HANDELINGE 28:23-26
HANDELINGE 28:23-26 Bybel vir almal (ABA)
Hulle het toe besluit op watter dag hulle weer na Paulus toe sal kom. Op daardie dag het baie Jode na Paulus se huis gekom. Hy het die hele dag met hulle gepraat. Hy het baie ernstig met hulle gepraat en hy het vir hulle gesê dat God Koning is. Hy het ook uit die Wette van Moses en die boeke van die profete gelees en hy het vir hulle gesê dat hulle in Jesus moet glo. Party van die Jode het geglo wat Paulus gesê het, maar party het nie geglo nie. En hulle het met mekaar gestry. Toe hulle uit Paulus se huis uitgaan, het hy nog hierdie een ding vir hulle gesê: “Die Heilige Gees het vir die profeet Jesaja iets gesê wat Jesaja vir julle voorvaders moes gaan sê. Wat die Heilige Gees gesê het, is waar. Hy het gesê: “ Jy moet na hierdie volk gaan en jy moet vir hulle sê: “Julle sal hoor en hoor, maar julle sal niks verstaan nie. Julle sal kyk en kyk, maar julle sal niks sien nie.
HANDELINGE 28:23-26 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En hulle het vir hom 'n dag bepaal, en baie het na hom in sy verblyfplek gekom. En in 'n kragtige getuienis het hy vir hulle die koninkryk van God uitgelê; en van die môre vroeg tot die aand toe het hy uit die wet van Moses en uit die profete hulle probeer oortuig aangaande Jesus. En sommige het geglo wat gesê is, maar ander het ongelowig gebly. En toe hulle onder mekaar onenig was, het hulle uiteengegaan nadat Paulus hierdie woord gesê het, naamlik: Tereg het die Heilige Gees deur Jesaja, die profeet, tot ons vaders gespreek en gesê: Gaan na hierdie volk en sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie.
HANDELINGE 28:23-26 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hulle het toe 'n datum met hom afgespreek, en op daardie dag het daar nog meer mense na die plek toe gekom waar hy gebly het. Van vroeg die môre tot laat die aand het Paulus die koninkryk van God vir hulle verduidelik en hulle uit die wet van Moses en uit die profete probeer oortuig van Jesus. Deur sy uiteensetting het daar party oortuig geraak, maar ander wou nie glo nie. Hulle was dit nie met mekaar eens nie en het weggegaan, maar Paulus het nog eers dít vir hulle gesê: “Hoe waar is dit tog wat die Heilige Gees by monde van die profeet Jesaja vir julle voorvaders gesê het! Hy het gesê: “Gaan na hierdie volk toe en sê vir hulle: Julle sal hoor en hoor en tog niks verstaan nie; en kyk en kyk en tog niks sien nie.
HANDELINGE 28:23-26 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Nadat hulle met hom 'n dag afgespreek het, het hulle in 'n nog groter getal by hom in sy verblyfplek opgedaag. Hy het die •koninkryk van God aan hulle uitgelê, en van vroegoggend tot die aand kragtig daaroor getuig, terwyl hy hulle uit die Wet van Moses en die Profete probeer oortuig het oor Jesus. Sommige is oortuig deur sy woorde, maar ander het ongelowig gebly. In onenigheid onder mekaar het hulle uiteengegaan, nadat Paulus nog 'n enkele laaste woord gespreek het: “Die Heilige Gees het tereg deur die profeet Jesaja aan julle voorvaders gesê: “ ‘Gaan na hierdie volk en sê: “Met die ore sal julle hoor, en glad nie verstaan nie, en met die oë sal julle sien, en glad nie insig kry nie.
HANDELINGE 28:23-26 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En toe hulle vir hom 'n dag bepaal het, het baie na hom gekom in sy verblyf; aan wie hy die koninkryk van God uitgelê en getuig het deur hulle aangaande Jesus te oortuig, sowel uit die wet van Moses as uit die profete, van die môre tot die aand. En sommige het die dinge geglo wat gespreek is, en sommige het nie geglo nie. En toe hulle nie onder mekaar ooreengekom het nie, het hulle weggegaan, nadat Paulus een woord gespreek het: Goed het die Heilige Gees gespreek deur die profeet Jesaja tot ons vaders, en sê: Gaan na hierdie volk en sê: As julle hoor, sal julle hoor en nie verstaan nie; en siende sal julle sien en nie sien nie
HANDELINGE 28:23-26 Die Boodskap (DB)
Hulle het besluit om ’n paar dae later weer bymekaar te kom. Op dié dag het ’n groot groep Jode in die gastekamer in Paulus se huis bymekaargekom. Daar het Paulus van vroegoggend tot laataand met hulle oor God se koninkryk gepraat. Hy het hulle probeer oorreed om in Jesus te glo. Hy het ook vir hulle gewys dat Moses en die profete reeds oor Jesus Christus geskryf het. Party van die Jode is deur Paulus se woorde oortuig, maar ander het geweier om te glo wat hy sê. Hierdie besoekers het onder mekaar aan die stry geraak. Toe hulle begin huis toe gaan, het Paulus die laaste woord gehad: “Die Heilige Gees was heeltemal reg toe Hy deur die profeet Jesaja vir ons voorouers gesê het: ‘Gaan na my volk toe en sê vir hulle: Al hoor julle met julle ore, verstaan julle net mooi niks nie. Al kyk julle met julle oë, is julle eintlik blind.
HANDELINGE 28:23-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hulle het toe ’n dag met hom vasgemaak, en op daardie dag het daar nog meer mense na sy blyplek gekom. Van vroeg die môre tot laat die aand het Paulus vir hulle die koningsheerskappy van God verduidelik en daaroor getuig. Hy het hulle uit die wet van Moses en uit die profete probeer oortuig van Jesus. Sy woorde het party oortuig, maar ander wou nie glo nie. Toe ’n ernstige meningsverskil ontstaan, het hulle begin padgee. Paulus het egter nog vir oulaas een stelling teenoor hulle gemaak: “Hoe van toepassing is dit tog wat die Heilige Gees by monde van die profeet Jesaja vir julle voorvaders gesê het, naamlik: ‘Gaan na hierdie volk toe en sê: Julle sal my woorde hoor en tog nie verstaan nie. Julle sal sien wat Ek doen, en dit tog nie werklik begryp nie.