EKSODUS 13:1-22

EKSODUS 13:1-22 Bybel vir almal (ABA)

Die Here het vir Moses gesê: “Julle moet elke oudste seun van die Israeliete vir My gee. Die oudste seun van die mense en ook die eerste manlike kleintjie van al die diere behoort aan My.” Moses het vir die volk gesê: “Julle moet altyd hierdie dag onthou, die dag toe julle weggegaan het uit Egipte. Julle was hier slawe, maar die Here het julle met sy groot krag gehelp om weg te gaan van hier. Daarom mag julle in hierdie tyd nie brood eet waarin daar suurdeeg is nie. Julle gaan vandag weg, in die maand Abib. Die Here sal julle bring na die land van die Kanaäniete en die Hetiete en die Amoriete en die Hewiete en die Jebusiete. Hy het vir julle voorvaders belowe dat Hy daardie land vir julle sal gee. Dit is 'n land waar daar baie melk en heuning is. As julle daar kom, dan moet julle elke jaar in hierdie maand die fees vier. Julle moet sewe dae lank ongesuurde brood eet, en op die sewende dag moet julle 'n fees vier om die Here te eer. Julle moet sewe dae lank ongesuurde brood eet en julle mag nie brood by julle hê wat suurdeeg in het nie. Daar mag nie suurdeeg by julle wees nie. Op hierdie dag moet julle vir julle kinders vertel: ‘Ons vier hierdie fees omdat die Here ons gehelp het toe ons weggegaan het uit Egipte.’ Die fees moet julle help om te onthou wat die Here vir julle gedoen het. Dit moet wees soos 'n teken op julle hand en tussen julle oë, sodat julle altyd kan onthou en vertel wat die Here vir julle geleer het. Dit is die Here wat julle met sy groot krag gehelp het om uit Egipte weg te gaan. Julle moet elke jaar hierdie tyd die Paasfees vier. Die Here sal julle na die land Kanaän bring. Hy het dit vir julle en julle voorvaders belowe. Wanneer Hy die land vir julle gee, dan moet julle elke oudste seun wat gebore word in 'n familie, vir die Here gee. Julle moet ook die eerste manlike kleintjie van elke dier vir die Here gee. Hulle behoort almal aan die Here. Maar 'n donkie se eerste hings-vul moet julle loskoop. Julle moet 'n skaap of 'n bok gee in die plek van 'n donkie. As julle nie die donkie-vul loskoop nie, dan moet julle sy nek breek. Julle moet ook julle oudste seuns loskoop, julle moet iets anders in hulle plek gee. As julle kinders later vir julle vra wat dit beteken, dan moet julle vir hulle sê: ‘Die Here het ons met sy groot krag uit Egipte gered, daar waar ons slawe was. Die farao was hardkoppig. Hy het gesê ons mag nie weggaan nie. Toe het die Here al die oudste seuns in Egipte doodgemaak, die oudstes van die mense en van die diere. Daarom offer ons die eerste bul-kalf en die eerste ram-lam vir die Here, en daarom gee ons iets anders in die plek van ons oudste seuns. Dit moet soos 'n teken wees op julle hande en tussen julle oë, sodat julle kan onthou dat die Here ons met sy groot krag gehelp het om weg te gaan uit Egipte.’ ” Toe die farao die Israeliete laat gaan het, het God hulle nie gelei op die pad deur die Filistyne se land nie. Dit was die kortste pad en die Israeliete kon goed oorlog maak. Maar God het gesê: “As die Israeliete moet oorlog maak, dan sal hulle miskien begin twyfel en hulle sal hulle planne verander. Dan sal hulle omdraai en teruggaan na Egipte.” Daarom het God hulle met 'n langer pad deur die woestyn laat gaan na die Riet-see. Moses het Josef se lyk met hom saamgeneem, want voordat Josef gesterf het, het hy gesê die Israeliete moet belowe om dit te doen, en God moet die getuie wees. Josef het vir hulle gesê: “God sal julle vrymaak, dit is seker. Wanneer Hy dit doen, dan moet julle my lyk saamneem uit hierdie land.” Die Israeliete het weggegaan van Sukkot en hulle het hulle tente opgeslaan in Etam langs die woestyn. Die Here het elke dag saam met hulle gegaan. In die dag was Hy in 'n wolk wat hulle gelei het en wat vir hulle die regte pad gewys het. In die nag was die Here in 'n vuur om vir hulle lig te gee. Daarom kon hulle in die dag en in die nag loop. In die dag was die wolk by die Israeliete, en in die nag was die vuur by hulle. Die Here en die wolk het altyd by die Israeliete gebly.

EKSODUS 13:1-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

TOE het die HERE met Moses gespreek en gesê: Heilig vir My al die eersgeborenes. Alles wat die moederskoot open onder die kinders van Israel, van mense en van diere, dit is myne. Verder het Moses aan die volk gesê: Dink aan hierdie dag waarop julle uit Egipte, uit die slawehuis, uitgegaan het; want die HERE het julle deur 'n sterke hand hiervandaan uitgelei; daarom mag geen gesuurde brood geëet word nie. Vandag trek julle uit, in die maand Abib. En as die HERE jou bring in die land van die Kanaäniete en Hetiete en Amoriete en Hewiete en Jebusiete, wat Hy aan jou vaders met 'n eed beloof het om aan jou te gee, 'n land wat oorloop van melk en heuning, dan moet jy hierdie diens in hierdie maand onderhou. Sewe dae lank moet jy ongesuurde brode eet, en op die sewende dag is daar fees tot eer van die HERE. Ongesuurde brode moet die sewe dae geëet word: by jou mag geen gesuurde brood gesien word nie, en geen suurdeeg mag by jou in jou hele grondgebied gesien word nie. En jy moet jou seun op dié dag vertel en sê: Dit geskied ter wille van wat die HERE aan my gedoen het toe ek uit Egipte uitgetrek het. En dit moet vir jou as 'n teken wees op jou hand en 'n gedenkteken tussen jou oë, sodat die wet van die HERE in jou mond mag wees; want deur 'n sterke hand het die HERE jou uit Egipte uitgelei. Daarom moet jy hierdie insetting onderhou op die daarvoor bepaalde tyd, van jaar tot jaar. En as die HERE jou in die land van die Kanaäniete bring, soos Hy aan jou en jou vaders met 'n eed beloof het, en Hy dit aan jou gee, dan moet jy alles wat die moederskoot open, aan die HERE afgee; ook elke eersteling, die aanteel van vee, wat jy sal hê — wat manlik is, behoort aan die HERE. Maar elke eersteling van 'n esel moet jy met 'n lam loskoop. En as jy dit nie loskoop nie, moet jy sy nek breek. Maar al die eersgeborenes van mense onder jou seuns moet jy loskoop. En as jou seun jou later vra en sê: Wat beteken dit? dan moet jy hom antwoord: Die HERE het ons deur 'n sterke hand uit Egipte, uit die slawehuis, uitgelei. Want toe Farao swarigheid gemaak het om ons te laat trek, het die HERE al die eersgeborenes in Egipteland gedood, van die eersgeborene van die mense af tot die eersgeborene van die diere toe. Daarom offer ek aan die HERE alles wat die moederskoot open wat manlik is; maar al die eersgeborenes van my seuns koop ek los. En dit sal as 'n teken wees op jou hand en 'n voorhoofsband tussen jou oë; want die HERE het ons deur 'n sterke hand uit Egipte uitgelei. TOE Farao die volk laat trek het, het God hulle nie op die pad na die land van die Filistyne gelei nie, alhoewel dit nader was; want God het gesê: Die volk kan dalk berou kry as hulle oorlog sien, en teruggaan na Egipte. Daarom het God die volk laat wegdraai in die rigting na die woestyn, na die Skelfsee toe. En die kinders van Israel het goed gewapend uit Egipteland opgetrek. En Moses het die gebeente van Josef met hom saamgeneem; want hy het die kinders van Israel plegtig laat sweer en gesê: God sal eindelik op julle ag gee; bring dan my gebeente saam met julle hiervandaan op. So het hulle dan van Sukkot af weggetrek en laer opgeslaan in Etam, aan die kant van die woestyn. En die HERE het voor hulle uitgetrek, bedags in 'n wolkkolom om hulle op die pad te lei, en snags in 'n vuurkolom om hulle voor te lig, sodat hulle dag en nag kon trek. Die wolkkolom het nie bedags en die vuurkolom nie snags voor die volk gewyk nie.

EKSODUS 13:1-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die Here het vir Moses gesê: “Julle moet elke eersgeborene aan My wy, elke eersteling wat in Israel gebore word, mens en dier. Dit is Myne.” Moses het vir die volk gesê: “Onthou die dag waarop julle uit Egipte, uit die plek van slawerny, weggetrek het, want dit is deur sy groot mag dat die Here julle daaruit bevry het. Julle mag op dié dag niks met suurdeeg in eet nie. “Julle vertrek vandag, op hierdie besondere dag in die maand Abib. Die Here het met 'n eed aan julle voorvaders belowe om vir julle die land van die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Hewiete en Jebusiete te gee. Wanneer Hy julle bring in die land wat oorloop van melk en heuning, moet julle die volgende verpligting in hierdie maand nakom: sewe dae lank moet julle ongesuurde brood eet, en die sewende dag is 'n feesdag tot eer van die Here. Dit moet beslis ongesuurde brood wees wat julle die sewe dae lank eet. Dan mag daar geen gis of enige suurdeeg by julle in julle hele gebied wees nie. Op die feesdag moet elkeen vir sy kinders vertel: ‘Dit is oor wat die Here vir my gedoen het toe ek uit Egipte getrek het.’ Die fees moet vir julle wees soos 'n teken op die hand of 'n merk op die voorkop sodat julle altyd sal getuig dat die Here Hom aan julle geopenbaar het, want dit is met sy groot mag dat Hy julle uit Egipte bevry het. Julle moet hierdie voorskrif van jaar tot jaar op die bepaalde tyd nakom. “Wanneer die Here julle nou bring in die land van die Kanaäniete en dit aan julle gee, soos Hy met 'n eed aan julle en julle voorvaders belowe het, moet julle elke manlike eersteling wat gebore word, aan die Here wy, en ook elke manlike eersteling van julle vee vir die Here afstaan. Elke eerste hingsvulletjie van 'n donkie moet julle egter met 'n skaap loskoop. As julle hom nie kan loskoop nie, moet julle sy nek breek. Julle moet ook al julle eersgebore seuns loskoop. As julle kinders later sou vra: ‘Wat beteken dit?’ moet julle vir hulle sê: ‘Met groot mag het die Here ons uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry, want toe die farao te hardkoppig was om ons te laat trek, het die Here al die eerstelinge van die Egiptenaars laat sterwe, mens en dier. Om hierdie rede offer ons die manlike eersteling van elke dier aan die Here, maar koop ons elke eersgebore seun los.’ Soos 'n teken op die hand en 'n merk op die voorkop moet dit julle daaraan herinner dat die Here ons met groot mag uit Egipte bevry het.” Toe die farao die volk laat trek het, het God hulle nie die pad na die land van die Filistyne toe laat vat nie, hoewel dit die kortste was, want Hy het gesê: “As die volk in 'n geveg betrokke raak, kan hulle dalk spyt kry en na Egipte toe teruggaan.” Daarom het God die volk met 'n ompad laat gaan, met die woestynpad in die rigting van die Rietsee. Die Israeliete het goed georganiseerd uit Egipte getrek. Moses het die liggaam van Josef saamgevat, want Josef het die seuns van Israel dit destyds uitdruklik met 'n eed laat beloof. Hy het gesê: “God sal beslis later na julle omsien, en dan moet julle my liggaam van hier af saamvat.” Hulle het Sukkot verlaat en by Etam aan die rand van die woestyn kamp opgeslaan. Die Here het bedags met 'n wolkkolom voor hulle uit gegaan om vir hulle die pad te wys en snags met 'n vuurkolom om vir hulle lig te verskaf, sodat hulle dag en nag kon trek. Die wolkkolom bedags en die vuurkolom snags het altyd voor die volk gebly.

EKSODUS 13:1-22 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die HERE het met Moses gepraat en gesê: “Wy al die eersgeborenes aan My. Die eerstelinge van elke moederskoot onder die Israeliete, van mense en diere, behoort aan My.” Moses het vir die volk gesê: “Herdenk hierdie dag waarop julle uit Egipte, uit die plek van slawerny, weggetrek het; want deur 'n sterk hand het die HERE julle hier uitgelei. Iets wat suurdeeg bevat, mag nie geëet word nie. Vandag, in die maand Abib, trek julle weg. Wanneer die HERE jou bring in die land van die Kanaäniete, die Hetiete, die •Amoriete, die Hewiete en die Jebusiete, die land wat Hy jou voorvaders met 'n eed beloof het om aan jou te gee, 'n land wat oorloop van melk en heuning, moet jy in hierdie maand die volgende gebruik handhaaf: Sewe dae lank moet jy ongesuurde brood eet, en op die sewende dag moet daar 'n fees ter ere van die HERE wees. Ongesuurde brood moet sewe dae lank geëet word. Daar mag by jou nie iets met suurdeeg in te sien wees nie; ja, in jou hele grondgebied mag daar nie suurdeeg by jou te sien wees nie. Jy moet jou seun op daardie dag inlig en sê, ‘Dit is ter herdenking van wat die HERE vir my gedoen het toe ek uit Egipte getrek het.’ Dit sal vir jou dien as 'n teken op jou hand en as 'n herinneringsteken op jou voorkop, sodat die wet van die HERE op jou lippe sal wees. Want met 'n sterk hand het die HERE jou uit Egipte uitgelei. Jy moet hierdie vaste voorskrif op die bepaalde tyd, jaar ná jaar, nakom. “Wanneer die HERE jou in die land van die Kanaäniete bring, soos Hy vir jou en jou voorvaders met 'n eed beloof het, en Hy dit vir jou gee, moet jy elke eersteling van die moederskoot aan die HERE afstaan. Elke eersteling van die aanteel van jou vee wat jy kry, die manlikes, behoort aan die HERE. Elke eersteling van 'n donkie moet jy loskoop met 'n lam. As jy dit nie loskoop nie, moet jy sy nek breek. Elke eersgeborene onder jou seuns moet jy loskoop. “ As jou seun jou in die toekoms vra, ‘Wat beteken dit?’ moet jy vir hom sê, ‘Met 'n sterk hand het die HERE ons uit Egipte, uit die plek van slawerny, uitgelei. Toe die farao te koppig was om ons te laat gaan, het die HERE al die eersgeborenes in Egipteland doodgemaak, van die eersgeborenes van mense tot die eersgeborenes van die vee. Daarom offer ek aan die HERE elke manlike eersteling van die vee, maar elke eersgeborene van my seuns koop ek los.’ Dit sal as 'n teken op jou hand en 'n versiering op jou voorkop dien, want met 'n sterk hand het die HERE ons uit Egipte uitgelei.” Toe die farao die volk laat gaan het, het God hulle nie gelei op die pad na die land van die Filistyne nie, al was dit nader; want God het gesê: “Anders kry die volk spyt wanneer hulle oorlog in die gesig staar, en keer hulle terug na Egipte.” God het toe die volk 'n ompad laat neem met die woestyn langs na die Rietsee. Die Israeliete het in slagorde uit Egipteland opgetrek. Moses het die beendere van Josef met hom saamgeneem, want Josef het die Israeliete plegtig 'n eed laat aflê; hy het gesê: “God sal beslis na julle omsien, dan moet julle my beendere hiervandaan saam met julle neem.” Hulle het van Sukkot af weggetrek en kamp opgeslaan by Etam, aan die rand van die woestyn. Die HERE het bedags in 'n wolkkolom voor hulle uitgegaan om hulle op die pad te lei, en snags in 'n vuurkolom om aan hulle lig te verskaf, sodat hulle bedags en snags kon trek. Die wolkkolom het bedags en die vuurkolom snags, nie voor die volk weggegaan nie.

