EKSODUS 14:13-18 - Compare All Versions
EKSODUS 14:13-18 AFR83 (Afrikaans 1983)
Maar Moses het die volk geantwoord: “Moenie bang wees nie. Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag gaan red, want soos julle die Egiptenaars nou daar sien, sal julle hulle nooit weer sien nie. Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg.” Toe het die Here vir Moses gesê: “Waarom roep julle so benoud na My? Sê vir die Israeliete hulle moet verder trek. En jy, lig jou kierie op en steek jou hand oor die see uit en kloof dit oop sodat die Israeliete op droë grond kan deurgaan. Ek sal die Egiptenaars so koppig maak dat hulle die Israeliete sal agtervolg. So sal Ek my mag laat geld teenoor die farao en sy hele leër: strydwaens en bemanning. Wanneer Ek my mag laat geld teenoor die farao, sy strydwaens en hulle bemanning, sal Egipte besef dat Ek die Here is.”
EKSODUS 14:13-18 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
Maar Moses het aan die volk gesê: Wees nie bevrees nie, staan vas en aanskou die verlossing van die HERE wat Hy vandag vir julle sal bewerk; want soos julle die Egiptenaars vandag sien, sal julle hulle nie weer sien in ewigheid nie. Die HERE sal vir julle stry, en julle moet stil wees. Toe vra die HERE vir Moses: Wat roep jy na My? Sê aan die kinders van Israel dat hulle moet wegtrek. En jy, hef jou staf op en steek jou hand uit oor die see en kloof dit, sodat die kinders van Israel dwarsdeur die see op droë grond kan trek. En Ek, kyk, Ek sal die hart van die Egiptenaars verhard, sodat hulle agter hulle aan gaan. En Ek wil My verheerlik aan Farao en sy hele leërmag, aan sy strydwaens en aan sy ruiters. En die Egiptenaars sal weet dat Ek die HERE is, as Ek My verheerlik aan Farao, aan sy strydwaens en aan sy ruiters.
EKSODUS 14:13-18 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Moses het die volk geantwoord: “Moenie bang wees nie. Staan net daar waar julle is en kyk hoe die HERE julle vandag red. Hierdie Egiptenaars wat julle vandag hier voor julle sien, sal nooit ooit weer gesien word nie. Wag en kyk! Die HERE sal in julle plek veg.” Die HERE het toe vir Moses gesê: “Vir wat staan jy so benoud en roep na My? Sê die mense moet begin beweeg. Vat jou herderstok in jou hand en hou dit uit oor die water. Daar sal ’n pad deur die water kom waarlangs die Israeliete op droë grond kan trek. Ek sal die Egiptenaars vasberade maak om agter die Israeliete aan te gaan. Ek sal beroemd word deur wat Ek met die farao, sy hele leër, sy waens en sy ruiters gaan maak. Wanneer Ek klaar is met die farao, sy oorlogwaens en sy ruiters, sal Egipte weet dat Ek die HERE is.”
EKSODUS 14:13-18 DB (Die Boodskap)
Moses het egter vir die volk gesê: “Hou op om bang te wees. Staan vas net waar julle is. Julle gaan vandag sien hoe wonderlik die Here julle gaan red. Daardie Egiptenaars wat julle vandag daar voor julle sien, sal julle in der ewigheid nooit weer sien nie. Wees julle maar net kalm. Die Here sal in julle plek veg.” Die Here vra toe vir Moses: “Vir wat staan julle so en roep na My om julle te help? Sê vir die Israeliete hulle moet begin beweeg. Lig op jou kierie en steek jou hand uit na die see se kant toe. Die water sal voor julle oopmaak sodat die Israeliete op droë grond deur die see kan loop. Ek sal die Egiptenaars vasberade maak om hulle agterna te sit en agter hulle aan te gaan die see in. Wanneer Ek met die farao en sy hele leërmag en sy oorlogswaens en hulle perde klaargespeel het, sal Ek vereer word. Egipte sal moet erken dat Ek die Here is.”
EKSODUS 14:13-18 ABA (Bybel vir almal)
Maar Moses het vir die Israeliete gesê: “Moenie bang wees nie. Bly waar julle is. Julle sal vandag sien dat die Here julle sal red. Julle sien vandag die Egiptenaars, maar julle sal hulle nooit weer sien nie. Die Here sal self oorlog maak en Hy sal vir julle veg teen die Egiptenaars. Julle moet stil wees.” Die Here het vir Moses gesê: “Hoekom bid jy tot My en vra dat Ek julle moet help? Sê vir die Israeliete hulle moet aanhou loop. En jy, tel jou kierie op en hou jou hand oor die see. Dan sal daar 'n pad deur die see wees sodat die Israeliete op die grond deur die see kan gaan. Ek sal die Egiptenaars hardkoppig maak. Hulle sal julle deur die see volg. Dan sal Ek wys dat Ek die God is wat kan doen wat Ek wil doen met die farao en al sy soldate en met sy oorlogkarre en die manne daarop. Wanneer Ek dit doen, dan sal die Egiptenaars weet dat Ek die Here is.”
EKSODUS 14:13-18 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Maar Moses het vir die volk gesê: “Moenie bang wees nie! Staan stil en aanskou die verlossing van die HERE wat Hy vandag vir julle gaan bewerk. Want die Egiptenare wat julle vandag sien, sal julle nooit weer sien nie. Die HERE self sal vir julle veg. Julle moet net stil bly.” Die HERE het vir Moses gesê: “Wat roep jy na My? Praat met die Israeliete, sodat hulle verder trek. En jy, lig jou staf op, strek jou hand uit oor die see en kloof dit oop, sodat die Israeliete op droë grond in die middel van die see kan ingaan. En wat My betref, kyk, Ek gaan die hart van die Egiptenare verhard, sodat hulle agter hulle ingaan. Dan sal Ek agting afdwing deur my optrede teenoor die farao en sy hele leër, sy strydwaens en bemanning. Die Egiptenare sal weet dat Ek die HERE is wanneer Ek agting afdwing deur my optrede teenoor die farao, sy strydwaens en bemanning.”
EKSODUS 14:13-18 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Toe sê Moses vir die volk: Wees nie bevrees nie, staan stil en aanskou die verlossing van die HERE wat Hy julle vandag sal wys; want die Egiptenaars wat julle vandag gesien het, julle sal hulle vir ewig nie meer sien nie. Die HERE sal vir julle veg, en julle moet swyg. Toe sê die HERE vir Moses: Waarom roep jy na My? spreek met die kinders van Israel dat hulle vorentoe moet trek. Maar jy, hef jou staf op en steek jou hand uit oor die see en kloof dit, en die kinders van Israel sal op droë grond deur die see gaan. En Ek, kyk, Ek sal die harte van die Egiptenaars verhard, en hulle sal hulle volg; en Ek sal My eer aan Farao en aan sy hele leër, aan sy strydwaens en aan sy ruiters verkry. En die Egiptenaars sal weet dat Ek die HERE is, as Ek My aan Farao, aan sy strydwaens en aan sy ruiters vereer het.