EKSODUS 10:1-29
EKSODUS 10:1-29 Bybel vir almal (ABA)
Die Here het vir Moses gesê: “Gaan na die farao toe, want Ek het hom en sy amptenare hardkoppig gemaak sodat Ek hierdie tekens vir hulle kan wys. Dan kan julle vir julle kinders en julle kleinkinders vertel hoe Ek die Egiptenaars gestraf het en wat Ek aan hulle gedoen het. Julle sal weet Ek is die Here.” Moses en Aäron het na die farao toe gegaan en hulle het vir hom gesê die God van die Hebreërs sê vir hom: “Hoe lank nog gaan jy nie luister na My nie? Jy moet my volk laat gaan sodat hulle My kan dien. As jy hulle nie laat gaan nie, dan sal Ek môre sprinkane oor jou land bring. Die sprinkane sal die hele land toemaak, jy sal nie die grond kan sien nie. Die sprinkane sal alles opvreet wat oorgebly het nadat dit so baie gehael het. Hulle sal al die blare opvreet wat weer aan die bome gegroei het. Hulle sal oral in jou huise ingaan, ook in die huise van jou amptenare en in die huise van al die Egiptenaars. Julle het nog nooit so baie sprinkane gesien nie, nie julle of julle voorouers nie, vandat hulle hier begin woon het tot vandag toe.” Moses het omgedraai en hy het weggegaan van die farao. Die farao se amptenare het vir hom gesê: “Hoe lank nog gaan jy toelaat dat hierdie man vir ons probleme gee? Jy moet die mans laat gaan sodat hulle die Here, hulle God, kan dien. Jy het gesien dit gaan baie sleg hier in Egipte.” Die amptenare het vir Moses en Aäron teruggebring na die farao toe, en hy het vir Moses en Aäron gesê: “Gaan dien julle God die Here. Maar sê vir my wie sal almal saamgaan.” Moses het gesê: “Ons jongmanne en ou manne gaan almal. Ons kinders en ons skape en bokke en beeste gaan ook, want ons moet 'n fees vir die Here gaan vier.” Die farao het vir hulle gesê: “Ek sal julle vroue en kinders nie saam met julle laat gaan nie. Pasop! Julle maak verkeerde planne. Nee, net die mans mag die Here gaan dien. Dit is wat julle gevra het.” Toe het die farao vir Moses en Aäron weggejaag. Die Here het vir Moses gesê: “Steek jou hand uit oor Egipte sodat daar sprinkane oor die land kan kom. Hulle sal al die plante opvreet, alles wat oorgebly het nadat dit gehael het.” Moses het sy kierie oor Egipte uitgesteek. Daardie hele dag en die hele nag het die Here die oostewind laat waai. Dit het oggend geword, en die oostewind het die sprinkane gebring. Die sprinkane het oor die hele Egipte gekom en hulle het gaan sit oor die hele land. Daar was groot swerms sprinkane. Daar was nog nooit so baie sprinkane nie, nie voor daardie tyd nie en ook nie daarna nie. Daar was so baie sprinkane dat niemand die grond of die son kon sien nie. Die sprinkane het al die plante van die land opgevreet en ook al die vrugte wat oorgebly het nadat dit gehael het. Daar het in die hele Egipte nie 'n groen blaar oorgebly aan die bome en aan die plante in die veld nie. Die farao het haastig vir Moses en Aäron geroep en gesê: “Ek het verkeerd gedoen teen julle God die Here en teen julle. Vergewe asseblief my fout nog een maal en bid tot julle God die Here. Vra dat Hy hierdie sprinkane wat al die plante doodmaak, moet wegvat.” Moses het weggegaan van die farao en hy het tot die Here gebid. Die Here het die wind verander en 'n baie sterk westewind het begin waai. Die wind het die sprinkane in die Riet-see ingewaai. Daar het nie een sprinkaan oorgebly in die hele Egipte nie. Maar die Here het die farao hardkoppig gemaak. Die farao het nie die Israeliete laat gaan nie. Die Here het vir Moses gesê: “Steek jou hand op in die lug. Dan sal dit donker word in Egipte, pikdonker, sodat jy moet voel waar jy loop.” Moses het sy hand opgesteek in die lug, en toe word dit baie donker in die hele Egipte, drie dae lank. Die Egiptenaars kon mekaar nie sien nie, en drie dae lank moes almal bly waar hulle is. Maar daar was lig in al die Israeliete se woonplekke. Die farao het vir Moses geroep en gesê: “Julle mag die Here gaan dien. Julle vroue en kinders mag saam met julle gaan. Maar julle skape en bokke en julle beeste moet hier bly.” Moses het gesê: “Jy moet self vir ons offers en brand-offers gee om vir ons God die Here te offer. En ons diere moet ook saam met ons gaan. Daar mag nie een dier hier bly nie. Ons weet nog nie watter diere ons vir die Here moet offer nie. Ons sal dit weet nadat ons daar aangekom het.” Die Here het die farao hardkoppig gemaak. Hy wou nie die Israeliete laat gaan nie. Die farao het vir Moses gesê: “Gaan weg van my. Ek wil jou nooit weer sien nie, want as ek jou weer sien, dan sal ek jou doodmaak.” Moses het gesê: “Dit is reg wat jy gesê het, jy sal my nooit weer sien nie.”
EKSODUS 10:1-29 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
VERDER het die HERE vir Moses gesê: Gaan na Farao toe, want Ék het sy hart verhard, ook die hart van sy dienaars, sodat Ek hierdie tekens van My onder hulle kan verrig, en dat jy voor die ore van jou kind en jou kindskind kan vertel wat Ek Egipte aangedoen het, en my tekens wat Ek onder hulle gedoen het, dat julle kan weet dat Ek die HERE is. Toe gaan Moses en Aäron na Farao, en hulle sê vir hom: So spreek die HERE, die God van die Hebreërs: Hoe lank weier jy om jou voor My te verootmoedig? Laat my volk trek, dat hulle My kan dien. Want as jy weier om my volk te laat trek, kyk, dan bring Ek môre sprinkane in jou grondgebied, en hulle sal die oppervlakte van die land oordek, sodat 'n mens die land nie sal kan sien nie. En hulle sal die oorblyfsel afeet van wat gered is, wat vir julle van die hael oorgebly het; en al die bome wat vir julle uit die veld opgroei, sal hulle afeet. En jou huise en die huise van al jou dienaars en die huise van al die Egiptenaars sal vol van hulle wees — soos jou vaders en die vaders van jou vaders nie gesien het van die dag af dat hulle op die aarde gewees het tot vandag toe nie. Daarop het hy omgedraai en van Farao af weggegaan. Toe vra Farao se dienaars vir hom: Hoe lank sal die man vir ons 'n strik wees? Laat die manne trek, dat hulle die HERE hulle God kan dien. Weet u nog nie dat Egipte te gronde gaan nie? Daarop bring hulle Moses en Aäron na Farao terug, en hy sê vir hulle: Gaan heen, dien die HERE julle God. Wie is dit eintlik wat wil gaan? En Moses antwoord: Ons wil gaan met ons jong mense en ons ou mense, met ons seuns en ons dogters; met ons kleinvee en ons beeste wil ons gaan, want ons wil 'n fees vir die HERE hou. Toe sê hy vir hulle: Mag die HERE só met julle wees as wat ek julle en julle kinders sal laat trek! Pas op, want julle het 'n verkeerde ding voor oë. Nie so nie! Gaan dan, julle manne, en dien die HERE, want dít het julle verlang. En hulle het hulle van Farao af weggedrywe. Toe sê die HERE vir Moses: Steek jou hand uit oor Egipteland vanweë die sprinkane, dat hulle opkom oor Egipteland en al die plante van die land opeet, alles wat die hael laat oorbly het. En Moses het sy staf oor Egipteland uitgesteek, en die HERE het 'n oostewind in die land gebring, daardie hele dag en die hele nag; toe dit môre word, het die oostewind die sprinkane aangevoer: die sprinkane het opgekom oor die hele Egipteland en in die hele gebied van Egipte gaan sit, 'n baie groot menigte — tevore was daar so 'n sprinkaanswerm nie gewees nie, en daarna sal so iets nie weer voorkom nie. En hulle het die oppervlakte van die hele land bedek, sodat die land swart was; en hulle het al die plante van die land opgeëet en al die vrugte van die bome wat die hael laat oorbly het — daar het geen groenigheid aan die bome of plante van die veld in die hele Egipteland oorgebly nie. Toe het Farao gou vir Moses en Aäron laat roep en gesê: Ek het gesondig teen die HERE julle God en teen julle. Vergeef dan tog nou net dié keer my sonde, en bid tot die HERE julle God, dat Hy net hierdie dood van my af wegneem. En hy het van Farao af weggegaan en tot die HERE gebid. Daarop laat die HERE die wind omslaan in 'n baie sterk westewind; dié het die sprinkane opgetel en hulle in die Skelfsee gedrywe. Daar het nie een sprinkaan in die hele gebied van Egipte oorgebly nie. Maar die HERE het Farao se hart verhard, sodat hy die kinders van Israel nie laat trek het nie. VERDER het die HERE vir Moses gesê: Steek jou hand na die hemel uit, en daar sal duisternis oor Egipteland kom, sodat 'n mens die duisternis kan gryp. Toe Moses sy hand uitsteek na die hemel, kom daar 'n dik duisternis in die hele Egipteland, drie dae lank. Die een het die ander nie gesien nie, en niemand het van sy plek opgestaan nie, drie dae lank. Maar al die kinders van Israel het lig in hulle woonplekke gehad. Toe het Farao Moses laat roep en gesê: Gaan heen, dien die HERE; net julle kleinvee en julle beeste moet agtergehou word. Selfs julle kinders kan met julle saamgaan. Maar Moses antwoord: U moet self ook slagoffers en brandoffers met ons saam gee, dat ons dit aan die HERE onse God kan aanbied. En ons vee moet ook met ons saamgaan: daar mag geen klou agterbly nie! Want daarvan moet ons neem om die HERE onse God te dien. En ons weet nie waarmee ons die HERE onse God sal dien voordat ons daar kom nie. Maar die HERE het Farao se hart verhard, en hy wou hulle nie laat trek nie. Maar Farao sê vir hom: Gaan weg van my af! Pas op dat jy my aangesig nie weer sien nie; want die dag as jy my aangesig sien, sal jy sterwe. En Moses antwoord: U het reg gepraat. Ek sal u aangesig nie weer sien nie.
