DANIËL 5:1-4
DANIËL 5:1-4 Bybel vir almal (ABA)
Koning Belsassar het 'n fees gehou. Hy het 1 000 van sy amptenare genooi om te kom eet en hy het saam met hulle wyn gedrink. Belsassar het later dronk geword. Hy het gesê sy bediendes moet die goue bekers en die silwer bekers bring wat Nebukadnesar uit die tempel van Jerusalem gevat het. Die koning wou uit die bekers drink saam met sy vroue, sy byvroue en sy amptenare. Belsassar het koning geword ná Nebukadnesar. Die bediendes het toe die goue bekers gebring wat Nebukadnesar gevat het uit die tempel van God in Jerusalem. Koning Belsassar, sy amptenare, sy vroue en sy byvroue het uit die bekers gedrink. Hulle het wyn gedrink en hulle het die gode geprys, die gode van goud, silwer, brons, yster, hout en klip.
DANIËL 5:1-4 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
KONING Bélsasar het 'n groot maaltyd berei vir sy duisend maghebbers, en in teenwoordigheid van die duisend het hy wyn gedrink. By die genot van die wyn het Bélsasar bevel gegee om die goue en silwervoorwerpe te bring wat sy vader Nebukadnésar uit die tempel van Jerusalem weggevoer het, sodat die koning en sy maghebbers, sy vroue en sy byvroue daaruit kon drink. Toe het hulle die goue voorwerpe gebring wat uit die tempel, uit die huis van God in Jerusalem weggevoer was, en die koning en sy maghebbers, sy vroue en sy byvroue het daaruit gedrink. Hulle het wyn gedrink en die gode van goud en silwer, koper, yster, hout en klip geprys.
DANIËL 5:1-4 Afrikaans 1983 (AFR83)
Koning Belsasar het 'n groot ete gegee vir sy duisend hoofamptenare en saam met hulle wyn gedrink. Toe hy onder die invloed van die wyn was, het hy die goue en die silwerbekers wat deur sy voorganger Nebukadnesar uit die tempel van Jerusalem weggevoer is, laat haal sodat hy en sy hoofamptenare, sy vrouens en sy byvrouens daaruit kon drink. Toe is die goue en die silwerbekers gebring wat weggevoer is uit die tempel van God in Jerusalem, en die koning en sy hoofamptenare, sy vrouens en sy byvrouens het daaruit gedrink. Hulle het wyn gedrink en die gode van goud, silwer, brons, yster, hout en klip geprys.
DANIËL 5:1-4 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Koning Belsasar het 'n groot feesmaal voorberei vir sy duisend maghebbers. Hy het wyn gedrink in die teenwoordigheid van hierdie duisend. Belsasar het, terwyl hy die wyn geniet, opdrag gegee dat die voorwerpe van goud en silwer wat sy vader Nebukadnesar uit die •tempel in Jerusalem verwyder het, gebring moes word, sodat die koning en sy maghebbers, sy haremvroue en byvroue daaruit kon drink. Hulle bring toe die voorwerpe van goud wat uit die tempel, die huis van God in Jerusalem, verwyder is, en die koning, sy maghebbers, haremvroue en byvroue het daaruit gedrink. Hulle het wyn gedrink en die gode van goud, silwer, koper, yster, hout en klip geprys.
DANIËL 5:1-4 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Koning Bélsasar het 'n groot maaltyd vir duisend van sy vorste berei en wyn gedrink voor die duisend. Belsasar het, terwyl hy die wyn geproe het, bevel gegee om die goue en silwer voorwerpe wat sy vader Nebukadnésar uit die tempel in Jerusalem gehaal het, te bring; sodat die koning en sy vorste, sy vroue en sy byvroue daarin kon drink. Toe het hulle die goue voorwerpe gebring wat uit die tempel van die huis van God wat in Jerusalem was, geneem is; en die koning en sy vorste, sy vroue en sy byvroue het daarin gedrink. Hulle het wyn gedrink en die gode van goud en silwer, koper, yster, hout en klip geprys.
DANIËL 5:1-4 Die Boodskap (DB)
’n Klompie jare later het koning Belsasar een aand ’n groot feesete gehou vir ’n groot groep van sy hooggeplaastes, edelmanne en edelvroue. Tydens hierdie ete het hy heerlik saam met hulle wyn gedrink. Later, toe hy al heeltemal te veel gedrink het, het hy beveel dat hulle van die goue en silwerbekers wat sy pa, Nebukadnesar, uit die tempel in Jerusalem gevat het, moet gaan haal sodat hy en sy hooggeplaaste gaste en sy vroue en byvroue daaruit kon drink. Hulle het die goue en silwerbekers gaan haal en die koning en al sy gaste het daaruit gedrink. Hulle het ook heildronke gedrink op al hulle afgode van goud, silwer, brons, yster, hout en klip.
DANIËL 5:1-4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Koning Belsasar het vir 1 000 van sy vooraanstaande amptenare ’n groot fees gehou. Hy het saam met hulle wyn gedrink. Terwyl Belsasar so aan die drink was, het hy beveel dat die goue en silwer voorwerpe wat sy voorganger Nebukadnesar uit die tempel van Jerusalem verwyder het, daarnatoe gebring word. Die koning wou saam met sy vooraanstaande amptenare, sy vroue en sy byvroue daaruit drink. Hulle het toe die goue eetgerei gebring wat uit die woonplek van God in Jerusalem gevat is. Die koning het toe saam met sy amptenare, sy vroue en byvroue daaruit begin drink. Terwyl hulle wyn gedrink het, het hulle hulle afgode wat van goud, silwer, brons, yster, hout en klip gemaak is, geloof.