HANDELINGE 9:26-27
HANDELINGE 9:26-27 Bybel vir almal (ABA)
Toe Saulus in Jerusalem kom, het hy aangehou om te probeer vriende maak met die gelowiges. Maar hulle het nie geglo dat hy 'n gelowige is nie, en daarom was hulle almal bang vir Saulus. Maar Barnabas het vir Saulus gehelp. Hy het vir Saulus na die apostels toe geneem en hy het vir hulle vertel dat Saulus op die pad na Damaskus die Here gesien het en dat die Here toe met Saulus gepraat het. Barnabas het ook vir hulle vertel dat Saulus nie bang was om vir die mense in Damaskus van Jesus te vertel nie.
HANDELINGE 9:26-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe Saulus in Jerusalem aankom, het hy probeer om by die gelowiges aan te sluit, maar almal was bang vir hom. Hulle kon nie glo dat hy ’n gelowige is nie. Barnabas het hom toe na die apostels toe gevat, en vir hulle vertel hoe Saulus op pad na Damaskus die Here gesien het. Barnabas het ook vertel dat die Here met Saulus gepraat het, en hoe hy in Damaskus openlik in die Naam van Jesus gepreek het.
HANDELINGE 9:26-27 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En toe Saulus in Jerusalem aankom, het hy probeer om by die dissipels aan te sluit; maar almal was vir hom bang, omdat hulle nie geglo het dat hy 'n dissipel was nie. Maar Bárnabas het hom geneem en na die apostels gebring en hulle vertel hoe hy op die pad die Here gesien het en dat Hy met hom gespreek het, en hoe hy in Damaskus vrymoediglik in die Naam van Jesus gespreek het.
HANDELINGE 9:26-27 Afrikaans 1983 (AFR83)
Saulus het na Jerusalem toe gegaan en het geprobeer om daar by die volgelinge van Jesus aan te sluit, maar almal was vir hom bang, omdat hulle nie kon glo dat hy 'n volgeling van Jesus is nie. Barnabas het hom egter oor Saulus ontferm en hom na die apostels toe gebring. Hy het vir hulle vertel hoe Saulus op die pad die Here gesien het en dat die Here met hom gepraat het, en hoe hy in Damaskus openlik in die Naam van Jesus gepreek het.
HANDELINGE 9:26-27 Die Boodskap (DB)
Daarna het Saulus teruggegaan Jerusalem toe. Daar het hy probeer om by die kerk aan te sluit, maar die gelowiges was skrikkerig vir hom. Hulle het gedink hy gee net voor dat hy glo. Barnabas het egter gesien Saulus se geloof in Jesus is eg. Hy het hom jammer gekry en hom toe aan die apostels gaan voorstel. Barnabas het hulle vertel hoe die Here aan Saulus verskyn en met hom gepraat het. Hy het ook vertel dat Saulus nie bang was om in Damaskus vir die mense te sê dat Jesus die Here is nie.