PREDIKER 2:7-11 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion
PREDIKER 2:7-11 AFR83 (Afrikaans 1983)
Ek het slawe en slavinne aangeskaf, en hulle het kinders gekry wat ook my slawe was. Ek het baie beeste en kleinvee gehad, meer as almal voor my in Jerusalem. Ek het vir my silwer en goud opgegaar wat ek gekry het van konings en provinsies. Ek het vir my sangers en sangeresse gewerf, talle mooi meisies met wie ek die lewe kon geniet. Ek was magtiger en ryker as almal voor my in Jerusalem. My wysheid het my goed te pas gekom. Alles wat ek begeer het, het ek my veroorloof; ek het my geen plesier ontsê nie. Alles waarmee ek my besig gehou het, het my plesier verskaf. Dit was my beloning vir al my inspanning. Maar toe ek goed nadink oor alles wat ek gedoen het en oor alles waarmee ek my met soveel sorg besig gehou het, het ek gesien dat alles niks was, 'n gejaag na wind. In hierdie wêreld bevredig niks nie.
PREDIKER 2:7-11 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
Ek het slawe en slavinne gekoop en ook dié verkry wat in my huis gebore is; ek het ook 'n groot besitting van beeste en kleinvee gehad, meer as almal wat voor my in Jerusalem gewees het. Ek het vir my ook silwer en goud versamel, en 'n eiendom van konings en provinsies; ek het vir my sangers en sangeresse verskaf en die genoeëns van die mensekinders: lieflinge in menigte. En ek het groot en altyd groter geword bo almal wat voor my in Jerusalem gewees het; ook het my wysheid by my gebly. En alles wat my oë begeer het, het ek hulle nie ontsê nie; my hart het ek van geen enkele vreugde teruggehou nie, want my hart het hom verheug vanweë al my moeitevolle arbeid, en dit was my deel van al my moeitevolle arbeid. Toe het ek gekyk na al my werke wat my hande tot stand gebring het, en al die moeitevolle arbeid wat ek verrig het — en kyk, dit was alles tevergeefs en 'n gejaag na wind, en daar was geen voordeel onder die son nie.
PREDIKER 2:7-11 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Ek het slawe en slavinne aangekoop. Ander is as slawe in my huis gebore. Ek het groot troppe beeste en kleinvee besit, meer as enigeen wat voor my in Jerusalem geleef het. Ek het baie silwer en goud vir myself bymekaargemaak, asook ’n skat van konings en provinsies. Ek het sangers en sangeresse aangestel, en die dinge bekom waarmee mense die lewe geniet, naamlik een meisie na die ander. Ek het ver uitgestyg bo almal voor my in Jerusalem, en my wysheid het my baie gehelp. Alles wat my oë begeer het, het ek my nie ontsê nie. Ek het my nie teruggehou van enige plesier nie. Ek het genot gevind in my harde werk. Dit was my beloning vir al my inspanning. Ek het daarna egter nagedink oor alles wat ek bereik het, oor al die moeite wat ek gedoen het. Ek het besef hoe sinloos dit alles is. Dis niks anders as ’n gejaag na wind nie. Daar is geen voordeel onder die son nie.
PREDIKER 2:7-11 DB (Die Boodskap)
Verder het ek ’n groot klomp werkers, mans en vroue, in diens geneem en hulle kinders my eiendom gemaak. Ek het ook groot troppe vee vir my gekoop, meer as wat enige koning voor my gehad het. Hope silwer en goud het ek bymekaargemaak. Ek het talle sangers en sangeresse aangestel, en baie mooi meisies gekry om my gelukkig te hou. Naderhand was ek groter en belangriker as enigiemand wat ooit in Jerusalem gewoon het. My soektog na wysheid en insig het ek egter nooit verloor nie. Wat ek in dié tyd wou gehad het, het ek gekry. Ek het myself niks ontsê nie. En ek was gelukkig oor wat ek alles bereik het. Dit was die beloning vir al my moeite. Toe het ek alles wat ek gedoen het, krities begin ondersoek. Oor my werk en inspanning het ek baie nagedink. En ek het besef dat alles sinloos is. Dit is bloot net ’n mors van tyd. In hierdie wêreld is daar absoluut géén sin nie.
PREDIKER 2:7-11 ABA (Bybel vir almal)
ek het slawe en slavinne gekoop, en my slawe het kinders gekry, ek het meer skape en bokke gehad as almal wat voor my in Jerusalem regeer het. Ek het silwer en goud bymekaargemaak en ook die goed wat ander konings en die distrikshoofde vir my gegee het. Ek het mans en vroue gekry wat vir my sing, ek het alles gekry wat 'n mens kan geniet, ook byvroue. Ek het belangriker geword as almal wat voor my oor Jerusalem regeer het, en ek het ook nie my wysheid verloor nie. Ek het alles gekry wat ek wou hê, ek het alles geniet wat ek wou geniet, want alles wat ek gedoen het, was vir my lekker. Ek kon alles geniet wat ek gedoen het, dít was die beloning wat ek gekry het vir al my werk. Maar toe dink ek oor alles wat ek gedoen het, ek het gedink oor al my harde werk, en wat het ek toe uitgevind? Ek het uitgevind dat niks is wat dit moet wees nie, ek het wind gejaag. Jy kan nie wen in hierdie wêreld nie.
PREDIKER 2:7-11 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Ek het slawe en slavinne gekoop, en slawekinders wat in my huis gebore is, was ook deel van my besittings. Ek het meer beeste en kleinvee gehad as almal wat voor my in Jerusalem was. Ek het ook vir my silwer en goud, die privaatbesit van konings, en provinsies, bymekaargemaak. Ek het vir my sangers en sangeresse aangeskaf, en die genot van mensekinders: baie byvroue! So het ek baie belangriker geword as enigiemand wat voor my in Jerusalem was; boonop het ek my wysheid steeds behou. Wat my oë ook al begeer het, het ek hulle nie ontsê nie. Ek het my hart nie weerhou van enige plesier nie. Ja, my hart het vreugde geput uit al my inspanning. Dit was my beloning vir al my inspanning. Maar ek het nagedink oor al die werk wat my hande verrig het, en die inspanning waarmee ek my afgesloof het om dit tot stand te bring. En kyk, alles was sinloos en 'n gejaag na wind. Dit het geen voordeel ingehou onder die son nie.
PREDIKER 2:7-11 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Ek het vir my diensknegte en diensmeisies gekry, en diensknegte het in my huis gebore; Ek het ook groot besittings gehad van groot en klein vee bo alles wat voor my in Jerusalem was. Ek het vir my ook silwer en goud bymekaargemaak, en die besondere skat van konings en van die provinsies: ek het vir my sangers en sangeresse en die genot van die mensekinders, as musiekinstrumente en allerhande soorte. So was ek groot en het ek meer geword as almal wat voor my in Jerusalem was; ook het my wysheid by my gebly. En wat my oë ook al begeer het, het ek van hulle nie gehou nie, ek het my hart van geen blydskap teruggehou nie; want my hart was bly oor al my arbeid, en dit was my deel van al my arbeid. Toe het ek gekyk na al die werke wat my hande verrig het en na die arbeid waarmee ek gewerk het