PREDIKER 6:1-12

PREDIKER 6:1-12 Bybel vir almal (ABA)

Daar is 'n verkeerde ding wat ek in hierdie wêreld gesien het, en dit is vir 'n mens moeilik om dit te verstaan: God laat 'n mens ryk word en Hy laat dit goed gaan met hom, en ander mense respekteer hom. Hy het alles wat hy graag wil hê, maar God laat hom dit nie geniet nie, iemand uit 'n ander land kom en daardie persoon geniet dit. Dit is nie soos dit moet wees nie, dit is 'n baie slegte ding. 'n Mens het miskien 100 kinders en hy kan lank lewe, hy kan baie oud word, maar as hy nie genoeg kan geniet van die goeie dinge nie en as niemand hom begrawe nie, dan sê ek: 'n Kind wat doodgebore is, is gelukkiger as so 'n mens. Want 'n kind wat doodgebore is, is nie soos hy moet wees wanneer hy in die wêreld kom nie. Dit bly donker vir hom en hy gaan weer weg in die donker, niemand ken sy naam nie. Hy het nie die son gesien nie, en hy kry rus. Maar die mens wat lank gelewe het, het nie rus gekry nie. So 'n mens het miskien 2 000 jaar gelewe, maar as hy nie die goeie dinge kon geniet nie, dan het hy nie rus gekry nie. Almal wat sterf, gaan na dieselfde plek. Mense werk hard om te kan eet, maar hulle kry nooit genoeg nie. Party mense het miskien wysheid, maar dit gaan nie beter met hulle as met dwase nie. En dit gaan ook nie beter met die arm mens wat weet hoe om reg te lewe tussen ander mense nie. Die dinge wat 'n mens kan sien, is beter as die dinge waarna jy aanhou verlang. Ook dít is nie soos dit moet wees nie. Mense jaag wind. God het lank gelede gesê wat nou moet gebeur. Almal weet wat 'n mens is, 'n mens kan nie vir God na die hof vat nie, God is sterker as 'n mens. Mense sê baie dinge, maar dit beteken niks. Dinge is nie soos dit moet wees nie, dit help 'n mens niks. Want wie weet wat goed is vir 'n mens terwyl hy lewe? Sy lewe beteken niks en dit gaan verby soos 'n skaduwee. Wie kan vir 'n mens sê wat in hierdie wêreld sal gebeur as hy self nie meer lewe nie? Niemand.

PREDIKER 6:1-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

DAAR is 'n onheil wat ek gesien het onder die son, en wat swaar druk op die mensdom: 'n Man aan wie God rykdom en skatte en eer gee, sodat hom niks ontbreek van alles wat hy kan begeer nie, maar God stel hom nie in staat om daarvan te geniet nie, want 'n vreemde geniet dit; dit is vergeefse moeite en 'n bitter lyding. As 'n man honderd kinders verwek en baie jare lewe en die dae van sy jare baie is en sy siel nie genoeg kry van die goeie en hy ook nie 'n begrafnis het nie, dan sê ek: 'n Misgeboorte is beter as hy, want in nietigheid kom dit, en in duisternis gaan dit heen, en met duisternis word die naam daarvan bedek; ook het dit die son nie gesien of geken nie. Dit het meer rus as hy. Ja, al lewe hy ook twee maal duisend jaar en geniet nie die goeie nie — gaan nie alles na een en dieselfde plek nie? Al die moeitevolle arbeid van 'n mens is vir sy mond, en tog word die begeerte nie bevredig nie. Want watter voorkeur het die wyse bo die dwaas, watter voorkeur die arme wat weet om hom te beweeg onder die lewendes? Die aanskouing met die oë is beter as die geswerf van die begeerte. Ook dit is tevergeefs en 'n gejaag na wind. Wat hy ook is, lankal is sy naam genoem, en dit is bekend dat hy mens is: hy kan nie in die gereg gaan met Hom wat sterker is as hy nie. Want hoe meer woorde, des te meer vermeerder hulle die nietigheid; watter voordeel het die mens daarvan? Want wie weet wat goed is vir die mens in die lewe gedurende die getal dae van sy nietige lewe wat hy soos 'n skaduwee deurbring? Want wie kan aan die mens bekend maak wat ná hom sal wees onder die son?

PREDIKER 6:1-12 Afrikaans 1983 (AFR83)

Ek het in hierdie wêreld ellende gesien wat swaar druk op 'n mens: God gee aan iemand rykdom, besittings en eer, en so iemand kom niks kort van wat hy begeer nie, maar God laat hom nie daarvan geniet nie, en iemand anders gebruik dit. Ook hier kom dit tot niks. Dit is bitter swaar. 'n Man kan honderd kinders hê en baie lank lewe, maar hoe oud hy ook al word, as hy nie die goeie dinge kan geniet nie en nie eens in 'n graf begrawe word nie, is 'n doodgebore baba beter daaraan toe as hy. 'n Doodgebore baba kom tot niks, dit sien nooit die lig nie en kry nie eens 'n naam nie. Dit sien nie die son nie en weet niks nie. Tog is dit beter daaraan toe as iemand wat nie die goeie van die lewe kan geniet nie, al leef hy twee maal duisend jaar. Altwee gaan na dieselfde plek toe. Die mens sloof hom af vir kos, maar sy honger word nooit gestil nie. Watter voordeel het die man met wysheid bo die dwaas? Wat help dit die arme om te weet hoe hy hom moet gedra? Wat die mens het, is beter as wat hy begeer. Ook hier kom dit tot niks. Dit is 'n gejaag na wind. Wat 'n mens is, word reeds met die naam mens gesê, dit is bekend wat hy is: hy is mens. Hy kan nie 'n regstryd voer met die Een wat sterker as hy is nie. Hoe meer woorde, hoe meer kom dit tot niks. Wat baat dit die mens? Wie weet wat vir die mens goed is in die lewe, in die dae wat tot niks lei nie, wat hy soos 'n skaduwee deurbring? Wie kan vir 'n mens sê wat ná hom in hierdie wêreld sal gebeur?

PREDIKER 6:1-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Daar is 'n euwel wat ek gesien het onder die son, en wat swaar druk op die mensdom: 'n man aan wie God rykdom, besittings en eer gee sodat hy niks kortkom van alles wat hy begeer nie, maar God gee hom nie die geleentheid om daarvan te geniet nie, omdat 'n vreemde persoon dit geniet. Dit is sinloos en 'n bitter lyding. As iemand honderd kinders verwek en baie jare leef – hoe baie sy lewensjare ook al is – maar sy begeerte na die goeie nie versadig word nie, en daar ook nie 'n begrafnis vir hom is nie, dan sê ek: 'n Misgeboorte is beter as hy! Want sonder enige sin kom dit en in duisternis gaan dit; en met duisternis word die naam daarvan bedek; boonop het dit die son nie gesien of geken nie. Dit het meer rus as daardie man, selfs al leef hy ook twee maal duisend jaar, maar geniet nie wat goed is nie. Gaan alles nie maar na een plek toe nie? Al die inspanning van 'n mens is maar net vir sy mond, maar tog kry sy keel nie genoeg nie. Ja, watter voordeel is daar vir die wyse bo die dwaas? Watter voordeel is daar vir die magtelose wanneer hy weet hoe om hom te gedra teenoor die wêreld? Om met die oë te geniet, is beter as onvervulde begeertes. Ook dit is sinloos en 'n gejaag na wind. Wat bestaan, is lankal reeds benoem. Dit is bekend dat hy “mens” is, en hy kan nie 'n regstryd begin met Een wat magtiger as hy is nie. Wanneer daar meer woorde is, word die sinloosheid meer. Watter voordeel is daar vir die mens? Ja, wie weet wat goed is vir die mens in die lewe gedurende sy min, sinlose lewensdae wat hy deurbring asof dit 'n skaduwee is? Wie is dit wat die mens kan inlig oor wat ná hom sal gebeur onder die son?

PREDIKER 6:1-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Daar is 'n onheil wat ek onder die son gesien het, en dit is algemeen onder die mense: 'n Man aan wie God rykdom en eer gegee het, sodat hy niks vir sy siel ontbreek van alles wat hy begeer nie, maar God gee hom nie mag om daarvan te eet nie, maar 'n vreemdeling eet dit: dit is nietigheid, en dit is 'n bose siekte. As iemand honderd kinders verwek en baie jare lewe, sodat die dae van sy jare baie word en sy siel nie met goed vervul word nie, en ook dat hy geen begrafnis het nie; Ek sê, 'n ontydige geboorte is beter as hy. Want hy gaan in met nietigheid en gaan weg in duisternis, en sy naam sal met duisternis bedek wees. Verder het hy die son nie gesien en niks geweet nie; dit het meer rus as die ander. Ja, al leef hy twee maal duisend jaar, het hy tog niks goeds gesien nie; gaan almal nie na een plek toe nie? Al die arbeid van die mens is vir sy mond, en tog word die lus nie versadig nie. Want wat het die wyse meer as die dwaas? wat het die arme wat weet om voor die lewendes te wandel? Beter is die aanskoue van die oë as die omswerwing van die begeerte: dit is ook nietigheid en gejaagdheid. Wat was, word reeds genoem, en dit is bekend dat dit 'n mens is; Aangesien daar baie dinge is wat nietigheid vermeerder, wat is die mens dan beter? Want wie weet wat goed is vir die mens in hierdie lewe, al die dae van sy ydele lewe wat hy deurbring soos 'n skaduwee? want wie kan 'n mens sê wat ná hom onder die son sal wees?

