ESTER 1:1-9

ESTER 1:1-9 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Dit het gebeur gedurende die tyd van Ahasveros, dieselfde Ahasveros wat regeer het vanaf Indië tot by Kus oor honderd sewe-en-twintig provinsies. In daardie tyd, terwyl koning Ahasveros op sy koninklike troon was in die vestingstad Susan – dit was die derde jaar van sy regering – het hy 'n feesmaal aangebied vir al sy •hoë amptenare en dienaars. Die militêre leiers van die Perse en die Meders, die koninklikes en die hoë amptenare van die provinsie het voor hom verskyn. Hy het toe die prag en praal van sy koninkryk se rykdom, sowel as die kosbare skatte wat van sy belangrikheid getuig, dae lank, 180 dae lank, vertoon. En ná hierdie geleentheid het die koning nog 'n feesmaal aangebied in die binnehof van sy paleistuin vir al die mense wat hulle in die vestingstad Susan bevind het, van die belangrikste persoon tot die geringste, sewe dae lank. Duursame behangsels van linne, geweefde materiaal en pers wol is met koorde van fyn wit linne en purperrooi wolstof en silwerringe aan albasterpilare vasgemaak. Banke van goud en silwer is reggesit op 'n mosaïekplaveisel van kosbare gesteentes: albaster, perlemoen en nog ander. Wyn is geskink in goue bekers wat almal verskillend was. Koninklike wyn is in oorvloed geskink, soos daar van 'n koning verwag word. Volgens die koning se bevel kon elkeen drink net soveel soos hy wou, want dit is wat die koning die hofmeesters van sy paleis beveel het, naamlik om elkeen se wens te vervul. Ook koningin Vasti het in die paleis van koning Ahasveros vir die vroue 'n feesmaal aangebied.