HANDELINGE 9:32-43

HANDELINGE 9:32-43 Bybel vir almal (ABA)

Petrus het van die een plek na die ander plek gegaan. Hy het ook gekom by mense wat in die stad Lidda woon en wat in die Here glo. Petrus sien toe daar 'n man, sy naam was Eneas. Hy het ag jaar lank op sy slaapmat gelê omdat hy lam was. Petrus sê toe vir hom: “Eneas, Jesus Christus maak jou gesond. Jy moet opstaan en jy moet jou slaapmat opvou!” Eneas het toe dadelik opgestaan. Al die mense van Lidda en die Saron-vlakte het Eneas gesien, en hulle het verander en begin lewe soos die Here wil hê. In die stad Joppe was daar 'n gelowige vrou. In die Aramese taal was haar naam Tabita. In die Griekse taal was haar naam Dorkas. Hierdie vrou het baie goeie dinge gedoen en sy het altyd arm mense gehelp. Sy het in daardie tyd siek geword en gesterf. Nadat mense haar liggaam gewas het, het hulle dit in die bo-kamer neergesit. Die stad Lidda was naby Joppe, en die gelowiges het gehoor dat Petrus daar in Lidda was. Daarom het hulle twee mans na Petrus toe gestuur om mooi vir hom te vra: “Kom asseblief gou na ons toe!” Petrus staan toe op en gaan saam met hulle. Toe hy daar kom, het hulle hom na die bo-kamer geneem. Al die weduwees het by hom gestaan en huil, en hulle het vir Petrus die klere gewys wat Dorkas altyd gemaak het toe sy nog gelewe het. Petrus het almal uitgestuur en toe het hy gekniel en gebid. Toe het hy na die liggaam gedraai en gesê: “Tabita, staan op!” Tabita het haar oë oopgemaak, en toe sy vir Petrus sien, het sy regop gesit. Petrus het toe Dorkas se hand geneem en hy het vir haar gehelp om op te staan. Toe het Petrus die weduwees en die ander gelowiges geroep, en hy het die vrou wat weer begin lewe het, voor hulle laat staan. Al die mense in die stad Joppe het gehoor wat Petrus gedoen het, en baie mense het in die Here begin glo. Petrus het 'n lang tyd in Joppe gebly by 'n leerlooier. Die man se naam was Simon.

HANDELINGE 9:32-43 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN onderwyl Petrus oral rondgaan, het hy ook gekom by die heiliges wat in Lidda woon; en hy het daar 'n man gevind met die naam van Enéas, wat al agt jaar bedlêend en verlam was. En Petrus sê vir hom: Enéas, Jesus Christus maak jou gesond; staan op en maak jou bed op! En hy het dadelik opgestaan. En al die inwoners van Lidda en Saron het hom gesien en hulle tot die Here bekeer. En in Joppe was daar 'n sekere dissipelin met die naam van Tabíta, wat, as dit vertaal word, beteken Dorkas. Sy was oorvloedig in goeie werke en aalmoese wat sy gedoen het. En in dié dae het sy siek geword en gesterwe, en hulle het haar gewas en in 'n bovertrek neergelê. En omdat Lidda naby Joppe was en die dissipels gehoor het dat Petrus daar was, het hulle twee manne na hom gestuur wat hom moes smeek dat hy sonder uitstel na hulle moet oorkom. En Petrus het opgestaan en saam met hulle gegaan. En toe hy daar kom, bring hulle hom in die bovertrek; en al die weduwees kom by hom staan en ween en wys hom die onder- en bo-klere wat Dorkas alles gemaak het toe sy nog by hulle was. En Petrus het almal buitentoe gestuur en neergekniel en gebid. En hy het hom na die liggaam gedraai en gesê: Tabíta, staan op! En sy het haar oë oopgemaak; en toe sy Petrus sien, het sy regop gesit. En hy gee haar sy hand en laat haar opstaan. Daarop roep hy die heiliges en die weduwees en stel haar lewendig voor hulle. En dit het bekend geword in die hele Joppe, en baie het in die Here geglo. En hy het 'n geruime tyd in Joppe gebly by 'n sekere Simon, 'n leerlooier.

HANDELINGE 9:32-43 Afrikaans 1983 (AFR83)

Petrus het baie rondgereis en het op 'n keer ook by die gelowiges gekom wat in Lidda gewoon het. Daar het hy 'n man met die naam Eneas teëgekom wat verlam en al ag jaar lank bedlêend was. “Eneas,” sê Petrus toe vir hom, “Jesus Christus maak jou gesond. Staan op en maak jou bed op.” Hy het dadelik opgestaan. Al die mense van Lidda en die Saronvlakte het hom gesien en hulle tot die Here bekeer. In Joppe was daar 'n gelowige vrou met die naam Tabita, in Grieks Dorkas. Sy was altyd besig om goed te doen en die armes te help. Juis in die tyd toe Petrus in Lidda was, het sy siek geword en gesterwe. Hulle het haar gewas en in 'n bokamer neergelê. Aangesien Lidda naby Joppe is en die gelowiges gehoor het dat Petrus daar is, het hulle twee mans na hom toe gestuur met die versoek: “Kom tog gou na ons toe oor.” Petrus het dadelik saam met hulle gegaan en toe hy daar kom, het hulle hom na die bokamer toe geneem. Al die weduwees het by hom kom staan en snikkend vir hom die klere gewys wat Dorkas gemaak het toe sy nog gelewe het. Nadat Petrus almal uitgestuur het, het hy gekniel en gebid. Toe het hy na die liggaam gedraai en gesê: “Tabita, staan op!” Sy het haar oë oopgemaak en toe sy vir Petrus sien, het sy regop gesit. Hy het haar met die hand help opstaan, die weduwees en die ander gelowiges geroep en haar lewend voor hulle gebring. Die hele Joppe het hiervan gehoor, en baie mense het tot geloof in die Here gekom. Petrus het geruime tyd daar in Joppe gebly by 'n sekere Simon, 'n leerlooier.

HANDELINGE 9:32-43 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

•Petrus het oral rondgereis, en ook by die •heiliges wat in Lidda woon, aangekom. Daar het hy 'n man teëgekom met die naam Eneas, wat al agt jaar bedlêend en verlam was. Petrus het vir hom gesê: “Eneas, Jesus Christus maak jou gesond. Staan op en maak jou bed op!” En hy het dadelik opgestaan. Al die inwoners van Lidda en Saron het hom gesien, en hulle tot die Here gewend. In Joppe was daar 'n sekere vrouedissipel met die naam Tabita, wat as Dorkas vertaal is. Sy het baie goeie dade verrig en liefdadigheid bewys. In daardie dae het sy siek geword en gesterf. Hulle het haar gewas en in 'n bovertrek neergelê. Aangesien Lidda naby Joppe was, het die dissipels, toe hulle hoor dat •Petrus daar is, twee mans na hom gestuur met die versoek: “Kom sonder uitstel na ons toe!” Petrus het toe gereedgemaak en saam met hulle gegaan. Toe hy daar aankom, het hulle hom na die bovertrek geneem. Al die weduwees het huilend by hom kom staan, en vir hom die onder- en boklere gewys wat Dorkas gemaak het toe sy nog by hulle was. Nadat Petrus almal na buite gestuur het, het hy gekniel en gebid. Toe het hy hom na die liggaam omgedraai en gesê: “Tabita, staan op!” Sy het haar oë oopgemaak, en toe sy Petrus sien, het sy regop gaan sit. Hy het sy hand vir haar gegee en haar help opstaan. Toe het hy die •heiliges en die weduwees geroep, en haar lewend aan hulle getoon. Dit het dwarsdeur die hele Joppe bekend geword, en baie het tot geloof in die Here gekom. Petrus het nog 'n hele paar dae in Joppe by 'n sekere Simon, die leerlooier, gebly.

HANDELINGE 9:32-43 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En dit het gebeur, terwyl Petrus deur al die streke verbygegaan het, het hy ook afgekom na die heiliges wat in Lidda gewoon het. En daar het hy 'n sekere man met die naam van Eneas gevind, wat agt jaar lank op sy bed gehou het en verlam was. En Petrus sê vir hom: Eneas, Jesus Christus maak jou gesond; staan op en maak jou bed op. En hy het dadelik opgestaan. En almal wat in Lidda en Saron gewoon het, het hom gesien en hulle tot die Here bekeer. En daar was in Joppe 'n sekere dissipel met die naam van Tabita, wat deur uitlegging Dorkas genoem word; hierdie vrou was vol goeie werke en aalmoese wat sy gedoen het. En in dié dae het sy siek geword en gesterwe; en toe hulle gewas het, het hulle haar in die bovertrek neergelê. En omdat Lidda naby Joppe was en die dissipels gehoor het dat Petrus daar was, het hulle twee manne na hom gestuur wat hom begeer het dat hy nie sou uitstel om na hulle te kom nie. Toe staan Petrus op en gaan saam met hulle. Toe hy aankom, het hulle hom in die bovertrek gebring, en al die weduwees het by hom gestaan en ween en die rokke en klere gewys wat Dorkas gemaak het terwyl sy by hulle was. Maar Petrus het hulle almal uitgesit en neergekniel en gebid; en hom na die liggaam omgedraai en gesê: Tabita, staan op. En sy het haar oë oopgemaak, en toe sy Petrus sien, gaan sit sy regop. En Hy het haar sy hand gegee en haar opgelig, en nadat Hy die heiliges en weduwees geroep het, het Hy haar lewendig voorgehou. En dit was bekend in die hele Joppe; en baie het in die Here geglo. En dit het gebeur dat hy baie dae in Joppe gebly het saam met een Simon, 'n leerlooier.

HANDELINGE 9:32-43 Die Boodskap (DB)

In daardie tyd het Petrus oral by die gelowiges besoek gaan aflê. Tydens een van dié besoeke het hy in ’n dorp met die naam Lidda aangekom waar hy by ’n paar gelowiges gaan bly het. Daar het hy ’n man raakgeloop wat al agt jaar lank verlam was. Sy naam was Eneas. Hy kon nie eens self uit sy bed uit opstaan nie. Petrus het voor hom gaan staan en gesê: “Eneas, Jesus Christus maak jou nou gesond. Staan op! Maak jou bed op sodat almal kan sien dat jy gesond is.” Dadelik het hy uit die bed opgestaan en begin rondstap. Almal wat daar in Lidda en Saron gebly het, het later gesien hoe Eneas in die straat rondloop. Toe het baie mense ook hulle lewens aan die Here gegee. In Joppe, ’n entjie van Lidda af, het ’n volgeling van Jesus gebly met die naam Tabita. (Haar naam beteken “Wildsbokkie”.) Sy het baie omgegee vir ander mense. Waar sy kon, het sy die armes gehelp en goeie dinge vir ander mense gedoen. Juis in daardie tyd toe Petrus in die omgewing was, het Tabita ernstig siek geword. Kort daarna is sy oorlede. Ander gelowiges het haar liggaam gereedgemaak vir die begrafnis. Hulle het haar gewas en in ’n bokamer uitgelê. Die gelowiges het gehoor dat Petrus daar naby in Lidda was. Hulle het twee mans soontoe gestuur om hom te smeek om gou-gou Joppe toe te kom. Petrus was dadelik bereid om saam met hulle te gaan. In Joppe aangekom, het hy saam met hulle na die bokamer gegaan waar Tabita se liggaam gelê het. ’n Klompie van haar vriendinne, almal weduwees, het daar om haar gestaan. Hulle was baie hartseer. Hulle het vir Petrus van die klere gewys wat sy gemaak het toe sy nog geleef het. Petrus het vir almal gevra om buite te gaan wag. Daarna het hy op sy knieë neergeval en begin bid. Toe kyk hy na haar en sê vir haar: “Tabita, staan op!” Tabita het dadelik haar oë oopgemaak. Toe sy Petrus sien, het sy regop gesit. Hy het haar hand gevat en haar gehelp om op te staan. Petrus het toe vir die gelowiges en die weduwees wat buite die deur gewag het, binnetoe geroep. Toe hulle in die kamer kom, sien hulle dat Tabita weer lewe. Hierdie nuus het soos ’n veldbrand deur Joppe versprei. Dit het gemaak dat baie mense in die Here begin glo het. Petrus het ’n hele ruk by ’n man met die naam Simon daar in Joppe gebly. Simon het leergoedere gemaak en verkoop.

HANDELINGE 9:32-43 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Petrus het van plek tot plek gereis en het op ’n keer ook by die gelowiges in die dorp Lidda gekom. Daar het hy ’n man met die naam Eneas gekry wat verlam en al agt jaar bedlêend was. “Eneas,” het Petrus toe vir hom gesê, “Jesus Christus maak jou gesond! Staan en rol jou bed op!” En hy het dadelik opgestaan. Al die inwoners van Lidda en die Saronvlakte het hulle tot die Here bekeer toe hulle Eneas sien rondgaan. In Joppe was daar ’n gelowige vrou met die naam Tabita (in Grieks is sy “Dorkas”). Sy was altyd besig om aan ander goed te doen en armes te help. Juis in dié tyd het sy siek geword en is sy dood. Hulle het haar liggaam vir die begrafnis voorberei, en in ’n bokamer neergelê. Met Lidda naby Joppe het die gelowiges gehoor dat Petrus daar is. Hulle het toe twee mans na hom toe gestuur met die versoek: “Kom asseblief sonder uitstel na ons toe!” Petrus is dadelik saam met hulle terug. Toe hy daar kom, het hulle hom bokamer toe gevat. Al die weduwees het by hom kom staan en snikkend vir hom die verskillende soorte klere gewys wat Dorkas gemaak het toe sy nog by hulle was. Petrus het almal egter uitgestuur, en toe het hy gekniel en gebid. Hy het na die liggaam toe gedraai en gesê: “Tabita, staan op!” Sy het haar oë oopgemaak! Toe sy Petrus sien, het sy regop gesit. Hy het haar sy hand gegee en haar help opstaan. Toe het hy die gelowiges en die weduwees geroep, en hulle gewys sy leef. Dié gebeure het in die hele Joppe bekend geword, en baie het tot geloof in die Here gekom. Petrus het ’n hele aantal dae in Joppe gebly by ’n sekere Simon, ’n leerlooier.