PREDIKER 3:1-22

PREDIKER 3:1-22 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Vir alles is daar 'n vasgestelde tyd; daar is 'n tyd vir elke saak onder die hemel: 'n tyd om geboorte te gee en 'n tyd om te sterf; 'n tyd om te plant en 'n tyd om uit te trek wat geplant is; 'n tyd om 'n lewe te neem en 'n tyd om te genees; 'n tyd om af te breek en 'n tyd om op te bou; 'n tyd om te huil en 'n tyd om te lag; 'n tyd om te rou en 'n tyd om te dans; 'n tyd om klippe weg te gooi en 'n tyd om klippe bymekaar te maak; 'n tyd om te omhels en 'n tyd om ver te wees van omhelsing; 'n tyd om te soek en 'n tyd om te laat wegraak; 'n tyd om te bewaar en 'n tyd om weg te gooi; 'n tyd om te skeur en 'n tyd om toe te werk; 'n tyd om stil te bly en 'n tyd om te praat; 'n tyd om lief te hê en 'n tyd om te haat; 'n tyd van oorlog en 'n tyd van vrede. Watter voordeel het die een wat werk van dit waarmee hy hom afsloof? Ek het die taak gesien wat God aan mense gegee het om hulle mee te belas. Alles het Hy mooi gemaak op sy tyd. Hy het ook die besef van tydsduur in hulle harte gegee, sonder dat die mens enigsins die werk wat God van begin tot einde doen, kan peil. Ek het besef dat daar tussen hulle niks beter is nie as om vreugde te ervaar en die goeie te geniet in die lewe – ja, elke mens – dat hy eet en drink en die goeie geniet by al sy inspanning. Dit is 'n gawe van God. Ek het besef dat alles wat God doen, vir altyd sal bestaan. Daaraan kan niks toegevoeg word nie, en daarvan kan niks weggeneem word nie. God het dit gedoen sodat hulle ontsag vir Hom sal hê. Wat ook al gebeur het, was lankal daar; en wat gaan gebeur, het lankal gebeur. God haal weer na vore wat verby is. Verder het ek onder die son gesien: Die plek van die reg – daar was onreg; ja, die plek van geregtigheid – daar was onreg! Ek het in my hart gesê: God sal die regverdige en die goddelose oordeel oor elke optrede daar, want daar is 'n tyd vir elke saak. Ek het in my hart gesê: Wat mense betref – God toets hulle sodat hulle kan insien dat hulle self diere is. Want die lot van mense en die lot van diere – vir hulle is daar net een lot. Soos die een sterf, so sterf die ander – hulle het almal dieselfde lewensasem. 'n Voordeel van die mens bo die dier bestaan nie, want alles is sinloos. Alles gaan na een plek toe. Alles kom uit die stof en alles keer terug na die stof. Wie weet of dit die lewensasem van mense is wat na bo styg, en of dit die lewensasem van diere is wat na onder daal, na die grond? Ek het gesien dat daar niks beter is nie as dat die mens vreugde vind in sy werk, want dit is sy beloning. Ja, wie kan hom daartoe bring om te sien wat ná hom sal gebeur?

PREDIKER 3:1-22 Die Boodskap (DB)

Alles gebeur op ’n bepaalde tyd. Alles in die lewe is vooraf bepaal: •daar is ’n tyd om gebore te word en daar is ’n tyd om dood te gaan; daar is ’n tyd om te plant en daar is ’n tyd om weer die plante uit te trek; •daar is ’n vasgestelde tyd om dood te maak en daar is ook ’n tyd om gesond te maak; daar is ’n tyd om dinge af te breek en ’n tyd om dit te herstel; •daar is ’n tyd wanneer ’n mens hartseer is en dan is daar ook weer ’n tyd vir vreugde; daar is ’n tyd om te huil en ’n tyd om weer gelukkig te wees; •daar is ’n tyd om mekaar lief te hê en ’n tyd om weg van mekaar te wees; daar is ’n tyd om mekaar te liefkoos en ’n tyd wanneer liefkosing nie pas nie; •daar is ’n tyd om te soek en ’n tyd om goed te laat wegraak; daar is ’n tyd om op te gaar en ’n tyd om weg te gooi; •daar is ’n tyd om iets te skeur en ’n tyd om dit heel te maak; daar is ’n tyd om te praat en ’n tyd om stil te bly; •daar is ’n tyd vir liefhê en ’n tyd vir haat; ’n tyd vir oorlog en ’n tyd vir vrede. Watter voordeel kry ’n mens dan op die ou end uit al sy harde werk? God het vir mense ’n baie moeilike werk gegee. Hulle moes probeer om God se werk te verstaan. God het alles mooi en op die regte tyd gemaak. Toe het Hy die mense iets laat verstaan van hoe sy soort tyd werk, maar die mense kon niks daarvan verstaan nie. Absoluut niks nie. Toe het ek besef al wat die mens maar moet doen, is om gelukkig te wees en die lewe te geniet. Om tussen al die harde werk deur nog te kan eet en drink en gelukkig te wees is ’n geskenk uit die hand van God. Ek weet dat alles wat God doen, vir altyd sal bestaan. Niemand sal iets daarby voeg of iets daarvan wegneem nie omdat God te groot en te sterk is. Wat nou bestaan, het vroeër ook reeds bestaan. En wat nog gaan kom, was alreeds daar. God laat dieselfde dinge weer en weer gebeur. Ek het om my rondgekyk. Toe sien ek: waar die regte dinge moes gebeur, was daar net onreg. Niemand het gedoen wat God vra nie. Ek het gedink daar is ’n tyd om te oordeel en ’n tyd om te straf, en dat God mense wat doen wat Hy sê en sondaars billik sal oordeel. Maar dit sal ongelukkig nie gebeur nie, want volgens God is ons niks beter as ’n dier nie. Wat met ’n mens gebeur, gebeur ook met ’n dier. Die een gaan net soos die ander dood. Albei het dieselfde asem. Die mens is nie beter as die dier nie. Die lewe is regtig sinloos. ’n Dooie mens en ’n dooie dier gaan na dieselfde plek toe terug. En dit is die stof waaruit albei gemaak is. Wie weet of die mens se asem opstyg en of die dier s’n in die aarde in wegsink? Die lewe het my geleer dat die mens dit waarmee hy hom elke dag besig hou, maar moet geniet. Hy kan eintlik nie iets anders nie, want niemand weet wat hierna in die dood gaan gebeur nie.

PREDIKER 3:1-22 Bybel vir almal (ABA)

Daar is 'n regte tyd vir alles, elke ding in hierdie wêreld gebeur op die regte tyd. Daar is 'n tyd om gebore te word en 'n tyd om te sterf, 'n tyd om te plant en 'n tyd om plante uit te trek. Daar is 'n tyd om dood te maak en 'n tyd om gesond te maak, 'n tyd om af te breek en 'n tyd om te bou. Daar is 'n tyd om te huil en 'n tyd om te lag, 'n tyd om te rou en 'n tyd om te dans. Daar is 'n tyd om klippe weg te gooi en 'n tyd om klippe bymekaar te maak, 'n tyd om iemand te druk en te omhels en 'n tyd om iemand nie te omhels nie. Daar is 'n tyd om te soek en 'n tyd om iets te laat wegraak, 'n tyd om iets op te pas en 'n tyd om dit weg te gooi. Daar is 'n tyd om te skeur en 'n tyd om vas te werk, 'n tyd om stil te bly en 'n tyd om te praat. Daar is 'n tyd om lief te wees en 'n tyd om te haat, 'n tyd om oorlog te maak en 'n tyd om vrede te maak. Wat help dit vir 'n mens dat hy hard gewerk het? Niks. Ek het gesien dat God vir die mense werk gegee het om te doen. God het alles mooi gemaak toe Hy dit gemaak het. Hy het vir die mense geleer dat daar altyd tyd sal wees, maar die mense kan nie verstaan wat God alles gedoen het nie, van die begin tot die einde. Ek weet nou dat dit die beste vir 'n mens is om vrolik te wees en die lewe te geniet terwyl hy lewe. Mense kan eet en drink en die lewe geniet nadat hulle hard gewerk het, ek weet dat dít 'n present is wat God vir mense gee. Ek weet nou dat alles wat God gemaak het, altyd daar sal wees. 'n Mens kan niks meer daarby sit nie en jy kan niks daarvan wegneem nie. God het dit so gedoen sodat almal Hom moet respekteer. Die dinge wat nou daar is, was voorheen ook daar, en die dinge wat later sal gebeur, is nou ook daar. God laat die dinge wat verby is, weer gebeur. Ek het ook in hierdie wêreld gesien dat mense verkeerd doen wanneer hulle reg moet doen en regverdig moet wees. Ek het gedink God sal die persoon oordeel wat reg lewe en Hy sal ook die persoon oordeel wat verkeerd doen. Hy sal altwee oordeel, want Hy het besluit dat daar vir elke ding 'n regte tyd is om te gebeur en 'n regte tyd om dit te doen. Ek het gedink dat God die mense wil toets en vir hulle wil wys dat hulle soos diere is. Want dieselfde dinge gebeur met mense en met diere, mense sterf soos diere sterf. Almal moet asemhaal. Die mense is nie anders as die diere nie, want niks is soos dit moet wees nie. Almal sterf en gaan na dieselfde plek, alles is stof en alles word weer stof. Wie weet of mense se asem boontoe gaan en of diere se asem afgaan in die aarde? Niemand. Ek het gesien dit is die beste vir 'n mens dat hy sy werk moet geniet, dit is sy beloning. Wie kan vir 'n mens wys wat ná hom sal gebeur?

PREDIKER 3:1-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

ALLES het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar 'n tyd: 'n tyd om gebore te word en 'n tyd om te sterwe, 'n tyd om te plant en 'n tyd om uit te roei wat geplant is, 'n tyd om dood te maak en 'n tyd om gesond te maak, 'n tyd om af te breek en 'n tyd om op te bou, 'n tyd om te ween en 'n tyd om te lag, 'n tyd om te weeklaag en 'n tyd om van vreugde rond te spring, 'n tyd om klippe weg te gooi en 'n tyd om klippe bymekaar te maak, 'n tyd om te omhels en 'n tyd om ver te wees van omhelsing, 'n tyd om te soek en 'n tyd om verlore te laat gaan, 'n tyd om te bewaar en 'n tyd om weg te gooi, 'n tyd om te skeur en 'n tyd om aanmekaar te werk, 'n tyd om te swyg en 'n tyd om te spreek, 'n tyd om lief te hê en 'n tyd om te haat, 'n tyd vir oorlog en 'n tyd vir vrede. Watter voordeel het hy wat werk, daardeur dat hy hom vermoei? Ek het die taak gesien wat God aan die mensekinders gegee het om hulle daarmee te kwel. Alles het Hy mooi gemaak op sy tyd; ook het Hy die eeu in hulle hart gelê sonder dat die mens die werk wat God doen, van begin tot end, kan uitvind. So het ek dan ingesien dat daar niks beters onder hulle is nie as om bly te wees en om goed te doen in die lewe. En ook — dat elke mens eet en drink en die goeie geniet by al sy moeitevolle arbeid; dit is 'n gawe van God. Ek het ingesien dat alles wat God doen, vir ewig sal bestaan; daar kan niks bygevoeg en daar kan niks van weggeneem word nie; en God het dit so gemaak dat hulle moet vrees voor sy aangesig. Alles wat is, was alreeds; en wat sal wees, was alreeds; en God soek weer op wat verbygegaan het. Verder het ek ook gesien onder die son die plek van die gereg — daar was onreg, en die plek van geregtigheid — daar was onreg. Ek het in my hart gesê: Gód sal die regverdige en die goddelose oordeel, want dáár is 'n tyd vir elke saak en vir elke werk. Ek het in my hart gesê: Ter wille van die mensekinders gebeur dit, dat God hulle kan beproef, en dat hulle kan insien dat hulle in hulleself vee is. Want die lot van die mensekinders is ook die lot van die veediere: hulle het een en dieselfde lot; soos die een sterwe, so sterwe die ander, en hulle almal het dieselfde asem, en 'n voorkeur van die mens bo die veediere is daar nie; want alles is tevergeefs. Alles gaan na een plek toe; alles is uit die stof, en alles keer na die stof terug. Wie bespeur dat die asem van die mensekinders opgaan boontoe, en dat die asem van die veediere neerdaal ondertoe in die aarde? So het ek dan gesien dat daar niks beters is as dat die mens hom verheug in sy werke nie, want dit is sy deel; want wie sal hom daartoe bring dat hy kan sien wat ná hom sal wees?

PREDIKER 3:1-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd: daar is 'n tyd om gebore te word, 'n tyd om te sterwe, 'n tyd om te plant, 'n tyd om plante uit te trek, 'n tyd om 'n lewe te neem, 'n tyd om 'n lewe te red, 'n tyd om af te breek, 'n tyd om te bou, 'n tyd om te huil, 'n tyd om te lag, 'n tyd om te treur, 'n tyd om van blydskap te dans, 'n tyd om klippe weg te gooi, 'n tyd om hulle bymekaar te maak, 'n tyd om te omhels, 'n tyd om weg te bly van omhelsing af, 'n tyd om aan te skaf, 'n tyd om te laat wegraak, 'n tyd om te spaar, 'n tyd om weg te gooi, 'n tyd om te skeur, 'n tyd om toe te werk, 'n tyd om stil te bly, 'n tyd om te praat, 'n tyd om lief te hê, 'n tyd om te haat, 'n tyd vir oorlog, 'n tyd vir vrede. Wat kry die mens vir die werk waarmee hy hom vermoei? Ek het gesien dat God aan die mens 'n taak gegee het om hom mee besig te hou. God het elke ding gemaak dat dit pas in 'n bepaalde tyd, maar Hy het ook aan die mens 'n besef gegee van die onbepaalde tyd. Tog kan die mens die werk van God van begin tot einde nie begryp nie. Ek het tot die insig gekom dat daar vir 'n mens niks beter is nie as om vrolik te wees en die goeie van die lewe te geniet. Dat die mens kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet, ook dit is 'n gawe van God. Ek het tot die insig gekom dat wat God doen, blywend is: jy kan daar niks byvoeg nie en jy kan daar niks van wegneem nie. God doen dit sodat die mens vir Hom ontsag sal hê. Wat is, was reeds. Wat kom, was ook alreeds. God laat weer gebeur wat vroeër gebeur het. Verder het ek in hierdie wêreld gesien: waar daar reg moet geskied, is daar onreg; waar daar geregtigheid moet wees, is daar oortreding. Ek het by myself gedink: God spreek reg oor regverdige en onregverdige; daar is 'n tyd vir elke saak, ook vir wat in die regspraak gebeur. Ek het by myself gedink: dit is ter wille van die mense self dat God hulle toets; hulle moet insien dat hulle niks anders as diere is nie. Een en dieselfde lot tref mens en dier, hulle gaan almal dood, die een soos die ander. Almal het net een asem. Die mens is nie beter daaraan toe as die dier nie. Alles kom tot niks. Almal is op pad na dieselfde plek toe, almal is van stof en almal word weer stof. Wie weet of die asem van die mens opstyg boontoe en of die asem van die dier afgaan onder toe? Ek het gesien dat daar niks beter is nie as dat die mens vreugde vind in sy werk; dit is wat hom toekom. Wie kan hom laat sien wat ná hom sal gebeur?

PREDIKER 3:1-22 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Vir alles is daar 'n tyd en 'n tyd vir elke doel onder die hemel: 'n Tyd om gebore te word en 'n tyd om te sterwe; 'n tyd om te plant, en 'n tyd om te pluk wat geplant is; 'n Tyd om dood te maak en 'n tyd om te genees; 'n tyd om af te breek en 'n tyd om op te bou; 'n Tyd om te ween en 'n tyd om te lag; 'n tyd om te treur en 'n tyd om te dans; 'n Tyd om klippe weg te gooi en 'n tyd om klippe bymekaar te maak; 'n tyd om te omhels, en 'n tyd om te weerhou van omhelsing; 'n Tyd om te kry en 'n tyd om te verloor; 'n tyd om te bewaar en 'n tyd om weg te gooi; 'n Tyd om te skeur en 'n tyd om naaldwerk; 'n tyd om te swyg en 'n tyd om te spreek; 'n Tyd om lief te hê en 'n tyd om te haat; 'n tyd van oorlog en 'n tyd van vrede. Watter nut het hy wat arbei met dit waarmee hy arbei? Ek het gesien hoe die moeite werd is wat God aan die mensekinders gegee het om daarin geoefen te word. Hy het alles mooi gemaak op sy tyd; ook het Hy die wêreld in hulle hart geplaas, sodat niemand die werk wat God maak, van die begin tot die einde kan uitvind nie. Ek weet dat daar geen goed in hulle is nie, maar dat 'n mens bly is en goed doen in sy lewe. En ook dat elke mens moet eet en drink en die goeie van al sy arbeid geniet, dit is die gawe van God. Ek weet dat alles wat God doen, dit vir ewig sal wees; niks kan daaraan gebring word en niks daarvan ontneem word nie; en God doen dit, sodat die mense voor Hom moet vrees. Wat was, is nou; en wat gaan wees, was alreeds; en God eis dit wat verby is. En ek het ook onder die son die plek van oordeel gesien, dat daar goddeloosheid was; en die plek van geregtigheid, dat die ongeregtigheid daar was. Ek het in my hart gesê: God sal die regverdige en die goddelose oordeel, want daar is 'n tyd vir elke doel en vir elke werk. Ek het in my hart gesê aangaande die toestand van die mensekinders, dat God hulle kan openbaar en dat hulle kan sien dat hulle self diere is. Want wat die mensekinders tref, tref die diere; selfs een ding oorkom hulle: soos die een sterf, so sterf die ander; ja, hulle het almal een asem; sodat 'n mens geen voorrang bo 'n dier het nie, want alles is nietigheid. Gaan almal na een plek; almal is uit die stof, en almal word weer tot stof. Wie ken die gees van die mens wat boontoe opgaan, en die gees van die dier wat afgaan na die aarde? Daarom sien ek dat daar niks beters is as dat 'n mens bly is oor sy eie werke nie; want dit is sy deel; want wie sal hom bring om te sien wat ná hom sal wees?

PREDIKER 3:1-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Daar is ’n vaste tyd vir alles, elke ding onder die son het sy tyd: ’n Tyd om gebore te word en ’n tyd om te sterf. ’n Tyd om te plant en ’n tyd om uit te ruk wat geplant is. ’n Tyd om dood te maak en ’n tyd om gesond te maak. ’n Tyd om af te breek en ’n tyd om op te bou. ’n Tyd om te huil en ’n tyd om te lag. ’n Tyd om te treur en ’n tyd om van vreugde te dans. ’n Tyd om jou saad te saai en ’n tyd om jou saad terug te hou. ’n Tyd om te omhels en ’n tyd om weg te bly van omhelsing. ’n Tyd om te soek en ’n tyd om te verloor. ’n Tyd om op te pas en ’n tyd om weg te gooi. ’n Tyd om te skeur en ’n tyd om vas te werk. ’n Tyd om stil te bly en ’n tyd om te praat. ’n Tyd om lief te hê en ’n tyd om te haat. ’n Tyd vir oorlog en ’n tyd vir vrede. Watter voordeel is daar vir die een wat iets doen wat hom vermoei? Ek het nagedink oor die taak waarmee God die mens belas. Hy het alles mooi gemaak, Hy het aan die mens ’n visie gegee van die ewigheid. Tog kan mense nie die volle omvang van God se werk, van begin tot end, verstaan nie. Ek het besef daar is vir mense niks beter nie as om vrolik te wees en tydens hul lewe die goeie te geniet. Mense moet eet en drink en onder al hul moeite nog die goeie kan geniet. Dit is geskenke van God. Ek weet alles wat God doen, is vir ewig. Niemand kan daar iets byvoeg of daar iets van wegneem nie. God doen dit sodat die mens Hom sal eer. Wat is, was reeds. Wat nog sal wees, was ook alreeds, God soek dít op wat alreeds verby is. Ek het nog iets onder die son opgemerk: In die plek waar reg moet wees, was daar onreg. In die plek waar daar geregtigheid moes wees, was daar boosheid. Toe het ek by myself gedink: “God spreek reg oor die regverdige en goddelose, want daar is ’n tyd vir elke saak, ook vir alles wat gedoen word.” Ek het besef God laat mense toe om in hulle boosheid te volhard, want Hy toets hulle. So kan hulle insien dat hulle niks beter is as diere nie. Die mens se lot is dieselfde as die dier s’n. Die een gaan dood, nes die ander. Hulle deel dieselfde asem. Die mens het geen voordeel bo diere nie, want alles is sinloos. Almal gaan na dieselfde plek. Hulle kom uit die stof en hulle word weer stof. Wie weet of die asem van die mens boontoe gaan en diere se asem afgaan na die aarde toe? Ja, ek het agtergekom dat daar niks beter is nie as dat mense gelukkig is in hulle werk. Dit kom die mens toe. Wie kan hom laat weet wat ná hom sal gebeur?

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid