EKSODUS 14:19-21
EKSODUS 14:19-21 Bybel vir almal (ABA)
Die Engel van die Here was altyd voor die Israeliete, maar Hy het nou agter hulle gaan staan. Die wolk was toe tussen die Egiptenaars en die Israeliete. Die wolk was donker by die Egiptenaars maar by die Israeliete het die wolk in die nag lig gegee. Die Egiptenaars en die Israeliete kon daardie nag nie naby mekaar kom nie. Moses het sy hand oor die see gehou, en die Here het 'n sterk oostewind gestuur. Die wind het die hele nag gewaai en die water weggestoot. Daar was 'n pad deur die see.
EKSODUS 14:19-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En die Engel van God wat voor die leër van Israel uit getrek het, het daar weggegaan en agter hulle aan getrek. En die wolkkolom het ook voor hulle weggetrek en agter hulle gaan staan; so het dit dan tussen die leër van die Egiptenaars en die leër van Israel in gekom. En die wolk was daar met die duisternis, en dit het die nag verlig, sodat die een nie naby die ander gekom het die hele nag deur nie. Toe steek Moses sy hand oor die see uit, en die HERE het deur 'n sterk oostewind die see laat wegvloei, die hele nag deur, en die see droog gemaak; en die waters is gekloof.
EKSODUS 14:19-21 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die Engel van God wat altyd voor die Israeliete uit beweeg het terwyl hulle getrek het, het nou agter hulle plek ingeneem. Ook die wolkkolom wat voor hulle was, het agter hulle ingeskuif, tussen die Egiptenaars en die Israeliete. Aan die Egiptiese kant was die wolk donker en aan die Israelitiese kant het dit die nag verlig. Die hele nag deur het die twee groepe nie nader aan mekaar gekom nie. Moses het sy hand oor die see uitgesteek, en die Here het daardie hele nag die water met 'n sterk oostewind weggedryf, sodat die water oopgekloof en die see daar drooggelê is.
EKSODUS 14:19-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die •Engel van God, wat die hele tyd voor die leër van Israel uit getrek het, het toe agter hulle in beweeg. Die wolkkolom het ook van voor hulle weggeskuif en agter hulle plek ingeneem. Dit het tussen die leër van Egipte en die leër van Israel ingeskuif. Die wolk het daar gebly en toe dit donker word, het dit die nag verlig. Maar die hele nag lank het die een nie nader aan die ander beweeg nie. Moses het sy hand oor die see uitgestrek, en die HERE het met 'n sterk oostewind, wat die hele nag lank gewaai het, die see laat terugtrek. Hy het die see droë grond gemaak; die water is oopgekloof.
EKSODUS 14:19-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En die engel van God wat voor die laer van Israel uitgetrek het, het weggetrek en agter hulle aan gegaan; en die wolkkolom het voor hulle aangesig weggetrek en agter hulle gaan staan. En dit het tussen die laer van die Egiptenaars en die laer van Israel gekom; en dit was vir hulle 'n wolk en duisternis, maar dit het vir hulle snags verlig, sodat die een die hele nag na die ander nie gekom het nie. En Moses het sy hand oor die see uitgesteek; en die HERE het die see daardie hele nag deur 'n sterk oostewind laat terugtrek en die see droog gemaak, sodat die waters verdeel is.
EKSODUS 14:19-21 Die Boodskap (DB)
Die man uit die hemel wat God voor die Israeliete laat uitgaan het wanneer hulle op pad was, het toe aan hulle agterkant gaan staan. Die wolk in die lug wat voor hulle uitgegaan het, het ook aan hulle agterkant gaan staan. Dit het tussen die Israeliete en die leër van die Egiptenaars ingeskuif. Die wolk het dit in die nag lig gemaak aan Israel se kant en donker aan die Egiptenaars se kant. Dit het die twee groepe uit mekaar gehou sodat hulle nie gedurende die nag nader aan mekaar kon kom nie. Moses het sy hand oor die see uitgesteek. Die Here het dwarsdeur die nag ’n sterk oostewind oor die see laat waai. Die see het weggetrek en die wind het ’n pad van droë grond deur die see drooggewaai.
EKSODUS 14:19-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
God se boodskapper wat die optog van Israel gelei het, het toe agter hulle gaan staan. Die wolkkolom wat voor hulle uit beweeg het, het ook agter hulle ingeskuif sodat dit gehang het tussen die plek waar die Israeliete kamp opgeslaan het en waar die Egiptiese kamp was. Dit was donker aan Egipte se kant, maar gedurende die nag was dit lig aan Israel se kant. Die twee groepe kon nie deur die nag nader aan mekaar kom nie. Moses het toe sy hand oor die see uitgesteek. Die HERE het die water teruggedryf met ’n sterk oostewind wat deur die nag gewaai het. Die water het oopgekloof en die seebodem het droog geword.