ESTER 7:1-10

ESTER 7:1-10 Bybel vir almal (ABA)

Die koning en Haman het by koningin Ester kom eet. Terwyl hulle op die tweede dag wyn gedrink het, het die koning weer vir Ester gevra: “Koningin Ester, ek sal vir jou enige iets gee wat jy vra, ek sal doen wat jy wil hê, ook as jy die helfte van die lande vra waaroor ek regeer.” Koningin Ester het geantwoord: “Koning, dit is wat ek vra en wat ek wil hê: As jy van my hou en as jy dit wil doen, dan vra ek dat ek en my volk mag aanhou lewe. Want iemand het ons verkoop, hy het my en my volk verkoop. Hy wil ons vermoor, hy wil hê dat niemand van ons moet oorbly nie. As hy ons verkoop het om slawe en slavinne te word, dan sou ek stilgebly het en dan sou ek nie die koning daaroor gepla het nie.” Toe sê koning Ahasveros vir koningin Ester: “Wie is dit? Waar is die persoon wat hierdie planne gemaak het?” En Ester sê: “Dit is hierdie slegte man Haman. Hy is ons vyand!” Die koning was baie kwaad. Hy het opgestaan van die tafel en hy het na die tuin van die paleis gegaan. Haman het daar gebly staan en hy het gesoebat dat koningin Ester moet help om sy lewe te spaar, want hy het gesien dat die koning klaar besluit het dat daar niks goed met hom sal gebeur nie. Toe die koning uit die tuin terugkom na die eetkamer, sien hy dat Haman teen die bank lê waarop Ester sit, en die koning sê: “Wil jy nou ook die koningin verkrag? Wil jy dit doen hier by my in my paleis?” Toe die koning dit gesê het, het hulle Haman se gesig toegemaak. Garbona, een van die amptenare, sê toe: “Daar staan die paal by Haman se huis, hy het die paal vir Mordegai laat inplant. Die paal is 50 el hoog. Maar Mordegai is die man wat vir die koning gered het toe hy vertel het dat die amptenare die koning wil vermoor.” Die koning het gesê: “Julle moet vir Haman ophang aan die paal.” Hulle het vir Haman opgehang aan die paal wat hy laat inplant het om vir Mordegai op te hang. Die koning was toe tevrede.

ESTER 7:1-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

TOE die koning en Haman inkom om saam met koningin Ester die feesmaal te hou, sê die koning aan Ester ook op die tweede dag, terwyl hulle wyn drink: Wat is jou bede, koningin Ester? — dit sal jou toegestaan word. En wat is jou versoek? Al was dit die helfte van die koninkryk — daaraan sal voldoen word. En koningin Ester antwoord en sê: As ek genade in u oë gevind het, o koning, en as die koning dit goedvind, laat my lewe my geskenk word op my bede en my volk op my versoek. Want ons is verkoop, ek en my volk, om verdelg, gedood en uitgeroei te word. Was ons nog as slawe en slavinne verkoop, dan sou ek geswyg het, maar hierdie ramp sal onder die verliese van die koning sy weerga nie hê nie. Toe spreek koning Ahasvéros en sê aan koningin Ester: Wie is hy, en waar is hy wie se hart hom ingegee het om so te maak? En Ester sê: Die teëstander en vyand is hierdie slegte Haman! Toe skrik Haman voor die koning en die koningin. En die koning het in sy woede van die wynmaaltyd opgestaan en na die tuin van die paleis gegaan, terwyl Haman daar bly staan om van koningin Ester die behoud van sy lewe af te smeek; want hy het gesien dat die onheil oor hom by die koning vas besluit was. Toe die koning uit die tuin van die paleis in die saal van die wynmaaltyd terugkom, en Haman juis op die rusbank neergeval het waar Ester op sit, sê die koning: Wil hy die koningin ook nog geweld aandoen by my in die huis? Die woord was nouliks uit die mond van die koning of hulle het die gesig van Haman bedek. Daarop sê Harbóna, een van die hofdienaars voor die koning: Daar staan reeds die galg wat Haman laat maak het vir Mórdegai wat ten voordele van die koning gespreek het, by die huis van Haman, vyftig el hoog! Toe sê die koning: Hang hom daaraan op! En hulle het Haman opgehang aan die galg wat hy vir Mórdegai opgerig het, en die woede van die koning het bedaar.

ESTER 7:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die koning en Haman het by koningin Ester gekom om saam met haar te eet. Terwyl hulle by hierdie tweede geleentheid besig was om wyn te drink, vra die koning weer vir Ester: “Wat is dit wat jy wil vra? Dit sal vir jou gegee word. Wat is jou versoek? Al is dit ook die helfte van die koninkryk, dit sal toegestaan word.” Koningin Ester antwoord toe: “As die koning my goedgesind is, en die koning dit goedvind, laat my en my volk toe om te bly lewe. Dit is my wens en my versoek. Ek vra dit, want ons, ek en my volk, is verkoop om voor die voet uitgeroei te word. Was ons maar net as slawe en slavinne verkoop, sou ek stilgebly het, want dan sou die ramp nie soveel skade aan die koning se belange veroorsaak het nie.” Toe vra koning Ahasveros vir koningin Ester: “Wie is dit wat so iets beplan, en waar is hy?” en Ester antwoord: “Die teëstander en vyand is hierdie lae mens, hierdie Haman.” Haman het groot geskrik daar in teenwoordigheid van die koning en koningin. Die koning het woedend van die ete af opgestaan en na die tuin van die paleis toe gegaan. Haman het egter bly staan om by koningin Ester om sy lewe te smeek, want hy het gesien dat die koning klaar oor sy ondergang besluit het. Net toe Haman neerval op die rusbank waarop Ester sit, kom die koning uit die tuin van die paleis terug in die saal waar die maaltyd gegee is. Toe sê die koning: “Wil jy nou ook nog die koningin hier by my in die paleis aanrand?” Skaars het die koning dit gesê, of sy dienaars het vir Haman kom blinddoek. Garbona, een van die koning se paleisbeamptes, sê toe: “Daar is mos reeds by Haman se huis 'n galg van drie en twintig meter hoog wat hy laat oprig het vir Mordegai wat destyds in belang van die koning gepraat het.” Toe sê die koning: “Hang hom daaraan op!” Hulle het Haman toe opgehang aan die galg wat hy vir Mordegai laat bou het. Daarna het die woede van die koning bedaar.

ESTER 7:1-10 Die Boodskap (DB)

Die koning en Haman het toe by Ester gaan eet. Terwyl hulle besig was om wyn te drink, het die koning weer vir haar gevra: “Koningin Ester, wat is dit wat jy van my wil hê? Sê vir my en ek sal dit vir jou gee, selfs al is dit die helfte van my koninkryk.” Koningin Ester antwoord toe: “As dit vir die koning reg is, wil ek graag die volgende versoek rig: Laat my en my mense asseblief toe om te bly lewe. Want u sien, ek en my mense is verkoop om voor die voet doodgemaak en uitgeroei te word. As ons net as slawe verkoop was, sou ek u nie daarmee gepla het nie, want dit sou nie vir die koning so ’n verlies gewees het nie. Maar om uitgeroei te word!” “Wie wil so iets doen?” wou koning Ahasveros weet. “Waar is hierdie man?” Toe sê Ester: “Ons vyand, die een wat ons vervolg, is hierdie slegte man Haman.” Haman het hom asvaal geskrik en angsbevange na die koning en Ester gestaar. Die koning het woedend van die tafel af opgestaan en uitgestorm tuin toe. Haman het geweet dat die koning van plan was om hom hiervoor te straf. Daarom het hy agtergebly om by Ester te pleit vir sy lewe. Uit wanhoop het Haman neergeval op die rusbank waarop Ester gesit het. Op daardie selfde oomblik het die koning teruggekom van die tuin af. Toe hy dit sien, het hy woedend uitgeroep: “Wil jy nog die koningin ook hier voor my oë in my paleis aanrand?” Die koning se woorde was skaars koud, toe gryp sy paleisamptenare vir Haman en trek ’n doek oor sy kop. Daarmee was dit duidelik dat sy lot beseël was. Toe sê Garbona, een van die koning se paleisbeamptes: “Haman het mos al klaar ’n galg van 23 meter hoog by sy huis laat maak. Hy was van plan om vir Mordegai, die man wat die koning se lewe gered het, daaraan op te hang.” Toe sê die koning: “Hang hom daaraan op!” Hulle het Haman toe aan die galg opgehang wat hy vir Mordegai laat bou het. Daarna het die koning se bui bedaar.

ESTER 7:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die koning en Haman het by koningin Ester aangekom om saam met haar te eet. Terwyl hulle besig was om op die tweede dag wyn te drink, vra die koning weer vir Ester: “Wat is jou versoek, koningin Ester? Ek sal dit vir jou gee. Jy kan kry net wat jy wil hê, al is dit ook die helfte van my koninkryk.” Koningin Ester antwoord toe: “As U Majesteit my genadig wil wees, en as dit vir u reg is, dan vra ek u asseblief om my en my volk se lewens te spaar. Ek en my volk is verkoop aan hom wat ons wil doodmaak, ons wil uitwis en van die aarde af wil wegvee. As ons maar net as slawe en slavinne verkoop was, sou ek stilgebly het. Dit sou dan te onbenullig wees om die koning daarmee lastig te val.” “Wie is dit wat so iets wil doen?” vra koning Ahasveros vir koningin Ester. “Waar is hy?” Ester antwoord toe: “Ons vervolger en vyand is hierdie slegte Haman!” Haman het asvaal van skrik voor die koning en koningin geword. Die koning het woedend van die ete af opgespring en uitgegaan na die tuin van die paleis. Haman het by koningin Ester agtergebly om vir sy lewe te smeek. Hy het gesien dat dit verby was met hom by die koning. Net toe die koning van die tuin van die paleis af terugkom na die vertrek waar die onthaal gegee is, kry hy Haman besig om op die bank waarop Ester sit, neer te val. Die koning skreeu toe vir hom: “Wil jy nou ook nog die koningin by my in my paleis verkrag?” Die koning het bevel gegee en sy amptenare het Haman in hegtenis geneem. Garbona, een van die koning se amptenare, sê toe vir hom: “Haman het by sy huis ’n paal laat inplant van 23 meter hoog om vir Mordegai, wat destyds die koning gered het, daaraan op te hang.” Toe sê die koning: “Hang hóm daaraan op!” Hulle het Haman toe opgehang aan die paal wat hy vir Mordegai laat oprig het. Die koning se woede het toe afgekoel.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid