ESTER 8:1-17

ESTER 8:1-17 Bybel vir almal (ABA)

Koning Ahasveros het dieselfde dag Haman se huis vir koningin Ester gegee, Haman was die vyand van die Judeërs. Mordegai het die belangrikste amptenaar van die koning geword, want Ester het vir die koning gesê dat Mordegai haar neef is. Die koning het sy seël afgehaal en hy het dit vir Mordegai gegee, dit was die seël wat hy voorheen weggeneem het van Haman. Ester het vir Mordegai gesê hy moet die bestuurder van Haman se huis wees. Daarna het Ester weer met die koning gaan praat. Sy het voor hom gaan lê en sy het gehuil. Sy het vir hom gevra dat hy moet keer dat die planne van Haman, die man van die nageslag van Agag, nie slaag nie, want Haman het slegte planne teen die Judeërs gemaak. Die koning het die goue septer na Ester toe uitgesteek, en Ester het opgestaan en voor die koning gaan staan. Sy het gesê: “As die koning dink dit is goed, en as jy dink dit is reg, dan moet jy asseblief iets doen vir my. As jy lief is vir my, dan moet jy sê dat jy die briewe van Haman stop. Haman, die man van die nageslag van Agag, het die briewe geskryf, want hy wou die Judeërs in al die provinsies van die koning laat doodmaak. Ek wil nie hê dat so 'n slegte ding met my volk gebeur nie. Ek wil nie hê dat hulle my familie doodmaak nie.” Koning Ahasveros het vir koningin Ester en vir die Judeër Mordegai gesê: “Julle weet dat ek Haman se huis vir Ester gegee het en dat hulle vir Haman aan die paal opgehang het omdat hy gesê het dat hulle die Judeërs moet doodmaak. Niemand kan 'n brief terugtrek as dit van die koning kom en as sy seël daarop is nie. Daarom moet julle nou self briewe skryf oor die Judeërs, julle moet skryf soos julle dink is goed. Julle mag sê die briewe kom van die koning en julle mag die seël van die koning op die briewe sit.” In daardie tyd, in die derde maand, die maand Siwan, op die 23ste dag van die maand, het Mordegai die sekretarisse van die koning laat roep. Hulle moes skryf wat Mordegai sê, hulle moes skryf aan die Jode, aan die hoof-amptenare, die goewerneurs en die amptenare in die 127 provinsies van die land Indië, tot by die land Kus. Hulle moes skryf aan elke provinsie en aan elke volk. Hulle moes elke volk se eie skrif en sy eie taal gebruik. Hulle moes ook die Judeërs se eie skrif en taal gebruik. Mordegai het geskryf dat die briewe van die koning kom en hy het die seël van die koning op die briewe gesit. Boodskappers het op vinnige perde van die koning gery om die briewe weg te neem na al die provinsies. In die briewe was geskryf dat die koning vir die Judeërs in elke stad sê dat hulle bymekaar mag kom om te veg om hulle lewe te beskerm. Daar was ook geskryf dat hulle al die manne mag doodmaak wat vir hulle aanval, dit maak nie saak van watter volk of provinsie die manne kom nie. Hulle mag ook die manne se vroue en kinders doodmaak, en hulle mag daardie manne se goed vat. Dit moes gebeur in al die provinsies van koning Ahasveros, op één dag, op die 13de dag van die twaalfde maand, die maand Adar. Die boodskappers moes briewe na elke provinsie neem en al die mense moes weet dat dit 'n wet van die koning is. Die Judeërs moes op daardie dag gereed wees om hulle vyande te straf. Die boodskappers het gery op vinnige perde van die koning. Die koning het gesê hulle moet gou maak. Die mense in die stad Susan het gehoor wat die koning gesê het en hulle het gejuig en feesgevier. Toe Mordegai weggaan van die koning, het hy koningsklere en 'n groot goue kroon gedra, die koningsklere was van blou wol-materiaal en linne. Sy bo-kleed was van pers wol-materiaal en fyn linne. Die Judeërs kon weer hoop. Hulle was bly en vrolik, hulle het geweet dat hulle belangrik is vir die koning. In elke provinsie en elke stad waar hulle gehoor het wat die koning besluit het, was die Judeërs bly en vrolik. Hulle het feesgevier, dit was vir hulle 'n goeie dag. Baie van die ander mense het gesê dat hulle ook Judeërs is, want hulle was baie bang vir die Judeërs.

