ESTER 10:1-3
ESTER 10:1-3 Bybel vir almal (ABA)
Koning Ahasveros het die mense in die land en op die eilande vir hom laat werk. Al die groot en belangrike dinge wat hy gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Medië en Persië. Die verhaal van die belangrike werk wat die koning vir Mordegai gegee het, is ook in die dagboeke geskryf. Want die Judeër Mordegai was die tweede belangrikste persoon ná koning Ahasveros. Die Judeërs het hom gerespekteer, en amper al sy mense was lief vir hom. Mordegai het hard gewerk vir sy volk en hy het gebid en gevra dat dit goed moet gaan met sy hele nageslag.
ESTER 10:1-3 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DAARNA het koning Ahasvéros 'n belasting op die land en op die kuslande van die see gelê. En al die dade van sy mag en sterkte en die noukeurige berig oor die grootheid van Mórdegai waartoe die koning hom verhoog het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Medië en Persië nie? Want die Jood Mórdegai was die tweede in rang onder koning Ahasvéros; en hy was groot by die Jode en 'n liefling by die menigte van sy broers, omdat hy die heil van sy volk gesoek en tot welsyn van sy hele nageslag gespreek het.
ESTER 10:1-3 Afrikaans 1983 (AFR83)
Koning Ahasveros het die vasteland sowel as die eilande dwangarbeid laat doen. Al die groot en magtige dinge wat hy gedoen het en die volle verhaal oor die hoë pos waarin hy vir Mordegai bevorder het, is opgeteken in die annale van die konings van Medië en Persië. Die Jood Mordegai was tweede in bevel onder koning Ahasveros. Hy was hoog in aansien by die Jode en gewild by al sy volksgenote. Hy het hom vir die welvaart van sy mense beywer en die veiligheid van al hulle nakomelinge verseker.
ESTER 10:1-3 Die Boodskap (DB)
Koning Ahasveros het sy hele ryk se mense, van die veraf kusgebiede tot by dié wat in die binneland gebly het, verplig om harde arbeid met hulle hande te verrig. Al sy prestasies en die verhaal van Mordegai se roem is opgeteken in die geskiedenisverhale van die konings van Medië en Persië. Mordegai die Jood was tweede in bevel. Net koning Ahasveros het meer mag as hy gehad. Onder sy mede-Jode was hy gewild en is hy as ’n held beskou. Hy het sy bes gedoen om hulle armoede weg te vat en ’n toekoms vir hulle nageslag te verseker.
ESTER 10:1-3 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Koning Ahasveros het die inwoners van sy land en sy onderdane oorsee dwangarbeid laat verrig. Al sy prestasies en die groot en magtige dinge wat hy reggekry het, en die verhaal oor die hoë pos waarin hy vir Mordegai aangestel het, is alles opgeteken in die geskiedenisboeke van die konings van Medië en Persië. Die Jood Mordegai was net onder koning Ahasveros in rang. Hy was gerespekteer onder die Jode en baie gewild by al sy volksgenote. Hy het hom vir die vooruitgang van sy volk beywer en die voorspoed van sy mense aan die hof bevorder.