EFESIËRS 2:6-9 - Compare All Versions
EFESIËRS 2:6-9 ABA (Bybel vir almal)
Ons behoort aan Christus Jesus. God het vir Christus weer laat lewe en Hy het ons ook weer laat lewe. God het vir Christus 'n plek in die hemel gegee en Hy het vir ons ook 'n plek in die hemel gegee. God het dit alles gedoen omdat Hy altyd wil wys dat Hy baie goed en lief is vir ons. Dit is hoekom Hy vir Christus Jesus gestuur het. Ja, God het julle gered omdat Hy baie goed is vir julle, julle wat in Christus glo. Julle het julle nie self gered nie. Nee, Gód het julle gered, Hý was so goed vir julle. God het julle gered, maar Hy het dit nie gedoen omdat julle goeie dinge gedoen het nie. Daarom mag niemand spog nie
EFESIËRS 2:6-9 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus, sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus. Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.
EFESIËRS 2:6-9 AFR83 (Afrikaans 1983)
Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom 'n plek in die hemel gegee, sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het. Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is 'n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie.
EFESIËRS 2:6-9 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Ja, Hy het ons in Christus Jesus saam opgewek, en saam laat sit in die hemel, sodat Hy in tye wat kom, bewys kan lewer van die allesoortreffende rykdom van sy genade deur sy goedheid aan ons in Christus Jesus. Want uit genade is julle verlos, deur geloof. En juis dit kom nie uit julle self nie; dit is die gawe van God. Dit kom nie uit eie werke nie, sodat niemand op iets mag roem nie.
EFESIËRS 2:6-9 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
En Hy het ons saam opgewek en ons saam laat sit in die hemele in Christus Jesus. Sodat Hy in die eeue wat kom, die uitnemende rykdom van sy genade kan bewys in sy goedertierenheid oor ons deur Christus Jesus. Want uit genade is julle gered, deur die geloof; en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God. Nie uit werke nie, sodat niemand mag roem nie.
EFESIËRS 2:6-9 DB (Die Boodskap)
Saam met Jesus is ons, wat soos dooie mense nie eens van God geweet het nie, lewend gemaak. Saam met Christus Jesus sit ons ook nou op ’n spesiale plek by God in die hemel. Niemand sal nou, of in die toekoms, ooit kan twyfel aan hoe goed God regtig is nie. Dit kan eintlik nie gemeet of ten volle beskryf word nie. Dit alles word vir ons saamgevat in die manier waarop God ons deur Christus Jesus gered het sonder dat ons dit enigsins verdien het. Vra julle waarom julle nou juis gered is? Wel, dit is omdat God so goed is en julle Jesus so vertrou. Dit is nie iets wat ons self reggekry het of kon doen nie: God het dit vir ons verniet gegee. Dit is nie iets waaroor enigeen van julle kan loop en spog nie, want dit is nie asof julle self daarvoor gewerk of dit verdien het nie.
EFESIËRS 2:6-9 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Omdat ons aan Christus Jesus verbind is, het God ons saam met Hom opgewek en saam met Hom ’n sitplek in die hemel gegee. So sal God ook in die tye wat kom, bewys dat Hy heeltemal oorloop van genade. Die goedheid wat God ons deur Christus Jesus gegee het, sal as bewys dien. Dit is mos dié genade wat julle verlos het deurdat julle tot geloof gekom het. En julle verlossing kom nie uit julleself nie, maar is ’n gawe van God. Dit is nie die gevolg van julle dade nie. Niemand kan daaroor grootpraat nie