EFESIËRS 5:6-20

EFESIËRS 5:6-20 Bybel vir almal (ABA)

Daar is mense wat vir julle dinge wil leer wat nie waar is nie, hulle wil hê julle moet verkeerd doen. Julle moenie doen wat hulle sê nie, want mense wat hierdie slegte dinge doen, is nie gehoorsaam aan God nie en daarom sal God hulle straf. Daarom moet julle nie saam met hulle slegte dinge doen nie. Voorheen was julle soos mense wat in die donker lewe, maar nou behoort julle aan die Here en nou is julle in die lig. Daarom moet julle lewe soos mense wat in die lig lewe. Julle moet die dinge doen wat mense doen wat in die lig lewe, julle moet goeie dinge doen, dinge wat reg is, julle moet eerlik wees. Julle moet uitvind waarvan die Here hou en julle moet dit doen. Julle moenie die dinge doen wat die mense doen wat in die donker lewe nie. Hulle doen dinge wat nie goed is nie. Julle moet vir hulle almal sê dat hulle dinge doen wat verkeerd is. Hulle doen baie slegte dinge in die geheim, dit is so sleg dat 'n mens nie daaroor wil praat nie. Wanneer die lig op daardie dinge skyn, dan wys dit vir almal hoe daardie dinge is. Ja, 'n mens kan sien hoe iets is wanneer die lig daarop skyn. Daarom sing ons: Jy wat slaap, jy moet wakker word, jy moet weer begin lewe. Dan sal Christus 'n lig wees vir jou. Daarom moet julle seker wees dat julle reg lewe. Julle moet die regte dinge doen en sê. Julle moenie verkeerde dinge doen en sê nie. Julle moet elke minuut reg gebruik, elke minuut wat julle lewe, want dit is nou die tyd wanneer mense slegte dinge doen. Julle moenie dom dinge doen nie, julle moet seker wees dat julle verstaan wat die Here wil hê julle moet doen. Julle moenie wyn drink en dronk word nie, want dan doen julle verkeerde en slegte dinge. Nee, julle moet altyd doen wat die Heilige Gees wil hê julle moet doen. Julle moet sing wanneer julle bymekaar is, julle moet psalms en gesange en ander liedere sing. Julle moet sing en julle moet die Here prys met julle hele hart. Julle behoort aan ons Here Jesus Christus en julle moet altyd vir God ons Vader dankie sê vir alles.

EFESIËRS 5:6-20 Die Boodskap (DB)

Moenie julle laat bedrieg deur mense wat hierdie dinge wil goedpraat met baie woorde wat eintlik dolleeg is nie. Sulke dinge bring mense in die moeilikheid by God. God sal hulle straf as hulle nie na Hom wil luister nie. Bly weg van sulke mense af, hoe verder, hoe beter. Julle was ook eens op ’n tyd soos mense wat in die donker geleef het. Nou dien julle die Here en leef dus soos mense wat in die lig kan sien wat hulle doel is. Leef dus soos mense wat niks wil wegsteek nie, maar wat alles oop en bloot in die lig doen. (Iemand wat so leef, is goed vir ander, tree op soos God van hom verwag en staan by die waarheid.) As julle iets doen, vra of die Here daarmee tevrede sal wees. Bly weg van mense wat in die donker konkel. Niks goeds of blywends kan uit die gekonkel gebore word nie. Waarsku liewer ander mense daarteen deur vir hulle te wys hoe verkeerd hierdie gekonkel is. Die dinge wat die ongehoorsame mense so in die donker aanvang, is so vieslik dat ek dit nie eens hier wil noem nie. As die lig van Jesus egter daarop val, sal almal kan sien hoe sleg hierdie dinge werklik is. In die lig kan ’n mens mos niks wegsteek nie en as dit eers in die lig is, is dit daar vir almal om te sien. Dit is daarom dat die Skrif sê: “Word wakker, jou slaper; word lewendig uit die dood, en Christus sal sy lig oor jou laat val.” Wees baie versigtig hoe julle leef. Leef soos mense wat weet wat God van ’n sinvolle lewe verwag en nie soos mense wat niks daarvan weet nie. Moenie jou tyd mors nie. Maak die beste gebruik van elke geleentheid wat jy kry, want ons leef in moeilike en slegte tye. Moenie julle lewens mors deur sonder ’n doel te leef nie, maar maak seker hoe die Here wil hê julle moet leef. Moenie te veel wyn drink nie, want dan verloor ’n mens beheer oor jouself. Laat jou hele lewe eerder deur die Gees beheer word. Sing en leer mekaar met liedere wat uit die psalms kom of ander mooi geestelike liedere. Sing met julle hele hart vir die Here. Moenie vergeet om altyd vir God, die Vader, baie dankie te sê vir alles nie. Doen dit omdat julle aan Jesus Christus behoort en Hy julle in staat gestel het om dit te doen.

EFESIËRS 5:6-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Moenie om die bos gelei word deur mense wat verskonings soek vir hierdie sondes nie. Die feit is: omdat mense deur sulke dinge aan God onge-hoor-saam is, word hulle deur sy straf getref. Dus: moenie saam met hulle aan hierdie dinge deel-neem nie. Jul-le lewe was vroeër nag! Nou egter, deur julle ver-bon-denheid met die Here, is julle in-der-daad die ene lig. Leef dan soos mense van die lig. Uit dié lig kom mos alles wat goed en reg en waar is. Vind uit watter dinge die Here tevrede stel en moenie aanhou deelneem aan die nuttelose werke van die duisternis nie. Nee, ont-masker eerder hierdie werke, want mense doen in die geheim dinge wat te skandelik is vir woorde. Maar as die lig daarop skyn, kom alle dinge se wa-re ka-rakter aan die lig, en alles waarvan die ware ka-rak-ter aan die lig kom, is self lig. Daarom sê die lied: “Word wakker, jy wat slaap; staan op uit die dood, en Christus sal jou verlig!” Wees dus baie versigtig hoe julle lewe. Moenie soos dwase mense leef nie, leef wys! Benut elke geskikte ge-leentheid, want ons lewe in slegte tye. Moenie on-deurdag optree nie, maar probeer uitvind wat God se wil is. Verder, moenie soveel wyn drink dat julle dronk word nie, dit lei tot uitspattige gedrag. Nee, laat die Heilige Gees julle lewe vol maak en sing saam psalms en lofgesange en geestelike liedere. Sing en jubel met julle hele hart tot eer van die Here. Sê altyd in die Naam van ons Here Jesus Christus vir God die Vader dankie vir alle dinge.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid