maak, sodat hy julle agtervolg, en Ek sal my mag laat geld teen hom en sy leër. Dan sal Egipte besef dat Ek die Here is.” Die Israeliete het die bevele uitgevoer.
EKSODUS 14:2-4 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“ Praat met die Israeliete, sodat hulle van rigting verander en kamp opslaan voor Pi-Hagirot, tussen Migdol en die see. Reg teenoor Baäl-Sefon moet julle kamp opslaan by die see. Die farao sal dan van die Israeliete dink, hulle dwaal verward rond in die land; die woestyn omsluit hulle. Ek sal die farao se hart verhard en hy sal hulle agtervolg, sodat Ek deur my optrede teenoor die farao en sy hele leër, agting kan afdwing, en sodat die Egiptenare sal weet dat Ek die HERE is. ” Die Israeliete het toe so gemaak.
EKSODUS 14:2-4 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Spreek met die kinders van Israel dat hulle omdraai en laer opslaan voor Pihagirot, tussen Migdol en die see, teenoor Baäl-Sefon; daarvoor moet julle laer opslaan by die see. Want Farao sal van die kinders van Israel sê: Hulle is verstrik in die land, die woestyn het hulle ingesluit. En Ek sal Farao se hart verhard, dat hy hulle kan volg; en Ek sal geëer word aan Farao en oor sy hele leër; sodat die Egiptenaars kan weet dat Ek die HERE is. En hulle het so gedoen.
EKSODUS 14:2-4 Die Boodskap (DB)
“Sê vir die Israeliete hulle moet wegdraai en kamp gaan opslaan by Pi-Hagirot, tussen Migdol en die see. Dit is regoor Baäl-Sefon naby die see. Die farao sal dan dink dat die Israeliete verdwaal en in die woestyn vasgeval het. Ek gaan die farao weer hardkoppig maak. Hy gaan die Israeliete agternasit. Die farao en sy hele weermag sal uiteindelik voor My moet buig. Egipte sal moet erken dat Ek die Here is.” Die Israeliete het toe so gemaak.
EKSODUS 14:2-4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Sê vir die Israeliete hulle moet wegdraai en gaan kamp opslaan by Pi-Hagirot. Hulle kamp moet langs die see staan reg teenoor Baäl-Sefon, tussen Migdol en die see. Die farao sal dan dink dat die Israeliete verdwaal het en die woestyn hulle gevang het. Ek sal die farao weer hardkoppig maak. Hy gaan julle agternasit. Die farao en sy leër gaan egter teen My verloor. Die Egiptenaars sal moet erken dat Ek die HERE is.” Die Israeliete het toe daar kamp opgeslaan.