EKSODUS 13:1-22 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En die HERE het met Moses gespreek en gesê: Heilig vir My al die eersgeborenes, alles wat die moederskoot oopmaak onder die kinders van Israel, van mense sowel as van diere; dit is myne. Toe sê Moses aan die volk: Dink aan hierdie dag waarop julle uit Egipte, uit die slawehuis, uitgetrek het; want deur sterkte van hand het die HERE julle uit hierdie plek uitgelei; geen gesuurde brood mag geëet word nie. Vandag het julle uitgekom in die maand Abib. En dit sal wees wanneer die HERE jou sal bring in die land van die Kanaäniete en Hetiete en Amoriete en Hewiete en Jebusiete wat Hy aan jou vaders met 'n eed beloof het om jou te gee, 'n land wat oorloop van melk en heuning, dat jy hierdie diens in hierdie maand moet onderhou. Sewe dae lank moet jy ongesuurde brode eet, en op die sewende dag moet 'n fees vir die HERE wees. Ongesuurde brode moet sewe dae geëet word; en daar sal geen suurdeeg by jou gesien word nie, en geen suurdeeg sal by jou in jou hele woonplek gesien word nie. En jy moet jou seun op dié dag te kenne gee en sê: Dit is gedoen ter wille van wat die HERE aan my gedoen het toe ek uit Egipte uitgetrek het. En dit moet vir jou 'n teken wees op jou hand en 'n gedagtenis tussen jou oë, sodat die wet van die HERE in jou mond kan wees; want met 'n sterke hand het die HERE jou uit Egipte uitgelei. Daarom moet jy hierdie verordening op sy tyd van jaar tot jaar onderhou. En dit sal wees wanneer die HERE jou in die land van die Kanaäniete sal bring, soos Hy aan jou en jou vaders met 'n eed beloof het en dit aan jou sal gee, dat jy vir die HERE moet afsonder alles wat die matriks oopmaak, en al die eersgeborenes wat kom van 'n dier wat jy het; die mannetjies sal aan die HERE behoort. En elke eersgeborene van 'n esel moet jy met 'n lam loskoop; en as jy dit nie wil los nie, moet jy sy nek breek; en al die eersgeborenes van 'n mens onder jou kinders moet jy loskoop. En dit sal wees wanneer jou seun jou later vra en sê: Wat is dit? dat jy vir hom moet sê: Deur sterk hand het die HERE ons uit Egipte, uit die slawehuis, uitgelei. En toe Farao ons beswaarlik wou laat trek, het die HERE al die eersgeborenes in Egipteland gedood, sowel die eersgeborenes van die mens sowel as die eersgeborenes van die diere; daarom offer ek aan die HERE alles wat die matriks oopmaak, synde manlik; maar al die eersgeborenes van my kinders verlos Ek. En dit sal 'n teken wees op jou hand en as 'n voorhoofsband tussen jou oë; want deur sterkte van hand het die HERE ons uit Egipte uitgelei. En toe Farao die volk laat trek het, het God hulle nie deur die pad van die land van die Filistyne gelei nie, al was dit naby; want God het gesê: Dat die volk nie miskien berou sal hê as hulle oorlog sien en na Egipte terugkeer nie. Maar God het die volk rondgelei op die pad na die woestyn van die Skelfsee, en die kinders van Israel het uitgeboender uit Egipteland opgetrek. Toe neem Moses die gebeente van Josef saam met hom, want hy het die kinders van Israel streng gesweer en gesê: God sal sekerlik op julle ag gee; en julle sal my gebeente saam met julle hiervandaan wegdra. En hulle het van Sukkot af weggetrek en laer opgeslaan in Etam, aan die rand van die woestyn. En die HERE het bedags voor hulle uit gegaan in 'n wolkkolom om hulle op die pad te lei; en snags in 'n vuurkolom om hulle te verlig; om dag en nag te gaan: Hy het nie die wolkkolom bedags of die vuurkolom snags voor die volk weggeneem nie.

EKSODUS 13:1-22 Die Boodskap (DB)

Die Here het ook nog verder vir Moses gesê: “Julle moet die eerste seun wat ’n ma in die wêreld bring, vir My eenkant sit. In Israel behoort die een wat eerste gebore word, aan My, of dit nou ’n mens is of ’n dier.” Moses het op sy beurt vir die volk gesê: “Julle moet altyd hierdie dag onthou waarop julle weg is uit Egipte. Julle was slawe in Egipte. Die Here het julle egter met sy groot krag uit hierdie land losgekry. Dit is die dag waarop julle nie brood mag eet wat met suurdeeg gemaak is nie. Hierdie dag val in die maand Abib. Wanneer julle in die land aankom waar die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Hewiete en Jebusiete op die oomblik bly, moet julle elke jaar op hierdie dag die paasfees vier. Die Here het julle voorouers belowe dat Hy daardie land aan julle sal gee. Dit is ’n baie vrugbare land. “Vir die sewe dae van die paasfees mag julle niks eet waarin daar suurdeeg is nie. Daar mag selfs nie eens ’n brood met suurdeeg in of ’n stukkie suurdeeg by julle te vind wees in hierdie tyd nie. Op die sewende dag moet julle ’n fees hou vir die Here. Op daardie dag moet julle vir julle kinders vertel hoekom julle die fees hou. Julle moet vir hulle vertel dat dit oor die dinge is wat die Here vir julle gedoen het toe Hy julle uit Egipte laat loskom het. Die fees sal wees soos iets wat jy in jou hand geskryf het of soos ’n knoop wat jy in jou sakdoek gemaak het sodat jy nie kan vergeet nie. Jy sal moet getuig dat die Here jou met sy groot krag uit Egipte bevry het. Julle moet aan hierdie voorskrif vashou sodat julle elke jaar op die tyd wat bepaal is, hierdie fees vir die Here kan vier. “Die Here het die land van die Kanaäniete aan julle voorouers belowe. Wanneer die Here julle dan by daardie land laat aankom en Hy dit vir julle gee, moet julle alles wat manlik is waaraan ’n ma geboorte gegee het, vir die Here gee. Die eerste manlike dier wat gebore word, moet julle vir die Here gee. As dit ’n donkie is, moet jy dit omruil vir ’n skaap. As jy dit nie wil omruil nie, moet jy die donkie doodmaak. Wanneer dit ’n mens is, moet jy jou oudste seun vir iets anders omruil. Wanneer jou seun jou later op ’n dag vra: ‘Hoekom maak ons so?’ moet jy hom antwoord: ‘Omdat die Here ons met sy krag bevry het van die slawewerk wat ons in Egipte moes doen. Die farao het botweg geweier om ons te laat weggaan uit Egipte. Die Here het sy hand laat uitgaan teen almal in Egipte wat eerste gebore is. Hulle het doodgegaan, mens en dier. Dit is hoekom ek al die eerste manlike wesens wat ’n ma in die wêreld bring, aan die Here offer. Hulle behoort aan Hom. Ek kan egter my oudste seun weer terugkoop. Dit is soos ’n merk in jou hand en ’n teken op jou voorkop wat jou daaraan herinner dat die Here die Almagtige ons met krag uit Egipte laat wegtrek het.” Toe die farao uiteindelik instem om die volk te laat gaan, het die Here hulle nie kortpad al langs die see na die land van Filistyne laat trek nie. As hulle met daardie pad langs getrek het, kon hulle in gevegte met ander mense beland het, wat hulle so sou kon laat skrik dat hulle sommer kortom sou vlug terug Egipte toe. God het eerder die volk laat wegdraai om met die pad langs te trek wat na die Rietsee toe gaan. Die Israeliete het hulleself in groepe gerangskik en op ’n ordelike manier uit Egipte uit weggegaan. Moses het Josef se liggaam saamgevat. Josef het die Israeliete destyds plegtig laat belowe dat hulle sy liggaam saam met hulle sal vat wanneer die Here hulle weer na hulle land laat teruggaan. Hulle het van Sukkot af weggegaan en by Etam op die rand van die woestyn gaan kamp opslaan. Die Here self het voor hulle uitgegaan. In die dag het Hy vir hulle die pad gewys met ’n hoë wolk wat voor hulle uitgaan. In die nag was daar ’n bol vuur in die lug wat vir hulle lig gegee het. Hulle kon dag en nag verder trek. Die wolk in die dag het nooit weggegaan nie en die vuurbol het altyd in die nag daar gebly.

