HANDELINGE 9:32-35 - Compare All Versions

HANDELINGE 9:32-35 ABA (Bybel vir almal)

Petrus het van die een plek na die ander plek gegaan. Hy het ook gekom by mense wat in die stad Lidda woon en wat in die Here glo. Petrus sien toe daar 'n man, sy naam was Eneas. Hy het ag jaar lank op sy slaapmat gelê omdat hy lam was. Petrus sê toe vir hom: “Eneas, Jesus Christus maak jou gesond. Jy moet opstaan en jy moet jou slaapmat opvou!” Eneas het toe dadelik opgestaan. Al die mense van Lidda en die Saron-vlakte het Eneas gesien, en hulle het verander en begin lewe soos die Here wil hê.

HANDELINGE 9:32-35 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

EN onderwyl Petrus oral rondgaan, het hy ook gekom by die heiliges wat in Lidda woon; en hy het daar 'n man gevind met die naam van Enéas, wat al agt jaar bedlêend en verlam was. En Petrus sê vir hom: Enéas, Jesus Christus maak jou gesond; staan op en maak jou bed op! En hy het dadelik opgestaan. En al die inwoners van Lidda en Saron het hom gesien en hulle tot die Here bekeer.

HANDELINGE 9:32-35 AFR83 (Afrikaans 1983)

Petrus het baie rondgereis en het op 'n keer ook by die gelowiges gekom wat in Lidda gewoon het. Daar het hy 'n man met die naam Eneas teëgekom wat verlam en al ag jaar lank bedlêend was. “Eneas,” sê Petrus toe vir hom, “Jesus Christus maak jou gesond. Staan op en maak jou bed op.” Hy het dadelik opgestaan. Al die mense van Lidda en die Saronvlakte het hom gesien en hulle tot die Here bekeer.

HANDELINGE 9:32-35 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

•Petrus het oral rondgereis, en ook by die •heiliges wat in Lidda woon, aangekom. Daar het hy 'n man teëgekom met die naam Eneas, wat al agt jaar bedlêend en verlam was. Petrus het vir hom gesê: “Eneas, Jesus Christus maak jou gesond. Staan op en maak jou bed op!” En hy het dadelik opgestaan. Al die inwoners van Lidda en Saron het hom gesien, en hulle tot die Here gewend.

HANDELINGE 9:32-35 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En dit het gebeur, terwyl Petrus deur al die streke verbygegaan het, het hy ook afgekom na die heiliges wat in Lidda gewoon het. En daar het hy 'n sekere man met die naam van Eneas gevind, wat agt jaar lank op sy bed gehou het en verlam was. En Petrus sê vir hom: Eneas, Jesus Christus maak jou gesond; staan op en maak jou bed op. En hy het dadelik opgestaan. En almal wat in Lidda en Saron gewoon het, het hom gesien en hulle tot die Here bekeer.

HANDELINGE 9:32-35 DB (Die Boodskap)

In daardie tyd het Petrus oral by die gelowiges besoek gaan aflê. Tydens een van dié besoeke het hy in ’n dorp met die naam Lidda aangekom waar hy by ’n paar gelowiges gaan bly het. Daar het hy ’n man raakgeloop wat al agt jaar lank verlam was. Sy naam was Eneas. Hy kon nie eens self uit sy bed uit opstaan nie. Petrus het voor hom gaan staan en gesê: “Eneas, Jesus Christus maak jou nou gesond. Staan op! Maak jou bed op sodat almal kan sien dat jy gesond is.” Dadelik het hy uit die bed opgestaan en begin rondstap. Almal wat daar in Lidda en Saron gebly het, het later gesien hoe Eneas in die straat rondloop. Toe het baie mense ook hulle lewens aan die Here gegee.

HANDELINGE 9:32-35 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Petrus het van plek tot plek gereis en het op ’n keer ook by die gelowiges in die dorp Lidda gekom. Daar het hy ’n man met die naam Eneas gekry wat verlam en al agt jaar bedlêend was. “Eneas,” het Petrus toe vir hom gesê, “Jesus Christus maak jou gesond! Staan en rol jou bed op!” En hy het dadelik opgestaan. Al die inwoners van Lidda en die Saronvlakte het hulle tot die Here bekeer toe hulle Eneas sien rondgaan.