EFESIËRS 4:8-10
EFESIËRS 4:8-10 Bybel vir almal (ABA)
Daarom lees ons in die Ou Testament: Hy het opgegaan na die hemel en Hy het gevangenes saamgeneem, Hy het vir die mense presente gegee. Ons lees: Hy het opgegaan. Dit beteken Christus het eers afgekom ondertoe, na die aarde. Ja, Christus het afgekom na die aarde en toe het Hy weer teruggegaan na die hoogste hemel. Hy het dit gedoen sodat Hy oral en altyd kan regeer.
EFESIËRS 4:8-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Daarom sê Hy: Toe Hy opgevaar het in die hoogte, het Hy die gevangenes gevange geneem en gawes aan die mense gegee. Maar dít: Hy het opgevaar — wat beteken dit anders as dat Hy ook eers neergedaal het in die onderste dele van die aarde? Hy wat neergedaal het, is dieselfde as Hy wat opgevaar het bokant al die hemele, sodat Hy alles tot volheid kan bring.
EFESIËRS 4:8-10 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daarom sê die Skrif: “Toe Hy na die hoogte opgevaar het, het Hy krygsgevangenes saamgeneem en gawes aan die mense gegee.” Hierdie uitdrukking: “Hy het opgevaar”, veronderstel tog dat Hy eers neergedaal het na wat laer is, naamlik na die aarde toe. Die Een wat neergedaal het, is ook die Een wat opgevaar het bo alle hemelruimtes uit om alles met sy teenwoordigheid te vul.
EFESIËRS 4:8-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Daarom staan daar: “Toe Hy opgevaar het na bo, het Hy krygsgevangenes weggevoer; Hy het gawes aan die mense gegee.” “Hy het opgevaar” – waarop anders dui dit as dat Hy eers neergedaal het na die laer dele, die aarde? Die Een wat neergedaal het, is dieselfde Een wat opgevaar het tot bo al die hemele, sodat Hy alle dinge kon vul.
EFESIËRS 4:8-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Daarom sê Hy: Toe Hy opgevaar het na die hoogte, het Hy gevangenes gevange geneem en geskenke aan die mense gegee. (Nou dat Hy opgevaar het, wat is dit anders as dat Hy ook eerste na die onderste dele van die aarde neergedaal het? Hy wat neergedaal het, is dieselfde wat opgevaar het ver bo al die hemele, om alles te vervul.)
EFESIËRS 4:8-10 Die Boodskap (DB)
Daarom sê die Skrif van Jesus: “Toe Hy terug is hemel toe, het Hy teruggegaan soos ’n koning wat die oorlog gewen het. Almal kon aan sy vyande sien dat Hy gewen het en Hy het geskenke aan die mense uitgedeel.” (Wat presies beteken hierdie “teruggaan hemel toe”? Dit beteken mos dat Hy voorheen in die hemel was en toe na die aarde toe afgekom het. Juis Hy is terug hemel toe. Nou is daar nie ’n hoekie of kantjie van hierdie heelal waar Jesus nie teenwoordig is nie.)
EFESIËRS 4:8-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Daarom sê die Skrif: “Toe Hy in die hoogte opgevaar het, het Hy krygsgevangenes meegevoer en geskenke aan die mense gegee.” Wat beteken “Hy het opgevaar” anders as dat Hy eers vooraf moes neergedaal het na dit wat laer is, naamlik na die aarde toe? Dieselfde Persoon wat neergedaal het, is ook die Een wat opgevaar het tot ver bo die wolke- en sterrehemel sodat Hy die heelal met sy teenwoordigheid kan vul.