PREDIKER 1:1-18
PREDIKER 1:1-18 Bybel vir almal (ABA)
Hier is die dinge wat die Prediker gesê het. Hy was 'n seun van Dawid en hy was koning in Jerusalem. Die Prediker het gesê: Daar is niks wat is soos dit moet wees nie, niks is soos dit moet wees nie. 'n Mens werk hard, maar wat kry hy vir alles wat hy doen? Wat kry hy vir alles wat hy in hierdie wêreld doen? Mense lewe en mense sterf, maar die aarde is altyd daar. Die son kom op en die son gaan onder, en hy is haastig om weer te kom by die plek waar hy opgekom het. Die wind waai na die suide en dit draai na die noorde, dit draai en draai, die wind waai en dit hou nie op om te draai nie. Al die riviere vloei in die see in, maar die see word nie vol nie. Die riviere vloei altyd na dieselfde plek. Al die woorde wat daar is, is te min, 'n mens kan nie alles sê nie. Die oog kyk en hy hou nooit op om te kyk nie, die oor hoor en hy hou nooit op om te luister nie. Die dinge wat daar was, sal weer daar wees. Mense sal weer die dinge doen wat hulle altyd gedoen het. Daar is niks wat nuut is in hierdie wêreld nie. Wanneer iemand sê: “Kyk, hier is iets wat nuut is,” dan sê ek: Nee, dit was klaar daar voordat óns daar was. Niemand onthou wat lank gelede gebeur het nie, en die mense wat later sal lewe, sal ook nie onthou wat later gebeur het nie. Ek, die Prediker, was koning van Israel in Jerusalem. Ek het hard probeer om met wysheid te kyk na alles wat die mense in hierdie wêreld doen, ek het probeer om dit te ondersoek. Dit is 'n swaar werk wat God vir die mense gegee het om te doen. Ek het gekyk na alles wat die mense in hierdie wêreld doen, en ek het gesien dat niks is soos dit moet wees nie, die mense jaag wind. 'n Mens kan nie iets wat krom is, reguit maak nie, en jy kan nie iets tel wat nie daar is nie. Ek het gedink dat ek baie wysheid gekry het, meer wysheid as almal wat voor my oor Jerusalem regeer het. Ek het baie wysheid gekry en ek weet baie. Ek het hard probeer om te verstaan wat wysheid is en wat dit is om dinge te ken. Ek het ook probeer verstaan wat dit is om nie wysheid te hê nie en 'n dwaas te wees. Ek weet nou dat almal wind jaag. Want wanneer jy baie wysheid het, dan is jy bekommerd oor baie dinge. As jy baie weet, dan kan dit jou ook baie hartseer maak.
PREDIKER 1:1-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DIE woorde van die Prediker, die seun van Dawid, die koning in Jerusalem. Alles tevergeefs, sê die Prediker, alles tevergeefs, dit is alles tevergeefs! Watter voordeel het die mens van al sy moeite waarmee hy hom vermoei onder die son? Die een geslag gaan, en die ander geslag kom, en die aarde bly vir ewig staan. En die son gaan op, en die son gaan onder, en hy hyg na die plek waar hy opgaan. Die wind gaan na die suide en slaan om na die noorde, gaan altyddeur rond, en die wind keer na sy kringloop terug. Al die strome loop in die see, en tog word die see nie vol nie; na die plek waarheen die riviere loop, daarheen loop hulle altyd weer. Al die dinge is so vermoeiend, geen mens kan dit uitspreek nie; die oog kry nie genoeg van sien nie, en die oor word nie vol van hoor nie. Wat gewees het, dit sal daar weer wees; en wat gebeur het, dit sal weer gebeur, en daar is glad niks nuuts onder die son nie. Is daar iets waarvan 'n mens kan sê: Kyk hier, dit is nuut? Dit was lankal daar in die ou tyd wat voor ons gewees het. Daar is geen nagedagtenis van die voorvaders nie; en ook van die nageslagte wat kom, sal daar geen nagedagtenis wees by die wat later sal wees nie. EK, Prediker, was koning oor Israel in Jerusalem. En ek het my hart daarop gerig om met wysheid te ondersoek en na te speur alles wat onder die hemel gebeur. Dit is 'n moeilike taak wat God aan die mensekinders gegee het om hulle daarmee te kwel. Ek het al die werke gesien wat onder die son gedoen word, en kyk, dit was alles tevergeefs en 'n gejaag na wind. Wat krom is, kan nie reguit word nie, en wat ontbreek, kan nie getel word nie. Ek het met myself gespreek en gesê: Kyk, ék het groot en altyd groter wysheid verwerf bo almal wat voor my oor Jerusalem gewees het, en my hart het baie wysheid en kennis gesien. Maar toe ek my hart daarop gerig het om wysheid en kennis, onverstandigheid en dwaasheid te leer ken, het ek ingesien dat dit ook 'n gejaag na wind is. Want by baie wysheid is baie verdriet, en wie kennis vermeerder, vermeerder smart.
PREDIKER 1:1-18 Afrikaans 1983 (AFR83)
Woorde van die Prediker, seun van Dawid en koning in Jerusalem. Alles kom tot niks, sê die Prediker, tot niks. Wat kry die mens vir sy geswoeg, sy geswoeg in hierdie wêreld? Geslagte kom en geslagte gaan, maar die wêreld bly altyd dieselfde. Die son kom op, die son gaan onder, en dan haas hy hom weer na waar hy opkom. Die wind waai suid, draai noord, waai hierheen en daarheen en dan draai hy maar weer. Al die riviere loop in die see in, maar die see word nooit vol nie. Die riviere hou aan om te loop na die plek toe waarheen hulle altyd geloop het. Woorde vervaag mettertyd, en 'n mens kry nie klaar met praat nie. Die oog kyk, maar kry nie klaar met kyk nie; die oor hoor, maar kry nie klaar met hoor nie. Wat was, sal weer wees; wat gebeur het, sal weer gebeur. Daar is niks nuuts in hierdie wêreld nie. Kan jy van iets sê dit is nuut? Nee, dit was lankal daar, lank voor ons tyd. Wat verby is, word vergeet, en ook wat later kom, sal vergeet word deur dié wat daarna kom. Ek, die Prediker, was koning oor Israel in Jerusalem. Ek het my daarop toegelê om alles wat in hierdie wêreld gebeur, te ondersoek en behoorlik te deurdink. Ek het bevind: God het 'n harde taak aan die mens gegee om hom mee besig te hou. Ek het alles wat in hierdie wêreld gebeur, bekyk: alles kom tot niks, dit is 'n gejaag na wind. Wat krom is, kan nie reguit word nie; wat nie daar is nie, kan nie getel word nie. Ek het by myself gedink: ek het meer wysheid as almal wat voor my in Jerusalem geregeer het, ek het baie ervaring en insig. Ek het my daarop toegelê om te verstaan wat wysheid en kennis is, en wat dit is om 'n gebrek aan wysheid en kennis te hê. Ek het vasgestel: ook dit is 'n gejaag na wind. Baie wysheid stel hoë eise, wie kennis versamel, versamel smart.
PREDIKER 1:1-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die woorde van Prediker, seun van Dawid, koning in Jerusalem. Sinloos, volslae sinloos, sê Prediker, sinloos, volslae sinloos; alles is sinloos! Watter voordeel is daar vir 'n mens met al sy inspanning waarmee hy hom afsloof onder die son? Geslagte kom en geslagte gaan, en die aarde bestaan vir altyd. Die son kom op en die son gaan onder, en haas hom na sy plek waar hy opkom. Die wind waai na die suide en draai na die noorde. Dit bly draai en draai – op sy kringloop keer die wind telkens terug. Al die strome vloei na die see, maar die see word nie vol nie. Na die plek waarheen die strome vloei, daarheen vloei hulle altyd weer. Alles bly aan die worstel – 'n mens kan dit onder woorde nie bring nie; oë raak nie versadig van sien en ore raak nie vol van hoor nie. Wat ook al gebeur het, dit is wat gaan gebeur; en wat ook al gedoen is, dit is wat gedoen gaan word. Daar is niks nuuts onder die son nie. As daar iets is waarvan iemand sê, “Kyk hier, dit is nuut!” – dit het reeds gebeur in die tye wat voor ons daar was. Vroeëre gebeure word nie onthou nie, en ook nie die latere wat nog sal gebeur nie – daar is aan hulle net so min herinnering as aan dit wat sal gebeur teen die einde. Ek, Prediker, was koning oor Israel in Jerusalem. Ek het my daaraan toegewy om alles wat onder die hemel gedoen word, met wysheid te ondersoek en na te vors. Dit is 'n nuttelose taak wat God aan mense opgedra het om hulle mee te belas. Ek het gekyk na alles wat gedoen word onder die son: Kyk, dit alles is sinloos, 'n gejaag na wind. Wat krom is, kan nie reguit word nie; wat ontbreek, kan nie getel word nie. Ek het vir myself gesê: Wat my betref, kyk, ek het wysheid opgebou en vermeerder, meer as enigiemand wat voor my oor Jerusalem geheers het. My hart het baie insig gekry in wysheid en kennis. Toe het ek my daaraan toegewy om wysheid en kennis, domheid en dwaasheid te verstaan. Ek het besef dat selfs dit die najaag van wind is. Want met baie wysheid kom baie verdriet, en wie kennis vermeerder, vermeerder lyding.
PREDIKER 1:1-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die woorde van die Prediker, die seun van Dawid, koning in Jerusalem. Nietigheid van nietighede, spreek die Prediker, ydelheid van nietighede; alles is nietigheid. Watter baat het 'n man van al sy arbeid wat hy onder die son doen? Een geslag gaan verby, en 'n ander geslag kom, maar die aarde bly vir ewig. Die son gaan ook op en die son gaan onder en haas hom na sy plek waar hy opgegaan het. Die wind gaan na die suide en draai na die noorde; dit dwarrel gedurigdeur, en die wind keer terug volgens sy kringe. Al die riviere loop in die see; tog is die see nie vol nie; na die plek waar die riviere vandaan kom, daarheen keer hulle terug. Alles is vol arbeid; die mens kan dit nie uitspreek nie: die oog word nie versadig om te sien nie, en die oor word nie vol van gehoor nie. Wat was, dit is wat sal wees; en wat gebeur, is wat gedoen sal word; en daar is niks nuuts onder die son nie. Is daar iets waarvan gesê kan word: Kyk, dit is nuut? dit was al van ouds af wat voor ons was. Daar is geen herinnering aan vorige dinge nie; ook sal daar geen gedagtenis wees aan die dinge wat kom met die wat daarna sal kom nie. Ek, die Prediker, was koning oor Israel in Jerusalem. En ek het my hart gegee om met wysheid te soek en na te speur oor alles wat onder die hemel gebeur: hierdie smarte moeite het God aan die mensekinders gegee om daarmee geoefen te word. Ek het al die werke gesien wat onder die son gedoen word; en kyk, dit is alles tevergeefs en 'n kwelling van die gees. Wat krom is, kan nie reguit gemaak word nie, en wat ontbreek, kan nie getel word nie. Ek het met my eie hart gepraat en gesê: Kyk, ek het in 'n groot toestand gekom en meer wysheid verkry as almal wat voor my in Jerusalem was; ja, my hart het 'n groot ervaring van wysheid en kennis gehad. En ek het my hart gegee om wysheid te leer ken en waansin en dwaasheid te ken; Want in baie wysheid is baie droefheid, en wie kennis vermeerder, vermeerder droefheid.
PREDIKER 1:1-18 Die Boodskap (DB)
Hier volg die woorde van die Prediker, ’n seun van Dawid, die koning van Jerusalem. Alles is sinloos, sê die Prediker. Absoluut alles. Die lewe het geen sin nie. Alles loop uit op niks. Elke dag werk jy hard, maar wat kry jy van al jou gesukkel? Geslagte kom en gaan, maar watter sin het dit? Die lewe gaan maar op sy ou manier voort. Elke dag kom die son op. Teen sononder gaan dit moeg onder, maar die volgende oggend staan dit weer op. En die wind waai eindeloos heen en weer. Dit waai nou dié kant toe en dan weer daardie kant toe. Al die riviere loop see se kant toe, maar die see word nooit vol nie. Die riviere se loop see toe bly altyd dieselfde. Hulle vat altyd dieselfde pad. Woorde kan ’n mens moeg maak met ’n moegheid wat niemand kan beskryf nie. Jou oog kyk en kyk sonder om ooit klaar te sien. En jou oor hoor en hoor, maar dit kry nooit klaar gehoor nie. Wat reeds gebeur het, sal maar weer gebeur. En wat mense tot nou toe gedoen het, sal hulle maar môre en oormôre weer doen. Sal iemand ooit kan sê: “Kyk, dit is nou werklik iets nuuts”? Hoegenaamd nie! Dit het al in die gryse verlede en lank voor ons tyd bestaan. Niemand dink meer aan die mense wat lank gelede geleef het nie. Of aan hulle wat nog moet kom nie. Elke geslag dink net aan hulleself. Hulle het die voorgeslag lankal vergeet. Ek, die Prediker, was koning van Israel, in Jerusalem. Ek het besluit om alles wat in hierdie wêreld gebeur, te ondersoek en te probeer verstaan. Ek het uitgevind dat dit ’n moeilike taak is wat God die mens opgelê het om oor sulke dinge na te dink en dit na te vors. Ek het alles gesien wat mense op aarde doen. Net mooi alles was sinloos; ’n gejaag agter wind aan. Dit is presies soos die spreekwoord sê: “As iets krom is, kan niemand dit reguit maak nie, want niemand kan die wêreld verbeter nie.” Ek het by myself gedink dat ek oor die jare sommer baie wysheid en lewenskennis versamel het. Baie meer as enigeen wat voor my in Jerusalem regeer het. Al die kennis en wysheid het deel van my lewe geword. Toe het ek besluit om die verskil tussen wysheid en kennis aan die een kant en domheid en dwaasheid aan die ander kant te leer ken. En ek moet erken dat daar eintlik geen verskil is nie. Alles is maar ’n sinlose gejaag na wind. Wie insig in die lewe het, het ook baie verdriet. En wie kennis versamel, ervaar ook groot hartseer.
PREDIKER 1:1-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Wat hier volg, is die woorde van die Prediker. Hy was ’n seun van Dawid en het in Jerusalem as koning regeer. “Alles is sinloos,” sê die Prediker. “Alles is sinloos, absoluut sinloos!” Watter voordeel kry mense vir al hulle harde werk, hulle inspanning onder die son? Die een geslag volg op die ander, maar die aarde verander nooit nie. Die son kom op en gaan weer onder; hy haas hom terug na waar hy opkom. Die wind waai na die suide en draai na die noorde. Dit dwarrel om en om, en gaan weer in sy sirkelgang. Die riviere vloei in die see, maar die see word nooit vol nie. Die water gaan weer terug na die riviere toe, en keer terug na die see. Al die dinge maak ’n mens moeg, ’n mens kan dit nie eers opnoem nie, die oog word nie versadig van wat hy sien nie, die oor word nie vol van wat hy hoor nie. Niks wat gebeur, is nuut nie. Wat gedoen is, sal weer gedoen word. Daar is niks nuuts onder die son nie. Na wat kan jy wys en sê: “Dit is nuut”? Nee, dit was lankal daar, lank voor ons tyd! Dinge van voorheen word nie onthou nie. In die toekoms sal die geslagte wat kom nie onthou wat nou gebeur nie. Ek, die Prediker, was koning oor Israel in Jerusalem. Ek het my daarop toegespits om alles wat onder die son gedoen word, te verstaan en met wysheid te deurdink. Ek het gevind dis ’n moeilike taak wat God vir die mens gegee het om hom daarmee besig te hou. Ek het al die dade gesien wat onder die son gedoen word, en kyk, alles was sinloos, ’n gejaag na wind! Wat krom is, kan nie reguit gemaak word nie. Wat weg is, kan nie getel word nie. Ek het vir myself gesê: “Ek is verstandiger as al die konings wat voor my oor Jerusalem regeer het. Ek het meer insig en kennis as enigeen van hulle verkry.” Ek het my daarop toegespits om kennis en insig van domheid en dwaasheid te onderskei. Maar ek het besef: Ook dít is net ’n gejaag na wind. Want hoe groter jou insig is, hoe meer verdriet het jy. Soos kennis vermeerder, so word jou smart meer.