EFESIËRS 4:9-14
EFESIËRS 4:9-14 Bybel vir almal (ABA)
Ons lees: Hy het opgegaan. Dit beteken Christus het eers afgekom ondertoe, na die aarde. Ja, Christus het afgekom na die aarde en toe het Hy weer teruggegaan na die hoogste hemel. Hy het dit gedoen sodat Hy oral en altyd kan regeer. En Christus het vir ons presente, genadegawes, gegee. Die genadegawes is die apostels, die profete, en die leiers wat die goeie boodskap bring of vir die gelowiges sorg of vir hulle leer. Christus wil hê hierdie mense moet God se mense help sodat hulle beter en beter vir God kan werk, en sodat die kerk sterker en groter kan word, die kerk wat soos Christus se liggaam is. Christus wil hê ons moet almal dieselfde dinge glo en ons moet Hom, die Seun van God, baie goed ken. Ons moet soos kinders wees wat grootgeword het en wat nou grootmense is, soos Christus wat is soos God wil hê Hy moet wees. Daar is mense wat skelm is, hulle wil hê ons moet dinge glo wat nie waar is nie. Hulle kom vertel vir ons dinge wat verkeerd is en hulle wil hê ons moet dit glo. Maar ons moenie dit glo nie, ons moenie soos kinders wees nie, of soos iets wat op die see ronddryf of wat in die wind heen en weer waai nie.
EFESIËRS 4:9-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar dít: Hy het opgevaar — wat beteken dit anders as dat Hy ook eers neergedaal het in die onderste dele van die aarde? Hy wat neergedaal het, is dieselfde as Hy wat opgevaar het bokant al die hemele, sodat Hy alles tot volheid kan bring. En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars, om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus, totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot 'n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus; sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring
EFESIËRS 4:9-14 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hierdie uitdrukking: “Hy het opgevaar”, veronderstel tog dat Hy eers neergedaal het na wat laer is, naamlik na die aarde toe. Die Een wat neergedaal het, is ook die Een wat opgevaar het bo alle hemelruimtes uit om alles met sy teenwoordigheid te vul. En dít is die “gawes” wat Hy “gegee het”: apostels, profete, evangeliste, en herders en leraars. Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus. So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos 'n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus. Dan sal ons nie meer kinders wees nie; ons sal nie meer soos golwe op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer as vals leraars ons met hulle slinksheid en listigheid op dwaalweë wil wegvoer nie.
EFESIËRS 4:9-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Hy het opgevaar” – waarop anders dui dit as dat Hy eers neergedaal het na die laer dele, die aarde? Die Een wat neergedaal het, is dieselfde Een wat opgevaar het tot bo al die hemele, sodat Hy alle dinge kon vul. En Hy het sommige as •apostels, ander as profete, ander as evangeliste, en ander as herders en leraars gegee, om die •heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, om die liggaam van Christus op te bou, totdat ons almal kom tot eenheid in geloof en in kennis van die •Seun van God, en tot 'n volwassenheid wat in ooreenstemming is met die volgroeide gestalte van die volheid van Christus. Die doel hiervan is dat ons nie meer klein kindertjies sal wees nie, wat deur onstuimige golwe rondgeslinger word en rondgewaai word deur elke wind van lering, deur mense se slinksheid en die gekonkel waardeur hulle dwaling beplan
EFESIËRS 4:9-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
(Nou dat Hy opgevaar het, wat is dit anders as dat Hy ook eerste na die onderste dele van die aarde neergedaal het? Hy wat neergedaal het, is dieselfde wat opgevaar het ver bo al die hemele, om alles te vervul.) En Hy het sommige gegee, apostels; en sommige profete; en sommige, evangeliste; en sommige, pastore en leraars; tot volmaking van die heiliges, tot die werk van die bediening, tot opbouing van die liggaam van Christus. Totdat ons almal gekom het in die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot 'n volmaakte mens, tot die mate van die grootte van die volheid van Christus; Dat ons voortaan nie meer kinders sal wees nie, heen en weer geslinger en meegevoer deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van mense, en slinkse listigheid, waardeur hulle lê en loer om te mislei
EFESIËRS 4:9-14 Die Boodskap (DB)
(Wat presies beteken hierdie “teruggaan hemel toe”? Dit beteken mos dat Hy voorheen in die hemel was en toe na die aarde toe afgekom het. Juis Hy is terug hemel toe. Nou is daar nie ’n hoekie of kantjie van hierdie heelal waar Jesus nie teenwoordig is nie.) Hierdie Christus het vir ons spesiale dinge gegee om in die gemeente te doen. Nie elkeen van ons het dieselfde gekry om te doen nie. Party van ons het Hy gestuur om sy boodskap op ander plekke te gaan verkondig, terwyl ander weer die gawe gekry het om spesiale boodskappe aan die gemeente self oor te dra. Dan is daar ook party wat die boodskap oor Jesus mooi vir mense kan verduidelik, ander wat mense kan help en lei as hulle hulp nodig het en ander wat soos goeie onderwysers mense stap vir stap kan leer wat die boodskap van God alles behels. Hierdie mense, met die spesiale gawes wat hulle gekry het, werk saam om die gemeente te help en voor te berei om hulle werk as Christene in die wêreld goed te kan doen. Op dié manier sal die liggaam van Christus sterk word en kan wees wat dit behoort te wees. So sal ons al hoe nader aan mekaar beweeg en al hoe meer ’n eenheid vorm. Saam sal ons die Seun van God beter leer ken en meer op Hom vertrou. Dan sal ons soos geestelike grootmense word, so volwasse in ons geestelike lewe soos Christus self. Ons sal nie meer soos klein kindertjies onseker wees oor wat van ons verwag word nie. Ons sal nie soos ’n skip wees wat deur die golwe rondgeslinger word of deur die een wind hiernatoe en die ander wind daarnatoe gedryf word nie. Net so sal ons nie na elke nuwe godsdienstige praatjie op die mark luister nie. Mense probeer jou net met allerhande slimmighede om die bos lei om jou so op die verkeerde pad te laat beland. Maar hulle sal dit nie regkry nie. Ons sal in liefde lojaal teenoor mekaar en net op die pad van die waarheid bly.
EFESIËRS 4:9-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Wat beteken “Hy het opgevaar” anders as dat Hy eers vooraf moes neergedaal het na dit wat laer is, naamlik na die aarde toe? Dieselfde Persoon wat neergedaal het, is ook die Een wat opgevaar het tot ver bo die wolke- en sterrehemel sodat Hy die heelal met sy teenwoordigheid kan vul. Hý het sommige as apostels gegee, ander as profete, ander as evangeliste, en ander as herders en leraars, om God se mense toe te rus vir hulle dienswerk. Hulle werk is om Christus se liggaam op te bou. So sal ons uiteindelik almal deur geloof en deurdat ons die Seun van God ken, ’n eenheid vorm, ’n volmaakte mens, wat aan die standaard van Christus se volmaaktheid voldoen. Dan, as mense ons met slinksheid en slimstreke op verkeerde paaie wil lei, sal ons nie meer soos klein kindertjies wees nie. Ons sal nie meer omgewaai of weggewaai word deur die wind van elke ding wat hulle verkondig nie.