PREDIKER 6:1-12 Die Boodskap (DB)

In hierdie lewe het ek iets gesien wat tragies is: God gee aan iemand rykdom, besittings en ’n baie goeie naam sodat hy aan niks ’n tekort het nie, maar Hy laat hom nie toe om dit te geniet nie. ’n Vreemdeling kom en geniet dit dan. So iets is bitter swaar om te verstaan. Dit maak die lewe sinloos. Iemand mag baie kinders hê en lank leef, maar as hy nie die goeie van die lewe kan geniet nie en ook nie ’n behoorlike begrafnis kry nie, was alles tevergeefs. Iemand wat doodgebore is, is dan beter daaraan toe as hy. Iemand wat doodgebore is, word nooit onthou nie en ontvang ook nooit ’n naam nie. So iemand ken nie die lewe nie, maar het ten minste meer rus as iemand wat nie die goeie van die lewe kan geniet nie. Albei word in elk geval weer stof. Al leef iemand ook 2 000 jaar, maar hy kan nie die lewe geniet nie, is alles sinloos. Al waarvoor die mens werk, is om sy maag vol te kry, want hongerpyne verdwyn nooit nie. Hoe is ’n wyse beter daaraan toe as ’n dwaas? En watter waarde het dit vir ’n arme om reg te leef? Absoluut niks nie. Dit is ’n gejaag agter wind aan, want dit is beter om iets te besit as om voortdurend daarna te smag. Alles is vooraf bepaal. Wat kan ’n mens daaraan doen? Wie kan tog teen iemand veg wat sterker as jy is? Hoe meer jy probeer, hoe meer deurmekaar en sinloos word die lewe. Wie weet wat vir die mens goed is in sy kort lewe wat soos ’n skaduwee verbytrek? Wie weet wat hier op aarde gaan gebeur?

PREDIKER 6:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Ek het onder die son ’n verkeerde ding gesien wat swaar op ’n mens druk: God gee aan mense rykdom, besittings en eer. Hy gee hulle alles wat hulle ooit nodig kan hê. Maar God laat hulle nie toe om dit te geniet nie. ’n Vreemdeling sal dit geniet. Ook dít is sinloos, soos verterende kwaad! ’n Man kan honderd kinders hê en baie oud word, maar maak nie saak hoe lank hy lewe nie, as hy nie sy welvaart kan geniet en ’n goeie begrafnis kry nie, dan is ’n doodgebore baba beter daaraan toe as hy. So ’n baba kom op ’n sinlose manier, gaan weer weg in donkerheid en sy naam word deur duisternis bedek. Alhoewel hy nooit die son sien nie en niks daarvan weet nie, is hy tog beter daaraan toe as daardie ander persoon. Hy kan dalk twee maal duisend jaar lewe, maar die goeie van die lewe sal hy nie geniet nie. Gaan al twee nie na dieselfde plek toe nie? Al die mens se moeite is vir sy mond, maar hy kry nooit genoeg nie. Watter voordeel het die man van wysheid bo die dwaas? Watter voordele het die arme wat weet hoe hy hom moet gedra tussen mense wat nog lewe? Wat ’n mens se oë kan sien, is beter as ’n swerwende begeerte. Ook dit is dus sinloos, ’n blote gejaag na wind. Wat ook al gebeur het, is vooraf bepaal. Dis bekend wat die mens is. Hy kan nie ’n regstryd voer met die Een wat sterker is as hy nie. Hoe meer woorde, hoe meer is alles sinloos. Wat baat dit enige mens? Wie weet wat goed is vir die mens in die lewe, in die klompie sinlose dae wat hy soos ’n skaduwee deurbring? Wie kan vir ’n mens sê wat ná hom onder die son sal gebeur?