EFESIËRS 5:1-11

EFESIËRS 5:1-11 Bybel vir almal (ABA)

Ja, julle moet doen soos God doen, want julle is sy kinders, Hy is lief vir julle. Julle moet altyd lief wees vir ander mense, soos Christus lief was vir ons. Hy het gesterf sodat ons kan lewe. Hy was 'n offer vir God, 'n offer waarvan God gehou het. Julle moenie onsedelik lewe en ander slegte dinge doen nie. Julle moenie altyd meer en meer goed vir julleself wil hê nie. Julle behoort aan God, en almal moet weet dat julle nooit hierdie dinge doen nie. Julle moenie lelike en dom dinge sê en slegte dinge oor ander mense sê nie. Mense wat aan Christus behoort, doen nie dit nie. Wanneer julle praat, dan moet dit net wees om vir God dankie te sê. Julle moet dit weet: Mense wat onsedelik lewe of wat so lewe dat hulle onrein is, sal nie die ware lewe kry daar waar Christus en God Koning is nie, ook nie die mense wat altyd meer goed wil hê nie, want dan is hulle goed hulle afgode. Daar is mense wat vir julle dinge wil leer wat nie waar is nie, hulle wil hê julle moet verkeerd doen. Julle moenie doen wat hulle sê nie, want mense wat hierdie slegte dinge doen, is nie gehoorsaam aan God nie en daarom sal God hulle straf. Daarom moet julle nie saam met hulle slegte dinge doen nie. Voorheen was julle soos mense wat in die donker lewe, maar nou behoort julle aan die Here en nou is julle in die lig. Daarom moet julle lewe soos mense wat in die lig lewe. Julle moet die dinge doen wat mense doen wat in die lig lewe, julle moet goeie dinge doen, dinge wat reg is, julle moet eerlik wees. Julle moet uitvind waarvan die Here hou en julle moet dit doen. Julle moenie die dinge doen wat die mense doen wat in die donker lewe nie. Hulle doen dinge wat nie goed is nie. Julle moet vir hulle almal sê dat hulle dinge doen wat verkeerd is.

EFESIËRS 5:1-11 Die Boodskap (DB)

Maak soos God gemaak het, want so maak kinders wat ’n liefdevolle Vader het. Elke dingetjie wat jy doen, moet van liefde straal. Dit is mos die voorbeeld wat Christus vir julle gegee het. Hy het ons so liefgehad dat Hy sy lewe tot ons voordeel gegee het. Hy het Homself geoffer en God het die offer aanvaar as betaling vir al die skuld wat ons met ons sondes gemaak het. Onthou, julle behoort aan God. Daarom mag julle nie eens daaraan dink om seksueel verkeerde dinge van watter aard ook al te doen of om van gierigheid oor te loop nie. Oppas wat julle sê. Moenie lelik praat, vuil stories of skurwe grappe vertel nie. Dit pas nie by ’n Christen nie. Praat liewer só dat dit vir God aangenaam is om te hoor. Hiervan kan julle seker wees: as iemand onsedelik of vuil leef, of so graag ryk wil word dat hy van geld ’n afgod maak, is daar nie vir hom plek in die nuwe wêreld van Christus en van God nie. Moenie julle laat bedrieg deur mense wat hierdie dinge wil goedpraat met baie woorde wat eintlik dolleeg is nie. Sulke dinge bring mense in die moeilikheid by God. God sal hulle straf as hulle nie na Hom wil luister nie. Bly weg van sulke mense af, hoe verder, hoe beter. Julle was ook eens op ’n tyd soos mense wat in die donker geleef het. Nou dien julle die Here en leef dus soos mense wat in die lig kan sien wat hulle doel is. Leef dus soos mense wat niks wil wegsteek nie, maar wat alles oop en bloot in die lig doen. (Iemand wat so leef, is goed vir ander, tree op soos God van hom verwag en staan by die waarheid.) As julle iets doen, vra of die Here daarmee tevrede sal wees. Bly weg van mense wat in die donker konkel. Niks goeds of blywends kan uit die gekonkel gebore word nie. Waarsku liewer ander mense daarteen deur vir hulle te wys hoe verkeerd hierdie gekonkel is.

EFESIËRS 5:1-11

EFESIËRS 5:1-11 AFR83EFESIËRS 5:1-11 AFR83EFESIËRS 5:1-11 AFR83EFESIËRS 5:1-11 AFR83

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid