DANIËL 5:22-28 - Compare All Versions
DANIËL 5:22-28 ABA (Bybel vir almal)
“Maar, Belsassar, jy het koning geword ná Nebukadnesar. Jy het dit alles geweet, maar jy was hoogmoedig. Jy het gedink jy is belangriker as die Here van die hemel. Jy het saam met jou amptenare, jou vroue en jou byvroue wyn gedrink uit die bekers wat Nebukadnesar weggevat het uit die Here se tempel. En toe het julle die gode van silwer, goud, brons, hout en klip geprys. Dit is gode wat nie kan sien en hoor nie, hulle weet niks. Maar jy wou nie vir God eer nie, die God wat vir jou asem gee en wat besluit wat met jou moet gebeur. Dit is hierdie God wat die hand gestuur het om te skryf. “Dit is die woorde wat op die muur geskryf is: ‘Mene, mene, tekel ufarsin.’ Mene beteken: God het gekyk of jy 'n goeie koning is, en Hy het besluit jy sal nie meer koning wees nie. Tekel beteken: God het jou getoets en gesien jy is nie goed om 'n koning te wees nie. Ufarsin beteken: God sal jou land vir ander volke gee, vir die mense van Medië en Persië.”
DANIËL 5:22-28 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
Maar u, Bélsasar, sy seun, het u hart nie verneder nie, alhoewel u dit alles weet; maar u het u verhef teen die Here van die hemel, en die voorwerpe van sy huis het hulle voor u gebring; en u en u maghebbers, u vroue en u byvroue het wyn daaruit gedrink; en u het die gode van silwer en goud, koper, yster, hout en klip geprys, wat nie sien en nie hoor en nie weet nie, maar die God in wie se hand u asem en voor wie al u paaie is, Hom het u nie vereer nie. Toe is deur Hom die deel van die hand gestuur en hierdie skrif geskrywe. En dit is die skrif wat geskrywe is: Mené, mené, tekél ufarsín. Dit is die uitleg van die woord: Mené — God het u koningskap getel en daar 'n einde aan gemaak; tekél — u is op die weegskaal geweeg en te lig bevind; perés — u koninkryk is verdeel en aan die Meders en Perse gegee.
DANIËL 5:22-28 AFR83 (Afrikaans 1983)
Maar u, Belsasar wat hom opgevolg het, u het u nie verootmoedig nie, alhoewel u dit alles weet. U het verwaand opgetree teenoor die Here in die hemel: die bekers uit sy tempel is na u toe gebring en u en u hoofamptenare, u vrouens en u byvrouens het daaruit wyn gedrink. U het die gode van silwer en goud, en van brons, yster, hout en klip geprys, gode wat nie kan sien nie en nie kan hoor nie en niks weet nie. U het nie die God geëer van wie u die lewensasem ontvang en wat oor u lewe beskik nie. Daarom is die hand deur Hom gestuur en is hierdie woorde geskrywe. “Dit is die woorde wat geskrywe is: ‘Getel, getel, geweeg en verdeel.’ En dit is die betekenis van die woorde: ‘Getel’: God het die jare van u koningskap getel en 'n einde daaraan gemaak. ‘Geweeg’: u is geweeg en te lig bevind. ‘Verdeel’: u koninkryk is verdeel en aan die Mediërs en die Perse gegee.”
DANIËL 5:22-28 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
“Maar u, sy seun Belsasar, het u hart nie verneder nie, alhoewel u dit alles geweet het. Teen die Heer van die hemel het u uself verhef. Die voorwerpe van sy huis het hulle voor u gebring en u, u maghebbers, u haremvroue en u byvroue het wyn daaruit gedrink. Die gode van silwer en goud, koper, yster, hout en klip, wat nie sien, nie hoor of enigiets weet nie – u het hulle lof besing; maar die God in wie se hand u asem is, en by wie al u paaie is, Hom het u nie geëer nie. Vanuit sy teenwoordigheid is die handpalm toe gestuur en is hierdie skrif geskryf. Dit is dan die skrif wat geskryf is: Mene, mene, tekel ufarsin . Dít is die uitleg van die woorde: Mene – God het die jare van u koningskap getel en dit beëindig. Tekel – u is op die skaal geweeg en te lig bevind. Peres – u koninkryk is verdeel en is aan die Mede en Perse gegee.”
DANIËL 5:22-28 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
En jy, sy seun, o Bélsasar, het jou hart nie verneder nie, al het jy dit alles geweet; Maar jy het jou verhef teen die HERE van die hemel; en hulle het die voorwerpe van sy huis voor jou gebring, en jy en jou vorste, jou vroue en jou byvroue het wyn daarin gedrink; en jy het die gode van silwer en goud, van koper, yster, hout en klip geprys wat nie sien, nie hoor of weet nie; en die God in wie se hand jou asem is en wie s'n al jou weë is, het U nie verheerlik nie: Toe is die deel van die hand van hom gestuur; en hierdie skrif is geskryf. En dit is die skrif wat geskrywe is: MENE, MENE, TEKEL, UPHARSIN. Dit is die uitlegging van die saak: MENE; God het u koninkryk getel en dit voltooi. TEKEL; U is op die weegskaal geweeg, en te min bevind. PERES; U koninkryk is verdeel en aan die Meders en Perse gegee.
DANIËL 5:22-28 DB (Die Boodskap)
“Ten spyte daarvan dat u al hierdie dinge geweet het, Belsasar, het u ook te veel van uself gedink. Trouens, u het die Here van die hemel uitgedaag deur u sondes. U het die goue en silwerbekers uit sy tempel as wynbekers gebruik vir u en u hooggeplaastes en u vroue en byvroue. Verder het u nog heildronke daaruit gedrink op al u afgode van silwer, goud, brons, yster, hout en klip, gode wat nie kan sien, hoor of selfs vir hulleself kan dink nie. Maar aan die God wat u laat lewe en wat oor u lewe en u toekoms beskik, het u geen eer gegee nie! Daarom het Hy die hand gestuur om hierdie woorde te kom skryf. Daar staan geskryf: Getel, getel, geweeg, verdeel. Dit is wat dit beteken: Getel beteken dat God u regeringstyd se dae getel het en nou ’n einde daaraan gaan maak. Geweeg sê dat u op God se skaal geweeg is en te lig bevind is omdat u nie doen wat Hy sê nie. Verdeel beteken dat u koninkryk tussen die Mediërs en die Perse verdeel gaan word.”
DANIËL 5:22-28 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
“Belsasar, u is sy opvolger. Alhoewel u dit alles geweet het, was u nogtans nie nederig nie. U het u teenoor die HEER van die hemele aangestel. U het die bekers uit sy huis laat kom en saam met u amptenare, vroue en byvroue daaruit wyn gedrink. U het heildronke ingestel op afgode wat van silwer, goud, brons, yster, hout en klip gemaak is, wat nie eers kan sien of hoor of enigiets weet nie. U het hulle aanbid en nie die God wat u lewe in sy hand hou en die rigting van u lewe bepaal, vereer nie. Daarom het Hy hierdie hand gestuur om dié boodskap te skryf. “Daar staan geskryf: ‘Mene, mene, tekel, ufarsin.’ Dit beteken: “‘Mene’ – God het die aantal dae van u koninkryk afgetel en bring dit nou tot ’n einde. “‘Tekel’ – u is op die skaal geweeg en te lig gevind. “‘Peres’ – u koninkryk word verdeel en vir die Mede en Perse gegee.”