EKSODUS 13:1-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die HERE het toe vir Moses gesê: “Elke oudste seun in Israel moet aan My opgedra word. Die een wat eerste gebore word, behoort aan My, of dit nou ’n mens of ’n dier is.” Moses het toe vir die volk gesê: “Ons moet altyd hierdie dag onthou waarop ons weg is uit Egipte waar ons slawe was. God het ons met sy groot krag daar uitgelei. (Onthou om nie op hierdie dag iets met suurdeeg te eet nie.) Ons trek weg op ’n dag in die maand Abib. Julle moet altyd gedurende hierdie maand die fees vier wanneer die HERE julle eendag in die land van die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Hewiete en Jebusiete gebring het. Dit is ’n vrugbare land wat die HERE aan ons voorgeslagte belowe het. Julle moet sewe dae lank brood eet wat nie met suurdeeg gemaak is nie. Op die sewende dag moet julle feesvier vir die HERE. Gedurende daardie sewe dae mag julle net brood eet sonder suurdeeg. Daar mag nie ’n krieseltjie suurdeeg te sien wees nie, nie by julle nie en nêrens in julle land nie. “Julle moet op die dag van die fees aan julle kinders vertel waaroor dit gaan. Julle moet vir hulle verduidelik: ‘Ons vier fees oor wat die HERE vir ons gedoen het toe ons uit Egipte weg is.’ Hierdie jaarlikse fees sal julle daaraan herinner. Dit sal soos ’n merk op jou hand en ’n herinneringsteken op jou voorkop wees. Dit sal julle help om altyd die HERE se bevele in gedagte te hou. Dit was tog die HERE wat julle met sy groot krag uit Egipte gered het. “Onthou hierdie opdrag sodat julle die fees elke jaar op die vasgestelde tyd kan hou. Onthou hierdie voorskrifte wanneer die HERE julle in die land gebring het waar die Kanaäniete nou woon. Hy het dit lankal reeds aan julle voorouers belowe. Al die oudste seuns en manlike diere wat eerste gebore is, moet dan aan die HERE opgedra word. Jy moet die eerste donkie wat gebore word, omruil met ’n skaap wat in sy plek vir die HERE gegee word. As julle nie so wil maak nie, moet die donkie se nek gebreek word. Jy is egter verplig om jou seun wat eerste gebore is los te koop. “Wanneer julle seuns vorentoe vir julle vra: ‘Hoekom maak ons so?’ moet julle vir hulle vertel: ‘Die HERE het ons met sy groot krag van die slawewerk in Egipte bevry. Die farao het bly weier om ons te laat gaan. Die HERE het toe deur die hele Egipte die seuns en die diere wat eerste gebore is, laat doodgaan. Dit is hoekom ons almal wat eerste gebore is vir die HERE offer, behalwe die seuns wat ons eerder kan loskoop.’ Hierdie fees sal dus soos ’n merk op jou hand en ’n teken op jou voorkop wees. Dit sal julle herinner dat die HERE julle met sy groot krag uit Egipte bevry het.” Toe die farao uiteindelik die volk laat gaan het, het God hulle nie kortpad deur die Filistynse gebied laat trek na die land wat Hy vir hulle beloof het nie. Die HERE het gesê: “As die volk nou met oorlog moet te doen kry, gaan hulle van plan verander en omvlieg terug Egipte toe.” Daarom het God hulle eerder met die woestynpad in die rigting van die Rietsee laat trek. Hulle het vertrek soos ’n leër wat op mars is. Moses het Josef se oorskot saam met hom gevat. Josef het destyds die Israeliete plegtig laat belowe dat hulle sy liggaam saam met hulle sal vat die dag wanneer God sy woord gestand doen en hulle uit Egipte sal laat teruggaan. Hulle is van Sukkot af weg en het by Etam aan die rand van die woestyn gekom. Hulle het daar kamp opgeslaan. Gedurende die dag het die HERE vir hulle die pad gewys met ’n hoë wolkstapel wat voor hulle uitgegaan het. Gedurende die nag het ’n wolk waarin vuur was vir hulle lig gegee. So kon hulle bly trek of dit nou dag of nag was. Die wolkstapel in die dag en die wolk met vuur in gedurende die nag het nooit voor die volk weggegaan nie.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid