PREDIKER 9:11-18
PREDIKER 9:11-18 Bybel vir almal (ABA)
Ek het nog iets gesien in hierdie wêreld: Jy kan miskien vinnig hardloop, maar jy wen nie die resies nie, jy is miskien 'n goeie soldaat, maar jy wen nie die oorlog nie, jy het miskien wysheid, maar jy het niks kos nie, jy is miskien verstandig, maar jy word nie ryk nie, jy weet miskien baie dinge, maar niemand hou van jou nie. Die dinge wat met jou moet gebeur, sal gebeur wanneer dit die regte tyd is. 'n Mens weet self nie wanneer dit tyd is dat hy moet sterf nie. Dit sal miskien skielik sleg gaan met hom, soos wanneer 'n vis skielik in 'n visnet kom of wanneer 'n voël in 'n vangnet vassit. Ek het ook dít gesien: Daar is wysheid in hierdie wêreld, en dit is vir my baie belangrik. Daar was 'n klein stadjie, min mense het daar gewoon. 'n Groot koning het die stad van al die kante aangeval. Hy het probeer om die stad se mure af te breek. Daar was 'n arm man in die stad, die man het wysheid gehad. Hy het sy wysheid gebruik om die stad te red. Maar niemand het daardie arm man onthou nie. Ek het toe gesê: Dit is beter om wysheid te hê as om sterk te wees. Maar mense dink 'n arm mens se wysheid is nie belangrik nie, en hulle luister nie wanneer hy praat nie. Dit is beter om te luister wanneer wyse mense kalm praat, beter as om te luister wanneer 'n persoon wat regeer, vir dwase skree. Wysheid is beter as oorlog-wapens, maar een sondaar verwoes baie goeie dinge.
PREDIKER 9:11-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
WEER het ek onder die son gesien dat die wedloop nie is vir die vinniges en die oorlog nie vir die helde nie; en ook die brood is nie vir die wyse of ook rykdom vir die slimmes of ook guns vir die verstandiges nie; want tyd en lotgeval tref hulle almal. Ja, die mens ken ook sy eie tyd nie, soos die visse wat gevang word in die gevaarlike net, en soos die voëls wat gevang word in die vangnet — soos hulle word die mensekinders verstrik in die tyd van onheil as dit hulle skielik oorval. Ook het ek dit as wysheid gesien onder die son, en dit was groot in my oog: daar was 'n klein stadjie en min manne daarin, en 'n groot koning het daarteen gekom en dit omsingel en groot beleëringswerke daarteen gebou. En daarin is 'n arm wyse man gevind; dié het die stad deur sy wysheid gered, maar geen mens het aan daardie arm man gedink nie. Toe het ek gesê: Wysheid is beter as heldekrag; maar die wysheid van die arme word verag, en na sy woorde word nie geluister nie. Woorde van wyse manne, wat rustig aangehoor word, is beter as die geskreeu van 'n heerser onder die dwase. Wysheid is beter as oorlogswapens, maar een sondaar bederf baie goeie dinge.
PREDIKER 9:11-18 Afrikaans 1983 (AFR83)
Verder het ek in hierdie wêreld gesien: dit is nie die vinnigstes wat die reisies wen nie, nie die sterkstes wat die oorlog wen nie, nie dié met wysheid wat kos het nie, nie die verstandiges wat ryk word nie, nie dié met kennis met wie dit goed gaan nie. Alles word bepaal deur tyd en geleentheid. Die mens ken selfs nie die tyd van sy dood nie. Soos visse wat gevang word in 'n net, soos voëls wat gevang word in 'n wip, so word die mens gevang as die teëspoed kom, as dit hom skielik oorval. Ook hierdie stukkie wysheid het ek in hierdie wêreld gesien, en vir my was dit belangrik: Daar was 'n klein stadjie met min mense. 'n Magtige koning het teen die stad opgetrek, dit beleër en hom daar ingegrawe. In die stad was 'n arm man met baie wysheid, en hy het die stad deur sy wysheid gered. Maar niemand het die arm man onthou nie. Toe het ek gesê: Wysheid is wel beter as krag, maar die wysheid van die arme word geminag, en niemand luister na wat hy sê nie. Die rustige woorde van dié wat wysheid het, word beter gehoor as die geskree van een wat heers oor dwase. Wysheid is beter as wapens, maar een misstap kan baie wat goed is, bederf.
PREDIKER 9:11-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Weer het ek onder die son gesien: Die wedloop is nie vir die vinniges en die oorlog is nie vir die krygshelde nie; brood is ook nie vir die wyses, rykdom is ook nie vir die verstandiges, en guns is ook nie vir die kenners nie; want tyd en toeval is bepalend vir hulle almal. Ja, die mens ken ook nie sy tyd nie. Soos visse wat gevang word in 'n verraderlike net, en soos voëls wat gevang word in 'n wip, so is dit met hulle: In 'n tyd van onheil raak mense verstrik, soos dit hulle skielik oorval. Ook dit beskou ek as wysheid onder die son, en dit is vir my iets groots: Daar was 'n klein stadjie met min mense daarin. 'n Groot koning het daarheen opgetrek, dit omsingel en groot beleëringswerke daarteen gebou. 'n Arm, wyse man het hom in die stad bevind. Dié man het die stad deur sy wysheid gered, tog het niemand daardie arm man onthou nie. Toe het ek gesê: Wysheid is beter as krag; maar die wysheid van die arme word verag, en na sy woorde word nie geluister nie. Woorde van wyses, kalm aangehoor, is beter as die geskree van 'n heerser tussen dwase. Wysheid is beter as oorlogswapens, maar een persoon wat verkeerd optree, maak baie wat goed is, tot niet.
PREDIKER 9:11-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Ek het teruggekeer en onder die son gesien dat die wedloop nie vir die vinniges is nie, en ook nie die stryd vir die sterkes nie, ook nie brood vir die wyses nie, en nog geen rykdom vir manne van verstand nie, nog geen guns vir manne van vaardighede nie; maar tyd en toeval kom met hulle almal oor. Want ook die mens ken nie sy tyd nie: soos visse wat in 'n bose net gevang word en soos die voëls wat in die strik gevang word; so word die mensekinders verstrik in 'n onheilspellende tyd as dit hulle skielik oorval. Hierdie wysheid het ek ook onder die son gesien, en dit het vir my groot gelyk: Daar was 'n klein stad, en min manne daarin; en 'n groot koning het daarteen gekom en dit beleër en groot skans daarteen gebou. En daar is 'n arm wyse man daarin gevind, en hy het die stad deur sy wysheid gered; tog het niemand daardie selfde arme man onthou nie. Toe sê ek: Wysheid is beter as krag; nogtans word die wysheid van die arm man verag, en sy woorde word nie gehoor nie. Die woorde van wyse manne word in stilte gehoor, meer as die geroep van hom wat onder dwase heers. Wysheid is beter as oorlogswapens, maar een sondaar vernietig baie goed.
PREDIKER 9:11-18 Die Boodskap (DB)
Daar is nog iets wat my baie omkrap. En dit is dat die vinnigstes nie altyd die resies wen of die sterkstes die geveg nie. Verder het daardie mens wat reg leef, nie altyd kos nie; ’n skrander mens is ook nie altyd ryk nie en slimmes word nie altyd bevorder nie. Slegte dinge tref almal. Niemand weet wanneer iets slegs met hom gaan gebeur nie. Soos wanneer voëls skielik in ’n wip beland, of visse in ’n net, net so vinnig en onverwags tref ongeluk die mens. Ek het in hierdie wêreld gesien dat mense nie veel van wysheid dink nie. Op ’n keer was daar ’n klein dorpie met ’n paar inwoners. ’n Groot sterk koning het teen die dorpie opgetrek. Hy het dit omsingel en die mure begin afbreek. Binne-in die dorpie was daar ’n arm man, maar baie wys. Deur sy kennis en insig het hulle die koning se aanslag afgeweer. Maar na ’n tydjie het niemand meer aan dié wyse man gedink nie. Toe het ek vir myself gesê dit is tipies van die lewe. Wysheid is baie beter as krag en mag, maar die arm wyse sal altyd verag word. Niemand luister na hom nie. Om rustig na die diep gedagtes van ’n wyse te luister is baie beter as die geskree van ’n politieke leier in die geselskap van dwase mense. Wysheid is beter as oorlogswapens. ’n Dwaas kan egter alle goeie dinge met een woord vernietig.
PREDIKER 9:11-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ek het nog iets onder die son gesien: Die vinnigste wen nie die resies nie. Die sterkstes wen nie die geveg nie. Ook dié met wysheid is nie dié wat kos het nie. Dis nie verstandiges wat ryk word, of dié met kennis met wie dit goed gaan nie. Alles word bepaal deur tyd en gebeurtenisse. Niemand kan voorspel wanneer sy tyd aanbreek nie. Dis soos visse wat gevang word in ’n net, soos voëls gevang word in ’n wip, so word die mens gevang in tye van teëspoed as dit onverwags op hom toesak. Ek het ook hierdie wysheid onder die son gesien, en dit was vir my merkwaardig: Daar was ’n dorpie met min mense. ’n Groot koning het die dorpie beleër en groot beleëringstellasies daarteen gebou. Daar was ’n arm man wat baie wys was. Hy het die stad met sy wysheid gered. Maar agterna het niemand die arm man onthou nie. Toe het ek besef: Wysheid is beter as krag, maar die wysheid van die arme word geminag, en niemand luister na wat hy sê nie. Tog word die rustige woorde van die wyse beter gehoor as die harde geskreeu van ’n koning wat oor dwase regeer. Wysheid is meer werd as oorlogswapens. Maar een persoon wat fouteer, kan baie wat goed is, bederf.