AMOS 1:3-15

AMOS 1:3-15 Bybel vir almal (ABA)

Die Here sê: “Die mense van die stad Damaskus het 'n baie groot sonde gedoen, daarom sal Ek hulle straf. Hulle het wrede dinge gedoen aan die mense van die land Gilead. Ek sal 'n vuur stuur na die huis wat koning Gasael gebou het, en die mooi huise wat koning Ben-Hadad gebou het, sal afbrand. Ek sal die poort van Damaskus oopbreek. Ek sal al die mense wat in Bikat-Awen woon, doodmaak saam met die koning in die stad Bet-Eden. Die vyande sal die Arameërs vang en wegvat na die land Kir.” Dit is wat die Here gesê het. Die Here sê: “Die mense van die stad Gasa het 'n baie groot sonde gedoen, daarom sal Ek hulle straf. Hulle het in party stede al die mense gevang en verkoop, en die mense het die Edomiete se slawe geword. Daarom sal Ek 'n vuur stuur na die stad Gasa. Sy mooi huise sal afbrand. Ek sal al die mense van die stad Asdod doodmaak, en ook die koning in die stad Askelon. Ek sal die mense in die stad Ekron straf. Die Filistyne wat oorgebly het, sal sterf.” Dit is wat die Here gesê het. Die Here sê: “Die mense van die stad Tirus het 'n baie groot sonde gedoen, daarom sal Ek hulle straf. Hulle het in party stede al die mense wat gevangenes was, verkoop aan die Edomiete en die mense het die Edomiete se slawe geword. Die mense van Tirus het vergeet dat hulle 'n ooreenkoms met daardie mense gemaak het. Daarom sal Ek 'n vuur stuur na die stad Tirus. Sy mooi huise sal afbrand.” Die Here sê: “Die mense van die land Edom het 'n baie groot sonde gedoen, daarom sal Ek hulle straf. Hulle het oorlog gemaak teen mense wat familie is van hulle. Hulle was nie jammer vir hulle familie nie. Hulle het aangehou om mense dood te maak. Hulle het kwaad gebly. Daarom sal Ek 'n vuur stuur na die stad Teman, en die stad Bosra se mooi huise sal afbrand.” Die Here sê: “Die Ammoniete het 'n baie groot sonde gedoen, daarom sal Ek hulle straf. Hulle het oorlog gemaak om meer grond te kry in die land Gilead, en toe het hulle swanger vroue oopgesny. Daarom sal Ek die stad Rabba en sy mooi huise afbrand. Die vyande sal hard skree wanneer hulle die stad aanval, hulle sal soos 'n stormwind deur die stad gaan. Hulle sal die Ammoniete se koning en sy amptenare vang en wegvat na 'n ander land.”

AMOS 1:3-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

So sê die HERE: Oor drie oortredinge van Damaskus, ja, oor vier, sal Ek dit nie afwend nie; omdat hulle Gílead met ysterdorssleë gedors het. Daarom sal Ek 'n vuur slinger in die huis van Hásael, en dit sal die paleise van Bénhadad verteer. En Ek sal die grendel van Damaskus verbreek en die inwoners uit die laagte van Awen uitroei en die wat die septer dra, uit Bet-Eden, en die volk van Aram sal in ballingskap gaan na Kir, sê die HERE. So sê die HERE: Oor drie oortredinge van Gasa, ja, oor vier, sal Ek dit nie afwend nie; omdat hulle 'n ganse bevolking in ballingskap weggevoer het om dit aan Edom uit te lewer. Daarom sal Ek 'n vuur slinger in die muur van Gasa, en dit sal sy paleise verteer. En Ek sal die inwoners uit Asdod uitroei en die wat die septer dra, uit Áskelon; en Ek sal my hand teen Ekron uitstrek, en die oorblyfsel van die Filistyne sal omkom, sê die Here HERE. So sê die HERE: Oor drie oortredinge van Tirus, ja, oor vier, sal Ek dit nie afwend nie; omdat hulle 'n ganse bevolking as ballinge aan Edom uitgelewer het en nie gedink het aan die broederverbond nie. Daarom sal Ek 'n vuur slinger in die muur van Tirus, en dit sal sy paleise verteer. So sê die HERE: Oor drie oortredinge van Edom, ja, oor vier, sal Ek dit nie afwend nie; omdat hy sy broer met die swaard agtervolg het en sy jammergevoel verstik het, sodat sy toorn altyd verskeur en hy gedurigdeur sy grimmigheid behou. Daarom sal Ek 'n vuur slinger in Teman, en dit sal die paleise van Bosra verteer. So sê die HERE: Oor drie oortredinge van die kinders van Ammon, ja, oor vier, sal Ek dit nie afwend nie; omdat hulle die swanger vroue van Gílead oopgesny het om hulle grondgebied uit te brei. Daarom sal Ek 'n vuur aansteek in die muur van Rabba, en dit sal sy paleise verteer, met krygsgeskreeu op die dag van stryd, in 'n storm op die dag van die orkaan. En hulle koning sal in ballingskap gaan, hy en sy vorste tesame, sê die HERE.

AMOS 1:3-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

So sê die Here: Selfs as Damaskus net drie keer sonde gedoen het, sou Ek sy straf nie herroep het nie. Maar nou het hy 'n vierde sonde daarby gevoeg: hy het vir Gilead met skerp ysters gemartel. Daarom sal Ek in die paleis van Gasael 'n vuur laat losbreek en dit sal die mooi huise van Ben-Hadad verteer. Ek sal die grendels van Damaskus stukkend breek, die inwoners van Bikat-Awen en die regeerder van Bet-Eden uitroei. Die Arameërs sal in ballingskap na Kir toe weggevoer word, sê die Here. So sê die Here: Selfs as Gasa net drie keer sonde gedoen het, sou Ek sy straf nie herroep het nie. Maar nou het hy 'n vierde sonde daarby gevoeg: hy het mense voor die voet as ballinge weggevoer en aan Edom uitgelewer. Daarom sal Ek binne die mure van Gasa 'n vuur laat losbreek en dit sal sy mooi huise verteer. Ek sal die inwoners van Asdod en die regeerder van Askelon uitroei. Ek sal my hand teen Ekron oplig, en die Filistyne wat nog oor is, sal omkom, sê die Here my God. So sê die Here: Selfs as Tirus net drie keer sonde gedoen het, sou Ek sy straf nie herroep het nie. Maar nou het hy 'n vierde sonde daarby gevoeg: hy het mense voor die voet as ballinge aan Edom uitgelewer en nie aan die ooreenkoms met sy bondgenote gedink nie. Daarom sal Ek binne die mure van Tirus 'n vuur laat losbreek en dit sal sy mooi huise verteer. So sê die Here: Selfs as Edom net drie keer sonde gedoen het, sou Ek sy straf nie herroep het nie. Maar nou het hy 'n vierde sonde daarby gevoeg: hy het die Israeliete, sy broers, agtervolg met die swaard en die broederliefde verloën, hy het hulle in sy toorn verskeur, sy woede het bly kook. Daarom sal Ek in Teman 'n vuur laat losbreek en dit sal die mooi huise van Bosra verteer. So sê die Here: Selfs as die Ammoniete net drie keer sonde gedoen het, sou Ek hulle straf nie herroep het nie. Maar nou het hulle 'n vierde sonde daarby gevoeg: hulle het swanger vrouens in Gilead oopgesny en hulle eie gebied uitgebrei. Daarom sal Ek binne die mure van Rabba 'n vuur aansteek en dit sal sy mooi huise verteer. Dié dag sal daar geskreeu word en sal daar oorlog wees, 'n storm, 'n orkaan. Hulle koning sal in ballingskap weggevoer word, hy en sy amptenare saam met hom, sê die Here.

AMOS 1:3-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

So sê die HERE: “Oor drie oortredings van Damaskus, ja, oor vier, sal Ek dit nie herroep nie; omdat hulle Gilead met dorssleë van yster gedors het. Ek sal vuur slinger teen die huis van Gasael; dit sal die vestings van Ben-Hadad verteer. Ek sal die sluitbalk van Damaskus breek; Ek sal die een wat op die troon sit, met geweld uit Bikat-Awen verwyder, die septerdraer uit Bet-Eden; en die volk van Aram sal na Kir in ballingskap gaan.” Dit het die HERE gesê. So sê die HERE: “Oor drie oortredings van Gasa, ja, oor vier, sal Ek dit nie herroep nie; omdat hulle 'n hele gemeenskap weggevoer het as ballinge om hulle aan Edom oor te lewer. Ek sal vuur slinger teen die stadsmuur van Gasa; dit sal sy vestings verteer. Ek sal die een wat op die troon sit, met geweld uit Asdod verwyder, die septerdraer uit Askelon. Ek sal my hand teen Ekron draai, en dié wat oorgebly het van die Filistyne sal omkom.” Dit het my Heer, die HERE, gesê. So sê die HERE: “Oor drie oortredings van Tirus, ja, oor vier, sal Ek dit nie herroep nie; omdat hulle 'n hele gemeenskap as ballinge oorgelewer het aan Edom, en nie die verbond tussen broers in ag geneem het nie. Ek sal vuur slinger teen die stadsmuur van Tirus; dit sal sy vestings verteer.” So sê die HERE: “Oor drie oortredings van Edom, ja, oor vier, sal Ek dit nie herroep nie; omdat hy sy broer met die swaard agtervolg het. Hy het sy meegevoel onderdruk, en in sy toorn het hy sonder ophou verskeur; hy het onverpoos met sy gramskap volgehou. Ek sal vuur slinger teen Teman; dit sal die vestings in Bosra verteer.” So sê die HERE: “Oor drie oortredings van die Ammoniete, ja, oor vier, sal Ek dit nie herroep nie; omdat hulle swanger vroue van Gilead oopgekloof het sodat hulle hulle grondgebied kon uitbrei. Ek steek 'n vuur aan in die stadsmuur van Rabba; dit sal sy vestings verteer te midde van strydkrete op die dag van oorlog, in 'n orkaan op die dag van stormwind. Hulle koning sal in ballingskap gaan, hy en sy •hoë amptenare saam met hom.” Dit het die HERE gesê.

AMOS 1:3-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

So sê die HERE; Oor drie oortredinge van Damaskus en oor vier sal Ek die straf daarvan nie afwend nie; omdat hulle Gílead met yster dorswerktuie gedors het. Maar Ek sal 'n vuur in die huis van Hásael stuur, wat die paleise van Benhadad sal verteer. Ek sal ook die grendel van Damaskus breek en die inwoners uit die vlakte van Aven uitroei en hom wat die septer vashou uit die huis van Eden; en die mense van Aram sal in ballingskap gaan na Kir, spreek die HERE. So sê die HERE: Oor drie oortredinge van Gasa en oor vier sal Ek die straf daarvan nie afwend nie; omdat hulle die hele ballingskap weggevoer het om hulle aan Edom oor te lewer. Maar Ek sal 'n vuur op die muur van Gasa stuur, wat sy paleise sal verteer. En Ek sal die inwoner uit Asdod uitroei en hom wat die septer vashou uit Askelon, en Ek sal my hand teen Ekron draai; en die oorblyfsel van die Filistyne sal omkom, spreek die HERE HERE. So sê die HERE: Oor drie oortredinge van Tirus, en oor vier, sal Ek die straf daarvan nie afwend nie; omdat hulle die hele ballingskap aan Edom oorgegee het en aan die broederverbond nie gedink het nie. Maar Ek sal 'n vuur op die muur van Tirus stuur, wat sy paleise sal verteer. So sê die HERE: Oor drie oortredinge van Edom en oor vier sal Ek die straf daarvan nie afwend nie; want hy het sy broer met die swaard agtervolg en alle jammerte verwerp, en sy toorn het gedurigdeur geskeur, en hy het sy toorn vir ewig bewaar. Maar Ek sal 'n vuur op Teman stuur, wat die paleise van Bosra sal verteer. So sê die HERE: Oor drie oortredinge van die kinders van Ammon, en oor vier, sal Ek die straf daarvan nie afwend nie; omdat hulle die swanger vroue van Gílead opgeskeur het, om hul grens te vergroot. Maar Ek sal 'n vuur aansteek in die muur van Rabba, en dit sal sy paleise verteer, met gejuig op die dag van oorlog, met 'n storm op die dag van die storm. En hulle koning sal in ballingskap gaan, hy en sy vorste saam, spreek die HERE.

AMOS 1:3-15 Die Boodskap (DB)

Die Here sê: “Van al die oortredings van Damaskus is daar spesifiek een ding wat hy gedoen het waarvoor Ek hom nie kan vergewe nie. Hy het die mense van Gilead uitgewis. Soos ’n mens met ’n ysterslee graan platsleep, het hy hulle van die aarde af weggevee. My straf sal wees soos vuur wat kom, en die huis van koning Hasael tot op die grond afbrand. Ben-Hadad sit en regeer in sy paleis. Ek sal dit stopsit. Hy sal nie langer koning wees nie. Ek sal die slotte oopbreek waarmee die inwoners van Damaskus die hekke van hulle stad gesluit het. Ek sal almal van Sirië uitroei wat in die laagte van Bikat-Awen bly. Ek sal die leiers van Bet-Eden gryp. Almal wat in Sirië bly, sal gevang en teen hulle sin na Kir toe gevat word.” Dis wat die Here oor Damaskus sê. Die Here sê: “Van al die baie oortredings van Gasa is daar een spesifiek waarvoor Ek hom nie kan vergewe nie. Hy het al die mense wat op een plek bly, gaan vang en hulle almal aan Edom uitgelewer. Ek sal die huise waarin die mense in Gasa wegkruip tot op die grond laat afbrand. Ek sal almal doodmaak wat in Asdod bly. Ek sal die koning van Askelon uitwis. Ek sal op Ekron toesak. Al die Filistyne wat nog daar oor is, sal doodgaan.” Dit is wat die Here oor die Filistyne sê. So sê die Here: “Van al die oortredings van Tirus is daar die een waarvoor Ek hom nie kan vergewe nie. Hy het ook ’n hele dorp se mense gevang en hulle almal aan Edom gaan uitlewer. Hy het die ooreenkoms wat hy met hulle gemaak het om altyd hulle vriend te wees, in die wind geslaan asof hy dit nooit gemaak het nie. Ek sal ook die huise waarin die mense van Tirus wegkruip tot op die grond laat afbrand.” So sê die Here: “Edom het al baie foute gemaak. Daar is een ding wat hy gedoen het waarvoor Ek hom nooit sal vergewe nie: hy het sy broersvolk Israel met wapens bly agtervolg sonder om hom te spaar. Hy het ’n vreeslike haat vir Israel wat net nie wil ophou nie. Ek sal ’n vuur in Teman aan die gang sit. Dit sal die skuilplekke van Bosra verwoes.” So sê die Here oor Ammon: “Van alles wat die Ammoniete verkeerd gedoen het, is die ergste een waarvoor Ek hulle net nie kan vergewe nie, dat hulle baklei het om meer grond in die hande te kry. Hulle het nie eens twee maal gedink voor hulle in Gilead vroue wat babas verwag het met swaarde oopgesny het nie. Ek sal ’n vuur in Rabba aan die brand steek. Dit sal hulle huise afbrand. Die dag wanneer die vyand hulle aanval, sal daar oorlogskrete wees. Dit sal wees soos wanneer die stormwind van ’n orkaan jou tref. Die koning van Rabba en sy raadgewers sal gevang en na ’n vreemde land toe weggevat word.”

AMOS 1:3-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die HERE sê: “Die mense van Damaskus het keer op keer gesondig. Ek sal hulle nie langer ongestraf laat nie! Hulle het die mense van Gilead soos graan met ’n ysterslee vertrap. Daarom sal Ek die paleis van koning Gasael afbrand. Die vestings van Ben-Hadad sal Ek vernietig. Damaskus se hekgrendels sal Ek stukkend breek, die inwoners van Bikat-Awen sal Ek uitroei. Die leier van Bet-Eden sal Ek uitruk en die mense van Sirië as gevangenes na Kir laat wegvoer.” So sê die HERE. Die HERE sê: “Die mense van Gasa het keer op keer gesondig. Ek sal hulle nie langer ongestraf laat nie! Hulle het my volk in ballingskap laat gaan, hulle aan Edom as slawe verkoop. Ek sal die mure van Gasa afbrand, Ek sal hulle vestings vernietig. Die inwoners van Asdod sal Ek uitwis, die koning van Askelon uitroei. Daarna sal Ek Ekron aanval, en die Filistyne wat oor is, sal ophou bestaan.” So sê die oppermagtige HERE! Die HERE sê verder: “Die mense van Tirus het keer op keer gesondig. Ek sal hulle nie langer ongestraf laat nie! Hulle ooreenkoms met Israel het hulle nie nagekom nie. Hulle het hele gemeenskappe weggevoer en hulle aan Edom uitgelewer. Ek sal die mure van Tirus afbrand en hulle vestings vernietig.” Die HERE sê: “Die mense van Edom het keer op keer gesondig. Ek sal hulle nie langer ongestraf laat nie! Hulle het hulle bloedverwante, die Israeliete, genadeloos met swaarde agtervolg. Hulle het ’n ewige haat vir Israel gehad, ’n woede wat bly opvlam. Daarom sal Ek Teman afbrand en die vestings van Bosra verteer.” Die HERE het gesê: “Die mense van Ammon het keer op keer gesondig. Ek sal hulle nie langer ongestraf laat nie! Toe hulle Gilead aangeval het om hulle grense uit te brei, het hulle selfs swanger vroue oopgesny. Daarom sal Ek ’n vuur aansteek in die mure van Rabba en hulle vestings verteer. Op die dag van die veldslag sal krete opgaan. Die dag as ’n orkaan jou tref, sal dit wees soos ’n stormwind. Hulle koning en sy amptenare sal saam in ballingskap gaan.” Dit is wat die HERE gesê het!

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid