KOLOSSENSE 1:19-23
KOLOSSENSE 1:19-23 Bybel vir almal (ABA)
Hy, die Seun, is God en Hy kan doen soos God doen, omdat God besluit het om in die Seun te woon. Die Seun het aan die kruis gesterf, en so het God vrede gebring. So het God almal se sonde weggeneem, almal op die aarde en almal in die hemel. God het dit gedoen sodat alles reg kan wees tussen God en hulle. Voorheen was julle ver van God, julle was God se vyande en julle het slegte dinge gedink en gedoen. Maar nou het God julle verander. Die Seun het 'n mens geword en Hy het gesterf, en daarom het God julle sonde weggeneem sodat alles reg kan wees tussen God en julle. God het dit gedoen sodat julle aan Hom kan behoort en sodat julle sonder sonde sal wees en onskuldig sal wees wanneer Hy julle oordeel. Maar dan moet julle aanhou glo, julle geloof moet baie sterk wees. Toe julle die goeie boodskap gehoor het, het God vir julle gehelp om seker te wees van die dinge wat julle glo, en nou moet julle aanhou om seker te wees. Al die mense in die wêreld het die goeie boodskap gehoor, die goeie boodskap wat ek moet bring.
KOLOSSENSE 1:19-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want dit het die Vader behaag dat in Hom die ganse volheid sou woon en dat Hy deur Hom alles met Homself sou versoen nadat Hy vrede gemaak het deur die bloed van sy kruis — ek sê deur Hom — die dinge op die aarde sowel as die dinge in die hemele. Ook julle wat vroeër vervreemd was en vyandig gesind deur die bose werke, het Hy nou versoen in die liggaam van sy vlees deur die dood, om julle heilig en sonder gebrek en onberispelik voor Hom te stel; as julle ten minste gegrond en vas bly in die geloof en julle nie laat afbring van die hoop van die evangelie nie, wat julle gehoor het en wat verkondig is in die ganse mensdom onder die hemel, waarvan ek, Paulus, 'n dienaar geword het.
KOLOSSENSE 1:19-23 Afrikaans 1983 (AFR83)
God het besluit om met sy volle wese in Hom te woon en om deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen. Ook julle was voorheen ver van God af en vyandiggesind teenoor Hom, soos blyk uit julle sondige lewenswyse. Maar nou het Hy ook julle met Homself versoen deurdat sy Seun as mens gesterwe het om julle heilig, sonder smet en onberispelik voor Hom te stel. Maar dan moet julle vas en sterk bly staan in die geloof en julle nie laat losruk van die hoop wat in julle gewek is deur die evangelie wat julle gehoor het nie. Dit is die evangelie wat aan al die mense op die aarde verkondig is en waarvan ek, Paulus, 'n dienaar geword het.
KOLOSSENSE 1:19-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
want God het dit goedgevind om die hele volheid in Hom te laat woon, en om deur Hom alles, ja, alles op aarde en in die hemel, met Homself te versoen, deurdat Hy vrede gebring het deur sy bloed aan die kruis. Ook julle was voorheen van Hom vervreem, ja, vyandiggesind teenoor Hom, op grond van julle slegte dade; maar nou het Hy julle deur sy menslike liggaam met Homself versoen, sodat Hy julle, deur sy dood, heilig en sonder foute en onberispelik voor Hom kan stel – mits julle in die geloof bly, stewig gevestig en standvastig, sonder om weg te beweeg van die hoop wat die evangelie bring. Dit is die evangelie wat julle gehoor het, en wat in die hele skepping onder die hemel verkondig is, en waarvan ek, Paulus, 'n dienaar geword het.
KOLOSSENSE 1:19-23 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want dit het die Vader behaag dat die hele volheid in Hom sou woon; En nadat Hy vrede gemaak het deur die bloed van sy kruis, deur Hom alles met Homself te versoen; deur Hom, sê ek, of dit dinge op die aarde of dinge in die hemel is. En julle, wat eens vervreemd en vyande in julle gemoed was deur bose werke, maar nou het Hy versoen; In die liggaam van sy vlees deur die dood, om julle heilig en onberispelik en onberispelik voor sy oë te stel; As julle in die geloof gegrond en vas bly, en julle nie laat afwyk van die hoop van die evangelie wat julle gehoor het en wat verkondig is aan elke skepsel wat onder die hemel is nie; waarvan ek Paulus 'n bedienaar gemaak is
KOLOSSENSE 1:19-23 Die Boodskap (DB)
God het mos self besluit om volledig by sy Seun te wees. Hy het daarvoor gesorg dat alles in die skepping weer in die regte verhouding met Hom gestel word. Hy is mos die doel waarom alles geskep is. Dit het Hy gedoen deur die onderlinge verhoudings in die skepping weer reg te stel, of dit nou op die aarde of in die hemel is. Dit het nie sommerso gebeur nie. Dit was duur. Dit het Hom sy bloed gekos wat aan die kruis geloop het. Julle onthou mos hoe julle voorheen op die verkeerde pad was. Julle was nie God se vriende nie; inteendeel, julle was sy vyande. Julle slegte gesindheid het veroorsaak dat julle net so sleg opgetree het. Maar dinge het nou verander. Die Seun het vrede kom maak tussen God en julle. Juis daarom het hulle Hom liggaamlik doodgemaak. Sy doel was egter om so van julle iets besonders te maak. Hy wil dit so bewerk dat julle God heeltemal tevrede sal stel sodat daar niks in julle is waarvan God nie hou nie. Julle moet egter net vas bly glo. Staan vas soos ’n huis op stewige fondamente, onbeweeglik soos ’n paal wat diep ingekap is. Moenie ’n duim afwyk van die evangelie waarvan julle so oortuig geraak het nie. Dit is die evangelie wat oor die hele wêreld aan mense verkondig word. Met al my tyd en energie werk ek, Paulus, vir hierdie evangelie.
KOLOSSENSE 1:19-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
God het dit goedgedink om met sy volle Goddelikheid in die Seun te woon, en om deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy vrede gemaak. Ja, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen. Eers was julle ook ver van God af. Met verkeerde dade het julle gewys dat julle Hom vyandiggesind is. Maar nou het Hy julle met Homself versoen deurdat sy Seun as mens gesterf het om julle voor Hom as sy eie mense te laat staan, skoon en foutloos. Maar dan moet julle aanhou glo. Julle moet onwrikbaar vas bly staan en nie die verwagting laat vaar wat in julle gewek is toe julle die Goeie Nuus gehoor het nie. Hierdie Goeie Nuus is aan almal onder die son verkondig. En ek, Paulus, het hiervan ’n dienaar geword.