EKSODUS 10:1-29 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daarna het die Here vir Moses gesê: “Gaan na die farao toe, want Ek het hom en sy amptenare onversetlik gemaak sodat Ek hierdie wonders van My onder hulle kan doen. Dan kan jy aan jou kinders en kleinkinders vertel wat Ek aan die Egiptenaars gedoen het en watter wonders Ek onder hulle verrig het om julle te laat besef dat Ek die Here is.” Moses en Aäron het toe na die farao toe gegaan en vir hom gesê: “So sê die Here die God van die Hebreërs: Hoe lank gaan jy nog weier om jou aan My te onderwerp? Laat my volk gaan om My te dien! As jy weier om my volk te laat gaan, bring Ek môre 'n sprinkaanplaag oor jou land. Die land sal so toe wees onder hulle dat 'n mens nie die grond sal kan sien nie. Hulle sal elke groenigheidjie afvreet wat oorgebly het na die hael, selfs dié van elke boom wat weer uitloop. Hulle sal oral in jou paleise wees, in die huise van al jou amptenare en van elke Egiptenaar. So iets het julle en al julle voorvaders nog nooit gesien vandat hulle in die land is tot nou toe nie.” Toe het Moses omgedraai en van die farao af weggegaan. Die amptenare sê toe vir die farao: “Hoe lank gaan dié man nog vir ons moeilikheid gee? Laat hulle nou maar gaan om hulle God, die Here, te dien, maar net die mans. U sien tog dat Egipte te gronde gaan.” Toe is Moses en Aäron na die farao toe teruggebring en hy sê vir hulle: “Gaan dien julle God, die Here! Maar wie gaan almal saam?” Moses antwoord: “Ons gaan almal, met ons jong manne en ons ou manne, met ons seuns en ons dogters, met ons kleinvee en ons grootvee, want ons moet vir die Here 'n fees gaan hou.” Maar die farao sê vir hulle: “Die Here is net so min met julle as wat ek julle vrouens en kinders saam met julle sal laat gaan. Julle het 'n verkeerde ding in die kop. So sal ek dit nie toelaat nie! Net die mans gaan! Gaan dien die Here; dit is mos wat julle nog altyd vra!” Toe is hulle van die farao af weggejaag. Daarna het die Here vir Moses gesê: “Steek jou hand uit oor Egipte dat daar sprinkane oor die land kan kom om elke groen sprietjie op te vreet wat van die hael oorgebly het.” Toe steek Moses sy kierie oor Egipte uit, en die Here het daardie hele dag en nag 'n oostewind laat waai wat die sprinkane aangebring het. Die volgende môre was hulle daar. Hulle het oor Egipte gekom en die hele land vol gesit, 'n yslike groot sprinkaanswerm, soos daar nog nooit tevore was nie en hierna ook nie weer sal wees nie. Die land was toe onder hulle en dit was donker. Hulle het elke groen sprietjie in die land opgevreet, en alles wat na die hael aan die bome oorgebly het. Daar het geen groenigheid aan 'n boom of 'n plant in Egipte oorgebly nie. Die farao laat toe haastig vir Moses en Aäron roep en hy sê: “Ek het verkeerd gedoen teen julle God, die Here, en teen julle! Vergeef tog asseblief net hierdie keer my oortreding! Bid tot julle God, die Here, dat Hy hierdie dood afweer van my af.” Moses het van die farao af weggegaan en tot die Here gebid. Toe laat die Here die wind verander in 'n sterk westewind wat die sprinkane opgeskep het en in die Rietsee gegooi het. Daar het nie een enkele sprinkaan in die hele Egiptiese gebied oorgebly nie. Maar die Here het die farao weer koppig gemaak, en hy het die Israeliete nie laat gaan nie. Daarna het die Here vir Moses gesê: “Steek jou hand in die lug op, dan sal dit donker word in Egipte, so donker dat 'n mens dit kan voel.” Moses het toe sy hand in die lug opgesteek, en drie dae lank was dit pikdonker oor die hele Egipte. Die mense kon mekaar nie sien nie en drie dae lank kon niemand iets uitrig nie, maar in al die woongebiede van die Israeliete was daar lig. Toe laat die farao vir Moses roep en sê: “Gaan dien die Here! Julle vrouens en kinders kan saamgaan, maar julle kleinvee en julle grootvee moet hier agterbly.” Maar Moses sê: “U sal tog nie vir ons brandoffers en ander diereoffers gee om aan ons God, die Here, te bring nie! Daarom gaan ons vee beslis met ons saam. Daar bly nie 'n kloutjie agter nie. Ons moet van die vee gebruik om ons God, die Here, te dien en voordat ons daar aankom, weet ons nog nie met watter offer ons Hom sal dien nie.” Maar die Here het die farao weer koppig gemaak, sodat hy hulle nie wou laat gaan nie. Toe het die farao vir Moses gesê: “Maak dat jy hier wegkom! Sorg dat ek jou nie weer sien nie, want die oomblik dat ek jou weer sien, sterf jy!” Moses het geantwoord: “Soos u sê: u sal my nie weer sien nie.”
EKSODUS 10:1-29 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die HERE het vir Moses gesê: “Gaan na die farao, want dit is Ek wat sy hart en die harte van sy amptenare verhard het, sodat Ek hierdie tekens van My in hulle midde kon laat gebeur, en sodat jy ten aanhore van jou kinders en kleinkinders kan vertel hoe Ek die Egiptenare vir die gek gehou het, en van my tekens wat Ek onder hulle gedoen het, en sodat julle kan weet dat Ek die HERE is.” Moses en Aäron het toe na die farao gegaan en vir hom gesê: “So sê die HERE, die God van die Hebreërs, ‘Hoe lank nog gaan jy weier om jou aan My te onderwerp? Laat my volk gaan, sodat hulle My kan dien. Want as jy aanhou weier om my volk te laat gaan – kyk, Ek gaan môre treksprinkane oor jou grondgebied bring. En hulle sal die oppervlakte van die land bedek, sodat 'n mens nie die grond sal kan sien nie. Hulle sal die min wat oor is, wat vir julle ná die hael oorgebly het, verslind; en hulle sal elke boom in die veld wat weer vir julle uitloop, kaal vreet. Hulle sal jou huise, die huise van al jou amptenare en die huise van al die Egiptenare vul – soos jou ouers en grootouers nie gesien het nie, van die dag dat hulle op aarde gekom het tot vandag toe.’ ” Daarna het Moses omgedraai en van die farao af weggegaan. Die farao se amptenare sê toe vir hom: “Hoe lank gaan hierdie man nog vir ons 'n valstrik wees? Laat die manne gaan, sodat hulle die HERE hulle God kan gaan dien. Besef u nie dat Egipte ten gronde gaan nie?” Moses en Aäron is toe teruggebring na die farao. Hy het vir hulle gesê: “Gaan dien die HERE julle God. Maar wie gaan almal?” Moses het geantwoord: “Met ons jongmense en ons bejaardes moet ons gaan; met ons seuns en dogters, met ons kleinvee en grootvee moet ons gaan, want vir ons is dit 'n fees van die HERE. ” Die farao sê toe vir hulle: “Net so min as wat die HERE met julle sal wees, so min sal ek julle en julle afhanklikes laat gaan! Kyk, wat julle beoog, is verkeerd. Dit sal nie so wees nie! Gaan julle manne maar, en dien die HERE, want dit is mos wat julle versoek.” Hulle is toe uit die farao se teenwoordigheid weggejaag. Die HERE het vir Moses gesê: “Strek jou hand uit oor Egipteland vir die sprinkane, sodat hulle opkom oor Egipteland en alle plante op die grond verslind wat die hael laat oorbly het.” Moses het toe sy staf oor Egipteland uitgesteek, en die HERE het 'n oostewind daardie hele dag en die hele nag oor die land laat waai. Toe dit môre word, het die oostewind die treksprinkane gebring. Die treksprinkane het oor die hele Egipteland gekom en in elke streek van Egipte neergestryk. Daar was geweldig baie. Voorheen was daar nog nie 'n sprinkaanswerm soos dié een nie, en daarna sou daar nie weer so iets wees nie. Hulle het die oppervlakte van die land bedek, sodat die land donker geword het. Hulle het alle plante op die grond verslind, en ook al die vrugte aan die bome wat die hael vrygespring het. Daar het in die hele Egipteland nie enige groenigheid aan die bome en die plante van die veld oorgebly nie. Die farao het hom gehaas om Moses en Aäron te ontbied en gesê: “Ek het teen die HERE, julle God, en teen julle gesondig. Vergewe nou asseblief net hierdie keer my sonde. Pleit by die HERE, julle God, dat Hy tog net hierdie dood van my af moet wegneem.” Moses het van die farao af weggegaan en by die HERE gepleit. Die HERE het toe die wind in 'n baie sterk westewind verander. Dit het die treksprinkane meegevoer en in die Rietsee ingedryf. Daar het nie 'n enkele sprinkaan in enige streek van Egipte oorgebly nie. Maar die HERE het die hart van die farao verhard, en hy het nie die Israeliete laat gaan nie. Die HERE het vir Moses gesê: “Strek jou hand uit na die hemel, sodat daar 'n duisternis oor Egipteland kom, 'n tasbare duisternis.” Moses het sy hand na die hemel uitgestrek, en drie dae lank was daar 'n diepe duisternis oor die hele Egipteland. Die mense kon mekaar nie sien nie, en drie dae lank het niemand van sy plek af opgestaan nie. Vir al die Israeliete was dit egter lig in hulle woonplekke. Die farao het Moses ontbied en gesê: “Gaan dien julle die HERE! Net julle kleinvee en grootvee moet agtergelaat word. Julle afhanklikes kan ook saam met julle gaan.” Maar Moses het geantwoord: “U moet dan ook vir ons slagoffers en •brandoffers saamgee, sodat ons vir die HERE ons God kan offer. Ons vee moet ook saam met ons gaan. Geen kloutjie mag agterbly nie, want ons moet van die vee neem om die HERE ons God mee te dien. Totdat ons daar aangekom het, weet ons egter self nie waarmee ons die HERE ons God moet dien nie.” Maar die HERE het die farao se hart verhard, en hy wou hulle nie laat gaan nie. Toe sê die farao vir hom: “Gaan weg van my af! Pasop, jy mag my gesig nie weer sien nie, want die dag wat jy my gesig sien, sterf jy.” Moses het geantwoord: “Dit is soos u sê. Ek sal u gesig nie weer sien nie. ”
EKSODUS 10:1-29 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe sê die HERE vir Moses: Gaan in na Farao, want Ek het sy hart en die hart van sy dienaars verhard om hierdie my tekens voor hom te verkondig. En dat jy voor die ore van jou seun en van jou seun se seun kan vertel wat Ek in Egipte gedoen het, en my tekens wat Ek onder hulle gedoen het; sodat julle kan weet dat Ek die HERE is. Toe kom Moses en Aäron na Farao en sê vir hom: So spreek die HERE, die God van die Hebreërs: Hoe lank sal jy weier om jou voor My te verootmoedig? laat my volk trek, dat hulle My kan dien. Anders, as jy weier om my volk te laat trek, kyk, môre sal Ek die sprinkane in jou gebied inbring. En hulle sal die oppervlakte van die aarde bedek, sodat 'n mens die aarde nie kan sien nie; en hulle sal die oorblyfsel eet van die ontkomings wat vir julle oorbly van die hael, en hulle sal al die bome eet wat vir julle uitspruit van die veld: En hulle sal jou huise vul en die huise van al jou dienaars en die huise van al die Egiptenaars; wat nie jou vaders en jou vaders se vaders gesien het van die dag af dat hulle op die aarde was tot vandag toe nie. En hy het hom omgedraai en van Farao af weggegaan. Toe sê die dienaars van Farao vir hom: Hoe lank sal hierdie man vir ons 'n strik wees? laat die manne trek, dat hulle die HERE hulle God kan dien; weet jy nog nie dat Egipte verwoes is nie? En Moses en Aäron is na Farao teruggebring, en hy het vir hulle gesê: Gaan dien die HERE julle God, maar wie is dit wat sal gaan? Toe sê Moses: Ons sal gaan met ons kleinvee en met ons oues, met ons seuns en met ons dogters, met ons kleinvee en met ons beeste; want ons moet 'n fees tot eer van die HERE hou. En hy sê vir hulle: Laat die HERE so met julle wees, soos Ek julle en julle kindertjies sal laat trek; want die kwaad is voor jou. Nie so nie; gaan nou, julle mense, en dien die HERE; daarvoor het julle begeer. En hulle is van Farao se aangesig verdryf. Toe sê die HERE vir Moses: Steek jou hand uit oor Egipteland vir die sprinkane, dat hulle oor Egipteland kan optrek en al die plante van die land eet, alles wat die hael oorgebly het. En Moses het sy staf oor Egipteland uitgesteek, en die HERE het daardie hele dag en daardie hele nag 'n oostewind oor die land gebring; en toe dit môre word, het die oostewind die sprinkane gebring. En die sprinkane het oor die hele Egipteland opgetrek en in al die streke van Egipte gerus; baie swaar was hulle; voor hulle was daar geen sprinkane soos hulle nie, en ná hulle sal dit ook nie wees nie. Want hulle het die hele aarde bedek, sodat die land verduister is; en hulle het al die plante van die land geëet en al die vrugte van die bome wat die hael oorgebly het, en daar het geen groenigheid aan die bome of aan die plante van die veld oorgebly in die hele Egipteland nie. Toe het Farao vir Moses en Aäron haastig geroep; en hy sê: Ek het gesondig teen die HERE jou God en teen jou. Vergewe dan nou tog net hierdie een keer my sonde, en smeek die HERE jou God, dat Hy net hierdie dood van my af wegneem. En hy het van Farao af weggegaan en die HERE gebid. En die HERE het 'n geweldige sterk westewind laat draai, wat die sprinkane weggeneem en in die Skelfsee gegooi het; daar het nie een sprinkaan in al die streke van Egipte oorgebly nie. Maar die HERE het Farao se hart verhard, sodat hy die kinders van Israel nie laat trek het nie. Toe sê die HERE vir Moses: Steek jou hand uit na die hemel, dat daar duisternis oor Egipteland kan wees, ja, duisternis wat gevoel kan word. En Moses het sy hand na die hemel uitgesteek; en daar was 'n digte duisternis in die hele Egipteland drie dae lank. Hulle het mekaar nie gesien nie, en drie dae lank het niemand uit sy woonplek opgestaan nie, maar al die kinders van Israel het lig in hulle wonings gehad. Toe het Farao Moses geroep en gesê: Gaan dien die HERE; laat net julle kleinvee en julle beeste bly staan; laat julle kindertjies ook saam met julle gaan. Toe sê Moses: U moet ook vir ons slagoffers en brandoffers gee, dat ons aan die HERE onse God kan offer. Ook ons vee sal saam met ons gaan; daar mag geen klou agterbly nie; want daarvan moet ons neem om die HERE onse God te dien; en ons weet nie waarmee ons die HERE moet dien totdat ons daarheen gekom het nie. Maar die HERE het Farao se hart verhard, en hy het hulle nie laat gaan nie. Toe sê Farao vir hom: Gaan weg van my af, pas op vir jouself, sien my aangesig nie meer nie; want in dié dag as jy my aangesig sien, sal jy sterwe. Toe sê Moses: Jy het goed gepraat, ek sal jou aangesig nie meer sien nie.
EKSODUS 10:1-29 Die Boodskap (DB)
Die Here het vir Moses gesê: “Gaan stel weer jou eis vir die farao. Ek het hom en sy leiers hardkoppig gemaak sodat Ek rede kan hê om al hierdie dinge met hulle te laat gebeur. Julle kan aan julle nageslag gaan vertel hoe Ek met al hierdie dinge wat Ek gedoen het, die Egiptenaars belaglik gemaak het. Ek het dit gedoen om vir julle te wys hoe sterk Ek is en om julle almal te oortuig dat Ek werklik die Here is.” Moses en Aäron is toe na die farao toe. “So sê die Here, die God van die Hebreërs,” sê hulle vir hom. “Hoe lank gaan jy nog bly weier om voor My te buig? Jy moet dadelik my volk laat gaan dat hulle My kan gaan aanbid! As jy aanhou weier om my volk te laat gaan, bring Ek sommer môre nog ’n ramp van sprinkane in jou land. Daar sal so baie sprinkane wees dat jy nie eens die grond onder hulle sal kan sien nie. Hulle sal elke krieseltjie groenigheid afvreet wat daar na die haelstorm oorgebly het. Selfs die bome, wat intussen weer begin uitloop het, sal hulle kaalstroop. Hulle sal oral in jou paleis en in die huise van julle leiers en oor die hele Egipte kom. So ver as wat mense kan terugdink, sal hulle nie kan onthou dat so iets al ooit gebeur het nie.” Moses het toe sy rug vir die farao gedraai en is daar weg sonder om hom te groet. Die mense wat vir die farao raad gee, het toe vir hom gevra: “Hoe lank moet ons nog met hierdie probleem sit? Laat tog die mansmense gaan dat hulle tot die Here hulle God kan gaan bid. U kan mos sien Egipte is besig om tot niet te gaan!” Die farao het toe vir Moses en Aäron laat roep. Hy het vir hulle gesê: “Nou goed dan, gaan tog en loop bid tot die Here julle God. Maar sê my: Presies wie almal wil julle hê moet saamgaan?” “Ons almal,” sê Moses vir hom, “ons wil almal gaan met ons jongmense en ons oumense, ons seuns en ons dogters. Ons wil ook ons kleinvee en ons beeste saamvat. Ons wil almal saam vir die Here ’n fees gaan hou.” Hy sê toe vir hulle: “Die Here sal aan julle kant moet wees en julle help voor ek die dag julle almal en al julle afhanklikes sommerso sal laat gaan. Dit is duidelik dat julle ’n skelm plan in die mou voer. Niks daarvan nie! Net die mansmense kan gaan om tot die Here te gaan bid. Dit is mos wat julle nog heeltyd bly vra het!” Hy het toe vir Moses en Aäron daar weggejaag. Die Here het toe vir Moses gesê: “Steek jou hand uit en hou dit oor die hele Egipte sodat die sprinkane deur die hele land kan trek. Hulle sal elke groenigheidjie wegvreet wat na die haelstorm oorgebly het.” Toe Moses sy kierie oor Egipte uitsteek, het die Here ’n oostewind oor die land laat waai, dwarsdeur die dag en ook deur die nag. Teen die volgende oggend het dit sprinkane oor die land begin inwaai. Die sprinkane het oor die hele Egipte versprei. Hulle het in groot swerms op alles toegesak. So iets het nog nooit tevore of ook daarna ooit weer daar gebeur nie. Hulle het die grond toegemaak. Dit was sommer donker oor die aarde. Hulle het alles voor die voet weggevreet wat groen was op die grond en wat na die hael aan die bome oorgebly het. In die hele Egipte het daar nie ’n blaartjie aan ’n boom of ’n grassie in die veld oorgebly nie. Die farao het Moses en Aäron dringend laat roep. Hy bieg toe by hulle: “Ek erken ek het ’n fout gemaak. Ek het my misgis met die Here julle God en ook met julle. Vergeef tog net hierdie een keer my fout. Gaan pleit by die Here julle God dat Hy asseblief hierdie dood van my nek moet afhaal.” Moses het van die farao af weggegaan en tot die Here gaan bid. Die Here het toe die wind van die see af laat omswaai in ’n baie sterk westewind. Dit het al die sprinkane in die See van Riete ingewaai. Daar het nie een enkele sprinkaan in die hele Egipte agtergebly nie. Die Here het egter weer die farao se hardkoppigheid die oorhand oor hom laat kry. Hy wou weer nie kopgee om die Israeliete te laat gaan nie. Die Here het Moses beveel: “Hou jou hand na die hemel toe. Dit sal donker word oor Egipte. Dit sal so donker word dat ’n mens amper aan die donker sal kan vat.” Moses het sy hand boontoe uitgestrek. Dit het drie dae lank stikdonker geword oor die hele Egipte. Drie dae lank kon die Egiptenaars mekaar glad nie sien nie en nie een kon ’n voet versit nie. Waar die Israeliete gewoon het, was dit egter helder daglig. Die farao het toe vir Moses laat kom en vir hom gesê: “Loop tog en gaan bid tot die Here. Julle moet net julle kleinvee en beeste hier los. Selfs julle kinders kan saam met julle gaan.” Moses was vererg en het hom geantwoord: “Dan sal u maar self die diere moet verskaf vir die slagoffers en brandoffers wat ons vir die Here ons God moet bring. Ons diere moet saam met ons gaan. Daar mag niks agterbly nie. Ons moet uit ons eie diere vir die Here ons God offer. Boonop weet ons glad nie wat ons vir die Here sal moet offer voor ons eers daar aangekom het nie.” Die Here het die farao maar weer laat vassteek. Hy was glad nie bereid om hulle te laat gaan nie. Hy het vir Moses geskreeu: “Gee pad voor my! Ek wil jou nooit weer sien nie! As ek jou ooit weer sien, gaan ek jou doodmaak!” Moses sê toe vir hom: “Jy is hierdie keer reg. Jy sal my nooit weer sien nie.”
EKSODUS 10:1-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die HERE sê toe vir Moses: “Gaan weer terug na die farao toe. Ek het hom en sy amptenare onwillig gemaak sodat Ek hierdie rampe oor hulle kan laat kom. Jy sal vir jou nageslag kan vertel wat Ek alles met die Egiptenaars gedoen het en wat Ek alles tussen hulle laat gebeur het. Ek doen dit sodat julle kan weet dat Ek die HERE is.” Moses en Aäron is toe weer na die farao toe. Hulle het vir hom gesê: “Die HERE, die God van die Hebreërs, vra vir jou: ‘Hoe lank gaan jy aanhou weier om na My te luister? Laat my volk gaan sodat hulle My kan gaan aanbid. As jy aanhou weier om my volk te laat gaan, gaan Ek môre sprinkane oor jou hele land laat kom. Daar sal so baie van hulle wees dat jy nie eers die grond onder hulle sal kan sien nie. Hulle sal alles wat van die haelstorm oorgebly het, wegvreet. Hulle sal selfs die bome wat weer begin uitloop het, kaal stroop. Hulle sal inkruip in jou paleis en in jou amptenare se huise en in al die huise in Egipte. Vandat jou voorgeslag hier woon, het niemand in Egipte nog ooit so ’n groot ramp beleef nie!’” Nadat hy dit gesê het, het Moses sy rug op die farao gedraai en weggeloop. Die farao se amptenare het toe by hom kom kla: “Hoe lank gaan u nog toelaat dat hierdie rampe aangaan? Laat tog die mans gaan dat hulle die HERE hulle God kan gaan aanbid. Sien u nie dat Egipte in duie stort nie?” Moses en Aäron is toe weer teruggeroep na die farao toe. “Goed,” het hy gesê, “gaan dan tog en aanbid die HERE julle God. Sê net ’n bietjie vir my wie gaan almal saam?” “Ons gaan almal saam, van oud tot jonk,” het Moses geantwoord. “Ons vat ons seuns en ons dogters en al ons beeste en ons vee saam. Ons moet almal deelneem aan die fees vir die HERE.” Die farao het geantwoord: “Die HERE sal beslis eers vir julle moet help voordat ek julle met al julle afhanklikes net so sal laat gaan. Julle voer een of ander skelm plan in die mou. Nee, net die mans mag gaan om tot die HERE te bid. Dit is waarvoor julle gevra het.” Toe het die farao hulle weggejaag. Maar die HERE sê vir Moses: “Steek jou hand uit oor Egipte sodat die sprinkane oor die land kan kom. Hulle sal alles wegvreet wat na die haelstorm oorgebly het.” Moses het sy stok oor Egipte uitgesteek. Die HERE het die hele dag en ook deur die nag ’n oostewind laat waai. Toe dit oggend word, het die wind die sprinkane begin aanbring. Die sprinkane het op die hele Egipte toegesak. Deur die hele land was dit net sprinkane. Nog nooit in Egipte se geskiedenis is so baie sprinkane gesien nie, ook nooit weer daarna nie. Hulle was oor alles. Die grond was toe onder hulle. Hulle het al die plante en vrugte weggevreet wat na die haelstorm oorgebly het. Daar het nie ’n krieseltjie groenigheid oorgebly nie. Daar was nie ’n boom of ’n plant oor in die hele Egipte nie. Die farao het Moses en Aäron toe dringend laat roep. “Ek het verkeerd gemaak met die HERE julle God en met julle,” het hy vir hulle gesê. “Vergewe my tog hierdie keer. Pleit tog by die HERE julle God om hierdie dodelike ramp te laat ophou.” Moses is weg van die farao af en het tot die HERE gebid. Die HERE het die wind laat omswaai. Hy het ’n sterk wind uit die weste laat waai wat die sprinkane in die Rietsee ingewaai het. Daar het nie ’n enkele sprinkaan in die hele Egipte oorgebly nie. Die HERE het Farao egter weer hardkoppig laat word en hy het geweier om die Israeliete te laat gaan. Die HERE het toe vir Moses gesê: “Steek jou hand in die lug op. Dit sal stikdonker word oor die hele Egipte. ’n Mens sal amper daaraan kan vat.” Moses het sy hand in die lug opgesteek. Dit was drie dae lank stikdonker in die hele Egipte. Vir drie dae lank kon die mense mekaar nie sien nie en nie ’n voet versit nie. Waar die Israeliete gebly het, was dit egter helder sonskyn. Die farao het Moses laat kom. “Loop en gaan aanbid die HERE,” het hy gesê. “Net julle beeste en skape moet hier bly. Julle vroue en kinders kan maar saam met julle gaan.” “U sal tog nie van u eie diere gee om vir die HERE ons God te offer nie,” het Moses geantwoord. “Al ons diere moet saam met ons gaan. Daar kan nie een agterbly nie. Uit hulle moet ons vir die HERE offers bring. Ons kan ook nie voor die tyd weet watter offers ons daar gaan nodig kry nie.” Die HERE het die farao maar weer hardkoppig gemaak. Hy het steeds nie ingestem om hulle te laat gaan nie. “Loop hier weg!” het die farao vir Moses geskreeu. “Sorg dat ek jou nooit weer sien nie. As ek jou ooit weer sien, maak ek jou dood!” “Nou goed dan!” het Moses geantwoord. “Dit is net soos u sê. Ek sal u nooit weer sien nie.”