ESTER 8:1-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

OP dieselfde dag het koning Ahasvéros aan koningin Ester die huis gegee van Haman, die teëstander van die Jode; en Mórdegai het voor die koning gekom, want Ester het vertel wat hy van haar was. En die koning het sy seëlring uitgetrek wat hy van Haman afgeneem het, en dit aan Mórdegai gegee; en Ester het Mórdegai aangestel oor die huis van Haman. EN Ester het weer voor die koning gespreek en voor sy voete neergeval en geween en hom gesmeek om die onheil van Haman, die Agagiet, en sy plan wat hy teen die Jode beraam het, te verydel. En die koning het die goue septer na Ester uitgesteek, en Ester het haar opgerig en voor die koning gaan staan en gesê: As die koning dit goedvind en ek genade voor hom gevind het en die saak reg is voor die koning en ek welgevallig is in sy oë, laat dan geskrywe word om die briewe met die plan van Haman, die seun van Hammedáta, die Agagiet, te herroep wat hy geskrywe het om die Jode wat in al die provinsies van die koning is, uit te roei. Want hoe sou ek kan aansien die onheil wat my volk sal tref? En hoe sou ek kan aansien die ondergang van my geslag? Toe sê koning Ahasvéros aan koningin Ester en aan die Jood Mórdegai: Kyk, die huis van Haman het ek aan Ester gegee, en hom het hulle aan die galg opgehang, omdat hy sy hand teen die Jode uitgesteek het. Skryf julle maar, wat die Jode betref, soos julle dit goedvind uit naam van die koning, en verseël dit met die seëlring van die koning; want 'n geskrif, in naam van die koning geskrywe en verseël met die seëlring van die koning, kan nie herroep word nie. Toe is in dieselfde tyd die skrywers van die koning geroep, in die derde maand, dit is die maand Siwan, op die drie-en-twintigste daarvan; en daar is geskrywe net soos Mórdegai beveel het, aan die Jode en aan die landvoogde en die goewerneurs en die vorste van die provinsies wat van Indië af tot by Kus lê, honderd-sewen-en-twintig provinsies, aan elke provinsie volgens sy skrif en aan elke volk in sy taal, en aan die Jode volgens hulle skrif en in hulle taal — hy het laat skrywe uit naam van koning Ahasvéros en dit verseël met die seëlring van die koning en briewe gestuur met rapportgangers te perd wat gery het op koninklike renperde uit die stoetery, dat die koning aan die Jode wat in elke stad woon, toegestaan het om bymekaar te kom en hulle lewe te verdedig, deur te verdelg en dood te maak en uit te roei elke gewapende mag van volk of provinsie wat hulle in benoudheid mag bring, saam met kindertjies en vroue, en hulle besittings as buit te plunder, op een dag in al die provinsies van koning Ahasvéros, op die dertiende van die twaalfde maand, dit is die maand Adar. 'n Afskrif van die bevelskrif moes as wet uitgevaardig word in elke provinsie, openbaar gemaak aan al die volke, sodat die Jode op dié dag gereed moes wees om hulle op hul vyande te wreek. Die rapportgangers wat op die koninklike renperde gery het, het op bevel van die koning haastig en gou weggegaan, en die wet is in die vesting Susan uitgevaardig. En Mórdegai het van die koning weggegaan in 'n koninklike kleed van pers en wit, met 'n groot goue kroon op en 'n mantel van fyn linne en purperrooi stof, terwyl die stad Susan jubel en vrolik was. Vir die Jode was daar lig en vrolikheid en vreugde en eer; en in al die provinsies en in al die stede waar die bevel van die koning en sy wet ook al aangekom het, was daar vrolikheid en vreugde by die Jode, maaltyd en feesdag; en baie uit die volke van die land het Jode geword, want die skrik vir die Jode het op hulle geval.

ESTER 8:1-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

Dieselfde dag het koning Ahasveros die eiendom van Haman, die vyand van die Jode, vir koningin Ester gegee. Ester het aan die koning vertel hoe Mordegai aan haar verwant is, en hy het toe voor die koning verskyn. Die koning het sy seëlring afgehaal wat hy by Haman teruggevat het, en dit aan Mordegai gegee. Ester het toe vir Mordegai oor die eiendom van Haman aangestel. Ester het weer met die koning gepraat. Sy het voor hom gekniel, gehuil en hom om genade gesmeek. Sy het hom gevra om die bose plan wat Haman die Agagiet teen die Jode beraam het, ongedaan te maak. Die koning het die goue septer na Ester toe uitgesteek, en sy het voor hom gaan staan en gesê: “As die koning dit goedvind, as u my goedgesind is, en as dit vir u reg lyk en u van my hou, laat skryf dan ander briewe om die briewe met die plan van Haman seun van Hammedata die Agagiet te herroep. Hy het daarin geskrywe dat die Jode in al die provinsies van u ryk uitgeroei moet word. Hoe sou ek kon toekyk as my volk deur so 'n ramp getref word? Hoe sou ek kon toekyk as my familie uitgeroei word?” Koning Ahasveros het toe vir koningin Ester en vir die Jood Mordegai gesê: “Kyk, ek het Haman se eiendom vir Ester gegee en hom laat ophang aan die galg omdat hy die Jode wou uitroei. Skryf julle dan nou maar wat julle goeddink aan die Jode. Skryf dit in my naam en verseël dit met my seëlring. 'n Proklamasie wat in die naam van die koning geskryf is en met sy seëlring verseël is, kan egter nie herroep word nie.” Toe is die skrywers van die koning dadelik ontbied. Dit was op die drie en twintigste van die derde maand, die maand Siwan. Hulle het alles neergeskryf wat Mordegai die Jode, die verteenwoordigers van die koning, die goewerneurs en die leiers in die honderd sewe en twintig provinsies van Indië af tot by Kus wou beveel. Hulle het aan elke provinsie in sy eie skrif geskryf en aan elke volk in sy eie taal. Ook aan die Jode het hulle in hulle eie skrif en taal geskryf. Mordegai het geskryf in die naam van koning Ahasveros en die briewe verseël met die seëlring van die koning. Die briewe is uitgestuur met boodskappers op resiesperde uit die koninklike stalle. Die briewe het gelui dat die koning aan die Jode in alle stede die reg gee om bymekaar te kom en hulle te verdedig. Hulle kon enige gewapende mag van enige volk of provinsie deur wie hulle bedreig word, voor die voet uitroei, ook kinders en vrouens, en op almal se besittings beslag lê. Dit alles kon hulle doen in al die provinsies van koning Ahasveros op één bepaalde dag, die dertiende van die twaalfde maand, die maand Adar. Die proklamasie moes in elke provinsie as wet afgekondig word en moes aan alle mense bekend wees, sodat die Jode op dié bepaalde dag gereed kon wees om hulle op hulle vyande te wreek. Die boodskappers op die perde uit die koninklike stalle het toe baie haastig vertrek ooreenkomstig die koninklike bevel. Die proklamasie is uitgevaardig in die vestingstad Susan. Mordegai het van die koning af weggegaan in 'n koninklike kleed van blou en wit linne, met 'n groot goue kroon op, en 'n mantel van fyn linne en pers stof aan. Die stad Susan het gejubel en gejuig. Vir die Jode was daar weer lig en vreugde en blydskap en 'n gevoel van eiewaarde. In elke provinsie en in elke stad, orals waar die besluit en proklamasie van die koning bekend geword het, was daar vreugde en blydskap onder die Jode. Hulle het maaltye gehou en feesgevier. Ook het baie mense uit die ander volksgroepe Jode geword omdat hulle skrikbevange was vir die Jode.

ESTER 8:1-17 Die Boodskap (DB)

Op daardie selfde dag het koning Ahasveros al Haman, wat die Jode se vyand was, se eiendom vir koningin Ester gegee. Ester het ook vir die koning vertel dat Mordegai familie van haar was. Die koning het Mordegai na hom toe laat kom. Die koning het toe sy seëlring, wat hy van Haman af teruggevat het, afgehaal en dit vir Mordegai gegee. Ester het vir Mordegai beheer gegee oor al Haman se bates. Ester het weer met die koning gaan praat. Sy het op haar knieë voor hom gaan staan en by hom gehuil. Sy het hom gesmeek om die slegte plan van Haman, die afstammeling van koning Agag van die Amalekiete, teen die Jode stop te sit. Die koning het weereens sy goue septer na Ester toe uitgesteek. Sy staan toe op en sê vir hom: “As dit met die koning reg is en as u van my hou, skryf asseblief ’n koninklike brief om Haman, die seun van Hammedata en ’n afstammeling van koning Agag van die Amalekiete, se opdragte te stop. Hy het beveel dat die Jode in al die provinsies doodgemaak moet word. Hoe sou ek dit kon verdra om te sien hoe my volk deur so ’n ramp getref word en my eie familie uitgeroei word?” Toe sê koning Ahasveros vir koningin Ester en vir Mordegai die Jood: “Kyk, ek het Haman laat ophang oor sy komplot teen die Jode en al sy bates vir Ester gegee. Skryf julle nou ’n brief aan die Jode, soos julle goeddink, en stuur dit aan hulle in my naam en verseël dit met my seëlring. Onthou: ’n brief wat in die koning se naam geskryf is en met sy seëlring verseël is, kan nie teruggetrek word nie.” Hulle het toe dadelik die koning se skrywers laat kom. Dit was 25 Junie. Mordegai het briewe gedikteer vir al die Jode, die verteenwoordigers van die koning, die goewerneurs en al die beamptes in die 127 provinsies wat vanaf Indië tot by Soedan gestrek het. Die briewe is aan elke provinsie in hulle eie taal en skrif gestuur sodat hulle dit kon verstaan. Ook die Jode het hulle briewe in hulle eie taal en skrif gekry. Mordegai het die briewe in die naam van die koning geskryf en dit met sy seëlring verseël. Daarna het hy die briewe met boodskappers uitgestuur wat met vinnige perde uit die koning se stalle gery het. Volgens die briewe het die koning aan die Jode in al die stede die reg gegee om saam te staan en hulleself te verdedig. Hulle het nou die reg gehad om enige gewapende mag van enige volk of provinsie wat hulle aangeval het voor die voet dood te maak, vroue en kinders inkluis. Hulle kon selfs hulle aanvallers se besittings as buit vir hulleself vat. Die dag waarop hierdie koninklike opdrag in al die provinsies in werking sou tree, was 7 Maart die volgende jaar. Hierdie proklamasie moes in elke provinsie as ’n wet afgekondig word en almal moes daarvan weet. Dit sou verseker dat die Jode gereed sou wees om wraak te neem op hulle vyande wanneer daardie dag aanbreek. Die koninklike perderuiters is toe op bevel van die koning haastig daar weg. Hierdie koninklike bevel is ook in die stad Susan aangekondig. Mordegai het die paleis verlaat, geklee in ’n koninklike mantel van blou en wit en met ’n pragtige goue kroon op sy kop. Bo-oor die mantel het hy ’n kleed van fyn linne en pers stof gedra. Die stad Susan het met vreugde die nuwe proklamasie gevier. Die Jode was opgeruimd en vrolik. Hulle het gevoel dat hulle weer waardige mense was. In elke stad en provinsie waar die koning se proklamasie uitgevaardig is, het die Jode gejuig en reg deur die dag feesgevier. Baie mense het by die Jode aangesluit omdat hulle bang was vir wat die Jode nou aan hulle sou doen.

ESTER 8:1-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Daardie selfde dag nog het koning Ahasveros alles wat Haman, die vyand van die Jode, besit het, vir koningin Ester gegee. Ester het vir die koning vertel hoe Mordegai aan haar verwant is. Mordegai het na die koning toe gekom. Die koning het sy seëlring afgehaal wat hy by Haman teruggevat het, en dit vir Mordegai gegee. Ester het Mordegai in beheer van Haman se besittings aangestel. Ester het toe nog ’n keer gewaag om met die koning te kom praat. Sy het huilend by sy voete neergeval en hom gesmeek om die bose plan wat Haman die Agagiet teen die Jode beraam het, tot niet te maak. Die koning het weer sy goue septer na Ester toe uitgesteek. Sy het opgestaan en voor hom kom staan. Sy het gesê: “As dit goed is vir die koning en u my goedgesind is, en dit vir u in orde lyk, laat skryf dan ander briewe om die briewe met die plan van Haman, seun van Hammedata die Agagiet, terug te trek. Hy het daarin geskryf dat die Jode in al die provinsies van u ryk uitgeroei moet word. Ek kan mos nie net toekyk wanneer my volk deur so ’n ramp getref word nie. Hoe kan ek toelaat dat my familie uitgeroei word?” Koning Ahasveros het toe vir koningin Ester en vir die Jood Mordegai gesê: “Kyk, ek het alles wat Haman besit het vir Ester gegee en ek het hom aan sy eie galg laat ophang omdat hy die Jode wou uitroei. ’n Proklamasie wat reeds in die naam van die koning uitgevaardig is en met sy seëlring bevestig is, kan nooit herroep word nie. Maar skryf julle nou ook ’n brief aan die Jode met julle plan. Skryf dit as ’n verdere proklamasie in my naam en verseël dit met my seëlring.” Die sekretarisse van die koning is ontbied. Dit was op die 23ste van die derde maand, die maand Siwan. Hulle het alles neergeskryf wat Mordegai vir die Jode, die amptenare van die koning, die goewerneurs en die leiers in die 127 provinsies van Indië af tot by Etiopië wou laat weet. Hulle het aan elke provinsie in sy eie skrif geskryf en aan elke volk in sy eie taal. Ook vir die Jode het hulle in hulle eie skrif en taal geskryf. Mordegai het namens koning Ahasveros laat skryf en die briewe met die koning se seëlring laat verseël. Die briewe is met boodskappers op resiesperde uit die koning se stalle gestuur. In die briewe is geskryf dat die koning aan al die Jode in elke stad die vergunning gee om bymekaar te kom om hulleself te verdedig. Hulle kon enige gewapende mag van enige volk of provinsie wat hulle en hulle kinders en vroue aanval, doodmaak en vernietig en uitroei. Hulle kon op hulle besittings beslag lê. Die dag waarop hulle dit in al die provinsies van koning Ahasveros kon doen, was die dertiende van die twaalfde maand, die maand Adar. ’n Afskrif van die proklamasie moes na elke provinsie gaan en as wet afgekondig word. Al die volke moes daarvan kennis neem. Die Jode moes reg wees om hulle op daardie dag op hulle vyande te wreek. Die boodskappers op die perde uit die koning se stalle het toe, volgens die opdrag van die koning, haastig vertrek. Die proklamasie is tegelyk ook in die hoofstad Susan afgekondig. Toe Mordegai van die koning af weg is, was hy geklee in ’n koninklike kleed van blou en wit linne, met ’n groot goue kroon op sy kop, en ’n mantel van fyn linne en pers stof aan. Die stad Susan was verheug en baie bly oor die proklamasie. Vir die Jode was daar weer lig en vreugde en blydskap en hulle het aansien onder die ander volke gehad. In elke provinsie en in elke stad waar die besluit en proklamasie van die koning afgekondig is, was daar vreugde en blydskap onder die Jode. Hulle het ’n feesdag uitgeroep en saam geëet. Baie mense uit die ander volksgroepe het Jode geword omdat hulle bang was vir die Jode.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid