ESTER 2:5-14

ESTER 2:5-14 Bybel vir almal (ABA)

In die stad Susan was daar 'n man wat uit die land Juda gekom het. Sy naam was Mordegai. Hy was van die Benjamin-stam en hy was die seun van Jaïr seun van Simi seun van Kis. Toe koning Nebukadnesar van Babel vir koning Jojagin gevang en weggevat het na Babel, het hy vir Mordegai en sy familie ook saamgevat. Mordegai het 'n niggie gehad, sy was 'n weeskind. Mordegai het vir haar gesorg en haar grootgemaak. Haar naam was Hadassa, en hulle het haar ook Ester genoem. Sy was baie mooi. Mordegai het haar aangeneem toe haar ouers dood is en sy het Mordegai se dogter geword. Toe die amptenare hoor wat die koning besluit het, het hulle baie jongmeisies bymekaargemaak. Hulle het die meisies na die stad Susan geneem. Daar het Hegai vir die meisies gesorg. Ester was een van hierdie meisies. Hegai was die opsigter wat gekyk het dat alles reg is in die kamers waar die koning se vroue gewoon het. Hegai het gesien dat Ester baie mooi is, en hy het gehou van haar. Hy het dadelik gesorg dat sy die regte kos kry en dat hulle vir haar baie mooi maak. Hy het sewe meisies uit die paleis gekies om haar te help, en hy het vir haar en die meisies die beste kamers gegee om in te woon. Ester het nie gesê van watter volk sy is en wie haar familie is nie. Mordegai het gesê sy moet stilbly daaroor. Mordegai het elke dag by die kamers van die koning se vroue verbygeloop om uit te vind hoe dit met Ester gaan en wat hulle doen met haar. Hulle het elke meisie twaalf maande lank mooi gemaak, ses maande met mirre-olie en ses maande met balsem en ander mooimaakgoed. Wanneer dit 'n meisie se beurt was om by koning Ahasveros te kom, dan kon sy enige iets kry wat sy na die paleis wou saamneem, enige iets uit die kamers van die vroue. Die meisie het in die aand ingegaan in die paleis. Wanneer sy in die oggend terugkom, moes sy na ander kamers gaan waar die byvroue van die koning gewoon het. Die amptenaar Saäsgas het vir hierdie vroue gesorg. 'n Byvrou het net weer by die koning gekom as hy gesê het sy moet kom.

ESTER 2:5-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Daar was 'n Joodse man in die vesting Susan met die naam van Mórdegai, die seun van Jaïr, die seun van Símeï, die seun van Kis, 'n Benjaminiet, wat uit Jerusalem weggevoer was onder die ballinge wat in ballingskap moes gaan saam met Jegónja, die koning van Juda, wat Nebukadnésar, die koning van Babel, weggevoer het. En hy was die opvoeder van Hadássa, dit is Ester, die dogter van sy oom, want sy het geen vader of moeder gehad nie; en die jongmeisie was skoon van gestalte en mooi van aansien, en by die dood van haar vader en haar moeder het Mórdegai haar as sy dogter aangeneem. En toe die bevel van die koning en sy wet bekend gemaak is, en baie meisies in die vesting Susan onder toesig van Hegai byeengebring is, het hulle Ester ook saamgeneem na die paleis van die koning, onder toesig van Hegai, die bewaker van die vroue. En die meisie het hom geval en guns by hom gevind; daarom het hy gou gemaak om haar die nodige skoonheidsmiddele en die regte ete te gee en haar die sewe uitgesoekte meisies uit die paleis van die koning te verskaf; en hy het haar met haar meisies verplaas na die beste gedeelte van die vrouehuis. Ester het haar volk en haar afkoms nie te kenne gegee nie, omdat Mórdegai haar beveel het om dit nie te vertel nie. En Mórdegai het dag vir dag voor die voorhof van die vrouehuis gewandel om te verneem na die welstand van Ester en wat met haar sou gebeur. En as die beurt van elke meisie aankom om na koning Ahasvéros in te gaan, nadat twaalf maande lank met haar volgens die wet vir die vroue gehandel is — want so lank het die dae van hulle voorbereiding geduur: ses maande lank met mirre-olie en ses maande met balsem en ander skoonheidsmiddele van die vroue — as die meisie dan so na die koning ingaan, word alles wat sy sê, aan haar gegee, dat dit saam met haar uit die vrouehuis na die koninklike paleis kan gaan. As sy in die aand ingaan en in die môre terugkom na die tweede vrouehuis onder toesig van Saäsgas, die hofdienaar van die koning wat die byvroue bewaak, dan mag sy nie weer by die koning ingaan nie, behalwe as die koning behae in haar vind en sy by die naam geroep word.

ESTER 2:5-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

In die stad Susan was daar 'n Jood met die naam Mordegai. Hy was uit die stam Benjamin en was 'n seun van Jaïr seun van Simi, seun van Kis. Hy was onder die ballinge wat saam met koning Jojagin van Juda uit Jerusalem weggevoer is deur koning Nebukadnesar van Babel. Mordegai het as voog opgetree vir Hadassa, dit is Ester, die dogter van sy oom, want sy was 'n weeskind. Dié meisie was mooi, sy was baie mooi. Ná die dood van haar pa en ma het Mordegai haar as dogter aangeneem. Toe die besluit en bevel van die koning bekend gemaak is, is 'n groot aantal meisies in die stad Susan bymekaargebring onder die sorg van Hegai. Ester is ook na die paleis van die koning toe geneem onder die sorg van Hegai wat oor die koning se vrouens toesig gehou het. Die meisie was vir hom mooi en hy het van haar gehou. Hy het haar dadelik die nodige skoonheidsbehandeling gegee en haar die regte dieet laat volg. Ook het hy die sewe bestes van die paleis se kamerpersoneel tot haar beskikking gestel en haar en haar kamerpersoneel na die beste deel van die vrouekwartiere verskuif. Ester het nie haar volksverband en afkoms bekend gemaak nie, want Mordegai het haar belet om dit te doen. Mordegai het elke dag voor die voorhof van die vrouekwartiere heen en weer geloop om agter te kom hoe dit met Ester gaan en wat met haar gaan gebeur. Die skoonheidsbehandeling waaraan die meisies hulle volgens die gebruik moes onderwerp, het twaalf maande lank geduur: behandeling met mirre-olie ses maande, en met lekkerruik-kruie en ander skoonheidsmiddels ses maande. Daarna het elke meisie 'n beurt gekry om na koning Ahasveros toe te gaan. Wanneer sy uit die vrouekwartiere na die koning se paleis toe gaan, kon elke meisie alles saamvat wat sy wou. Sy het in die aand in die paleis ingegaan en in die oggend is sy na die tweede stel vrouekwartiere toe onder die sorg van Saäsgas, die paleisbeampte wat oor die koning se byvrouens toesig gehou het. Sy kon nie weer na die koning toe gaan nie, behalwe as hy baie van haar gehou het en sy geroep word.

ESTER 2:5-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Daar was 'n Judeër in die vestingstad Susan. Sy naam was Mordegai, seun van Jaïr, seun van Simi, seun van Kis, en 'n Benjaminiet. Hy was een van die ballinge wat saam met Jojagin, koning van Juda, deur Nebukadnesar, die koning van Babilonië, uit Jerusalem weggevoer is. Mordegai was die voog van Hadassa, dit is Ester, die dogter van sy vader se broer; want sy het nie meer 'n vader en moeder gehad nie. Die jong meisie het 'n mooi figuur gehad en was beeldskoon. Ná die dood van haar vader en moeder, het Mordegai haar as sy dogter aangeneem. Toe die koning se bevel en wetgewing bekend gemaak is en baie jong meisies in die vestingstad Susan bymekaargebring is onder toesig van Hegai, is Ester ook na die koninklike paleis gebring onder toesig van Hegai, wat na die vroue omgesien het. Die jong meisie het 'n goeie indruk gemaak op Hegai en sy guns gewen. Hy het vir haar sonder versuim haar skoonheidsmiddels en voorgeskrewe kos gegee. Ook het hy sewe van die beste diensmeisies uit die koninklike paleis aan haar gegee en haar en haar diensmeisies na die beste deel van die harem verskuif. Ester het nie haar volksverband of haar afkoms bekend gemaak nie, want Mordegai het haar beveel om dit nie te doen nie. Elke dag het Mordegai buite die voorhof van die harem rondgestap om uit te vind hoe dit met Ester gaan en wat met haar gebeur. Voordat 'n jong meisie se beurt aangebreek het om na koning Ahasveros te gaan, moes sy volgens die gebruik van die harem vir twaalf maande 'n skoonheidskuur ondergaan: ses maande lank word hulle met mirre-olie gesalf, en daarna vir ses maande met balsemolie en skoonheidsmiddels vir vroue gesalf, en dan gaan sy in na die koning. Wat sy ook al vra, sal vir haar uit die harem gegee word om saam te neem na die koninklike paleis. Sy het in die aand gegaan en in die oggend teruggekeer na die tweede harem wat onder toesig was van Saäsgas, die eunug van die koning en die oppasser van die vroue. Sy kon nie weer na die koning gaan nie, behalwe as hy van haar gehou het en as sy op die naam geroep is.

ESTER 2:5-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En in die paleis Susan was daar 'n sekere Jood met die naam van Mórdegai, die seun van Jaïr, die seun van Símeï, die seun van Kis, 'n Benjaminiet; wat uit Jerusalem weggevoer is met die ballingskap wat saam met Jekonja, die koning van Juda, weggevoer is, wat Nebukadnésar, die koning van Babel, weggevoer het. En hy het Hadassa, dit is Ester, sy oom se dogter, grootgemaak; want sy het geen vader of moeder gehad nie, en die diensmeisie was mooi en mooi; wat Mordegai, toe haar vader en moeder dood was, vir sy eie dogter geneem het. En toe die bevel en sy bevel van die koning gehoor is, en toe baie meisies byeengekom het in die paleis Susan, onder bewaring van Hegai, is Ester ook na die koning se huis gebring, onder bewaring van Hegai, bewaarder van die vroue. En die meisie het hom behaag, en sy het goedheid oor hom verkry; en hy het haar spoedig haar goed vir reiniging gegee, met alles wat aan haar behoort het, en sewe meisies wat aan haar gegee moes word, uit die huis van die koning; en hy het haar en haar diensmeisies verkies bo die beste plek van die huis van die vroue. Ester het haar volk en haar familie nie te kenne gegee nie, want Mórdegai het haar bevel gegee om dit nie te vertel nie. En Mórdegai het elke dag voor die voorhof van die vrouehuis geloop om te weet hoe dit met Ester gaan en wat van haar sou word. En toe elke diensmeisie aan die beurt gekom het om na koning Ahasveros in te gaan, nadat sy twaalf maande was, volgens die gebruik van die vroue, want so was die dae van hulle reiniging voltooi, naamlik ses maande met mirre-olie, en ses maande met soet reuke, en met ander dinge vir die reiniging van die vroue; Toe het al die meisies so na die koning gekom; alles wat sy wou hê, is aan haar gegee om saam met haar uit die huis van die vroue na die huis van die koning te gaan. Die aand het sy gegaan, en die volgende dag het sy teruggekeer na die tweede huis van die vroue, onder die bewaring van Saasgas, die koning se kamerling, wat die byvroue bewaar het, en dat sy by die naam genoem is.

ESTER 2:5-14 Die Boodskap (DB)

Daar het ’n Jood met die naam Mordegai in die stad Susan gebly; hy was die seun van Jaïr. Hy was uit die stam van Benjamin en sy voorouers was Simi en Kis. Hy was een van die ballinge wat saam met koning Jojagin van Juda deur Nebukadnesar, die koning van Babel, uit Jerusalem weggevoer is. Mordegai het ’n pragtige jong niggie met die naam Hadassa, dit is Ester, gehad. Sy was sy oom se kind, maar na haar pa en ma se dood, het hy haar aangeneem en soos sy eie dogter grootgemaak. Die koning se opdrag is uitgevoer. Hulle het ’n groot klomp meisies na Susan toe gebring en hulle onder die paleisbeampte Hegai se sorg geplaas. Ester was ook onder hierdie groep meisies wat na die paleis toe gebring is. Hegai het van Ester gehou en het haar spesiaal behandel. Hy het dadelik met haar skoonheidsbehandeling begin en haar ook ’n spesiale dieet laat volg. Hy het haar na die beste deel van die vrouekwartiere toe geskuif en sewe van die paleis se beste kamerpersoneel uitgesoek om haar te versorg. Op Mordegai se advies het Ester vir niemand iets van haar agtergrond of herkoms vertel nie. Mordegai het elke dag by die binnehof van die vrouekwartiere ’n draai gemaak om te hoor hoe dit met Ester gaan en wat van haar gaan word. Die skoonheidsbehandeling wat die meisies moes ondergaan, het twaalf maande geduur. Hulle is vir ses maande met mirreolie behandel en daarna vir nog ses maande met spesiale kruie en ander skoonheidsmiddels. Daarna het elke meisie ’n beurt gekry om ’n nag by koning Ahasveros deur te bring. Wanneer dit ’n meisie se beurt was om na die koning toe te gaan, kon sy enige klere en juwele kies, net wat sy wou, om haar skoonheid nog verder te beklemtoon om die koning te beïndruk. Sy is in die aand na die koning toe gevat. Die volgende môre is sy dan na ’n ander deel van die vrouekwartiere toe teruggeneem waar die koning se byvroue onder die toesig van Saägas gebly het. Hier sou sy nou vir die res van haar lewe bly en nooit weer na die koning se slaapkamer toe gaan nie, tensy hy so baie van haar gehou het dat hy spesifiek vir haar op haar naam laat vra het.

ESTER 2:5-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

In die vestingstad Susan was daar ’n Jood met die naam Mordegai. Hy was uit die stam Benjamin en was ’n seun van Jaïr, die seun van Simi, die seun van Kis. Sy familie was tussen die ballinge wat koning Nebukadnesar van Babel saam met koning Jojagin van Juda uit Jerusalem weggevoer het. Mordegai het sy niggie Hadassa grootgemaak. Haar ander naam was Ester. Sy was ’n weeskind. Nadat haar pa en ma dood is, het Mordegai haar as sy dogter aangeneem. Sy was buitengewoon mooi. Nadat die koning se besluit bekendgemaak is, is Ester ook saam met baie ander meisies onder Hegai se sorg in die stad Susan in die koning se paleis geplaas. Hegai was baie in sy skik met Ester en hy het haar baie goed behandel. Hy het gesorg dat sy goeie skoonheidsbehandeling kry en die regte dieet volg. Hy het sewe van die beste kamerpersoneel tot haar beskikking gestel en hulle na die beste deel van die koning se harem verskuif. Ester het vir niemand gesê van watter volk sy kom, of wie haar familie is nie. Mordegai het haar verbied om dit te doen. Mordegai het elke dag in die voorhof van die harem gaan rondstaan om agter te kom hoe dit met Ester gaan en wat met haar gebeur. Voordat dit ’n meisie se beurt was om na die koning te kom, moes sy volgens voorskrif eers twaalf maande lank skoonheidsbehandeling kry. Sy is ses maande lank met mirre-olie behandel en ses maande lank met lekkerruikkruie en ander skoonheidsmiddels. Daarna kon sy voor koning Ahasveros gaan verskyn. Elke meisie kon, wanneer dit haar beurt was om voor die koning in sy paleis te verskyn, uit die harem kies wat sy wou aantrek. Elke meisie is in die aand na die koning se paleis toe geneem en die volgende oggend teruggeneem na ’n ander deel van die koning se harem. Dit was onder die sorg van Saäsgas, die haremopsigter oor die byvroue. Sy kon nooit weer na die koning toe teruggaan nie, behalwe as hy baie van haar gehou het en spesifiek vir haar gevra het.