EKSODUS 1:15-21
EKSODUS 1:15-21 Bybel vir almal (ABA)
Die koning van Egipte het ook met die Hebreeuse vroedvroue gepraat. Die een vroedvrou se naam was Sifra, en die ander vroedvrou se naam was Pua. Die koning het vir hulle gesê: “Wanneer julle die Hebreeuse vroue help wat kinders kry, en julle sien dit is 'n seun, dan moet julle hom doodmaak. Maar wanneer dit 'n dogter is, dan mag sy lewe.” Die vroedvroue was bang dat God hulle sal straf, en hulle het nie gedoen wat die koning van Egipte vir hulle gesê het nie. Hulle het die seuns laat lewe. Die koning van Egipte roep toe die vroedvroue en vra vir hulle: “Hoekom doen julle nie wat ek gesê het nie? Hoekom maak julle nie die seuns dood nie?” Die vroedvroue het vir die farao gesê: “Die Hebreeuse vroue is nie soos die Egiptiese vroue nie. Die Hebreeuse vroue is sterk. Wanneer die vroedvrou by hulle kom, dan is die kind al klaar gebore.” God was goed vir die twee vroedvroue. God het vir hulle kinders gegee omdat hulle gehoorsaam was aan Hom. Die Israeliete het baie geword, hulle het 'n sterk volk geword.
EKSODUS 1:15-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En die koning van Egipte het met die Hebreeuse vroedvroue — die een se naam was Sifra en die ander se naam Pua — gespreek en gesê: As julle die Hebreeuse vroue by 'n geboorte help, moet julle na die geboortestoel kyk: as dit 'n seun is, maak hom dood; maar is dit 'n dogter, laat haar lewe. Maar die vroedvroue het God gevrees en nie gedoen soos die koning van Egipte aan hulle gesê het nie, maar die seuntjies laat lewe. Toe laat die koning van Egipte die vroedvroue roep, en hy sê vir hulle: Waarom het julle dit gedoen en die seuntjies laat lewe? En die vroedvroue sê vir Farao: Die Hebreeuse vroue is nie soos die Egiptiese nie, want hulle is sterk — voordat die vroedvrou by hulle kom, het hulle al gebaar. Maar God het aan die vroedvroue weldadigheid bewys. En die volk het vermenigvuldig en baie magtig geword. En omdat die vroedvroue God gevrees het, het Hy huisgesinne aan hulle geskenk.
EKSODUS 1:15-21 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die Egiptiese koning het vir die Hebreeuse vroedvroue Sifra en Pua gesê: “As julle 'n Hebreeuse vrou by geboorte bystaan en julle sien by die kraambed dat dit 'n seun is, moet julle hom doodmaak, maar as dit 'n dogter is, mag sy bly lewe.” Maar die vroedvroue het God gedien en nie gemaak soos die Egiptiese koning hulle beveel het nie: hulle het die seuntjies laat lewe. Die Egiptiese koning het die vroedvroue ontbied en vir hulle gevra: “Waarom doen julle dit? Waarom laat julle die seuntjies lewe?” Toe antwoord die vroedvroue die farao: “Die Hebreeuse vrouens is nie soos dié van Egipte nie, hulle is sterk van gestel: voordat die vroedvrou by hulle kom, is die kind al gebore.” As gevolg hiervan het die volk aanhou vermeerder en baie talryk geword. God het toe die vroedvroue self ook voorspoedig gemaak. Omdat hulle Hom gedien het, het Hy vir hulle huisgesinne gegee.
EKSODUS 1:15-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die koning van Egipte het toe met die Hebreeuse vroedvroue, wie se name Sifra en Pua was, gepraat. Hy het gesê: “Wanneer julle die Hebreeuse vroue met 'n bevalling help, kyk wat die baba se geslag is. As dit 'n seun is, maak hom dood; maar as dit 'n dogter is, laat haar leef.” Maar die vroedvroue het vir God ontsag gehad en hulle het nie gedoen wat die koning van Egipte vir hulle gesê het nie. Hulle het die seuntjies laat leef. Die koning van Egipte het toe die vroedvroue ontbied en vir hulle gesê: “Waarom het julle dit gedoen? Julle laat die seuntjies leef!” “Omdat,” antwoord die vroedvroue toe die farao, “die Hebreeuse vroue nie is soos die Egiptiese vroue nie – hulle is vol lewenskrag. Voordat die vroedvrou by hulle uitkom, het hulle klaar geboorte gegee.” En God het die vroedvroue goed behandel. Die volk se getalle het vermeerder en hulle het besonder baie geword. Omdat die vroedvroue vir God ontsag gehad het, het Hy vir hulle huisgesinne voorsien.
EKSODUS 1:15-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En die koning van Egipte het met die Hebreeuse vroedvroue gespreek, waarvan die naam van die een Sifra was, en die naam van die ander Pua: En hy sê: As julle die amp van vroedvrou aan die Hebreeuse vroue doen en hulle op die stoelgang sien; as dit 'n seun is, moet julle hom doodmaak; maar as dit 'n dogter is, dan sal sy lewe. Maar die vroedvroue het God gevrees en nie gedoen soos die koning van Egipte hulle beveel het nie, maar die seuntjies in die lewe gebring. En die koning van Egipte het die vroedvroue laat roep en vir hulle gesê: Waarom het julle hierdie ding gedoen en die seuntjies in die lewe gebring? Toe sê die vroedvroue vir Farao: Omdat die Hebreeuse vroue nie is soos die Egiptiese vroue nie; want hulle is lewendig en word verlos voordat die vroedvroue by hulle inkom. Daarom het God die vroedvroue goed gehandel, en die volk het vermeerder en baie magtig geword. En omdat die vroedvroue God gevrees het, het hy vir hulle huise gemaak.
EKSODUS 1:15-21 Die Boodskap (DB)
Die koning van Egipte het Sifra en Pua, die Hebreërs se kraamverpleegsters, probeer dwing om iets leliks te doen. Hy wou hê hulle moes daarvoor sorg dat die seuntjies van die Hebreërs se vroue nie bly lewe nie. Wanneer hulle die vroue help om hulle kinders in die wêreld te bring, moes hulle die seuntjies laat doodgaan. As dit dogtertjies was, kon hulle bly lewe. Omdat hierdie twee verpleegsters respek vir God gehad het, het hulle nie gedoen wat die farao gesê het nie. Hulle het die seuntjies ook laat bly lewe. Die koning het toe die twee vroue laat kom. Hy vra vir hulle: “Nou hoekom laat julle die seuntjies bly lewe?” Die verpleegsters het die farao geantwoord: “Omdat die Hebreeuse vroue nie so sukkel soos die Egiptiese vroue nie. Teen die tyd dat die verpleegster by hulle kom om hulle te help is die babatjie al klaar gebore en dan kan ons niks daaraan doen nie.” Die Israeliete het op dié manier net al meer en al sterker geword. Die verpleegsters het respek vir God gehad. Daarom was Hy goed vir hulle en het hulle ook kinders laat kry.
EKSODUS 1:15-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die verpleegsters wat die Israelitiese vroue gehelp het om geboorte te gee se name was Sifra en Pua. Die koning van Egipte het vir hulle gesê: “Wanneer julle die Hebreeuse vroue help om geboorte te gee, moet julle elke seuntjie wat gebore word net daar doodmaak. As dit ’n dogtertjie is, mag sy maar bly lewe.” Omdat hierdie vroue die HERE gedien het, het hulle nie gedoen wat die koning van Egipte gesê het nie. Hulle het die seuntjies laat bly lewe. Die koning het die vroue toe laat roep en vir hulle gevra: “Hoekom maak julle so? Hoekom laat julle die seuntjies bly lewe?” “Meneer,” het die vroue geantwoord, “die Hebreeuse vroue is baie sterk. Teen die tyd dat die kraamverpleegster by hulle kom, het hulle alreeds geboorte gegee. Hulle is nie so stadig om geboorte te gee soos die vroue van Egipte nie.” God het dit goed laat gaan met die kraamverpleegsters. Die Israeliete het steeds al meer en al sterker geword. Omdat hierdie vroue in die HERE geglo het, het Hy vir hulle ook huisgesinne van hulle eie gegee.